Quantcast
Channel: Afrikaans.com
Viewing all 1121 articles
Browse latest View live

Ommietafelgesprek: Die ATKV en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument vier ‘n spesiale jaar.

$
0
0

2020 was tot dusver ‘n jaar van uitdagings, maar dit het nie die ATKV en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM)van stryk gebring nie. Vir dié organisasies bly dit steeds ‘n jaar om te vier. Die Vriende van Afrikaans (VVA), in samewerking met Afrikaans.com, gesels in hierdie Ommietafelgesprek met Sonel Brits, besturende direkteur van die ATKV en Michael Jonas, hoof- uitvoerende beampte by die ATM.

Waarom is 2020 so ‘n spesiale jaar vir die ATKV?

‘n Baie trotse mylpaal is dat die ATKV op 19 Augustus 2020 negentig jaar oud geword het. Covid-19 het ‘n bepalende effek gehad op wat ons beplan het in Januarie en wat toe uiteindelik kon manifesteer. Dis vir ons ‘n groot voorreg om oor 90 jaar terug te kon kyk en te kan sê: Afrikaans is steeds die kern en spil waarom die ATKV draai. Ons is ook bly, trots en dankbaar om die diversiteit van sy sprekers en tongvalle te kon vier.

Die ATM het ook ‘n spesiale viering in 2020. Wat maak 2020 so spesiaal vir die ATM?

Vanjaar is die 45ste bestaansjaar van die Afrikaanse Taalmuseum en op 10 Oktober 2020 vier ons die opening van die monument, 100 jaar na die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners en 50 jaar nadat die taal sy amptelike status verwerf het.

Hoe het die ATKV se beginjare gelyk?

Die ATKV is in 1930 oorspronklik as ‘n debatsvereniging gestig. Baie mense het op die spoorweë gaan werk en die behoefte het ontstaan om hulle taal ook in hulle werksplek uit te leef terwyl hulle terselfdertyd aan hulle identiteit, verweef in die taal, skaaf. So is die Debatsvereniging in 1930 te Kaapstad gestig. Dit het gelei tot die aankoop van die plaas Hartenbos in 1936 as ‘n plek waar families bekostigbare vakansies kon hou. Dit was die begin van die hibriede sakemodel waarvoor die ATKV vandag bekend is. Die takke met vrywilligers het toe reeds ‘n groot rol in die uitbou van die organisasie gespeel.  Van die begin af was die ATKV daarop toegespits om op die behoeftes van gemeenskappe te fokus.

Hoe lyk die ATM vandag?

Die ontstaan van die ATM was ook ‘n publiekgedrewe proses. In 1940 is daar versoek dat ‘n monument en museum opgerig word. Die monument is uiteindelik in 1974 met behulp van staats- en privaatgeld voltooi.  Vandag is ons strewe om ‘n dinamiese, inklusiewe ruimte te skep waar veeltaligheid seëvier en uitgeleef word. As openbare entiteit is ons afhanklik van staatsgeld, maar moet ons ook dienste lewer. Daarom bied ons programme aan die publiek om kop bo water te hou. Ons het tans 32 fondsinsamelingsaktiwiteite om onsself te onderhou.

Sonel, wat is vir jou hoogtepunte binne die storie van die ATKV?

Wat ‘n mens altyd tref, is dat dit mense was wat uit passie iets geskep, meegemaak en gedeel het. Ons kan nie ontken dat die ATKV deur sy lede-basis baie goed ondersteun is en dat die ATKV se lojale lede-basis steeds hulle bes doen om die ATKV te ondersteun nie. Families het ingekoop en hulle harte is uitverkoop aan die ATKV. Wat uitstaan, is die werk wat ons binne gemeenskappe doen om mense bymekaar te bring, om brûe te bou en deur vennootskappe groter impak te maak. Ons het deur die jare relevant gebly, saam met die tye beweeg en na mense geluister en hulle behoeftes geïnterpreteer. Ons het vir die eerste keer die ‘Onse Fees’ in 2019 in samewerking met die ATM aangebied. Wat uitstaan, is die verskeidenheid mense en die diversiteit ten opsigte van talent, dialekte en deelnames.  

Wat staan uit as hoogtepunte vir die ATM?

 Wat uitstaan vir die ATM is dat ons in ons bestuursbenadering van die afgelope vyf jaar die klem geplaas het op die implementering van kwaliteit- bestuurstelsels, voortdurende vernuwing en doeltreffende lewering van dienste vir ‘n diverse groep mense. Hierdie ideale is grotendeels bereik en dit stel ons in staat om relevant te bly, om te voldoen aan die eise van die tyd en dienste te lewer aan ‘n diverse Afrikaanse landskap. Die rede vir ons bestaan as museum is om te versamel, dokumenteer, na te vors, uit te stal en inligting te versprei. Een van die hoogtepunte is die digitale bewaring en opteken van onopgetekende Afrikaans en die leefwêrelde in die Noord-Kaap – ‘n taak wat ons reeds die afgelope dekade mee besig is. As museum is ons fokus op die bewaring van Afrikaans en al sy bronne, soos byvoorbeeld Arabiese Afrikaans. Op die manier het die ATM ‘n kontaksone vir ‘n diverse Afrikaanse gemeenskap geword.

Watter vooruitsigte voorsien julle vir julle organisasies?

Vir die ATKV sal dit belangrik wees om tegnologie nog meer aan te wend sodat ons vir ons jongmense ruimte en ondersteuning kan bied in hierdie veranderende wêreld en dan ook om die diversiteit van ons taal te bemark.

Die ATM poog om inklusiwiteit binne en buite die Afrikaanse gemeenskap te skep en te bevorder en om Afrikaans as kultuurbate te gebruik in ons pogings tot nasiebou.

The post Ommietafelgesprek: Die ATKV en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument vier ‘n spesiale jaar. appeared first on Afrikaans.com.


Lente-reeks: Riaan Cruywagen oor prioriteite, suksesleer en moedertaal.

$
0
0

Hierdie lente, ter viering van nuwe lewe, moontlikhede en groei, gesels ons met ’n aantal invloedryke persone uit verskillende omgewings binne die Afrikaanse leefwêreld. Wanneer ’n mens beter verstaan hoe ander die meeste uit ’n dag maak, help dit jou om dieselfde te doen. Daarom het ons vir die deelnemers ’n lys van 11 vrae gestuur en hulle genooi om tussen 5 en 7 daarvan te antwoord …

Riaan Cruywagen, legende in elke aspek van die woord, is ons tweede gas in dié reeks. Hy vertel ons van verskeie omkeertye in sy lewe sedert hy as nuusleser by die SAUK uitgetree het, gesels oor ’n strik wat jongmense moet vermy, en verduidelik waarom stilte steeds ’n goue reël bly! Lees en leer saam!

As jy ’n massiewe buitelugadvertensiebord iewers kon oprig wat miljoene mense sou bereik, wat sou dit sê en hoekom?

Dit kan ’n paar woorde wees of ’n volledige paragraaf. Jy kan selfs iemand aanhaal.

Die spreekwoordelike wag voor ’n mens se mond behoort ook voltyds by jou ore diens te doen – nié om te sensureer wat jy hoor nie, maar om jou te help om méér inligting in te neem as wat by jou mond uitgaan. Sê dus minder as wat jy weet, en weet meer as wat ander vermoed. Dit is die gulde reël. Te veel mense se verstand staan botstil terwyl hulle tonge lustig luier. Só blaker hulle dikwels dinge uit wat liefs ongesê moes gebly het. Dit het ook maklik ’n aweregse gevolg, want ydel pogings om te spog met wat jy weet kan uiteindelik ’n gebrekkige kennis of erbarmlike oningeligtheid blootlê. Ware wysheid is om meer te weet as wat jy laat blyk, om elke geleentheid te benut om kennis en inligting in te neem. My advertensiebord sou dus in vet letters lui: Wees wys – spits jou ore en beteuel jou tong!

Wat is een van die beste beleggings wat jy al ooit gemaak het?

Dit kan tyd, geld, energie, ens. wees.

‘n Belegging in my moedertaal, Afrikaans, was een van die bestes wat ek ooit gemaak het. Die opbrengs was nie meetbaar in harde kontant nie, maar wel in geestesverryking. Laat ek verduidelik. Toe ek in 1965 as ‘n Stellenbosse student ingevolge die bepalings van my SAUK-studiebeurs oor die radio begin uitsaai het, het ek onmiddellik bewus geword van die noodsaaklikheid om ‘n taalwag voor my mond te hou en gemaklike, onopgesmukte, keurige Afrikaans te praat. Dit het spoedig ’n blywende lewenswyse geword. In die jare sestig was die Afrikaanse radiodiens die nie-amptelike normeerder van gesproke Arikaans en het onderwysers en dosente andertaliges wat die taal wou aanleer, aangemoedig om na dié diens te luister as hulle wou hoor hoe Afrikaans in sy netjiese snyerspak klink. Die verpligting om voor óf weg van die mikrofoon goeie Afrikaans te praat, was vir my ’n vreugdevolle een, want selfs vandag nog, 55 jaar later, ontvang ek steeds waardering vir my taalgebruik uit alle oorde van ons bevolking. Dit beteken hoegenaamd nie dat ek enige variëteit van die taal as meerderwaardig of belangriker as die ander beskou nie – inteendeel! Elke mens praat immers soos hy gebek is, het die gerekende taalkundige, wyle prof. Johan Combrink, gesê. Die plek en omstandighede bepaal egter die variëteit, dialek of sosiolek wat gepraat word. Voor die radiomikrofoon was dit destyds die sogenaamde standaardvorm. Die vereistes is sedertdien aansienlik versoepel en elke variëteit van Afrikaans geniet nou die erkenning wat dit verdien. Die taal het eindelik sy eksklusiwiteit afgeskud en inklusief geword. Gevolglik het ek die keusevryheid om my gevestigde gebruik van die ietwat meer formele register onbeskroomd te kan handhaaf sonder om daaroor skuldig te voel, terwyl ek my kan verkneukel in die ryk, melodieuse klanke van die wye Afrikaanse spektrum om my heen.

In die laaste vyf jaar, watter nuwe siening of gewoonte het jou lewe die meeste verbeter?

As voltydse beroepsuitsaaier was my daaglikse lewe altyd onderworpe aan tyd en stiptelikheid.  Die dag in 1968 toe die programdirekteur van die SAUK, wyle dr. Jan Schutte, my in die geledere van die Afrikaanse Diens se vaste omroeperskorps verwelkom het, was sy eerste woorde: “Onthou, die seweuurnuus word om seweuur gelees – nie om tien sekondes oor sewe nie!” Sedertdien het sekondes en ’n nimmereindigende wedloop teen tyd deel van my besige bestaan by die radio en daarna ook by televisie geword. Ek het nóóit laat opgedaag vir werk, opnames, sosiale geleenthede of enige ander verpligting nie. Toe ek egter as ’n 70-plusser in die loop van 2018 besluit het om die veeleisende druk van regstreekse televisieuitsendings vaarwel toe te roep, het dit ’n dramatiese dog welkome ommekeer in my lewe tot gevolg gehad. Ek sou my voortaan toespits op voorafopgeneemde TV-programme op dae en tye wat vir my geleë is. Skielik kon ek my verlustig in die ongekende weelde van tyd tot my beskikking, aande en naweke vry, en ’n heraktivering van my sosiale lewe. Ek het meteens tyd gehad om my vrou na restaurante en teaters te neem en my vriendekring as’t ware te herontdek en uit te brei. Ek het besef dat die horlosie nie meer my ongenaakbare baas is nie en my tydsbestuur het baie minder veeleisend geword. Trouens, ek en my vrou het selfs besluit om Johannesburg se stof van ons voete af te skud en het in November 2019 met huitjie en muitjie na Mosselbaai verhuis. My lewensgehalte het mateloos verbeter sedert ek hier anker gegooi het. Ek het steeds volop geleentheid om vryskutwerk te doen wanneer dit my pas. Danksy die nabygeleë George-lughawe is ek binne maklike bereik van die groot sentra en vlieg ek maandeliks vir twee dae na Johannesburg om my TV-programme op te neem. Daarna is die vreugde en opwinding egter groot om weer in die vliegtuig te stap en terug te keer na die rus en vrede van my nuwe bestaan aan die Kaapse suidkus. Die digter Totius was in die kol toe hy Repos Ailleurs geskryf het – want die rus is inderdaad elders!

Watter advies sal jy vir ’n jong, gedrewe persoon gee wat op die drumpel staan om die sogenaamde regte wêreld te betree?

Watter advies moet hulle ignoreer?

Dit is goed dat jongmense wat op die drumpel staan om ‘n loopbaan te betree en die veeleisende uitdagings van die lewe aan te durf, idealisties en gedrewe is. Hulle oë is vol drome van ‘n blink toekoms gekenmerk deur sukses, welvaart en geluk. In verreweg die meeste gevalle wil hulle ‘n verskil in die land help maak en ‘n tasbare nalatenskap agterlaat. Die befaamde dr. Anton Rupert se gevleuelde woorde lui: “Hy wat nie in wonderwerke glo nie, is nie ‘n realis nie.” En wonderwerke is helaas dikwels nodig om sommige jongmense se drome te verwesenlik, die gevleuelde stelling ten spyt. Die fout wat so baie jongmense maak is om van meet af aan alles te wil hê – ‘n senior aanstelling, ‘n weelderige motor, ‘n luukse woning, duur meubels, toelaes, byvoordele, bonusse, noem maar op. Só ‘n puur materialistiese ingesteldheid is nie realisties nie en waarborg nie welslae of geluk nie. ‘n Bereidwilligheid om die suksesleer van die onderste sport af te begin klim, hard te werk, onkreukbare integriteit te openbaar en ononderhandelbare werksetiek aan die dag te lê, is die grondslag van alle eerlike sukses. Weerstaan die versoeking van maklike skuld net om by die bure kers te kan vashou of ander mense te probeer beïndruk. As jy eers in ‘n skuldspiraal vasgevang word, is dit bitter moeilik om weer ongeskonde daar uit te kom. Almal aanvaar dat die meeste mense hulle huise en motors op skuld móét koop. Maar wat ander verbruikersgoedere betref, is dit nuttig om dié goue reël toe te pas: As jy nie kontant vir ‘n ding kan betaal nie, kan jy hom nie bekostig nie. Hou dit in gedagte en bly uit die knyp!

Oor die afgelope vyf jaar, waarvoor sê jy nou meer geredelik, of makliker, nee?

(Byvoorbeeld uitnodigings, afleidings, ens.) Watter nuwe insig of siening het jou gehelp om dit te doen? Enige ander advies?

Daar was ‘n tyd in my lewe toe ek my genoop gevoel het om elke sosiale uitnodiging te aanvaar, mits my werkverpligtinge dit toegelaat het. Ek was immers ‘n openbare figuur en het ‘n soort selfopgelegde verpligting gehad om deur my teenwoordigheid by ‘n wye verskeidenheid funksies, gesellighede, byeenkomste ensomeer te toon dat ek belangstel in en omgee vir gebeure of verwikkelinge in die gemeenskap. Dit het tot gevolg gehad dat my vrye tyd selfs nog méér beperk was. Sedert ek op 26 November 2012 na 37 jaar die tuig as die langsdienende TV-nuusaanbieder van die SAUK neergelê het, het ek besluit om veel meer selektief met uitnodigings van enige aard om te gaan. Ek het begin om my gesin en veral my eggenote se belange voorop te stel en elke uitnodiging op meriete te beoordeel, as ‘t ware die koring van die kaf te skei. Die gevolg van dié besluit was ‘n rustiger, meer ontspanne leefwyse. ‘n Mens hoef werklik nie oral gesien te word nie; jou reputasie, die gehalte van jou werk en jou selektiewe betrokkenheid by geleenthede van watter aard ook al behoort jou beeld as openbare persoonlikheid heeltemal voldoende te poets!

Foto ter vergunning van The post officially

Afrikaans.com doen gedurende September 2020 ’n reeks gebaseer op die entrepreneur en skrywer Tim Ferriss se Tribe of Mentors. In Tribe of Mentors, gesels Ferriss met invloedryke en suksesvolle persone uit verskillende omgewings om die publiek die geleentheid te bied om beter te verstaan hoe hierdie mense dink en leef. Ferriss gebruik 11 vrae wat hy aan hierdie persone stel. Vir hierdie reeks, wat weekliks gepubliseer gaan word, het ons dieselfde gedoen.

The post Lente-reeks: Riaan Cruywagen oor prioriteite, suksesleer en moedertaal. appeared first on Afrikaans.com.

Afrikaanse Taalraad: Gaan groot, of gaan huis toe.

$
0
0

Die Afrikaanse Taalraad het onlangs hul nuwe direksie bekendgestel. Elkeen van die direksielede is veelsydig, woordryk en lief vir Afrikaans en met loopbane wat getuig van ’n onstuitbare passie vir die opbou en vooruitgang van Afrikaans.

Die 2021 direksie lyk soos volg: Michael Jonas (voorsitter), Annelise de Vries (ondervoorsitter), Anzil Kulsen, Sinki Mlambo, Karien Brits, Alana Bailey, Louis du Plessis (herverkies tydens die AJV op 29 Aug 2020), Japie Gouws, Aäron Messelaar en Frank Hendricks. Ons vertel jul graag meer oor enkele van hierdie lede … lees saam!

ATR

Michael Jonas is gebore in Stellenbosch en voltooi sy skoolloopbaan in die mooi dorpie Cloetesville. Hy begin sy naskoolse onderrig aan die Universiteit Stellenbosch waar hy sy BA-graad in Geesteswetenskappe verwerf, gevolg deur ’n nagraadse diploma in Museumkunde en ’n meestersgraad in Museum- en Erfenisstudies aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Hy was vir meer as 21 jaar by die sub-direktoraat Museumdienste, wat deel vorm  van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, werksaam. Sedert 1 Junie 2016, beklee Michael die posisie as hoof- uitvoerende beampte van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument waar hy verskeie rolle vervul, onder andere die bestuur van aktiwiteite, werkswinkels, strategiese beplanning vir instellings en opvoedkundige projekte.

Hy dien ook op verskeie direksies, soos onder andere as voorsitter van die Historium Trust, direksielid van die NuU-museum in Lübeck, Duitsland, asook direkteur van die CJ Langenhoven-Gedenktrust.

ATR

Frank Sylvester Hendricks is ’n kranige taalkundige en spesialiseer in sintaksis, variasietaalkunde en naamkunde. Sedert 1979 en tot met sy aftrede in 2017, was hy as professor verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Wes-Kaapland. Tans dien hy as emeritus-professor by die universiteit.

Frank Hendricks se voorliefde vir Afrikaans, asook Kaapse Afrikaans, kan gesien word in sy lewenslange bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans en sy variante. In 1978 verwerf hy sy MA-graad in Afrikaans en Nederlands met die verhandeling: ʼn Sinchronies-diachroniese studie van die taalgebruik in die drama ‘Kanna hy kô hystoe’ van Adam Small en in 1988 verwerf hy sy doktorsgraad met die proefskrif: Prolepsis in Afrikaans. Hy is ook mederedakteur van die publikasie Kaaps in Fokus wat in 2019 met ‘n Engelbrechtprys vir Taalkunde bekroon is. Saam met sy aftrede in 2017, publiseer hy ook Taalkundige essays: ’n gerf uit die vroegskemer.

Frank Hendricks se fokus is op die bewaring, opheffing en bevordering van Afrikaans. In 2019 ontvang hy dan ook ’n Kokertoekenning van die Afrikaanse Taalraad vir sy bydrae in die verband. Hy dien op verskeie liggame en is ook ondervoorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy was ook betrokke by die totstandkoming van die elfde uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls.

ATR

Alana Bailey is gebore en getoë in Krugersdorp waar sy matrikuleer aan Hoërskool Monument. Sy verwerf ’n meestersgraad in Historiese en Erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria. Tans beklee sy die rol as hoof van Afriforum se Kultuursake en is sy uitvoerende hoof van Kraal Uitgewers (Eiendoms) Beperk. Sy is ook ’n talentvolle en bekroonde kinderboekskrywer. Haar boek, Die Prinses van die Afrikavlaktes, wat in 2007 gepubliseer is, is met ’n ATKV-Woordveertjie en die Tienie Hollowaymedalje vir Kleuterliteratuur bekroon. Maar, haar passies strek verder en sy hou besonder baie van reis, die geskiedenis en lees. Haar hart klop warm vir Suid-Afrika en sy mense.

ATR

Annelise de Vries is ’n ywerige taalbeplanner en forensiese linguis. Sy is boonop ’n taalaktivis van formaat en fokus op die bevordering van linguistiek binne die Suid-Afrikaanse omgewing. Sy het haar doktorsgraad in toegepaste linguistiek verwerf en is verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, waar sy ’n navorser in arbeidsverhoudinge is.

ATR

Aaron Martin William Messelaar, is gebore in 1965 in die mooi dorpie van Campbell, en soos sy doopname verklap, het hy grootgeword in ’n streng tradisionele huishouding. Na die voltooiing van sy hoërskoolloopbaan in Kimberley het hy vanaf 1983 tot 1985 twee jaar diensplig gedoen en was ook deel van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Messelaar is getroud, en is die trotse pa van vier kinders. Hy en sy gesin woon in Elsiesrivier in die Kaap. Messelaar het ‘n duidelike liefde vir die Woord, en met ywer studeer hy aan die Luceum Kollege, die AGS Bybelskool, die Korrespondensie- Bybel-Kollege en die Christian Bible School. Hy sprei sy vlerke oor die waters waar hy met eredoktorsgrade vereer word. Die eerste vir teologie aan die Christian University of Southern Indiana, en die ander een in filosofie in kultuur en tradisie.  Hy verwerf ook ’n B.Com-graad in Ekonomie aan die Kyangwoon University of Gumi in Suid-Korea. Messelaar staan beslis ook kop en skouers uit vir sy gemeenskapsbetrokkenheid by verskeie projekte, soos die People for Justice Peace Foundation, Faith World Organization en Peace and Justice with Solutions. Hy dien tans as Hoof van Administrasie in die Griekwa-Koningshuis waar hy die posisie van Hoof-Kommissaris beklee. Hy is in 2017 as die adjunk-sekretaris van die Wes-Kaapse Kongres van tradisionele leiers verkies en dien ook op die Griekwa- Nasionale Eenheidsforum.

Die Afrikaanse Taalraad is trots om hierdie lede in hulle midde te verwelkom en ons is opgewonde om te sien hoe hierdie individue die Afrikaanse taal net nog meer gaan bevorder.

The post Afrikaanse Taalraad: Gaan groot, of gaan huis toe. appeared first on Afrikaans.com.

Tribuo-fonds: Kom gee jou hart vir die kunste…

$
0
0

Die kunste is die hartklop van die samelewing.

Hulle skryf ons stories, en maak ons heel.

Die Covid-19-pandemie en gevolglike inperking het ’n groot impak op die ekonomie en die sakewêreld gehad. Een van die industrieë wat  die hardste getref is, is die vermaaklikheidsbedryf. Skielik was konsertsale en teaters leeg en was daar ook geen toeskouers nie.

Dink net ’n bietjie… Elke Suid-Afrikaner het sy/haar gunstelingliedjie, -fliek of -boek. Of jy nou daarvan hou om skelm te dans op Rock daai lyfie, of ‘n sepieverslaafde is, ons almal geniet die kunste, en vorm deel daarvan.

Die Tribuo-fonds hoor elke vryskutkunstenaar se stilte en wil ‘n verskil maak.

Trubuo
Meer oor die Tribuo-fonds

Die Tribuo-fonds is ‘n privaatfonds wat  spesifiek gestig is om vryskutwerkers wat hul inkomste as gevolg van die Covid-19-inperkingsmaatreëls verloor het, finansieel by te staan –  ook ná afloop van die inperkingstyd. Die vennote, wat elkeen ’n belang het in die uitvoerendekunstebedryf in Suid-Afrika, en by die Tribuo-fonds betrokke is, is:  Die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), kykNET, die Feesteforum, Aardklop, Innibos, KKNK, Suidoosterfees, Vrystaat Kunstefees, Woordfees en Brand Republic.

Die fonds sal as ’n nood- hulpverleningsfonds bestuur word tot einde Desember 2020. Die fonds sal uit verskillende siklusse bestaan en na gelang van die hoeveelheid geld wat ingesamel word, kan dit in fases aangewend word.

Volhoubare ondersteuning in die vooruitsig

Hoewel die Tribuo-fonds spesifiek opgerig is om tydens die pandemie hulp aan kunstenaars te verleen, sal die fonds in 2021 herevalueer word, en sal gepoog word om die fonds te laat voortbestaan om sodoende volhoubare ondersteuning aan vryskutwerkers binne die bedryf van die uitvoerende kunste te bied.

Hoe kan jy deel word en ’n bydrae maak?

Die skenking aan die Tribuo-fonds is maklik en enige persoon kan bydra. Omdat dit  ’n niewinsgewende maatskappy is, is die fonds se hooffokus om kunstenaars te help. Daar is geen minimum of maksimum bydrae nie, en die volle bedrag van donasies word aan die kunstenaars geskenk. Die skenkings is ook aftrekbaar van belasting en kwalifiseer vir ‘n Artikel 18-A-belastingsertifikaat. Om ’n skenking te maak, kan jy gerus die webtuiste besoek: https://www.tribuo.co.za/tribuo-fund-donations/ en direk ‘n donasie gee, of stuur ‘n e-pos aan info@tribuo.co.za.

Kwalifiseer ek vir hierdie fonds?

Indien jy bo die ouderdom van 21, ’n permanente inwoner van Suid-Afrika en ’n vryskutkunstenaar is, of op ’n nie-permanente basis aangestel is, is hierdie fonds vir jou.

Jy moet ook:

  • Jou belastingnommer verskaf;
  • Bewys kan lewer dat jy nie oor die afgelope maande meer as R10 000 in hulptoelae ontvang het nie;
  • Kan bewys dat jy die res van die jaar nie geleentheid vir optrede het nie.

Die fonds fokus op befondsing vir  musikante, dansers, tegnici, skrywers, regisseurs, choreograwe en ander personeel wat dit moontlik maak om werk op die planke te bring, maar is ook nie beperk tot die bogenoemde nie. Elke situasie is uniek, en daarom wil hulle graag van jou hoor.

Hoe doen ek aansoek?

Vul die aansoekvorm in op die Tribuo-fonds se webtuiste,  of kontak hulle vir meer inligting rakende die keuring of uitbetalingsproses. Daar sal van die aansoeker verwag word om inligting te verskaf oor verlore geleenthede as gevolg van die grendeltydperk, asook skakels na van sy/haar vorige werk/optredes. Jy moet ook bewys kan lewer  dat jy ’n kunstenaar is, of deel vorm van die tegniese personeel, asook jou langdurige betrkkenheid by die kunste.

Hoe word fondse toegeken?

Die keuringsproses en toekenning van fondse geskied anoniem. Jy sal na veertien dae vanaf die sluitingsdatum in kennis gestel word indien jou aansoek suksesvol was, en die geld binne veertien dae nadat jy in kennis gestel is,  ontvang.

Ons kunstenaars maak ’n enorme bydrae tot die voortbestaan van die kunste. “Hulle hoor wat jy nie sê nie, en sien wat jy nie besef nie. Hulle gee betekenis aan woorde, en maak musiek in jou ore.”

Kom ons gee ons hart opnuut vir die kunste en maak ’n bydrae om ons kunstenaars te help om ons leefwêreld in te kleur soos net hulle kan.

The post Tribuo-fonds: Kom gee jou hart vir die kunste… appeared first on Afrikaans.com.

’n Huldeblyk aan dr. Danny Titus: Afrikaans verloor een van sy grootste kampvegters.

$
0
0

“Sy liefde en ywer vir Afrikaans as moedertaal vir bruin, wit en swart Suid-Afrikaners was helder en duidelik. Sy leierskap en passie vir Afrikaans en sy gemeenskappe sal gemis en met waardering onthou word.”

– Dr. Theuns Eloff, voorsitter: Dagbreek Trust

Dit is met groot hartseer dat Afrikaans.com verneem het van die dood van dr. Danny Titus. Dr. Titus is Vrydag, 18 September 2020, oorlede nadat hy sedert einde Julie in ’n koma was nadat komplikasies tydens ’n operasie ingetree het. Hy was 63 jaar oud.

Dr. Danny Titus
(Foto: News 365)

Danny Titus

Dr. Titus was ten tyde van sy dood, voorsitter van die DAK-netwerk – ’n organisasie wat hom beywer vir die agtergesteldes in die Afrikaanssprekende gemeenskappe en deur sy naam hulde bring aan die geskiedkundige Khoisan-figure, Doman, Autshomao en Krotoa.   Sê Danie van Wyk, waarnemende voorsitter van die DAK-netwerk: “Ons by DAK het veel om vir dr. Titus dankbaar te wees, waarvan die idee vir hierdie organisasie die belangrikste is. Dr. Titus se verbintenis tot die bewusmaking en koestering van bruin mense se identiteit en kultuur spreek duidelik hieruit.”

Dr. Titus was tot vroeër vanjaar uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede by die ATKV, voordat hy einde Mei na 12 jaar by die organisasie, afgetree het. Tydens sy jare by die ATKV het hy hom beywer vir taal en kultuur. Besturende direkteur van die ATKV-MSW, Sonél Brits, het die volgende oor dr. Titus gesê: “Saam met die ATKV het hy Afrikaans toegankliker en inklusiewer gemaak en hiervoor sal hy onthou word. Sy leierskap, integriteit en empatie sal my altyd bybly – hy was die regte man op die regte tyd. Sy afsterwe laat ’n groot leemte.”

Dr. Theuns Eloff, voorsitter: Dagbreek Trust, het die volgende oor dr. Titus gesê: “Ek het Danny Titus die afgelope dekade of so beter leer ken – nie net as ’n menseregteaktivis nie, maar ook as ’n taalaktivis. Sy liefde en ywer vir Afrikaans as moedertaal vir bruin, wit en swart Suid-Afrikaners was helder en duidelik. As ’n Afrikaanse taalleier het hy in gereelde gesprekke wat die Dagbreek Trust gereël het, ook taalversoening bepleit en bevorder. Maar hy het ook die daad by die woord gevoeg – hy was tot die einde aktief betrokke by die DAK-netwerk. Sy leierskap en passie vir Afrikaans en sy gemeenskappe sal gemis en met waardering onthou word. Ons dank die hemelse Vader dat Danny Titus aan die Afrikaanse taal en gemeenskap geleen is.”

Me. Astrid de Vos, uitvoerende trustee van die Dagbreek Trust het gesê dat die Trust baie hartseer is oor dr. Titus se afsterwe – iemand wat sy as ’n wonderlike kollega en vriend beskryf. “Persoonlik sal ek hom baie mis.” Sy het die volgende boodskap vir sy dogters: “Ek hoop julle vind troos in die fantastiese bydrae wat hy tot versoening in Suid-Afrika gemaak het en die verskil wat hy gemaak het op soveel ander plekke. Hy was ’n rots en steun.”

Regsman, taalman, historikus, meningsvormer … en omgeemens

“Dit is  belangrik om trots te wees op jou herkoms, op wie en wat jy is en op jou ouers. Waar ons geskei is in die verlede oor ons verskille, is nou die geleentheid om ons verskille te gebruik as deel van die eenheid van die land. Bruin mense moet besef ons is ’n klein onderdeel in hierdie magtige masjien. Belangrik miskien, maar steeds ’n klein onderdeel.” – Dr. Danny Titus, 2016

Dr. Titus se nalatenskap strek oor kleurgrense heen en hy sal onthou word as ’n groot gees en kampvegter vir die Afrikaanse taal en gemeenskap … iemand wat hom beywer het vir groter begrip en inklusiwiteit. Hy het tydens sy lewe talle lewens aangeraak en het die moed van sy oortuiging gehad  om ’n daadwerklike verskil te maak. Volgens hom het apartheid veroorsaak dat ons vreemd vir mekaar geword het, maar nou dat dit verby is, “moet ons die geleenthede aangryp om weer bekend met mekaar te word … dikwels kom ons agter daar is meer wat ons verenig as wat ons verdeel.” Tydens sy 12 jaar by die ATKV het dr. Titus hom daarop toegespits om as mentor vir die jonger bestuurders op te tree. Hy sê dan ook by geleentheid: “Hulle (jongmense) het ’n enorme bydrae wat nie misgekyk moet word nie. Hulle wil ’n verskil maak en nie juis met ouer mense se bagasie opgeskeep sit nie.”

Dr. Titus verwerf in 1982 sy BA LL.B. aan die Universiteit van die Wes-Kaap. In 1983 word hy toegelaat as advokaat van die hooggeregshof van Suid-Afrika en werk ook as staatsaanklaer by die Departement van Justisie. In 1987 kry hy die geleentheid om sy studies voort te sit aan die Universiteit van Leiden in Nederland waar hy sy meestersgraad en uiteindelik sy doktorsgraad verwerf.  Hy keer in 1993 terug na Suid-Afrika waarna hy professor in strafregpleging en menseregte aan Unisa, asook vise-dekaan van die Kollege vir Regsgeleerdheid was. Vanaf 2009 tot 2016 beklee hy die pos van deeltydse kommissaris by die Menseregtekommissie en vanaf 2012 tot 2015 tree hy ook op as raadgewer by die Verenigde Nasies in die veld van inheemse nasies se menseregte.

“In ’n breër sin het dr. Titus ook die belangrikheid van onderlinge gesprekvoering in die Afrikaanse gemeenskappe bevorder, onder meer deur projekte soos ’n Waarheid-en-Versoeningsberaad oor Afrikaans se verlede en ’n opvolggesprek hieroor by vanjaar (2020) se Woordfees.” Aldus Danie van Wyk.

In Februarie vanjaar het dr. Titus as deel van sy geboortedorp, Worcester, se  200ste bestaansjaarvieringe die Freedom of the Town ontvang – ’n toekenning waarop hy baie trots was.

Afrikaans.com betuig ons innige medelye met dr. Titus se twee dogters, Daléne en Neriska, asook sy uitgebreide familie.

 

 

 

 

The post ’n Huldeblyk aan dr. Danny Titus: Afrikaans verloor een van sy grootste kampvegters. appeared first on Afrikaans.com.

Lente-reeks: Simoné Pretorius oor introvert-wees, spanwerk en publisiteit.

$
0
0

September, alhoewel altyd geassosieer met nuwe lewe en moontlikhede, kom vanjaar opnuut met spesiale betekenis … Die ergste van die Covid-19-inperking is skynbaar agter die blad met mense wat weer stuk-stuk, en versigtig, begin droom en doen. Planne word gemaak, vriende gesien, en provinsiegrense oorgesteek. Ter viering hiervan, het Afrikaans.com dit goedgedink om hierdie lente met verskeie invloedryke en suksesvolle persone in die Afrikaanse leefwêreld te gesels om beter te verstaan hoe hulle die meeste uit elke dag maak …

Vandeesweek is Simoné Pretorius aan die beurt. As geliefde aktrise ken Suid-Afrikaners vir Simoné uit rolprente en reekse soos Vir die Voëls, Hotel, Binnelanders en Wonderlus. Dit is egter veral haar motiveringspraatjies soos My lewenslesse voor 30 en haar en manlief (Andries Pretorius) se webinaar-reeks oor verhoudings, wat Simoné as kandidaat vir dié reeks laat uitstaan het.

Simone Pretrorius
Simone Pretrorius
Simone Pretrorius

Fotos: Instagram

Wat het sy geleer sedert sy getroud is, wat is haar benadering tot sosiale media en publisiteit, en waarom beskou sy elke mislukte oudisie as ’n seën? Lees en leer saam!

Wat is die boek (of boeke) wat jy graag en mees dikwels as geskenk gee en hoekom?

Of, wat is die een tot drie boeke wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het en hoekom?

  • Boundaries deur dr Henry Cloud & dr John Townsend

Ek is van nature ‘n sagte mens en ‘n “empath”. Ek sukkel om nee te sê omdat ek altyd meegevoel met mense het en mense nie wil seermaak of teleurstel nie. Die teenkant daarvan is dat mens maklik manipuleer word en nooit op die gevolge van die “ja” van jou besluite fokus nie. Jy begin verwyt kweek teenoor mense vir wie jy nie nee kan sê nie, en dis natuurlik onregverdig. Jy alleen is verantwoordelik vir jou besluite, niemand anders nie.  Die boek het my lewe verander.

  • What’s so amazing about grace deur Phillip Yancey

Yancey deel staaltjies van mense wat die minste vergifnis verdien het en dit steeds gekry het. Dis uitlokkend en aanstootlik. Hy verwys na “the scandal of grace”. Ek het emmers vol trane gehuil; dit het ‘n groot impak op my gemaak. Ek lees dit steeds oor en oor.

  • Unlocking the Bible deur David Pawson

Ek is lief vir die Woord. Ek hou van die groot prentjie. Unlocking the Bible gee ‘n oorhoofse blik op elke boek van die Bybel, asook die agtergrond en konteks daarvan – veral met betrekking tot Paulus se briewe. Ek werk gereeld daardeur in my stiltetye.

In die laaste vyf jaar, watter nuwe siening of gewoonte het jou lewe die meeste verbeter?

Vandat ek getroud is, het ‘n nuwe openbaring rakende spanwerk in my lewe plaasgevind. Ek is die enigste kind en het sodoende redelik selfstandig en onafhanklik grootgeword. Andries (my man) maak dit maklik om my lewe neer te lê en alles met hom te deel. ’n Mens dink dat die huwelik moeilik gaan wees in ‘n industrie soos myne, maar die huwelik is tot dusver werklik nog net ‘n aanwins vir beide van ons. Hetsy in die vorm van ‘n verhouding, ‘n vriendskap, ’n familielid, of ‘n kombinasie van hierdie drie dinge, sal ek mense werklik aanraai om ander mense in hul lewens toe te laat, in ag te neem en te vertrou. Twee is werklik beter as een!

Wat is slegte advies wat jy al ten opsigte van jou beroep / vakgebied gehoor het?

Enige publisiteit is goeie publisiteit. En dat jy altyd moet instem vir onderhoude. Ek dink dis gesond om ‘n balans te handhaaf in jou persoonlike lewe en loopbaan. Almal hoef nie altyd en heeltyd van jou te hoor, van jou te weet, of bewus te wees van wat in jou lewe aangaan nie. Mense sal seker dink dis teenstrydig met my teenwoordigheid op sosiale media, maar ek het baie beheer oor wat ek deel en gebruik wysheid en onderskeiding wanneer ek iets persoonliks plaas.

Oor die afgelope vyf jaar, waarvoor sê jy nou meer geredelik, of makliker, nee?

(Byvoorbeeld uitnodigings, afleidings, ens.) Watter nuwe insig of siening het jou gehelp om dit te doen? Enige ander advies?

Ek het vrede gemaak met die oorverdowende feit dat ek ‘n introvert is. Dit het jare geneem om genade met myself te hê in hierdie aspek. Dit was altyd moeilik om sosiale geleenthede van die hand te wys. Maar deesdae is dit amper té maklik, omdat ek fokus op waarvoor ek ja sê. Ek sê ja vir ‘n ontspanne, “recharged” Simoné wat genoeg energie het om vir haar man te gee, om aandag aan haar werk te gee, om heel te wees en ordentlik met mense te kan connect wanneer die geleentheid hom wel voordoen. Ek sê ook makliker nee vir mense wat wil hê dat ek gratis advertensies vir hulle moet gee of maak op sosiale media. My man het daarmee gehelp. Die les is dus eenvoudig – moenie soveel ja sê, dat jy niks oor het vir die dinge wat werklik belangrik is nie.

Watter aanvanklike mislukking of skynbare mislukking, het later vir jou sukses ingehou?

Het jy ’n ‘’gunsteling’’-mislukking?

As akteur het ‘n mens redelik gereeld te doen met die gevoel van mislukking, soos byvoorbeeld wanneer jy nie ‘n call back kry nie, of selfs as jy ‘n call back gekry het en op die ou end word die rol steeds aan iemand anders gegee. ‘n Mens leer later dat dit wat vir jou beskore is na jou toe sal kom, maar dit was aan die begin van my loopbaan redelik moeilik om te glo. Later kon ek sien dat elke toe deur gelei het na ‘n oop venster. ’n Venster kan egter so klein klink … asof dit ‘n troosprys is. Maar as ek baie van die oudisies in my vroeë loopbaan, waaroor my hart so seer was, gekry het, sou ek nie later beskikbaar gewees het vir Hotel of Vir die Voëls nie. So, elke rol wat ek nie kry nie, is my gunsteling-mislukking. Ek weet die Here se hand is in elkeen van ons se lewens. Hierdie beginsel, glo ek, het toepassing op elke individu en industrie.

As jy ’n massiewe buitelugadvertensiebord iewers kon oprig wat miljoene mense sou bereik, wat sou dit sê en hoekom?

Dit kan ’n paar woorde wees of ’n volledige paragraaf. Jy kan selfs iemand aanhaal.

“Grace, like water, flows to the lowest part.” – Philip Yancey

Wat is ’n ongewone gewoonte wat jy het, of iets skynbaar absurd wat jy baie graag doen?

Soms, as ek ‘n oorsese reeks/film kyk, sal ek die dialoog herhaal in die aksent wat die karakter praat. Ek sal ook soms die toneel re-enact, ander interne keuses neem en speel met waarheen die toneel kon gaan. Ek sal ook soms klemme hardop verander. Dit irriteer my man grensloos. En as daar geweld is, sit ek die klank af tot die toneel verby is. Ek hou ook daarvan om op die vloer te sit of te lê, al is die bed reg langs my. As kind het ek gereeld by my ma se voete gesit. Ek dink dit kom daarvandaan.

Wanneer jy oorweldig of ongefokus voel, wat doen jy om dit te oorkom?

Ek sit ‘n potgooi in my ore en gaan stap om die blok. Daar is ook ‘n houtbankie langs die rivier hier voor ons huis. Dis my “prayer bench”. Die oom en tannie wat voor ons hier gebly het, het dit daar gesit. Ek het al ure daar spandeer waar ek op skrif mediteer of sommer net na my worship-speellysie luister en probeer stil raak en asem skep. Ek sal dit aan mense aanbeveel om ‘n tree terug te neem en perspektief te kry, wanneer ‘n mens voel dat jy dit kwyt is.

Afrikaans.com doen gedurende September 2020 ’n reeks gebaseer op die entrepreneur en skrywer Tim Ferriss se Tribe of Mentors. In Tribe of Mentors, gesels Ferriss met invloedryke en suksesvolle persone uit verskillende omgewings om die publiek die geleentheid te bied om beter te verstaan hoe hierdie mense dink en leef. Ferriss gebruik 11 vrae wat hy aan hierdie persone stel. Vir hierdie reeks, wat weekliks gepubliseer gaan word, het ons dieselfde gedoen.

The post Lente-reeks: Simoné Pretorius oor introvert-wees, spanwerk en publisiteit. appeared first on Afrikaans.com.

My kind het AGHS. Wat nou?

$
0
0

“Die kind het miere in sy agterwêreld! Hy kan eenvoudig nie vir langer as ’n paar minute op sy boude stilsit en op een ding konsentreer nie.” Klink bekend? Is die kind bloot stout of verveeld, of is daar ’n ander rede vir sy woeligheid? En wat van die vergeetagtige dromertjie? Glad nie woelig nie, maar in sy eie wêreld?

Die meeste van ons het al van ADHD (Attention Deficit Hyperactivity Disorder) gehoor. In Afrikaans staan dit bekend as AGHS – aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom, of ook AAHS – aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom. Maar wat presies is dit, hoe word dit gediagnoseer en is daar raad? Afrikaans.com het met die skrywer en spraakterapeut Christien Neser gesels en deel graag haar antwoorde met ons lesers.

Kennis is, mag ...

Jy vermoed jou kind het AAHS of jou kind se onderwyser merk op dat hy sukkel om stil te sit en te konsentreer. Wat doen jy?

CN: Liewe ma, liewe pa. As jy bekommerd is oor jou kind se vermoë om te konsentreer, as jy in jou hart weet dat jou kind te woelig en te afleibaar is, dan is dit goed om oor AAHS te gaan oplees. (ADHD). Mens moet jouself heel eerste met kennis bemagtig. Mens kan byvoorbeeld op die internet die DSM 5 se kriteria vir AAHS gaan google. Met ’n lysie in die hand, sal ’n eerlike ouer baie gou sien of hul spruit wel die meeste van die eienskappe openbaar.

En vir onderwysers …

Liewe juffrou, liewe meneer. Onderwysers mag glad nie ’n diagnose maak nie. Dit is oneties vir ’n onderwyser om ’n kind as AAHS te etiketteer of om dit selfs vir die ouer te noem. Mens mag nie jou vermoedens ’n naam gee en dit so aan die ouer oordra nie. Al wat die onderwyser mag doen, is om te sê wat hulle in die klas waarneem en ervaar. My advies aan onderwysers: Hou jou aanmerkings op die rapport so positief as jy kan. Maar … kry die ouer in vir ’n onderhoud en noem dan die negatiewe aspekte op die naam, soos hiperaktiewe gedrag, swak luistervaardighede, impulsiwiteit, gedurige gevroetel, geskuif, toiletbesoeke, swak geheue vir opdragte, ensovoorts. Sit dit verkieslik op ’n persoonlike brief aan die ouer en laat jou departementshoof of jou skoolhoof dit teken. Dan kan niemand vinger wys na jou as ’n onnie wat nie die probleem betyds hanteer het nie. Die prerogatief bly die ouer s’n. Hulle moet die volgende stap neem en ’n dokter gaan spreek.

Slegs ’n spesialis op die gebied behoort ’n diagnose te maak

Terapeute en sielkundiges, juffrouens en mammas, oumas en tannies, weet dikwels lank vóór die doktersbesoek wat die diagnose gaan wees. Maar dit is slegs ’n spesialis op hierdie gebied, ’n mediese praktisyn, soos ’n pediater of ’n pediatriese psigiater, wat die diagnose behoort te maak. Op hierdie punt wil ek dit beklemtoon: Moenie geld en moeite ontsien om die beste moontlike spesialis te kry om jou kind te assesseer nie. Dis nie ’n vinnige ondersoek nie. Allermins. Dit neem tyd om die diagnose te maak en dit neem soms selfs maande om die regte medikasieprotokol te vind. Mens durf nie hier met ’n kind se gesondheid speel nie.

Omsigtigheid is die wagwoord

Dit is belangrik om nie diagnoses om kinders se nekke te hang voordat dit op medies verantwoordbare wyse gedoen is nie. Selfs daarna, moet die proses omsigtig hanteer word. Eers as die kind ouer is, kan die realiteite van AAHS met hulle bespreek word. Verkieslik moet ’n spelterapeut of ’n sielkundige die ouers daarmee bystaan. AAHS is gewoonlik ’n langdurige toestand en moet soms lewenslank bestuur word. Soos kinders ouer word, en die saak reg hanteer word, begin hulle later sommer daaroor grappe maak en is hulle glad nie skaam om met ander te deel dat hulle met konsentrasie of hiperaktiwiteit sukkel nie. Dit is deel van wie hulle is, hul eie unieke persoonlikheid en wese.

Dis spanwerk

As ouer en onderwyser ’n oop vertrouensverhouding het, kan baie planne gemaak word om die kind se aandagspan en fisieke gedrag te verbeter. Selfs sonder dat daar ’n diagnose is, kan ’n woelige of afleibare kind reeds in die klas gehelp word. Die ouer-onderwyserspan is krities belangrik. As ma en juffrou saamwerk en gereeld met mekaar gesels, is die stryd halfpad gewen.

AGHS

Soms kan ’n ouer nie insien dat die kind ’n probleem het nie. Gedrag tuis en in die klas verskil. Hoekom?

CN: Dis gevaarlik om veralgemenings te maak. Maar hier is ’n paar voorbeelde van gevalle waar juffrou en mamma nie dieselfde gedrag van die kind ervaar het nie:

  1. Die kind konsentreer dan ure lank wanneer hy ’n rekenaarspeletjie speel …

Tuis is boeta vir ure voor die televisie of met sy rekenaarspeletjies besig. Hy pla niemand nie. Mamma kan dan maklik aanvaar dat sy konsentrasie uitstekend is, want kyk net hoe lank kan hy op sy boude voor ’n skerm sit! Oppas, oppas … Dit is bekend dat dit die linkerbrein is wat deur die aktiwiteite van ’n rekenaarspeletjie gestimuleer word. So ook ’n TV-skerm. En belangrik, daar is heeltyd vinnige aksies, dis kleurvol, aksiebelaai en reg binne die kind se belangstellingsveld. Die regterbrein word egter nie uitgedaag tydens hierdie aktiwiteite nie. En die regterbrein is die setel van ouditiewe geheue (om te onthou wat jy hoor), vir verbeelding en vir empatie. Die brein werk soos die rugbyreël: use it or lose it. Die breinhelfte wat afgeskeep word, sal dus minder sinapse vorm.

In die klas is juffrou ongelukkig nie ’n rekenaarspeletjie nie. Sy praat oor dinge wat nie noodwendig die kind se belangstelling prikkel nie. Die kind moet dus sit en luister na goed wat hulle nie fassineer nie. En omdat die regterbrein minder aktief is, is die verbeelding minder aktief. Wat juffrou sê, word dus nie sonder meer in beelde omgeskakel in die kind se brein nie.  As boet of sus dus van kleins af heeltemal te veel skermtyd kry, gaan die luisterproses in die klas moontlik ’n probleem wees.

  1. Sensories-sensitief?

Boeta is tuis dalk die enigste kind of het baie meer persoonlike ruimte. Boet of sus mag sensories sensitief wees. In die klas, met 30 ander lyfies, is die sensoriese stimulasie eens te veel. Sommige kinders kry swaar om in ’n klas waar daar baie sensoriese stimulasie is, te funksioneer. Dertig ander kinders praat en skree, die interkom gaan kort-kort af, die pouseklok lui, juffrou of meneer praat hard. Dis alles ouditiewe stimulasie wat ’n sensitiewe kind omver kan gooi. Voeg hierby 30 lyfies wat ná pouse snaaks ruik, na sweet of grondboonbotter of vissmeer of kaas (reuk/olfaktoriese sensasie). Hierby kom tassensasie, want 30 kinders druk en stoot en stamp. Vir baie kinders is dit onhanteerbaar. Maak eers seker dat hierdie faktore nie die kind se konsentrasie affekteer nie. ’n Arbeidsterapeut se hulp is in hierdie geval van onskatbare waarde.

  1. Sosiale angs

Boet of sus mag in die klas dalk sosiale angs ervaar. Angstigheid is ’n realiteit en dit word al meer. ’n Kind wat angstig is, kan nie konsentreer of leer nie. Dis dikwels die kind wat gedurig wil gaan piepie. Die uitkomkans uit die klas is ’n ontsnapping van die situasie en boonop word die blaas ook deur angs geprikkel. ’n Onderwyser se stem mag angs in ’n kind sneller. Die kind sal dan sê dat juffrou op haar skree. Dis egter net die subjektiewe ervaring van die kind. Sorg asseblief dat jou angstige kind by ’n knap spelterapeut of sielkundige uitkom. In uitsonderlike gevalle mag ’n kinderpsigiater se hulp nodig wees.

  1. Kinetiese leerder?

Boet mag tuis dalk die ruimte hê om te beweeg. Hy kan hardloop en speel tot hy gaan slaap. In die klas word die beweging ingeperk. Baie kinders is kinetiese leerders. Hulle leer op hul beste terwyl hulle beweeg. Daarom moedig ek alle grondslagfase-juffrouens aan om hul kinders gereeld te laat opstaan en gereeld buite te gaan hardloop. Gebruik rympies en liedjies met beweging om die alfabet aan te leer, om tafels en kombinasies te leer. Almal sal daarby baat. Musiek en beweging as deel van jou leerproses is kosbaar. Onthou, jong kinders leer met hul hele lyf. Niks so dodelik vir ’n kinetiese leerder as ’n klomp werksvelle nie. Nee, hy wil buite touspring terwyl hy die alfabet opsê of sy tafels herhaal.

  1. Besige mamma

Mamma mag ’n superbesige ma wees wat die kind eers teen 17:30 by die skool kry. Dan is dit bad, eet, slaap. Die huiswerk is reeds in naskool gedoen, die kind is gedaan teen die tyd dat mamma hulle oplaai. Dis ’n ander realiteit vir juffrou, wat ses ure lank dieselfde lyfie in haar klas ervaar. Ongelukkig is superbesige mammas nie altyd bewus van die realtiteit van hul kinders se gedrag nie, bloot omdat hulle die kinders eintlik net naweke sien. En dan is dit heeltyd speeltyd. Hersaamgestelde gesinne, wat naweke afwisselend by ouers is, maak dinge selfs meer gekompliseerd.

  1. Hipo-aktief, d.w.s. onderaktief

Sussa is dalk tuis ’n voorbeeldige, dromerige kind wat popspeel en fantasiespeletjies geniet. Niemand kom agter dat sy eintlik hipo-aktief is nie, met ander woorde, onderaktief. In die klas droom sy voort, terwyl juffrou klanke en somme verduidelik. En sussa raak agter, want sy is nie by nie. Haar lyfie is in die klas, maar haar gedagtes is elders. Sy moet so gou as moontlik by ’n goeie pediater of psigiater uitkom. Medikasie vir hipo-aktiewe kinders maak gewoonlik ’n reuseverskil.

  1. Dissipline tuis en by die skool

Dissiplinêre sisteme van huis en skool mag radikaal verskil. In ’n laissez-faire huishouding, gaan ’n ontspanne ma beslis nie dieselfde ervaring van haar woelwater hê as die juffrou in die klas nie.

Aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit: gaan dit hand aan hand? Of kan ’n kind aandagafleibaar wees en nie noodwendig hiperaktief nie?

CN: Volgens die DSM 5 is daar twee groot indelings: een groep het te doen met aandagafleibaarheid (AAV) en die ander met hiperaktiwiteit en impulsiwiteit (AHV). En dan kan beide groepe simptome in een individu voorkom, beide aandaggebrek en hiperaktiwiteit. Kinders is individue en hulle simptome verskil grootliks. (Lees meer hieroor in die kassie.)

Hipo-aktiewe kinders het gewoonlik ’n aandaggebrek. Hulle is die dromertjies. Moet ook glad nie hulle intelligensie onderskat nie. Hulle onderpresteer ongelukkig in die laerskool, omdat hulle nie goed genoeg kan konsentreer nie. Gewoonlik verbeter hul aandagspan in puberteit, aangesien hormonale ontwikkeling die ontwikkeling van sinapse ook aanvuur. Dis jou tipiese “late bloomer” wat eers later op skool begin blom.

Hiperaktiewe kinders is gewoonlik so besig dat hulle nie behoorlik luister nie. Maar dan is dit wyd gedokumenteer dat sulke superbesige lyfies baie goed kan luister terwyl hulle vroetel. Dit is die kinetiese leerders wat nodig het om te beweeg terwyl hulle leer.

Kan ’n kind met AGHS in die hoofstroom floreer?

CN: Absoluut. Met ’n simpatieke onderwyser, ’n betrokke ouer, die korrekte medikasie (indien aangewese), terapeute wat ondersteun en genoeg fisiese beweging, kan hierdie kinders hul potensiaal bereik. Daar is soveel van my oudleerlinge, wat maar met baie trane en gestoei deur die laerskool is, wat op hoërskool net vlerke gekry het. Ek kan aan ’n hele paar dink wat tans besig is met hul mediese opleiding. Daar is ’n paar wat alreeds in die beroep staan as onderwysers, ingenieurs, prokureurs. Party het professionele sportmanne geword, daar is akteurs, entrepreneurs. Sommige is so ver ek weet lankal van hul medikasie gespeen, ander verkies om dit te bly neem.

Soms vind ouers egter dat die gewone skool te besig, te raserig en selfs te onsimpatiek is. Dan is ’n kleiner skool, of selfs ’n remediërende skool, eerder aangewese. Soms gaan die kind vir ’n tydperk na ’n remediërende skool, maar skakel later weer terug na die hoofstroom – of andersom.  Die emosionele welsyn van die kind moet altyd voorop staan. Die intellektuele vermoë van ’n kind speel natuurlik ook ’n rol. Die span wat die kind ondersteun, sal die ouer help om hierdie besluite te neem.

Kan dieet ’n rol speel?

CN: Ons is wat ons eet. So dieet speel ’n geweldige belangrike rol. Dit is veral die ontbyt wat vir kinders met AGHS uiters belangrik is. Sekere medikasie, soos Ritalin, kan die aptyt laat afneem. Hierdie outjies moet ’n ontbyt hoog in proteïen en kalorieë inkry, want hulle gaan dalk nie weer later die dag wil eet nie. Hier moet mamma planne maak. Smoothies, melkskommels, aanvullings mag met sukses gebruik word. Oppas maar vir suiker. Soetgoed moet liefs vermy word. Baie ouers rapporteer dat hul kinders “van die kandelare af swaai” ná ‘n suikerbelaaide partytjie. Gaan sien tog gerus ’n dieetkundige om te help planne maak sodat die kind behoorlike voeding inkry en elke ete nie in ’n oorlog ontaard nie. Omega 3-aanvullings is altyd ’n goeie idee. So ook vit C en vit B.

Lig loop vir wonderkure

Daar is baie preparate op die mark wat beloof dat die gebruik daarvan die kind se punte met 30% sal laat klim, ensovoorts. Lig loop. Volg jou dokter en dieetkundige se raad en ook jou eie gesonde verstand. If it sounds too good to be true … dan is dit waarskynlik.

In jou boek, Help! my kind is anders, praat jy van die “ritteltits oor Ritalin” en ouers is bekommerd oor die newe-effekte. Sal medikasie ’n kind in ’n zombie verander? Hoekom sal ’n mens enigsins medikasie oorweeg?

CN: Dit lyk gewoonlik of daar net twee kampe is: vir en teen. Die feit is dat daar baie fopnuus is en dat baie onwetenskaplike aannames gemaak word. Hoekom sou mens medikasie oorweeg? Beslis nie om die lewe vir juffrou of mamma makliker te maak nie! ’n Mens oorweeg dit as die kinders se funksionering ingeperk word daardeur.

Medikasie vir AAGS is nie iets wat ligtelik gegee moet word nie. Dit is immers bylae 6 voorskrifmedisyne. Dit moet, soos reeds gesê, deur ’n spesialis voorgeskryf en bestuur word. Medikasie is die laaste uitweg, nadat liefde, dissipline, terapie, genoeg slaap, optimale voeding, gesonde oefening en ’n beperking op skermtyd nie ’n beduidende effek het nie.

Meer oor die medikasie

Medikasie word in twee groepe verdeel. ’n Derde groep medikasie is in wording, maar nog nie op die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar nie. Die neem gemiddeld vier weke om die medisyneprotokol uit te sorteer.

  • Die eerste groep is stimulante. Die hoofbestanddeel is metielfenidaat. Dit is medisyne soos Ritalin (kortwerkend) en Concerta (langwerkend).  Op sellulêre vlak sorg hierdie medikasie dat die liggaam minder dopamien herabsorbeer, sodat daar meer dopamien in die sinaps oorbly om impulse mee te gelei.
  • Die tweede groep is die niestimulante, wat handelsname soos Strattera insluit en waarvan die aktiewe bestanddeel atomoksetien is. Hierdie bestanddeel teiken die herabsorpsie van noradrenalien. Beide soorte medikasie werk in die prefrontale korteks van die brein.

Daar mag newe-effekte wees:

Elke newe-effek moet onmiddellik met die dokter bespreek word.

  • Groei kan ingeperk word aangesien die medisyne die aptyt kan belemmer.
  • Slaappatrone kan versteur raak.
  • Die persoonlikheid kan verander: ’n Ekstroverte kind kan skielik meer bedees raak, asof die persoonlikheid gedemp word. Dit is dan wanneer ouers dikwels van die “zombie-effek”praat. ’n Stil kind kan weer oornag in ’n kekkelbek verander. Hierdie gedragspatrone is gewoonlik net tydelik.
  • Die kind kan depressiewe neigings toon. Hiperaktiewe kinders het egter dikwels ongediagnoseerde depressie, wat gemaskeer word deur hul gedrag. Wanneer die gedragspatrone wegval, lê dit egter die depressie bloot. Sulke gedrag moet dadelik met die spesialis bespreek word.
AGHS

Die regte medikasie vir AAGS kan lewensveranderend wees, vir die kind en die ouers. Die newe-effekte kan aanvanklik egter uiters ontstellend wees. As daar net een les is wat ons moet onthou, is dit: Geen medikasie mag deur iemand anders as ’n ervare spesialis voorgeskryf en bestuur word nie.

AGHS mag met ander sindrome verwar word. Kinders mag woelig wees om ander redes …

Kinders kan verkeerdelik as AGHS gediagnoseer word. Dit mag die diagnose van ’n dokter wees of dit mag die informele diagnose van die juffrou wees wat die kol mis. Hier is ’n paar onderliggende faktore wat mag lyk na AGHS …

  1. Lae spiertonus. Die kind met lae spiertonus sukkel nog om regop op ’n stoeltjie te sit. ’n Fisioterapeut verduidelik: Die kind moet heeltyd teen swaartekrag baklei. Hierdie kinders val dikwels uit hul bankie, ry op die stoel, haak hul enkels om die stoel se pote, lê met die kop op die arms, stut die kop met een hand as hulle teken of skryf, sit met W-bene op die mat en kan nie lekker kruisbeen sit nie. Hierdie kinders se ruggie is gewoonlik krom en die ken na vore gedruk. Om te probeer regop bly op ’n stoeltjie, moet hierdie kinders heeltyd rondskuif. Hulle tafel is dikwels ongeorganiseerd, hulle stamp gedurig hul pennesakkie af, stamp aan hul maat en skryf slordig. As ’n arbeidsterapeut of ’n fisioterapeut inspring en help, verbeter al hierdie simptome en daarmee saam die aandagspan. Juffrou kan ook ’n wig of bankie voorsien waarop die voetjies kan rus. Dit help om stabiliteit te verleen. ’n Spesiale kussing op die stoel help ook. Hierdie kinders het BAIE fisieke oefening nodig, veral om hul maagspiere (core muscles) te versterk. (Lees meer in hoofstuk 9 van Help! My kind is anders.)
  2. Angs: Angstige kinders sukkel om te luister. Hulle is beslis nie hiperaktief nie, maar hipergestres. (Lees meer in hoofstuk 15 van Help! My kind is anders.)
  3. Gehoorgebrek: Kinders wat nie aandag gee en nie luister nie, mag ’n gehoorgebrek hê. Verwys asseblief na ’n oudioloog vir toetsing.
  4. Honger kinders kan nie luister nie. Volg asseblief op.
  5. Kinders wat nie genoeg slaap nie, kan ook nie luister nie. Dit is iets wat ouers en onderwysers in ag moet neem. Toenemend kyk kinders tot laatnag na series en YouTube en sosiale platforms tot laatnag in hul eie bed. Dit het ’n vernietigende effek op hul slaappatroon.
  6. Emosionele en sosiale probleme: Die kind wat tuis swaarkry, wat dalk gemolesteer of mishandel word, gaan dalk al die simptome van ’n kind met aandagafleibaarheid toon. Dit is faktore wat ook in gedagte gehou moet word.
  7. Persoonlikheidsbotsings: Waar ’n sensitiewe kind by ’n onderwyser is wat baie hard praat of skree, mag die kind ervaar dat die onderwyser op hulle skree. Sommige kinders sluit net af. Dit kan die beeld van aandagafleibaarheid skep.
  8. Kinders met taalprobleme: As mens nie verstaan wat in die klas aangaan nie, gaan luister ’n groot probleem wees. Enige taalprobleem moet eers uit die weg geruim word, voordat daar realisties van ’n aandaggebrek gepraat kan word.
  9. Outisme: Kinders op die outisme-spektrum het dikwels aandaggebrekprobleme, en daarmee saam ook hiperaktiewe gedrag. Dit is noodsaaklik dat ’n pediater of psigiater hierdie aspekte in gedagte hou wanneer diagnoses gemaak word en veral wanneer voorskrifte gegee word. Die kind met sensoriese hipersensitiwiteit, soos ’n kind op die spektrum, het dikwels oorfone nodig om klank uit te skakel en ’n FM-sisteem om na die juffrou te luister. ’n Afsonderlike hokkie in die klas is hier ook verkieslik. ’n Tent kan selfs in die klas opgeslaan word waar hierdie kinders kan afkoel en sensories kan ontlaai.

Dus, hoewel dit ’n uitdaging is om seker te maak jou kind wat met AGHS gediagnoseer is, kry die beste moontlike ondersteuning en leiding om te verseker hulle toestand word bestuur op ’n manier wat hulle uiteindelik vlerke gee, is daar goeie raad en metodes om aan te wend om seker te maak jou kind bereik sy/haar volle potensiaal.

Afrikaans.com bedank Christien Neser vir haar volledige en insiggewende antwoorde op ons vrae.

*DSM-kriteria

Belangrik om te weet:

“Ten minste ses van die gelyste simptome moet vir langer as ses maande teenwoordig wees om betekenisvol te wees. Die simptome moet voor die ouderdom van 12 duidelik wees. Dit moet in twee of meer omgewings voorkom. Dit moet duidelik inmeng in die kind se sosiale interaksie, skoolwerk en funksionering. Dit moet nie met ander psigiatriese toestande verwar word nie.”

Simptome:

Aandagafleibaarheid:

  • Sukkel om aandag te gee en maak nalatige foute.
  • Sukkel om gefokus te bly.
  • Lyk asof die kind nie luister nie.
  • Opdragte word nie behoorlik uitgevoer of klaargemaak nie.
  • Sukkel om hulself te organiseer.
  • Vermy take wat konsentrasie verg.
  • Verstrooid, vergeet en verloor daagliks besittings.
  • Aandag word maklike afgetrek.
  • Dromer.

Hiperaktiwiteit/Impulsiwiteit:

  • Vroetel, woelig, rusteloos.
  • Staan heeltyd van stoel af op wanneer hy eintlik moet sit.
  • Klim, klouter, hardloop op onvanpaste tye.
  • Sukkel om saggies te speel/aan aktiwiteit deel te neem.
  • Hou net nooit op beweeg nie.
  • Praat dikwels baie op onvanpaste tye / val ander dikwels in die rede.
  • Kan nie sy beurt afwag nie en dit kan tot konflik met maats lei.

Lees meer: In hoofstuk 14 van die boek, Help! My kind is anders (LAPA), deur Christien Neser, word hierdie aspekte deur dr. Brendan Belsham opgesom en maklik leesbaar uiteengesit. Lees ‘n uittreksel hier. Sy boek, What’s the fuss about ADHD (2014) is ook ’n handige gids.

Kyk ook:

Word kinders te gou met AGHS gediagnoseer? Kabous Meiring gesels op Prontuit met Amelia Esterhuizen, dr. Brendan Belsham en Sorein Steyn (lsg is self met AGHS gediagnoseer) oor die feite en mites aangaande die sindroom. Kyk hier.

Luister ook:

Marí Hudson gesels op RSG in die program, Gesondheid, (2 September 2020) met professor Renate Schoeman oor AGHS en die gebruik van medikasie. Luister hier.

The post My kind het AGHS. Wat nou? appeared first on Afrikaans.com.

Exclusive Books se Afrikaanse topverkopers vir September

$
0
0

Koop tussen 30 September en 14 Oktober 2020 enige van die titels op hierdie lysie en ontvang 10% afslag in Exclusive Books-boekwinkels landswyd en op Exclusive Books se aanlyn winkel.

WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom! 
Klik hier.

Vandeesmaand groet ons gewilde topverkopers soos Sophia Kapp se Kanaän en Irma van Zyl se Bloedsteen wat vir maande lank met ‘n plek op dié lysie gespog het … Daarmee saam is daar egter vier splinternuwe boeke wat hul weg tot in die land se topverkopers baan. Hykie Berg se rou en eerlike vertelling oor ADHD maak vir die eerste maal ‘n verskyning. Met die koms van die lente blyk Suid-Afrikaners ook om nuwe lus te hê vir die buitelewe met die nuutste hersiene weergawe van die gewilde Voëls van Suider-Afrika wat ook op die lys is. Watter ander boeke verkoop soos soetkoek? Lees hieronder!

1

Afrikaanse Boeke

Hans gee Herklaas horings – Rudie van Rensburg

Hans van Kraaienburg, verlosser van Huis Madeliefie se oumense, se vriend Vasie nooi hom vir ‘n vakansie op Hermanus, as gaste van dié se neef Herklaas. Daar gekom, vind hulle Herklaas in die sop: die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, wil sy blyplek koop en herontwikkel – maar Herklaas wil nié trek nie. Toe Grond se kriminele handlangers hardhandig raak, besluit Hans dat Herklaas ‘n stel horings moet kry om Grond trompop te loop.

Koop die boek

2

Afrikaanse boeke

Merk – Rudie van Rensburg

Kassie het geglo sy speurderdae is getel na die Medusa-pedofielsaak, en sy hartaanval. Maar ses maande tuis bring perspektief – hy is ‘n speurder in murg en been. Terug by die Spookeenheid word hy en kollega Rooi Els dadelik by die diep kant ingegooi: Hulle moet ‘n reeksverkragter vastrek – een wat sy slagoffers met ‘n brandyster merk. Is die skuldige die man wat beskryf word as “‘n weerwolf met die sperm van ‘n wildehond”? Of lê die antwoord by die spesifieke merk wat hy op sy slagoffers laat?

Koop die boek

3

Afrikaanse Boeke

Die Brug: Na die hel en terug in Angola – Rudie van

In vergeelde foto’s van drie dekades gelede staan oopgesigseuns vol bravade voor Ratel-gevegsvoertuie. Hierdie dienspligtiges van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep staan aan die begin van hul reis diep in Angola in om vir volk en vaderland te gaan veg.

In ’n bloedige geveg op Valentynsdag 1988 en in die doodsakker by Tumpo sou hul jeugdige onskuld egter sneuwel. In die hitte van die gevegte kom die besef: Nou gaan dit nie oor ideologie nie, maar om oorlewing. Na die oorlog gaan die lewe voort, maar die vrae en geestelike letsels wyk nie.

In 2018 keer ’n groep van die ouddienspligtiges terug na Cuito Cuanavale op soek na afsluiting – en om die wrak te vind van die Ratel waarin ’n makker op die laaste dag van die oorlog gesterf het. Die Brug vertel van hul reis van jong man na veteraan en gee ook ’n stem aan die vroue in hul lewe. Dit is ’n verhaal van ontnugtering, maar ook van trotse kameraderie en genesing.

Koop die boek

4

Afrikaanse boeke

Maggie: My lewe in die kamp – Maggie Jooste

Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek en haar lewe ingrypend verander. Na maande in huisarres word sy en haar gesin na ‘n konsentrasiekamp in Natal gestuur. Hier ervaar hulle honger, onsekerheid en verlies, maar ook soms op ‘n verrassende wyse die goedhartigheid van Britse soldate. Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ‘n verhaal van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en vriendskap oor vyandsgrense heen.

Koop die boek

5

Exclusive Books se Afrikaanse topverkopers

Hans steek die Rubicon oor – Rudie van Rensburg

Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders maneuvreer hom vanuit hul tuistes oorsee in Huis Madeliefie in, maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.

Koop die boek

6

Anton Goosen – Liedjieboer – Hanlie Retief

Na 40 jaar se rock ‘n roll in Afrikaans vertel die legendariese Anton Goosen nou sy volle verhaal, soos neergepen deur die bekroonde joernalis Hanlie Retief. Die vader van Afrikaanse rock skryf oor sy grootwordjare in die Vrystaat, sukses en roem, sy lewe op die langpad, die Musiek-en-Liriek-era, die hoogtepunte en teleurstellings langs die pad. Aangrypend, eerlik en vol humor: Dit is die lewe van Anton Goosen. ‘n Lewe teen die stroom op.

Koop die boek

7

Afrikaanse Boeke

My stryd met ADHD – Hykie Berg

Hykie vertel in rou eerlikheid van sy stryd met ADHD. Van ‘n weerlose seuntjie wat nie kon stilsit nie tot ‘n jong man wat in Weskoppies opgeneem word en alles verloor. Hykie ondersoek die hele fenomeen van ADHD – hoeveel diagnoses daar gemaak word, hoe die medikasie ontstaan het, die samestelling en die newe-effekte daarvan. Hykie wys dat medikasie nie die enigste antwoord is nie. Hykie gee ook waardevolle raad aan Christene oor hoe om mense wat aan geestessiektes lei, te ondersteun.

Koop die boek

8

Afrikaanse Boeke

Sasol Voëls van Suider-Afrika – Ian Sinclair, Phil Hockey, Warwick Tarboton, Peter Ryan

Die vyfde uitgawe van Sasol Voëls van Suider-Afrika  is tans volledig bygewerk deur die deskundige skrywerspaneel, met bykomende bydraes van twee nuwe voëldeskundiges. Hierdie omvattende topverkopergids is grootliks verbeter en sal beslis sy plek behou as een van die mees betroubare veldgidse in Afrika.

Koop die boek

9

Afrikaanse Boeke

Middernag – Sidney Gilroy

Die oorskot van ’n verminkte vierjarige word in die vroeë oggendure in ’n Frutti Tutti-roomyskarretjie aan die voet van Platberg in Harrismith ontdek. Kaptein Brummels besluit oornag om Parkwegstasie se bulhond, Sollie Mtembu, saam te sleep om ’n oudkollega van hom met die ondersoek te help.

Sollie lyk dalk na ’n onervare sersant wat dikwels oor sy eie woorde struikel, maar as hy iets beetkry, laat los hy nie. Sidney Gilroy se debuutroman, Klikbek, is met groot lof deur resensente en krimi-lesers ontvang. Almal stem saam dat sowel skrywer as speurder ’n groot aanwins tot die Afrikaanse krimikorpus is.

Koop die boek

10

Afrikaanse Boeke

Donker Web – Fanie Viljoen

Greg Owen, voormalige hoofseun van Lawson Kollege en kuberkraker van formaat, is ‘n eerstejaar-Matie na die jaar waarin sy gesin se lewe uitmekaar val. Sy pa en Dok Pienaar is ontmasker as die Baker en die Candlestick Maker van Project Nursery Rhyme en is agter tralies. Maar wie en waar is die Butcher? Greg sal nie kan rus tot die derde lid van die gewetenlose driemanskap aan die pen ry nie. As jy wil wraak neem, moet jy twee grafte grawe.

Koop die boek

WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom! 
Klik hier.

The post Exclusive Books se Afrikaanse topverkopers vir September appeared first on Afrikaans.com.


Gratis stories vir jong kinders

$
0
0

Om te lees is om te droom! Daarom stel Afrikaans.com graag die volgende gratis aflaaibare stories beskikbaar, uit die pen van ’n opwindende nuwe skrywer, Jana Snyman. Elke boelie kry sy bief en Die Kliek is gemik op 7-12-jariges en spreek die temas van boeliery en groepsdruk aan. Deur karakters soos Mieke en Marna, neem Jana die kleinspan op ’n verbeeldingsreis en leer hulle ook belangrike lesse oor die verskillende uitdagings waarvoor mens in die skool te staan kan kom. Laai die stories hier af en word deel van Afrikaans.com se leesgemeenskap.

Afrikaanse kinderboek

Klik op die prentjie om die pdf af te laai

Afrikaanse kinderboek

Klik op die prentjie om die pdf af te laai

The post Gratis stories vir jong kinders appeared first on Afrikaans.com.

NB-Uitgewers se boekekeur vir September

$
0
0

Hierdie maand gee Afrikaans.com jou ’n kykie na van NB-Uitgewers se splinternuwe digbundels. Van Antjie Krog se oeuvre tot die nuutste poësie uit die penne van die bekroonde Nathan Trantraal en Johann de Lange; daar is iets vir almal!  Laai gerus hieronder ’n gratis uittreksel uit elke digbundel af en word deel van Afrikaans.com se leesgemeenskap.

Afrikaanse Boeke

1

‘n Vry vrou: Gedigte van Antjie Krog

Antjie Krog, Karen de Wet

ISBN: 9780798180511

Uitgewer: Human & Rousseau

Krog is ’n internasionaal gerekende digter maar ook plaaslik geliefd. Vyftig jaar ná haar opspraakwekkende debuut, Dogter van Jefta, verskyn daar ’n splinternuwe versameling waarin meer as honderd gedigte uit haar elf bundels saampraat. Verse oor eerste liefde, oor moederskap, oor die landskap, en oor onreg; oplaas ook oor ouer word.

‘n Vry vrou bevat gunstelinge uit Krog se oeuvre, maar ook minder bekende dog ewe verrassende verse. Saamgestel deur Karen de Wet, kenner van Krog se oeuvre.

Laai hoofstuk af

Afrikaanse Boeke

2

Vers & vrou: 258 gedigte 

Karen de Wet

ISBN: 9780798180665

Uitgewer: Human & Rousseau

’n Versameling gedigte oor vroue, deur vroue, vir vroue – en vir dié wat met vroue leef.

Lees oor beroepsvroue en huisvroue, verliefde, geliefde en ontnugterde vroue, vroue met kinders en sonder kinders, vroue wat in die kalklig staan en vroue wat deur grense breek. In dié boek word die heelal beskou deur ’n vroulike blik. ’n Bloemlesing om aan te gee vir ’n vriendin of ’n suster, vir ma’s en vir dogters, vir geliefdes – omdat ons almal ’n bietjie so is, en ook nié so is nie. 

Laai hoofstuk af

Afrikaanse Boeke

3

Pienk ceramic-hondjies

Ryan Pedro

ISBN: 9780795709869

Uitgewer: Kwela

In Ryan Pedro se debuutbundel kom ’n sterk nuwe stem aan die woord in roerende gedigte wat dikwels uit die oogpunt van ’n bruin seun op ’n plattelandse dorp aangebied word. Die kompleksiteite van identiteit, ras, klas en opvoeding word ondersoek deur dié seun se beweging tussen verskillende wêrelde binne sy eie familie en binne die kleindorpse opset. Dit word in die taalgebruik in die bundel weerspieël deur ’n wisseling tussen variëteite. ’n Onderverteenwoordigde ervaringswêreld word oopgeskryf.

Laai hoofstuk af

Afrikaanse Boeke

4

Die meeste sterre is lankal dood

Johann de Lange

ISBN: 9780798181235

Uitgewer: Human & Rousseau

Die meeste sterre is lankal dood is die bekroonde digter Johann de Lange se dertiende bundel. Dit bestaan uit ses verskillende afdelings, deurgaans gewy aan vlietende oomblikke vasgevang in ‘n vers (“om met woorde die onsegbare te sê”). Die bundel het ‘n elegiese toonaard, en word oorheers deur ‘n bewustheid van verlies en verganklikheid, van “inskaduwings van die lig”. Verse oor die skryfproses figureer as teenvoeter vir die verbygaande aard van mens wees. Dit is verse vir “my mooi dooies”. In “Oggendmusiek” beskryf die digter ‘n vroegoggendkoor van voëls voor sonsopkoms, elders ‘n koorddanser, voetjie vir voetjie oor die spantou. Soos in sy vorige werk is die erotiese verse ‘n hoogtepunt in die bundel, bv. in “Ode aan die mielie”: “Nét so, nog aan die oggend — tussen die syige bene van die dag — staan hy, volryp, pittig & reg.”

Laai hoofstuk af

Afrikaanse Boeke

5

Bientang

Jolyn Phillips

ISBN: 9780798180948

Uitgewer: Human & Rousseau

Van Bientang het net die naam van ‘n restaurant in Hermanus oorgebly: Bientang’s Cave, asook ‘n weggooi-opmerking: die laaste Strandloper. Uit hierdie gegewens sny die digter se verbeelding spoor in ‘n kontra-epos. Wie was Bientang? Te midde van historiese geskrifte, kontemporêre angste en oorlewerings, verskyn buitelyne om haar vir oomblikke binne bereik te bring. Die toonaard van die bundel is egter verlies oor ‘n verlede wat geen spoor laat in die opgeskryfde geskiedenisse van die land nie.

Laai hoofstuk af

Afrikaanse Boeke

6

Rooiborsduif: Gedigte oor die liefde

Breyten Breytenbach, Charl-Pierre Naudé

ISBN: 9780798178761

Uitgewer: Human & Rousseau

’n Oorsig van Breytenbach se digkuns is ‘n voëlvlug oor die jare sestig tot vandag, waarin beide Europa en Afrika hulself radikaal geherdefinieer het. Die gedigte is chronologies gerangskik volgens die digter se lewensgang: jongmenslewe in Kaapstad, Parys, bannelingskap weens sy huwelik, terugkeer en tronkstraf, die buiteland. En oplaas ’n pendelaarslewe tussen noorde en suide van die aardbol, waarin tuiskoms slegs in die arms van die liefde is.

Laai hoofstuk af

Afrikaanse Boeke

7

Uit die kroes

Lynthia Julius

ISBN: 9780795709531

Uitgewer: Kwela

In Uit die kroes word die Noord-Kaapse leefwêreld opgeroep in verse wat Namawoorde op verrykende wyse inkorporeer. Dit bevat gedigte wat die sentrale dog geringgeskatte rol van die bruin vrou in die Suid-Afrikaanse geskiedenis belig. Ook die hedendaagse posisie van die jong bruin vrou word bekyk – hoe daar byvoorbeeld steeds teen wanpersepsies oor ras en skoonheid gestry word.

Jy dra jou kroes hare so laat mense kan sien

Glad alleen beteken nie mooi nie.

Laai hoofstuk af

Afrikaanse Boeke

8

Oolog

Nathan Trantraal

ISBN: 9780795709517

Uitgewer: Kwela

In Oolog word stryd, konflik en oorlogvoering op verskeie vlakke ondersoek – nie net met verwysings op ’n nasionale en internasionale skaal nie, maar veral in die beskrywing van intieme, persoonlike ruimtes. Die realiteite van die Kaapse Vlakte word oopgeskryf.

Met sy narratiewe verse, geskryf in verrykende Kaaps, vertel Trantraal stories wat dikwels met ’n vuishou in die verrassende slotreëls tref. Hierdie gedigte is vindingryk en vreesloos, met donker humor maar nie sonder deernis nie.

Laai hoofstuk af

Afrikaanse Boeke

9

Chinatown

Ronelda Kamfer

ISBN: 9780795709500
Uitgewer: Kwela

In die bekroonde digter Ronelda Kamfer se vierde bundel, Chinatown, bied sy opnuut poësie met ’n emosionele slaankrag wat die leser nie onaangeraak sal laat nie. Geslagspolitiek word ondersoek deur ’n vrouestem wat opklink teen die patriargie. Verwysings na ’n gebroke verhouding tussen pa en dogter kom deurlopend voor. En kwessies wat deel vorm van die huidige sosio-politieke diskoers – vrouemishandeling, rassisme en armoede – kom aan die bod, maar word met ’n diep menslikheid hanteer

Laai hoofstuk af

Afrikaanse Boeke

10

Kryt

Hennie Nortjé

ISBN: 9780795802065

Uitgewer: Queillerie

In Hennie Nortjé se tweede digbundel (na die bekroonde In die skadu van soveel bome) kom die bokskryt van die menslike kondisie aan bod in ingehoue, subtiele en dikwels wrang humoristiese verse. Kryt bewoord die uitwissing van eras (soos die Kryttydperk); die impak van katastrofes op die heelal; die uitlewering van die mens aan bedreigings (onder meer die aanslag van bordkryt, en die uitkrytery tussen bevolkingsgroepe); die verbystering oor die skoonheid en wonders van die natuur; en die drang van die klein skepper om in die kryt te tree teen Tyd se sloping deur middel van kunsskepping. Geologiese, ekologiese en natuurhistoriese temas word vooropgestel, sowel as gedigte oor die natuur en kunstenaarskap wat lesers van sy vroeëre werk na aan die hart sal lê.

Laai hoofstuk af

The post NB-Uitgewers se boekekeur vir September appeared first on Afrikaans.com.

Hoeveel vloekwoorde ken jy?

$
0
0

Vloek.co.za is tans besig met navorsing om te bepaal wat die prototipiese vloekwoorde en taboe-uitdrukkings in Afrikaans is – met ander woorde die bekendste, frekwentste en prominentste woorde wat binne sommige kontekste deur verskillende mense as taboe ervaar sou kon word. Ons het jou hulp nodig!

As jy aan hierdie vraelys deelneem, staan jy boonop die kans om tydens die gelukstrekking aan die begin van Desember 2020 R1 000 met die komplimente van Afrikaans.com te wen.

Hoe werk dit?

Sodra jy instem om deel te neem, sal ’n vorm met die volgende elemente verskyn:

  • ’n Aftelhorlosie, want jy het slegs 2 minute om soveel as moontlik vloekwoorde en uitdrukkings te tik.
  • ’n Teksveld waarin jy die vloekwoorde en/of uitdrukkings kan tik.
  • Druk verkieslik ENTER na elke vloekwoord of uitdrukking, sodat elke woord/uitdrukking op sy eie reëltjie staan.
  • As dit vir jou makliker is, kan jy ook elke woord/uitdrukking met ’n komma of kommapunt skei.
    ’n “STUUR”-knoppie wat jy kan klik as jy nie meer aan voorbeelde kan dink nie, maar daar is nog tyd oor.
  • Ná 2 minute word jou antwoorde outomaties verstuur. Jy hoef dus nie self op die “STUUR”-knoppie te klik nie. As jy egter moeg is, kan jy enige tyd daarop klik.

Wenke

  • Tik so vinnig as moontlik die woorde soos wat dit in jou kop opkom. Hoe vinniger, hoe meer, hoe beter!
  • Moenie bekommer oor spelling nie – dis nie ’n speltoets nie!
  • Hoofletters en kleinletters is ook nie belangrik nie.
  • Moenie sit en wonder of jy dalk al ’n woord getik het of nie. Dit maak glad nie saak as jy iets herhaal nie.
  • Moenie te veel dink of iets nou regtig eintlik ’n vloekwoord is of nie. Laat waai net!
  • Het jy ná 2 minute nog steeds ’n klomp vloekwoorde en uitdrukkings wat in jou kop dwarrel? Geen probleem nie! Hierdie vorm laai dan na ’n paar sekondes outomaties, en jy kan dan nóg ’n sarsie stuur. En nóg ene, en nóg ene … Tot jou ma jou roep en sê jy moet nou die skottelgoed kom was.

Bepalings en voorwaardes

Alle antwoorde is volledig anoniem. Slegs die demografiese inligting op jou persoonlike profiel (sónder jou naam en kontakbesonderhede) word saam met die antwoorde gestoor.

Deur op “GAAN VOORT” te klik, erken jy dat jy:

  • ouer as 18 jaar is;
  • vrywillig deelneem;
  • geen betaling hiervoor ontvang nie; en
  • toestemming gee dat ons jou anonieme antwoorde vir navorsingsdoeleindes mag gebruik.

Klik hier om deel te neem!

Om meer te lees oor die hele vloek-navorsingsprojek en die lekker kontantpryse op die spel, klik hier.

The post Hoeveel vloekwoorde ken jy? appeared first on Afrikaans.com.

Potgooi: In gesprek met Milan Murray

$
0
0

In hierdie podsendingreeks gesels Afrikaans.com met merkwaardige persone binne die Afrikaanse leefwêreld. Ons bied jou ’n blik op jou gunstelingbekendes op maniere soos jy hulle nog nooit vantevore kon leer ken nie, en stel jou ook bekend aan nuwe name, projekte en idees.

In hierdie episode gesels aanbieder Edwin van der Walt met die geliefde aktrise, skrywer en spreker, Milan Murray.  Hulle gesels oor:

Aktrise-wees, ma-wees en skrywer-wees.

Depressie en wat sy oor die afgelope 45 jaar daaroor geleer het.

Haar nuutste produksies en die toekoms van die kunste.

Milan se kinderboek-onderneming.

Waarom sy haarself nie as ’n ‘’influencer’’ ag nie.

Milan Murray is ’n aktrise, sakevrou en skrywer en die eienaar van die gewilde kinderboek-uitgewery, Murray & Me. Sy is ook bekend vir reekse, rolprente en teaterwerk in produksies soos Isidingo, Mooirivier, Die Boekklub en Die Byl.  Milan is getroud met Schalk van der Merwe. Hulle het twee kinders, Steph en Lua.

Edwin van der Walt

Edwin van der Walt is ‘n akteur, aanbieder en entrepreneur. Sedert hy vir die eerste keer gehore se harte in 2014 in die romantiese komedie, Hollywood in my Huis, gesteel het, het ‘n rits lokettreffers gevolg. In films soos Jagveld, Wonderlus, Ballade vir ‘n Enkeling en Die Pro het hy sy diversiteit as kunstenaar ten toon gestel en die respek van die industrie sowel as aanhangers gewen. Dit is egter die man agter die karakters, Edwin self, wat deesdae groot golwe maak. Onder sy vriende, en nog meer onder die publiek, word hy geken as ‘n persoon wat verbetering van self en van ander voorop stel. Edwin leef sy passie hiervoor ook uit op die platform Novieguide , waar ‘n verskeidenheid aanlyn kursusse gekoop kan word.

The post Potgooi: In gesprek met Milan Murray appeared first on Afrikaans.com.

Kom skilder met woorde en wen

$
0
0

jy sê daar’s ’n man

wie se woorde ek moet verf

hy loop vooruit… soos Silver de Lange

dis hoe my stories vlerke kry

Die liedjieboer en vader van Afrikaanse rock ’n roll,  Anton Goosen, het oor die jare Suid-Afrikaners se harte met sy kleurryke lirieke en sielvolle musiek gesteel. Na meer as 30 jaar neurie ons steeds saam met tydlose treffers soos Waterblommetjies, Jantjie en Trompie – almal uit die pen van dié legende.

Sowat drie jaar gelede het die kunstenaar Elsie Jooste begin om van Anton se bekendste liedjies op houtkitare te skilder. Op ’n unieke manier het sy, sonder woorde, klanke of frases, gestalte gegee aan die kleurryke lirieke wat Anton se musiek kenmerk.

Nou is dit jou beurt om jou slag met die kwas te wys! Afrikaans.com het met Anton en Elsie saamgespan vir die Afrikaans.com- Skilder met Woorde-kompetisie waar jy en jou skool gróót kan wen. Met hierdie kompetisie word daar nuwe lewe geblaas in van Anton se bekendste liedjies deur skoolleerders uit te daag om sélf van sy liedjies te skilder.

Elsie se skilderye

Hoe werk die kompetisie?

Met die Afrikaans.com- Skilder met Woorde-kompetisie daag ons skoolleerders uit om een van die volgende liedjies deur Anton Goosen te skilder:

  • Jantjie
  • Hanoverstraat
  • Waterblommetjies
  • Umfaan
  • Harlekyn
  • Trompie
  • Straattroebadoere
  • My Stellenbosse nonnatjie

Klik hier om die lirieke van die liedjies af te laai.

Stuur ’n hoëresolusie foto van jou kunswerk aan Afrikaans.com by myafrikaans@afrikaans.com met jou naam, van, graad, die naam van jou skool, asook die naam van die liedjie waarop die kunswerk gebaseer is, daarby.

Inskrywings open 5 Oktober 2020 en sluit 31 Januarie 2021. Wenners sal in die eerste week van Februarie 2021 aangekondig word.

Vir die volledige kompetisiereëls en bepalings en voorwaardes, klik hier.

Wat kan jy wen?

Deelnemers kan uitsien na kontantpryse ter waarde van R22 000. Die volgende individuele pryse is op die spel:

  • 10 finaliste: R500 vir elke finalis
  • Top 5-inskrywings: R1000 elk
  • Eerste prys: R2000 (Die skool waarin die betrokke leerder is, sal ook wegstap met R10 000)

Meer oor Anton Goosen

Anton Goosen, die vader van Afrikaanse rock en roll, is gebore op 5 Maart 1946 en het grootgeword in die Vrystaat. Na skool het hy onderwys studeer en vir ’n paar jaar skoolgehou, voordat hy die onderwys ’n paar jaar later vaarwel geroep en hom ten volle op sy musiekloopbaan toegespits het. Van die bekendes vir wie Anton liedjies geskryf het, sluit in Sonja Herholdt, Carike Keuzenkamp, Laurika Rauch, Richard Clayderman, Francis Goya en Koos Kombuis. Van die mees bekende liedjies uit sy pen is Waterblommetjies, Jantjie, ’n Brief vir Simoné en Boy van die Suburbs.

Anton se lewensverhaal, Liedjieboer, uit die pen van die bekende joernalis Hanlie Retief, is ook onlangs bekendgestel. Hierin vertel hy van sy grootwordjare in die Vrystaat, sukses en roem, sy lewe op die langpad, die Musiek-en-Liriek-era, die hoogtepunte en teleurstellings langs die pad en sy lewe teen die stroom op.

Skilder met Woorde

ons speel met kitare

sonder snare…

die jare spoel verby

steeds word ons gelei

dis maar hoe die beeste loop.,.

almal in ’n ry

jy sê daar’s ’n man

wie se woorde ek moet verf

hy loop vooruit… soos Silver de Lange

dis hoe my stories vlerke kry

ek is soos ’n kind

wat rondspeel in sy brein

van “jantjie” tot “swart water”

speel my kwas met kleur

ek loop langs hom

in die veertig jaar van sy stories

geen hoofletters

geen morfologie

geen anatomie

geen geneuk

maak ek my oë oop…

ek luister

ek besef

ons afrikaanses, lig en donker

sing nog al die woorde op die stoep

dis waarop ons leef

dis waaroor hy skryf

ek wens jy kon die verf sien olla …

die skilder van sy woorde

 

  • Elsie Jooste

The post Kom skilder met woorde en wen appeared first on Afrikaans.com.

Retoer: Pretoria – Provance – Marita Van Der Vyver

$
0
0
Retoer: Pretoria – Provance - Marita Van Der Vyver

Op reis saam met Marita van der Vyver, van Pretoria tot Provence! Retoer: Pretoria – Provence is ’n bundel van dié bekroonde en immergewilde skrywer se beste rubrieke, sketse en essays wat nog nie voorheen in bundelformaat uitgegee is nie. Dit sluit in ’n rubriek oor seksuele teistering waarvoor sy in 2018 met ’n ATKV-Mediaveertjie vereer is.

Dié “meisie van die suburbs”, soos sy haarself beskryf, neem die leser op reis deur haar lewe en wêreld: Van haar jeugherinneringe – haar oumas, haar eerste juffrou en die kind wat sy was – tot haar dae op Stellenbosch, Pretoria en natuurlik die Franse platteland. Sy raak nostalgies oor ’n tiekieboks, die karre van haar kleintyd (’n bruin Opel en ’n geel kewer),en laat die leser tegelyk skater en verlang. Met haar kenmerkende humor, deernis en eerlikheid skryf sy oor die ouderdom, tienerstreke, Calvinisme, David Bowie, vegetariërs en die verskriklike vrees vir “verdagte knoppies”.

Haar woordkuns neem die leser van die alledaagse na die eksotiese, van die skreeusnaakse na die hartverskeurende, van die lyflike na die geestelike. ’n Tema wat soos ’n paar voetspore deur Retoer loop, is dié van reis: Die reis na heerlike, onbekende plekke en die meer onstuimige, dikwels vreesaanjaende reis na die self. Retoer sal jou hardop laat lag en trane in jou oë laat opwel terwyl dit jou boei, ontroer en op ’n sielsreis neem.

The post Retoer: Pretoria – Provance – Marita Van Der Vyver appeared first on Afrikaans.com.

Prof. Michael le Cordeur – ’n passie vir Afrikaans en die onderwys

$
0
0

Prof. Michael le Cordeur se passie vir die taal kan nie misgekyk word nie, maar waar is die saadjie geplant? Afrikaans.com het met prof. Michael gesels en deel graag sy insigte met ons lesers.

Prof. Michael le Cordeur vertel dat taal in die ouerhuis begin en dat hy bevoorreg is om ouers te hê wat baie en gereeld gelees het en daarom gesorg het dat daar altyd boeke in die huis was. Hy vertel die staaltjie van sy pa wat destyds, toe biblioteke nog apart was, al die boeke in die bruin biblioteek gelees het en toe erelidmaatskap van die wit biblioteek ontvang het en dus sy passie vir lees kon aanhou uitleef. Sy ouers, albei reeds in hul tagtigs, lees steeds en hy vertel dat min by sy ma sal kan kers vashou wanneer dit kom by blokkiesraaisel invul – sy ken al die antwoorde. “Haar woordeboeke is haar wapenrusting.”

Gebore in Wellington, sê prof. Michael dat sy rolmodel die digter Adam Small was. “Sy werk het my aangegryp en met die eerste lees van sy gedigte was ek oorrompel.” Dan was daar ook dosente aan die Universiteit van die Wes-Kaap waar hy BA Tale studeer het, wat sy passie verder versterk het. Mense soos prof. Jakes Gerwel wat tot in sy honneursjaar ’n pad met hom geloop het.

Die toekoms van Afrikaans

Afrikaans se toekoms

“Afrikaans is te diep gewortel in menseharte en kultuurgoedere om net op te hou bestaan.  ’n Taal hou net op bestaan as mense dit ophou praat of skryf.” – Prof. Michael le Cordeur in ’n artikel deur Jacob Rooi

Baie glo Afrikaans kan nie voortbestaan nie, maar dit is duidelik nie ’n standpunt wat prof. Michael handhaaf nie. Reeds 25 jaar gelede skryf hy ’n artikel oor die rooskleurige toekoms van Afrikaans en sê dat dit wat hy toe geskryf het, steeds waar is en dat die toekoms van Afrikaans nou beter as ooit daar uitsien. “Na demokrasie aan bewind gekom het en ons ontslae kon raak van die stigma en politieke albatros om ons nekke, kon die taal weer asemhaal en het dit gegroei sodat tot soveel as 20 miljoen mense die taal daagliks praat en gebruik. ’n Mens kan maar net kyk na die talle feeste, aanlyn webwerwe (soos Afrikaans.com), boeke en so meer, om te besef Afrikaans is dinamies.” Voorts is prof. Michael ook van mening dat Kaaps erken moet word en dat diegene wat dit praat nie moet voel dis ’n minderwaardige taal nie. “Kinders wat met Kaaps grootgeword het, sal meer tuis in die klas voel as daar minder kritiek op hulle dialek is. Dit sal hulle selfbeeld verbeter en hulle sal ook met groter begrip lees en skryf as hulle woorde raaklees wat uit hulle omgewing kom.”

Is Afrikaans steeds ’n akademiese taal?

“’n Mens moet die akademiese taal losmaak van die taal self. Engels het die taal van hoër onderwys geword, maar dit het nie noodwendig ’n negatiewe impak op Afrikaans nie. Vandag se student moet meertalig wees om hom in staat te stel om ook op internasionale vlak gesprek te voer. Self, sal ek voortgaan om in Afrikaans te publiseer, alhoewel ek ook gereeld in Engels publiseer.”

Die rol van jongmense in die behoud en bevordering van Afrikaans

Prof. Michael is ’n groot voorstander van moedertaalonderrig en vertel dat sy kinders in hulle huistaal skoolgegaan het, maar dat hy hulle ook aangemoedig het om veeltalig te wees. Vandag is hulle dan ook ten volle tweetalig. Hy sê wat hom veral die afgelope paar maande hoop gegee het, is die kreatiwiteit van ons jongmense. Skielik is hulle gekonfronteer met aanlyn klasse en is daar van hulle verwag om aanbiedings te doen – aanlyn en in Afrikaans. “Die kreatiwiteit was enorm en het my verstom en soveel hoop gegee vir ons jongmense en Afrikaans.”

Die rol van die bruin gemeenskap in die bevordering van Afrikaans strek van ver af …

Prof. Michael vertel dat Afrikaans se oorsprong baie duidelik gesien kan word in die liedjies van die Kaapse Klopse en die Maleierkore. Dink aan die liedjie “Daar kom die Alibama”. Dit vertel die geskiedenis van die ontstaan van Afrikaans, destyds as deel van die slaweliedjies. “Dit is die basis waarop die taal gebou is en is deel van die gemeenskap se DNS. Dit is juis Afrikaans wat ons bemagtig. Ons het tyd om wat verkeerd was en is, reg te maak om ons nader aan versoening te bring, want ons het meer in gemeen as wat ons gedink het. Daarom glo ek ons moet fokus op die positiewe – en dit as platform gebruik. Dít is wat ons saambind.”

Die multikulturele en meertalige klaskamer

“Die besluit om reeds in graad 1 ’n addisionele taal (wat in die praktyk meestal sal neerkom op Engels) vir Afrikataalsprekers in te voer, kan begryp word, omdat dit ’n manier is om die oorskakeling na niemoedertaalonderrig in graad 4 te fasiliteer.” – Prof. Michael le Cordeur in ’n navorsingsartikel oor moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys

Die klasomgewing is deesdae ’n totaal ander saak as ’n mens dit met 26 jaar gelede vergelyk. “Ons het 26 jaar kans gehad om moedertaalonderrig verder as die grondslagfase te neem, maar steeds is daar meer uitdagings as oplossings – is die politieke wil nie daar nie. Ons sit met ’n situasie waar leerders aan die einde van graad 3 met vakansie gaan en wanneer hulle dan in die nuwe jaar graad 4 begin, word daar skielik van hulle verwag om in Engels skool te gaan; in Engels wiskunde te doen. Kom so ’n kind nie die mas op nie, word daar gesê die onderwyser is lui en kan nie die werk behoorlik oordra nie en die leerder wat sukkel om die skoolwerk baas te raak, is boonop dom of lui. Maar … die kind verstaan eenvoudig nie die taal nie!” Daarom is prof. Michael ’n voorstander van die konsep dat leerders vanaf graad 1 in hulle moedertaal onderrig word, maar ook Engels aanleer, sodat hulle die tweede taal as rugsteun kan gebruik.

Halala
Ons kom van ver - boek

Moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys

Prof. Le Cordeur skryf in 2011 ’n navorsingsartikel op LitNET waarin hy die kwessie van moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys ondersoek en hoe so ’n benadering ’n moontlike oplossing vir Suid-Afrika se geletterdheids- en syfervaardigheidsprobleme kan bied. Volgens hom is “een van die belangrikste oorsake vir die swak vertoning in geletterdheid en syfervaardigheid die feit dat baie leerders nie in hul moedertaal onderrig word nie. Dit het dan ’n negatiewe uitwerking op leerders se vermoë om die kurrikulum baas te raak.”

Daarom is dit volgens hom so belangrik dat leerders veral in die vormingsjare (grondslagfase) in hul moedertaal onderrig moet word – juis “omdat geletterdheid en syfervaardigheid kundighede is wat in die grondslagfase ontwikkel word”. Maar, sê hy: “Moedertaalonderrig is nie die enigste bepalende faktor vir leerders se skoolprestasie is nie. Ander faktore wat ook ’n bepalende rol speel, is leierskap, die werksetiek van onderwysers, beskikbare bronne en (on)toereikende fasiliteite.” Hierby kom die ontwikkeling van leerders se akademiese taalvaardigheid omdat taalgebruik in die klaskamersituasie aansienlik verskil van die leerders se taalgebruik in hulle alledaagse sosiale omgang. “Skooltaalgebruik word gekenmerk deur akademiese woorde met ’n lae gebruiksfrekwensie en tegniese terme, abstrakte uitdrukkings en komplekse morfologiese en sintaktiese strukture wat gewoonlik nie in alledaagse taalgebruik voorkom nie, en deur vakkundig-gepaste akademiese diskoers. Leerders uit agtergestelde gemeenskappe kom nie skool toe met hierdie soort taalvaardigheid nie, nie eers in hul moedertaal nie. Dit is duidelik dat moedertaalonderrig as sodanig nie veel gaan help as hierdie kontekstuele aspekte nie aandag geniet nie.”

Ongelykheid in skole

“Die beste tyd om ’n boom te plant, is 20 jaar gelede en die tweede beste tyd is vandag. Dus … plant die boom vandag.” – Prof. Michael le Cordeur

Die Covid-19-pandemie het weereens bewys dat die onderwysstelsel veel te wense oorlaat en die ongelykheid wat steeds in ons skole heers, het nou duideliker as ooit na vore gekom. Prof. Michael gebruik ’n metafoor om te verduidelik hoe ons die kwessie kan benader.  “Ek sê altyd, die beste tyd om ’n boom te plant, is 20 jaar gelede en die tweede beste tyd is vandag. Dus … ons het nie ’n keuse nie, ons moet die boom vandag plant.”

Sy mening is dat ons skole te vol is en dat daar nie genoeg skole is om in die behoefte te voorsien nie. So ook kan nie alle skole met aanlyn fasiliteite voorsien word nie. Dis nie ’n kwessie wat oornag opgelos kan word nie. “Aanlyn leer en klas gee is nie so maklik nie. Dit het ons nou gesien. Studente kan nie by alles uitkom nie.” Hy verduidelik verder dat studente nou alles self moet lees en dat daar nie iemand is om te verduidelik nie. Daarom sê hy dan ook dat onderwys nog lank van aangesig tot aangesig sal moet voortgaan en dat daar geleidelik na ’n model van gemengde leer (“blended learning”) geskuif sal word. Met ander woorde, aanlyn onderrig sal as aanvullende sisteem aangewend word. “Ons sal beslis meer kreatief moet begin kyk na skoolbywoning. Meer sessies instel, sodat party leerders in die oggend skoolgaan en ander smiddae. Op die manier sal oorvol klasse gehalveer kan word. Onderwysers sal dus ’n 8 tot 5 skooldag hê. Ons ouers sal ook opgelei moet word om hulle kinders by te staan. Leerders sal baie meer op hulle eie moet begin werk.”

Hoe kan ouers ’n liefde vir Afrikaans by hul kinders kweek en die taal bevorder?

Prof. Michael sê dat kinders voortdurend aan Afrikaans blootgestel moet word. Gee veral vir hulle boeke om te lees. Selfs Afrikaanse strokiesprente is reg. Solank hulle lees en aanhou lees. En lees elke dag vir jou kinders Afrikaanse stories!

Michael le Cordeur

Prof. Michael le Cordeur

Prof. Michael le Cordeur is medeprofessor en hoof van die Departement Kurrikulumstudie in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Hy was voorheen onderwyser, adjunkhoof en skoolhoof. Hy behaal sy BA Honneurs en HOD aan die Universiteit van die Wes-Kaap, ’n meestersgraad aan Unisa en sy doktorsgraad oor die bevordering van lees by leerders met behulp van mediastrategie, aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is skrywer en medeskrywer van 21 boeke, lewer gereeld referate op nasionale en internasionale vlak en het al verskeie doktorale en meestersgraadstudente gelewer. Hy is ook rubriekskrywer en meningsvormer en ’n gewilde kommentator op radio en TV. Hy is al met verskeie toekennings vereer, onder andere vyf rektorstoekennings, ’n goue medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot die onderwys, die Goue Pen-toekenning vir die bevordering van Afrikaans en ’n Kanselierstoekenning van die Universiteit Stellenbosch.

Addisionele bron

https://www.litnet.co.za/moedertaalgebaseerde-tweetalige-onderwys/

Lees ook:

Die variëteite van Afrikaans as draers van identiteit … https://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/97491

Nog artikels deur prof. Le Cordeur: https://www.litnet.co.za/author/michael-le-cordeur/

Kyk ook:

Gesprek oor die Afrikaanse taal op Groot Ontbyt – 2017:

The post Prof. Michael le Cordeur – ’n passie vir Afrikaans en die onderwys appeared first on Afrikaans.com.


’n Regstreekse gevloekery – Wanneer woorde te “sterk” is vir TV

$
0
0

Artikel deur: Mart-Mari van der Merwe

Dit het al met almal van ons gebeur: Jy vra dat ‘n manuskrip asseblief na ‘n “poefleser”, in plaas van ‘n “proefleser” gestuur moet word. Of jy wil vir jou vriendin sê dat haar pa haar roep, maar wat by jou mond uitkom is: Jou pa poep jou! #instabloos #instaskaam Wanneer sulke versprekings in regstreekse TV-uitsendings voorkom, is daar niks aan te doen nie, en jy kan maar weet dat sulke fluiters die volgende dag wyd en syd op sosiale media versprei sal word. #instablooper #instafamous

Regstreekse TV is een ding, maar vooraf opgeneemde programme is ʼn perd van ʼn ander kleur.

Dit is die uitsaaier se plig om kykers te waarsku teen blootstelling aan materiaal wat moontlik aanstoot kan gee, of wat die jonger geslag onbehoorlik kan beïnvloed. Maar wie besluit oor hierdie aanstootlikheid? En hoe meet ’n mens iets so abstrak en konteksgebonde soos “onbehoorlikheid”? Hoe word die ouderdomsbeperkings op TV-programme en films in Suid-Afrika gedoen? En hoe vergelyk dit met ander, internasionale klassifikasiesisteme? Kan dit anders gedoen word?

Hoe meer dae, hoe meer vrae …

Die Film- en Publikasieraad (FPR)

Ingevolge die Wet op Films en Publikasies ((Wet no. 65 van 1996; die Publikasiewet) berus die verantwoordelikheid vir die toekenning van ouderdomsbeperkings en ander klassifikasies van publikasies by die FPR (kyk die FPR se amptelike webtuiste). Volgens die FPR se webtuiste kan die Suid-Afrikaanse publiek jaarliks kommentaar lewer op die klassifikasieriglyne wat hulle daarstel, en derhalwe voer hulle aan dat die riglyne die openbare opinie weerspieël. Benewens die publiek se kommentaar neem die FPR ook internasionale navorsing en riglyne in ag om te verseker dat die klassifikasies in voeling met die res van die wêreld is.

In praktyk word die klassifikasie deur ʼn klassifiseringspaneel hanteer. So byvoorbeeld is ’n groep van 38 klassifiseerders in Oktober 2017 aangestel om die klassifikasie van films en publikasies vir die volgende 4 jaar namens die FPR te hanteer. Hierdie groep is demografies (met betrekking tot ras, ouderdom en biologiese geslag) redelik verteenwoordigend van die volwasse, Suid-Afrikaanse publiek. Daar word wel nie aangedui hoe die taalverspreiding in hierdie groep lyk nie, en aangesien taalgebruik een van die klassifikasie-elemente is, sou ʼn mens verwag dat hierdie faktor ook ’n belangrike oorweging moet wees by die aanstel van klassifiseerders.

Alhoewel die FPR se slagspreuk “We inform. You choose” is (en waarmee hulle dus sê dat hulle in wese ’n waarskuwings- eerder as sensuurfunksie vervul), is daar ’n dun lyn tussen sensuur en klassifikasie. Dié onderskeid geniet juis tans baie aandag in die media, aangesien die voorgestelde wysiging op die Publikasiewet onder andere sal inhou dat álle digitale inhoudskeppers, selfs enigiemand wat ’n TikTok-video wil plaas, eers hulle materiaal vir goedkeuring aan die FPR sal moet voorlê. (Lees ’n volledige beskrywing hier.)

Die Publikasiewet en vloek

Vloek is ’n besonder konteksgebonde verskynsel wat deur ’n legio veranderlikes beïnvloed word, waaronder ouderdom, biologiese geslag, kultuur, sosiale status, geografiese gebied, ensovoorts. Riglyne oor vloekwoorde in Suid-Afrika sal daarom waarskynlik anders lyk as in Europa, en ʼn mens sou dus kon verwag dat die riglyne vir hierdie komplekse klassifikasie-element baie gedetailleerd sal wees.

Die huidige klassifikasiesisteem en riglyne vir taalgebruik in enige van Suid-Afrika se amptelike tale is egter nogal vaag en oop vir interpretasie:

  • The use of strong language must be considered in the allocation of an appropriate age restriction; and
  • Regardless of the level of age restriction, the public must be alerted to the occurrence of strong language of a mild, moderate, strong or very strong impact.

Op die FPR se amptelike webtuiste word daar aangedui dat die letter “L” (of in Afrikaans dan “T” vir “Taal”) gebruik word om die aanwesigheid van sterk taalgebruik, soos kru vloekwoorde, in ’n publikasie aan te toon. Daar is vier kategorieë van kru taalgebruik:

  • gematigde aanstootlikheid;
  • redelike aanstootlikheid;
  • sterk aanstootlikheid en
  • baie sterk aanstootlikheid.

Dienooreenkomstig is die aanstootlikheid van die taalgebruik die beslissende faktor vir die klassifikasie van taalgebruik. Twee ander aspekte, te wete voorkomsfrekwensie en die intensie om ’n ander persoon te beledig of te skend, word ook in berekening gebring wanneer daar besluit word watter ouderdomsbeperking aan ’n publikasie toegeken moet word. Vir elke ouderdomsbeperking word daar duidelik gestel watter kategorie (gematigde aanstootlikheid, redelike aanstootlikheid, sterk aanstootlikheid of baie sterk aanstootlikheid) van taboe taalgebruik in ’n publikasie aanwesig mag wees (en tot watter mate). Tog word daar nie duidelik gestel watter woorde in watter kategorieë hoort nie, en die tekort aan gestandaardiseerde riglyne mag hierdie klassifikasie aan die subjektiwiteit van individuele klassifiseerders onderwerp – wat André P Brink in die voorwoord van A South African Censor’s Tale (deur Kobus van Rooyen) beskryf het as “the ultimately subjective basis of censorship”.

Die FPR sluit nie godslasterlike taalgebruik onder “kru taalgebruik” in nie. Daar is tot redelik onlangs nog deur middel van “G” of “B” aangedui dat materiaal godslastering bevat. Tans toon “V” vir “Vooroordeel (of “P” vir “Prejudice”) enige taalgebruik of handelinge aan wat diskriminerend teenoor ’n spesifieke groep mense (soos ’n godsdiensgroep of ’n kultuurgroep) kan wees. Hier is die riglyne in verband met die taalgebruik dus redelik duidelik. Daar is egter steeds geen aanduiding van watter woorde gemerk moet word as “L” nie. Wanneer daar in ag geneem word dat kru taal die element is wat, naas geweld, die gereeldste aangedui word in films, is dit kommerwekkend dat daar geen riglyne is vir konsekwente klassifikasie nie.

Afrikaanse film- en televisiemakers se hantering van kru taal

In die podsendingreeks Wat de vloekwoord?! gesels Gerhard van Huyssteen in een episode met die bekende filmmaker Leon van Nierop oor kru taal in die Afrikaanse filmwese. Van Nierop noem dat daar ’n taamlike verskuiwing in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf plaasgevind het in verband met die hantering van vloek en ander soortgelyke verskynsels. Die konserwatiewe kultuur wat sinoniem is met die opkoms van nasionalisme en die gepaardgaande publikasiesensuur het plek gemaak vir meer taalvryheid (en dus word meer aanstootlike taalverskynsels toegelaat in beeld- en radiomateriaal). Tog noem Van Nierop ook dat daar steeds rekening gehou moet word met die teikenmark se houdings teenoor kru taal in films en op die televisie.

Jaco Loubser, hoof- uitvoerende beampte van en vervaardiger by Homebrew Films, bevestig ook hierdie verantwoordelikheid wat gesamentlik by die vervaardiger en die uitsender (byvoorbeeld kykNET) berus. Hulle vorm saam ʼn span wat moet besluit wat gepas is in watter program op watter tyd van die dag. Loubser beklemtoon oor en oor dat dit gaan oor gemotiveerde taalgebruik, gedrag, optrede en temas: “Solank as wat dit gemotiveer is in die storielyn en by die karakter pas, sal kykers nie te veel kla nie.” Daar bestaan egter nie ʼn lys van woorde wat nie voor of ná spesifieke tye gebruik mag word nie: Elke geval word op eie meriete hanteer.

Alhoewel daar meer verdraagsaamheid teenoor vloek op die TV is, kom daar steeds bitter min vloekwoorde in programme voor wat vir die hele gesin bedoel is. Daar is al klagtes gelewer oor die sepie Getroud met rugby se tydsgleuf (18:00) as gevolg van “vloekery” wat “oral in die teks inglip”. Dit is egter moeilik om vloekwoorde en kru taal heeltemal uit te sluit en steeds materiaal daar te stel wat ’n geloofwaardige uitbeelding van die talige werklikheid is.

Ook in programme waar die verwagting mag wees dat daar meer kru taal sal voorkom, is dit nie die reël nie. Loubser beaam dat selfs realiteitsreekse, soos Kokkedoor, uiteraard nie die “volle realiteit” kan weergee nie. As ʼn hele paar uur se verfilming gereduseer word tot ʼn enkele episode van veertig of vyftig minute, is daar nie regtig veel tyd om op vloekwoorde te fokus nie. En waar dit voorkom, word dit gewoon uitgebliep.

Selfs die komediant Schalk Bezuidenhout, wat bekend is vir sy liefde vir die woord fok, vloek nie juis op sy satiriese nuusprogram Die Ware Naarheid nie. In die jongste episode (met ’n ouderdomsbeperking van 13L) kom daar net drie vloekuitinge voor: kak, donder, en flippen. In kontras met Bezuidenhout se meer versigtige benadering is daar volop taboewoorde in Casper de Vries se program Cas oppie kassie. De Vries se taalgebruik lok heelwat negatiewe reaksie uit, en die implikasie hiervan is dat daar steeds heelparty Afrikaanssprekendes is wat hierdie tipe taalgebruik ten strengste veroordeel.

In gesels- of joernaalprogramme, soos Kwêla of Bravo!, rus die verantwoordelikheid dikwels  by die aanbieder om ʼn vloekende gas op vriendelike wyse te bestuur, sodat daar ten minste genoeg beeldmateriaal is om uitgesaai te kan word. Loubser sê dat die regisseur ook soms wel kan ingryp om te sorg dat die taalgebruik by die aard van die betrokke program pas.

Engeland

Ofcom, die liggaam wat in die Verenigde Koninkryk verantwoordelik is vir die regulering van taalgebruik op TV en radio, doen elke vyf jaar spesifiek marknavorsing wat gerig is op die publiek se houdings teenoor en opinies van sterk taalgebruik op TV en oor die radio. Hierdie gereelde bywerking van bestaande navorsing is noodsaaklik vir taboewoorde, aangesien taalontwikkeling voortdurend plaasvind. Ofcom se navorsing is ’n toonbeeld van die belang van marknavorsing vir die regulering van taalgebruik vir beeld- en radiomateriaal, want hulle werkswyse maak dit moontlik om verskillende probleme wat vloeknavorsers kan ervaar, op te los. (Vir ’n bespreking van probleme wat navorsers in gedagte moet hou by die interpretasie van resultate van meningspeilings, en veral aanlyn meningspeilings oor taboe taal, lees die blog Vloek Afrikaanssprekendes regtig? Betroubaarheid van ’n eerste grootskaalse meningspeiling se resultate.)

Ofcom gebruik aanlyn meningspeilings (“polls”) om respondente oor die hele land te kan bereik. Die jongste navorsing van Ofcom (in 2016) betrek ’n steekproef van 248 respondente wat, anders as in hulle vorige navorsing, spesifiek ook respondente uit minderheidsgroepe insluit. Daar word ook data ingesamel deur middel van vraelyste (“surveys”) en onderhoude met respondente. Ofcom se respondente beklemtoon die belang van konteks by die evaluering van potensieel aanstootlike woorde. Die belangrikste kontekstuele faktore, soos bevind deur Ofcom, is:

  • Uitsaaityd
  • Frekwensie of herhaling van sterk taalgebruik
  • Verwagting van program, genre en uitsaaier
  • Verwagting van regstreekse uitsendings of opnames
  • Die rol van waarskuwings, blieps, en verskonings
  • Die toon en intensie van die betrokke program

Ofcom kontekstualiseer dienooreenkomstig die 150 vloekwoorde en kru taal wat hulle vir beoordeling deur die respondente aanbied, deur middel van werklike beeld- en radiomateriaal wat die respondente moet evalueer.

Ofcom se regulasies word dus gesteun deur empiriese navorsing, en dien as ’n voorbeeld vir Suid-Afrikaanse regulerende liggame wat nog nie die riglyne vir die klassifikasie van kru taalgebruik wetenskaplik begrond het nie. Alhoewel die FPR reeds die publiek se kommentaar in ag neem, moet ’n deegliker wetenskaplike inslag oorweeg word om subjektiewe klassifikasies te voorkom. Aangesien die wetgewing wel reeds vereis dat die publiek gewaarsku word indien daar sodanige taalgebruik in ’n publikasie voorkom, is empiries bewese graderings van taboewoorde se aanstootlikheid ’n beginpunt om ’n meer volledige klassifikasiegids daar te stel.

Die Afrikaanse Vloekmeter

In ʼn multidissiplinêre navorsingsprojek wat Afrikaanse kru taal navors, word tans ’n sogenaamde Afrikaanse Vloekmeter ontwikkel om taboewoorde se aanstootlikheid (en taboewaardes) te bepaal en met mekaar te vergelyk. Omdat vloek só ’n komplekse verskynsel is, is daar uiteraard twee aspekte wat veral belangrik is wanneer dit nagevors word.

Eerstens wil die navorsers by uitstek soveel as moontlik respondente regoor die land bereik, aangesien vloek in elk van Afrikaans se veelvuldige variëteite anders kan lyk. Tweedens wil die navorsers ook weet in watter demografiese groepe die respondente val, sodat daar vergelykenderwys met die data omgegaan kan word. In die lig van Ofcom se navorsing, is dit verder ook van kardinale belang dat die navorsing repliseerbaar is, sodat gereelde bywerking daarvan moontlik is.

Aangesien hierdie navorsingsprojek hoofsaaklik aanlyn op vloek.co.za bedryf word, bied dit ’n gulde geleentheid om respondente van oor die hele land en wêreld te werf. Alhoewel die hele Afrikaanssprekende gemeenskap steeds nie so bereik kan word nie, is dit tog ’n stap in die regte rigting.

Ouderdomsbeperkings

Daar is gemengde gevoelens oor ouderdomsbeperkings. Jy kan die vyftienjarige tiener met streng ouers wees wat dikbek is omdat jy nie die 16(LSN)-reeks kan volg wat jou vriende kyk nie, of jy kan die vervaardiger wees wat voel die aanstootlike inhoud is juis waardevol vir ’n jonger teikenmark, of jy kan die ouer wees wat jou kind wil beskerm teen aanstootlike materiaal. Wie jy ook al is, dit is waarskynlik makliker om die ouderdomsbeperkings te respekteer wanneer daar empiriese navorsing is waarop dit gebaseer is.

Hierdie wetenskaplike gronde moet enersyds die openbare opinie in ag neem (aangesien dit die publiek is wat moet baat by die ouderdomsbeperkings), en andersyds moet dit gereeld bygewerk kan word (sodat die kategorisering van taboewoorde in voeling bly met die taallandskap op enige gegewe moment). Alhoewel die aanlyn meningspeilings en die Afrikaanse Vloekmeter op vloek.co.za nie ’n perfekte beeld van Afrikaanssprekendes se houdings teenoor taboewoorde kan skets nie, kan hierdie empiriese data die grondslag vorm van ’n volledige klassifikasiegids vir Afrikaanse taboewoorde.

Mart-Mari van der Merwe is ʼn meestergraadstudent aan die Universiteit van Pretoria.

Bronnelys

Appeal tribunal. 2018. Appeal tribunal for the Film and Publication Board. Aanlyn beskikbaar by: https://www.fpb.org.za/wp-content/uploads/2018/02/Final-Ruling-Inxeba-The-wound-23-February-2018-1.pdf. Geraadpleeg op 26 September 2020.

Beeld. 2020. Wat sê jy? Beeld, 12 Junie 2020. Aanlyn beskikbaar by: < https://www.netwerk24.com/Stemme/MyStem/wat-se-jy-20200612-614>. Geraadpleeg op 7 Oktober 2020.

Beers Fägersten, K.A. 2012. Who’s swearing now. Newcastle: Cambridge Scholars Publishing.

Coetzee, T. 2019. ‘Getroud met rugby’ ontstel kykers. Netwerk24, 20 Augustus. Aanlyn beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Vermaak/Tv/getroud-met-rugby-ontstel-talle-20190820. Geraadpleeg op 3 Oktober 2020.

Film and Publication Board. s.a. Aanlyn beskikbaar by:  https://www.fpb.org.za/faqs.

Film and Publication Board. 2018. Annual report 17/18. Aanlyn beskikbaar by:  https://www.fpb.org.za/about/annual-reports/. Geraadpleeg op 23 September 2020.

Film and Publication board. 2019a. Classification guidelines for the classification of films, interactive computer games and certain publications. Government gazette, 42380: 5 April 2019.

Film and Publication Board. 2019b. Annual report 18/19. Aanlyn beskikbaar by:  https://www.fpb.org.za/about/annual-reports/. Geraadpleeg op 23 September 2020.

Malan, M. 2019. Godslastering nie meer só aangedui in flieks. Netwerk24, 11 April. Aanlyn beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Vermaak/Flieks/godslastering-nie-meer-so-aangedui-by-flieks-speletjies-20190410. Geraadpleeg op 23 September 2020.

Malherbe, P. 2020. Staat wil jou straf as jy video’s laai sonder permit. Netwerk24, 19 Augustus. Aanlyn beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/Sake/Ikt/staat-wil-jou-straf-as-jy-videos-laai-sonder-permit-20200819.  Geraadpleeg op 24 September 2020.

Ofcom. 2016. Attitudes to potentially offensive language and gestures on TV and radio. London: Ipsos MORI. https://www.ofcom.org.uk/__data/assets/pdf_file/0023/91625/OfcomQRG-AOC.pdf

Van Huyssteen, G. 2019. Vloek Afrikaanssprekendes regtig? Betroubaarheid van ’n eerste grootskaalse meningspeiling se resultate. Vloekcoza-blog. Aanlyn beskikbaar by: https://vloek.co.za/blogs/navorsing/vloek-afrikaanssprekendes-regtig-nie. Geraadpleeg op 24 September 2020.

Van Huyssteen, G. B . 2020. Leon van Nierop. Wat de vloekwoord! Podsending, 2020-10-02. Aanlyn beskikbaar by: https://anchor.fm/vloekcoza/episodes/Leon-van-Nierop-ekf1ql. Geraadpleeg op 2 Oktober 2020.

The post ’n Regstreekse gevloekery – Wanneer woorde te “sterk” is vir TV appeared first on Afrikaans.com.

Stem nou vir jou gunsteling- Afrikaanse handelsnaam!

$
0
0
Handelsname

Spoegwolf. Shoprite. Apple. Klerekas.com. Met die noem van ‘n naam, hetsy van ‘n musiekgroep, sakeonderneming, of persoon, kom ’n duisend gedagtes onmiddellik by ‘n mens op … Persepsievorming geskied en ‘n sekere sentiment word aan die letters of woorde gekoppel. Ons het by Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal gaan uitvind watter ondernemings vanjaar uitstaan in hul kompetisie vir die treffendste Afrikaanse handelsnaam … Boonop kan jy help om die wenners te kies deur die skakel onderaan die artikel te volg. In alfabetiese volgorde, hiermee jou 2020-kortlys!

  • Afrikaans – wyn
  • Baie Goeters – funksiebeplanners
  • Ben Bullebak Merlot – wyn
  • Boggom – velskoene
  • Brandman – brandrissiesmeer
  • Gatskop Vellies – velskoene
  • Gegrond – koffieroostery
  • Jan Kan Plaasstal – plaasstal
  • Jan Rosyntjie – varsproduktewinkel
  • Kaalfööt – byderwetse skoene
  • Kaptein Karnuffel Cabernet Sauvignon – wyn
  • Kardoesie – plaasstal
  • Karmenaadjie – restaurant
  • Knip – haarsalon
  • Koer – afspraakklub
  • Kwaai Lappies – materiaalwinkel
  • Liefelint – lint vir almal wat lief is vir lint
  • Lyftaal – skoonheidskundiges
  • Manna Restaurant – restaurant
  • Moer op Als – geurmiddel
  • Mondvol – koffiewinkel
  • Oep ve Koep – restaurant
  • OEPS Ons Eie ProduksieS – produksiemaatskappy
  • Opgejikkel – kuns uit herwinde plastiek
  • Petal’je – blommewinkel
  • Proux – tuisbakkery
  • Sagkuns – komberse en serpe van merinowol
  • Seepglad – afleweringsdiens
  • Toggekry – landbouhandelaar
  • Vabond – gesoute spesialiteitsvleis
  • Vat dit kop toe – haarkapper

Watter van hierdie innoverende en skerpsinnige name verdien om weg te stap met die eer van treffendste Afrikaanse handelsnaam vir 2020? Maak jou merk deur voor 17:00 op 21 Oktober 2020 te stem, klik hier.

The post Stem nou vir jou gunsteling- Afrikaanse handelsnaam! appeared first on Afrikaans.com.

NB-Uitgewers se reeks kinderboeke. Word deel van die boekwurmbende en WEN!

$
0
0

Kom loer saam met Afrikaans.com na hierdie maand se reeks kinderboeke! Jy kan kies en keur uit ’n wye verskeidenheid – van meer leer oor nuwe insekte, tot boeiende ontvoerings en rekenaarspeletjies wat ’n nuwe wêreld na vore bring. Daar is iets vir elke nuuskierige agie, wat sal maak dat hulle nie anders kan as om stil te sit en saam te lees nie!

Hierdie maand gee ons ook al ons jong lesers die geleentheid om te WEN! Stuur ’n WhatsApp met die woord “KINDERBOEK” sowel as jou naam en van na Afrikaans.com by 084 652 6873 en staan die kans om ’n boekpakkie met al ses die onderstaande boeke te wen. Skryf nou in en word deel van die boekwurmbende!

1

Ouma Hester en die Getaway-kar

Janie Oosthuysen, Alex van Houwelingen, Alistair Ackermann.

ISBN: 9780798180726

Uitgewer: Human & Rousseau

Zany Zack voer ‘n skrikbewind by VERI HAPPI KIDZ, die videospeletjiesfabriek. Met die hulp van vier bose oumas van die Huur-‘n-Ouma-agentskap word kinders ontvoer en gedwing om dag en nag te werk om nuwe speletjies uit te dink. Maar gelukkig is daar ook oumas soos ouma Hester, Tian en Lisa se ouma. Haar Getaway-kar se wapens skrik vir niks en Tian en Lisa leer hoe om elke vernuftige toestel te gebruik in hul stryd teen die bose oumas. Saam beleef hulle woeste gevegte, jaagtonele, en hope naelbyt-spanning en -aksie. Die vakansie by ouma Hester gaan beslis onvergeetlik wees!

2

Jungu Josh 1: Die goue kalbas 

Constant van Graan

ISBN: 9780624090779

Uitgewer: Tafelberg Uitgewers

Josh woon by sy tannie op ‘n plaas in Oos-Afrika nadat sy ma skielik verdwyn het. ‘n Vreemdeling daag op en probeer  hom ontvoer. Doris, die huishulp, red hom. Sy vertel hom dat ‘n groep mense sy bloed soek en dat hy in die vallei, Kalimbula, die wyseman, Ngandu, moet gaan spreek om antwoorde te vind. Josh pas die legkaartstukkies van sy ma se verdwyning stadig bymekaar, maar toe die goue kalbas oopgemaak word om die naam van die troonopvolger te onthul, kry Josh die verrassing van sy lewe . . .

3

Ontdek: Insekte

Laurence Mound

ISBN: 9780798181105

Uitgewer: Human & Rousseau

Hierdie boek gee nuuskierige agies ‘n kans om in detail alles oor insekte te leer, met ongelooflike foto’s wat daarmee gepaardgaan. Die inhoud dek onder andere die dele van ‘n insek, wat  ‘n insek is, die eerste insekte, kewers, vlieë, skoenlappers en motte, wespe, bye en miere, ander insekte, vyande, insekte in die water, hoe neste gebou word, miere, heuningbye en korwe, en meer. Die boek sluit af met ‘n Het jy geweet?-afdeling, insekklassifikasie, plekke om te besoek én ‘n woordelys.

4

Bitterbosbende 1
Die geheim van die nuwe hoof

Anzil Kulsen, Stephen Wallace

ISBN: 9780624090434

Uitgewer: Tafelberg Uitgewers

Kurt, sy suster Nieke en hul maats is in graad 5 in Laerskool Bitterbos, en bly in die koshuis. Die nuwe skoolhoof waai soos ‘n yskoue onweerswind by die eerste saalbyeenkoms in. Daar’s ‘n NW-taak wat moet klaarkom, as groepwerk! Toe Kurt-hulle se idee vir ‘n sonkragoondjie TE goed werk en hulle ‘n mini-ontploffing in die vierkant veroorsaak, word hulle na die hoof se kantoor ontbied – met verrassende gevolge …  

5

Eisteddfod-pret 2
Nog gedigte, monoloë en samesprake vir die laerskool

Gloudine Kellerman, Jonelle du Toit, Tumi Steyn

ISBN: 9780798180245

Uitgewer: Human & Rousseau

Hierdie versameling van 108 oorspronklike gedigte, 24 monoloë en 20 samesprake volg op die baie suksesvolle eerste titel in die reeks en is weereens perfek geskik vir laerskoolleerders. Elkeen van hierdie werke het die potensiaal om die hoogste punte by ‘n eisteddfod te verwerf. Louise Lachenicht se riglyne vir ouers, onderwysers en afrigters – met ‘n fokus op gedramatiseerde poësie – verseker dat elke deelnemer hul beste werk kan lewer. 

6

Kies-jou-avontuur: Die gevaarlikste speletjie op aarde

De Wet Hugo, Johann Strauss

ISBN: 9780798180696

Uitgewer: Human & Rousseau

Mario is die skool se rekenaarspeletjie-kampioen. Maar wanneer hy deur ‘n eienaardige nuwe speletjie weggevoer word na die kuberruim, moet hy veg om sy lewe. ‘n Geheimsinnige wese genaamd Gigabyte verduidelik dat hy na die sewe wonders van die antieke wêreld moet reis om ses goue muntstukke te vind, voordat hy kan terugkeer huis toe. Lewensgevaarlike uitdagings wag op hom . . .
‘n Kies-jou-eie-avontuur-storie propvol avontuur en naelbyt-aksie!

The post NB-Uitgewers se reeks kinderboeke. Word deel van die boekwurmbende en WEN! appeared first on Afrikaans.com.

PappaChef en bekendes kattemaai en kook in die kombuis!

$
0
0

“’n Kookprogram met ’n verskil. PappaChef sit ’n kinkel in die konvensionele kookprogram.”

 Grense word verskuif in hierdie Afrikaanse multimediavertoning wanneer radio en sosiale media saamspan. Van die grootste name in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf sluit elke week by Pieter Malan, bekende sjef en kospersoonlikheid van KykNET se Kokkedoor-faam, aan vir ’n kookervaring soos min.

Die volgende twee maande gaan verskeie dorpe getrakteer word op dié kookprogram met ’n verskil. Die PappaChef-toer, in samewerking met Afrikaans.com, sit ’n kinkel in konvensionele kookprogramme  wanneer Pieter sy voorskoot vasmaak en sy potte en panne uithaal om saam met bekendes te klets en te kook.

Lek jou lippe af vir dubbele lekkerte!

Vir die eerste keer word radio en sosiale media saam ingespan en kan duisende luisteraars inskakel op hulle plaaslike radiostasie om na die manewales van hulle geliefde bekendes in die kombuis te luister. Die volledige video van die kosmakery kan ook op Afrikaans.com se webtuiste gekyk word – dus dubbele lekkerte om na uit te sien. Hou gerus die sosialemediablaaie dop om op hoogte te bly van gebeure in die PappaChef-kombuis. Tydens elke program, gaan daar gekook, gesels en gelag word … kosstories en geheime gedeel word … kortom, luisteraars en kykers gaan ’n heel ander kant van hulle geliefde bekendes ervaar en sommer ’n nuwe resep ook leer.

Op die spyskaart:

  • Daar is agt episodes wat weekliks vanaf 19 Oktober tot 7 Desember 2020 op 21 plaaslike radiostasies uitgesaai word.
  • Die programme is opgeneem voor ’n lewendige gehoor en word op Afrikaans.com se webtuiste gehuisves sodat mense agterna daarna kan gaan kyk.
  • Verskeie gaste en plaaslike legendes neem deel.
  • Daar sal elke week ook ’n insetsel wees wat fokus op toerismeaantreklikhede van die dorp wat besoek word.
  • Elke episode word afgesluit met musiek deur die PappaChef-orkes, Havanna.
  • Die aanbieder van die program is Pieter Malan, alias PappaChef en die kreatiewe regisseur is die akteur Francois Jacobs.
  • Elke week se resep word op Afrikaans.com geplaas (klik op die blokkie hieronder).
  • Elke week word daar ook ’n toekenning gemaak aan ’n plaaslike legende – iemand wat in en vir Afrikaans ’n bydrae maak. Hou gerus Afrikaans.com dop om meer van die legendes te wete te kom.
  • Hierdie toer is ’n verlenging van die aanlyn PappaChef-programme waar bekendes soos Kurt Darren, Fatman, Nicholas Louw, Manie Jackson, Rubber DUC, Posduif, Hannes van der Walt en Pierre Nel, hul vernuftigheid agter die kospotte gewys het.

PappaChef-kombuis word moontlik gemaak deur B-well.

Lusmaker vir program

In die eerste episode ontmoet ons die akteur en musikant Altus Theart wanneer hy saam met Pieter wildsburgers maak. Die plaaslike onderneming waarop daar vandeesweek gefokus word, is Chippos – Jaco Dos Santos. Ontmoet die span hieronder en hou ons webtuiste dop vir episode 1!

Meer oor Pieter Malan

PappaChef - Pieter Malan

Pieter het bekendheid as sjef verwerf toe hy in 2019 aan die gewilde werklikheidsreeks, Kokkedoor op KykNET deelgeneem het en uiteindelik een van die top-3-deelnemers was. Deesdae is hierdie besige pa en eggenoot ook ’n seremoniemeester, motiveringspreker, radioaanbieder, professionele lid van die Suid-Afrikaanse Sjefvereniging, ’n geakkrediteerde SA Sjef-beoordelaar en ’n ontvanger van die gesogte Eat-Out-toekenning. Behoorlik ’n mondvol!

Pieter het al opgetree by bekende feeste, soos Aardklop, die Pretoria-fees en die Pekan-fees. In 2019 is hy ook tydens Aardklop deur die plaaslike radiostasie, Overvaal Stereo, as die mees inspirerende ikoon by die fees vereer.

Legende vir die eerste episode!

Vandeesweek se legende is die alombekende Nelspruiter en media- en bemarkingsbestuurder van Innibos Nasionale Kunstefees, Sandra Jacobs.   Afrikaans.com wou meer weet oor hierdie dinamiese vrou … Lees gerus verder.

Pappachef - Sandra Jacobs

Vanwaar Gehasi?

Ek is in die klein dorpie Ixopo gebore, het in Natal grootgeword, op Tukkies geswot (waar ek my man ontmoet het) en woon die afgelope 33 jaar in Nelspruit. Ek het drie kinders en vier kleinkinders.

Vertel meer oor jou betrokkenheid by Innibos.

Ek is die media- en bemarkingsbestuurder van die fees. Ek en Andy Lubbe, die feesbestuurder, het die fees 17 jaar gelede saam begin, en ons is nog steeds hier! Ons het ‘n bestuurspan van nog sewe mense en saam het dié span al die afgelope jare elke keer ‘n wonderlike fees op die planke gebring. Ons is reeds  vyf keer as die fees van die jaar by die KykNET Fiesta aangewys (meer as enige ander fees in die land). Dit is te danke aan goeie menseverhoudings, ongelooflike borge, lojale feesgangers en ‘n span mense wat weet hoe om te werk en oorspronklik te dink!

Hoe beïnvloed die Covid-19-pandemie jul bedrywighede vanjaar?

Covid het ons, soos almal in die kunste- en feesbedryf, hard geslaan.  Dit het ons egter gedwing om anders te dink: Ons het in ons normale tydgleuf in Junie ‘n digitale fees aangebied, wat goed ontvang is. Of die fees egter sal kan plaasvind in Desember (ons het die feesdatums in Junie na Desember geskuif (16 – 19 Desember) is nog ‘n ope vraag. Met die huidige inperking is dit onmoontlik, maar wie weet…

Hoekom moet mense Nelspruit en die fees besoek?

Waar’s dit lekker? Hier’s dit lekker! sê Emo in sy liedjie. Ek dink die fees is so gewild omdat daar regtig iets vir elkeen op die program is: Of jy nou 4 of 84 is, daar sal iets op die program wees wat jou pas! Woelwaters met kinderteater en aktiwiteite vir die kleingoed,  ‘n heerlike teaterprogram, lekker musiek en kuier op die feesterrein, die Boeke-Crawl en skrywerspraatjies vir boekmense, die lys gaan aan… en die pragtige Laeveld is natuurlik altyd die moeite werd om te besoek.

Hoe voel dit om as legende aangewys te word?

Hahaha… oud! Nietemin – dis ‘n eer dat iemand dink ek het ‘n nalatenskap wat die moeite werd is. Ek is dankbaar vir die erkenning.

Enige staaltjies wat jy kan deel tydens verfilming van PappaChef?

Hoe almal my aangespreek het, was nogal ‘n ding:  My seun, die akteur  Francois (Jacobs), was regisseur op die stel. Hy noem my altyd spelenderwys “Moeder”. Pieter het probeer, maar hy kon nie anders as om my “Tannie” te noem in die onderhoud nie. Altus, wat die celeb- gas op stel was, het my “Ma” genoem. So, ek was alles behalwe Sandra op die PappaChef Show!! (Ag ek verkwalik hulle nie regtig nie – dis maar outydse boeremaniere!)

Jou gunstelinggereg – om te eet en om voor te berei.

Ek het ‘n soet tand – so enige nagereg is my dood. Ek hou van kosmaak, maar ek kan regtig nie bak nie. My man sê ek maak die beste omelette in die wêreld. Dis seker nie waar nie, maar ek  voel gevlei deur sy die kompliment!

Enige verskuilde talent waarvan ander dalk nie bewus is nie?

In my jonger dae het ek gesing. Op Tukkies was ek as deel van die groep Trio Ses ATKV Crescendo-wenners! Dis many moons ago. Cor en Letitia Uys, wat vandag nog dikwels as Oom Karoolus en Lente optree, was ook deel van ons groepie van ses.

Wat is heel bo-aan jou kluitklaplys?

Ek het darem  al heelwat goedjies afgetiek op daai lysie. Ek en my man is mal oor reis en ons het al ongelooflike plekke besoek. Iran, Rusland en Kuba is van my gunstelinge, en ek hoop om nog ‘n paar ongewone lande te kan besoek sodra die reisbeperkings opgehef word. Ons sou eintlik op hierdie oomblik in Azerbajan en Armenië getoer het. Covid het natuurlik ‘n stokkie voor daardie planne gesteek!

Ek het so twee jaar gelede die Visrivier Canyon gestap. Dis ongeveer 80 km oor klippe en sand… Dit was ongelooflik mooi, maar fisies vir my geweldig uitdagend, maar ek soek nog! Ek hoop om eendag die Camino de Santiago in Spanje te kan gaan stap.

Agter die skerms 

Radiostasies 

Skakel in op die volgende plaaslike radiostasies as jy wil deel in PappaChef se kombuisklets en -kook. Diegene wat oorsee woon, kan ook aanlyn inskakel en luister.

The post PappaChef en bekendes kattemaai en kook in die kombuis! appeared first on Afrikaans.com.

Bevordering van Afrikaans: Een taal, een doel.

$
0
0

Die Afrikaanse Taalmonument het onlangs ’n erefunksie gehou vir diegene wat dit hulle lewenstaak maak om ’n daadwerklike bydrae tot Afrikaans te maak en die taal deur hulle harde werk en passie bevorder. Professor Michael le Cordeur, Gaireyha Fredericks en die SBA (Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans) is vanjaar as die wenners van dié toekenning tot die bevordering van die Afrikaanse taal aangewys.

Afrikaans.com het gaan inloer by van die wenners om uit te vind wat hulle wenresep is om ons taal te bevorder en hoe hulle die toekoms van Afrikaans beskou.

Professor Michael le Cordeur

Michael le Cordeur

Professor Michael le Cordeur van die Universiteit Stellenbosch het geen bekendstelling nodig nie. Sy passie vir Afrikaanse streekstaal en sy navorsing in die vooruitgang van die taal en taalgemeenskap is merkwaardig. Ons deel graag sy menings en sienings…

 

“Afrikaans se toekoms het selde so blink gelyk.
Dis ’n taal waarin ons land se mooi geskiedenis opgeteken is.”

Watter betekenis dra hierdie toekenning?

Prof Neville Alexander was ’n taalkundige reus wat ’n enorme impak op die Suid-Afrikaanse taallandskap gehad het. As dosent aan die Universiteit van Kaapstad, en as hoof van PRAESA (Project for Research in Alternative Education in South Africa) het hy ‘n nalatenskap in taalonderrig agtergelaat wat nog nêrens elders in Suid-Afrika gesien is nie. Toe ek veel jonger was, het hy my saamgeneem vir ’n studieskool aan die Universiteit van Tutzing waar prof Alexander gestudeer en ook klasgegee het. Hy was ’n kampvegter vir veeltaligheid, ’n visie wat hy in sy persoonlike lewe uitgeleef het deur Engels, Afrikaans, isiXhosa en Duits vlot te kon praat. Hy word ook beskou as die vader van moedertaalonderrig in Suid-Afrika, veral oor sy standpunt van ’n moedertaalgebaseerde taal-in-onderwys-beleid. In Tutzing het hy ons geleer dat ʼn kind ʼn tweede taal vinniger en beter aanleer  wanneer hy of sy ’n goeie begrip van die moedertaal het. Om dus die Neville Alexander Prestige-toekenning te ontvang, is ’n groot eer vir my, omdat dit my vir ewig vasbind aan die man wat vir my ’n inspirasie sowel as ’n mentor was.

Watter waarde dra toekennings soos dié van die ATM by tot bewusmaking van Afrikaans?

Hierdie toekenning dien as motivering vir my om my navorsing oor taal-in-onderwys-beleid voort te sit, en om voort te gaan met die bewusmaking oor die rol van Afrikaans as ’n instrument om ander mense te bemagtig om te wees wie hulle wil wees. Ek doen dit in die wete dat dit ’n lewenslange droom van prof Alexander was dat elke kind en student bemagtig word om in die taal van sy keuse onderrig te word. Prof Alexander was ook baie beslis dat jongmense (studente) nie voor ’n keuse gestel moet word om te kies tussen hul moedertaal OF Engels nie. Vir hom was dit altyd ’n geval van jou moedertaal EN Engels, omdat jy albei benodig in hierdie diverse land van ons. In ’n tyd waar ek self aan hierdie beginsel begin twyfel het, kom die toekenning op die regte tydstip sodat ek opnuut gemotiveer word om prof Neville se nalatenskap uit te leef.

Wat is u siening oor die voortbestaan van Afrikaans en hoe die taal in die toekoms sal lyk?

“Afrikaans se toekoms het selde so blink gelyk. Dis ’n taal waarin ons land se mooi geskiedenis opgeteken is.”

26 jaar gelede, net na Suid- Afrika ’n demokrasie geword het, het ek ’n artikel geskryf met die titel dat Afrikaans se toekoms selde so blink gelyk het. Ek huldig steeds daardie siening.

Vir my is dit belangrik om Afrikaans te posisioneer as ’n versoenende en ’n omgangsvriendelike taal. Dis ’n taal waarin ons land se mooi geskiedenis opgeteken is. Dis die taal waarin ek skryf en dig; waarin ek my kinders grootgemaak het. Dis die taal waarin ek my studente leer van Poppie Nongena, NP van Wyk Louw  en Kanna wat hys toe gekom het.  Dis die taal waarin die slawe hulself kon uitleef en uiteindelik hul vryheid in 1834 gekry het. Dis ook die taal waarin ek baklei vir menseregte, net soos ek in die jare 70 en 80 in Afrikaans teen apartheid in opstand gekom het, Afrikaans is die taal van die struggle, maar ook die taal van versoening. Die taal het soveel om te bied, as ons net die onderlinge twis kan omskakel na harmonie soos die mense van die Bo-Kaap al eeue lank gelukkig saam woon, al is hulle van verskillende kleure. Dis ’n taal wat mense kan saambind mits ons bereid is om mekaar se standpunte in te sien en respek vir mekaar se unieke verlede te toon. Afrikaans het oorloë, apartheid, kolonialisme en pandemies oorleef. Daarom is daar by my geen twyfel dat die taal net sterker en sterker sal groei nie. Afrikaans se toekoms het lanklaas so seker gelyk soos nou.

Waarom sou u sê is die bevordering van al die dialekte en variante van die taal so belangrik? 

“Hoe anders sal ek hulle (die rymkletsers, blommeverkopers, vissermanne) verstaan as ek dan nou my taal afskeep? Daarom praat ons Afrikaans in my huis, want dit is dan dat ons met mekaar se harte kan praat.”

Dis ’n taal wat die ryke kultuur van ons mense verwoord soos die tradisies van sang, klopse en kerskore. Dis ook ’n taal waarin ons mense deur die eeue heen hul godsdiensvryheid beoefen het, onder andere die Koran wat in Arabiese Afrikaans vertaal is en tot vandag toe in die moskees gebruik word. Maar ook die vertaling van die Bybel in Afrikaans, het ’n energie losgemaak wat tot die eerste Afrikaanse koerante in die Paarl én Genadendal sou lei.

Die taal het ook gelei tot die eerste Afrikaanse skole in Dorpstraat, Kaapstad en in Dal Josafat in die Paarl, al het die kinders in daardie skole met verskillende tongvalle gepraat. Dis die taal waarin die massas op die Kaapse Vlakte rymklets; en die taal waarin Adam Small van die belangrikste letterkundige werke geskryf het: Dis die taal waarin die blommeverkopers in Adderleystraat hulle se blomme vekoep; die taal waarin die vistermanne van die Weskus hulle vis aan die hoogste bieër van die hand sit. Hoe anders sal ek hulle verstaan as ek dan nou my taal afskeep? Daarom praat ons Afrikaans in my huis, want dit is dan dat ons met mekaar se harte kan praat.

Gaireyha Fredericks

Gaireyha Fredericks, ongekunsteld met ’n passie vir Afrikaans en alles wat die taal kan bereik. As aktrise is sy vinnig besig om naam te maak vir haarself, maar terselfdertyd gebruik sy haar invloed om haar passie vir Afrikaans uit te leef. Ons deel graag haar menings en sienings…

 

“So as long as wat daa activists bestaan vir al die variasies van Afrikaans koester, sal Afrikaans se toekoms rooskleurig bly.”

Watter betekenis dra hierdie toekenning?

Die toekenning is ’n validation van harre wêk, deursettingsvermoë en onbaatsugtige toewyding. Oek ’n getuie vir my van my kinnes se sacrifices. Allie tyd wat ek soms van hulle moes weg om my en my medeskrywers se drome te bewaarheid. Ek staan elke oggend op en doen, dis al. Ek doen vir myself en whomever op my To-do-list dai dag is. Wether ek virre klein fooichie mentor, offe aspirantskrywer bemoedig, of ’n klas van 13 studente free Zoom- en WhatsApp-klas gee om leiding en onderstening innie vorm van werkswinkels te gie, dis wat ek doen. Die toekenning gaan vir my oek nou toegang kan gie tot die moontlikheid van befondsing kry, sodat ek nog meer kan doen en vele meer skrywers kan assist om hulle vlam wat brand annie lieewe te hou.

Ek sien baie wat wil skryf ma nie in hulle klein budgets ’n werkswinkel oek nog kan bekostig nie. So why must they be kept in the dark and excluded? Dis my vraag. Die gemarginaliseerde, voorheen onderdrukte skrywer en creative need ’n platform om in sy moedertong sy stories in te kan vertel. Is long overdue anyway. Die sogenaamde bruin skrywer issit al due way back when cos daar’s nog soveel wat moet ingehaal word, ommat wat hulle ken miniemul gehou was. En as die Kanon se gesig ’n kort exhale uitblaas wat nie eers die lang asem vani gemarginaliseerder accommodate nie, dan issit soes twee mense wat mekaa djaa, ma altwee move at the exact same pace. Da’s nie a chance ve inhaal nie.

Oek need da altyd iemand te wies wat hulle kan verwittig dat om te praat in moedertong issie dom en onnosel nie, soes gereeld maak belief, maar ’n volwaardige medium van kommunikasie en dat hulle naturally spiced is for storytelling. Eg en oulik en met sy eie flair en attitude. Dit laat my ook trots op myself voel en my efforts wat ek allie jare penniless moes maak, die moeite werd lyk. Die onderdrukte skrywer moet sien hoe moontlik dit truly is en leer wat dit gaan kos om hoogtes te bereik. Cos they really do not know! En as daar eerbewyse aan die antie af innie straat wat oek skryf toegeken word, word die moontlikhede tangible en real vir amal. Die toekenning represent hoop en validation en die reality dat daa is gems wat nog discover moet word.

Watter waarde dra toekennings soos dié van die ATM by tot bewusmaking van Afrikaans?

Ek’s ’n Kaapse digter. Ek skryf in my moedertong. Ek is eg aan my heritage en dit wat ek uit my lewensverhaal al van gedraw het. Daar’s baie aspirantskrywers wat nie wiet hulle mag skryf soes wat die taal hulle lippe verlaatie, mos nou ’n variasie van Afrikaans genoem, asof Afrikaans steeds al standaard is, in kan skryf nie. Onthou, Afrikaans is oek ’n variasie wat ontwikkel het uit kitchen Dutch en kombuistaal, gepraat deur die slawe inne mengelmoes van tale. Geskryf eeste in Arabiese-Afrikaans. Soe die toekenning validate diegene wat in hulle moedertong wil skryf en hul tradisionele en egte geskiedkundige stories wil neerpen. Dus is die tipe van toekenning by default ’n moeviese validation en billboard van erkenning en bewusmaking van dai djuiste feit!

Wat is u siening oor die voortbestaan van Afrikaans en hoe die taal in die toekoms sal lyk?

“So as long as wat daa activists bestaan vir al die variasies van Afrikaans koester, sal Afrikaans se toekoms rooskleurig bly.”

Ek hettie ’n crystal ball om tot innie toekoms te kykie, maar wat ek wel vesiekke wiet, ommat ek my oor constantly oppie spoor hou, is dat daar ’n verniewing van waardeering vir moedertong broei en oppie ground-level baie wêk gedoen wôd ommat die realization van validation nou ees rerag by Djan Alleman gedawn het. Is projects soes myne, Blaq pearl, Thami Mbongo, Baxter se Zabalaza festival en soeveel anne wat inclusive platforms skep.

Da is nog stram riete wat refuse om te buig, ma die majority het nou al dit in hulle koppe gekry dat as allie variasies validation kry, is wat hulle as ‘hulle Afrikaans’ sien oek safe virre voortbestaan. Dis die organisasies en individuals wat die onus op hulle self gevat het om inclusive te operate wat die pot bly annie roer hou. So as long as wat daa activists bestaan vir al die variasies van Afrikaans koester, sal Afrikaans se toekoms rooskleurig bly. Die toekoms van Afrikaans is eintlik eenvoudig innie hanne van opreg validate, nie condescending troos nie. Dan sal amal met een tong in different sounds een song sing en os finally ‘n koor vorm.

Waarom sou u sê is die bevordering van al die dialekte en variante van die taal so belangrik?

“Want die mense praat dai taal en dit is hulle sole form of communication, passed on in generations en hulle soul function innie taal.    “

Ek dink ek’t soemma altwee die vrae, die een van boe en dié een met my vorage antwoord geklap, maar as ek maar dit vir jou moet net weer verduidelik, dan issit eenvoudig dit: Want die mense praat dai taal en dit is hulle sole form of communication, passed on in generations en hulle soul function innie taal. Elke mens moet kan express sy existence in sy moedertong en elke anne mens warrit aanhoor moet kan volwasse genoeg wies om te believe dis part van dai people’s heritage en opbrengs en dit te validate. Dai define intelligence in anyways. Os innie Suid-Afrikaanse konteks het al te veel verloor en gesacrifice om nog orie laaste chop te stry. Kommunikasie isse lifeline, djy krappie by dittie en djy weerhou oekie mense van dittie, want dan gaan djy ‘n famished nasie kry wat iet whatever hulle kry rondlê en dan ganie souls al hoe mee afgewater raak en dierlik vertoon, hence os current moraal in os land. Take from people en briek hulle af en hulle sal jou wys wat barbaars is. Validate mense en hulle nooi jou en shower jou met mooi customs en culture, want hulle voel gevoed en versadig.

Afrikaans in al sy vorme, variante en dialekte bly ’n passie en leefstyl wat elke dag uitgeleef moet word. Nes professor Le Cordeur en Gaireyha Fredericks, moet Afrikaans meer wees as net ’n taal … ons moet die bevordering van Afrikaans ons doel maak.

Namens Afrikaans.com wens ons die wenners hartlik geluk, en is ons trots om te sien hoe hulle hul liefde vir Afrikaans uitleef en nooit ophou skryf aan die toekoms van Afrikaans nie.

The post Bevordering van Afrikaans: Een taal, een doel. appeared first on Afrikaans.com.

Viewing all 1121 articles
Browse latest View live