Quantcast
Channel: Afrikaans.com
Viewing all 1121 articles
Browse latest View live

Zebulon Kochk verryk ons taal op vele maniere

$
0
0

Skrywer: Alita Steenkamp

“Woorde bou brûe in my lewe. Ek is versottend lief vir gedigte. My gedagte is ʼn kombuis waar die woorde bestanddele en my gedigte die recipe is. Ek gee aan God die dank vir die ongelooflik talent. Ek glo met Afrikaans kan ons die wêreld verander.” Aan die woord is Zebulon Kochk, ʼn vars nuwe bries in die Afrikaanse poësie. Met klanke, woorde en beelde skep hy nuwe wêrelde wat hy dan vrylik met ander deel. Vir die wêreld mag hy dalk Zebulon wees, maar vir sy vriende is hy sommer Zebbie, ʼn jong man wat opgewonde wag om te sien wat die lewe alles vir hom gaan inhou.

Zebulon huiwer nie om te sê dat hy in die agterstrate van die Paarl grootgeword het nie en tans in ʼn informele nedersetting woon. Hy woon saam met sy ouers in ʼn nederige tweevertrekhuisie waar die kombuis sommer deel van sy slaapkamer is. Tog het dit hom nog altyd geïnspireer om harder te werk en nie toe te laat dat enige negatiewe omstandighede hom onderkry nie. Die skryf van nuwe poësie is beslis een van daardie maniere om uit moeilike omstandighede weg te breek, sê hy. Hy is besonder dankbaar vir die manier waarop onderwysers hom deur die jare gehelp en geïnspireer het om sy gawes te ontdek en te ontgin.

Zebulon is tans besig met sy rekordeksamen en die matriekeksamen lê om die draai. Hy is ʼn leerder aan die Charleston Hill Sekondêre Skool in die Paarl waar hy deel van die matriekraad en ʼn lid van die leerlingraad is. As jy gewonder het oor die ekstra C en H in sy van, wel, hy het dit juis ingevoeg as erkenning vir die groot bydrae wat hierdie skool in sy lewe gemaak het. Hy skryf ook vir die skoolkoerant. Met 2020 wat in hierdie vreemde jaar verander het waar leerders eensklaps huis toe gestuur is om van daar af op eie stoom met hulle skoolwerk voort te gaan, het daar baie uitdagings op hom gewag. Zebulon besit nie ʼn skootrekenaar of tablet nie en moes maar sy ouerige selfoon inspan om by te bly.

“Ek gee nie maklik op nie en wanneer ek op ʼn donker plek is, probeer ek maar om deur die skryf van ʼn gedig die lig na my en die wêreld te bring,”

sê Zebulon.

Sy liefde vir woorde kom ʼn lang pad. Reeds op die ouderdom van nege het boeke en stories hom bekoor, al het hy self gesukkel om te lees. “Ek kon nie die woord ‘leeu’ uitspreek nie en het van ʼn loei gepraat,” lag hy. Om as enigste kind groot te word, het voordele en nadele. Zebulon sê dat hy in die alleentye maar altyd met ʼn boek gesit het, of probeer het om sy eie rympies te skryf. Dit het hy alreeds teen die ouderdom van nege gedoen. In latere jare het sy skryfwerk ook vir hom ʼn wonderlike uitkoms gegee wanneer slegte vriende hom wou dwing om saam te rook of dwelms te gebruik. Hy het bloot weggeloop en gaan werk aan ʼn gedig. Nou lag hy wanneer mense na hom as ʼn “nerd” of ʼn bleeksiel verwys. Die bynaam dra hy met trots.

Aan die begin van 2019 het Zebulon besluit om ʼn Facebook-profiel te skep waarop hy dan van sy gedigte deel. Dit was gou duidelik dat hierdie jong man ʼn uitsonderlike talent het. Bekende name in die digkuns het van sy skryfwerk gesien en hom aangemoedig om sy poësie op LitNet te deel. Hy het nie twee maal gedink nie en die allerlieflike Vreugde voor my venster geskryf, wat in Desember 2019 op LitNet gepubliseer is en dadelik goeie reaksie uitgelok het. Oor hierdie gedig is Zebulon baie trots: “Dit was net so heerlik om met beelde van die natuur, en menswees te speel en sonder dat ek dit geweet het, het ek ʼn tipe sonnet geskryf,” sê hy.

Van Zebulon se poësie verskyn ook gereeld op Ink – Skryf in Afrikaans se webwerf en hy het onlangs gehoor dat sy gedig Troos, vir die AVBOB-poësiekompetisie gekeur is. Troos is ʼn treffende voorbeeld van die manier waarop Zebulon sy woorde gebruik om bo donker omstandighede uit te styg.

Hy lag en sê dat sommige keurders wat hom help met sy poësie wil hê dat hy van sy unieke woordskeppings moet uithaal en ʼn bestaande woord gebruik. Dit is vir hom besonder moeilik, sê hy, want hy het juis daardie woord geskep om perfek in die gedig in te pas. “Ek noem dit sommer Zebbiekaans. Ek het al genoeg hiervan om ʼn hele woordeboek vol te maak,” lag hy. Dit is beslis ʼn kenmerk wat van sy poësie iets heel besonders maak. Zebulon huiwer ook nie om temas soos geweld teen vroue en kinders met sy digwerk aan te raak nie. Hy sê dit is nodig dat dit ook op hierdie manier belig word om bewustheid te skep en uiteindelik te sorg dat daar teen hierdie oortreders opgetree word.

Moet Zebulon net nie vra oor hoe hy te werk gaan om inspirasie te vind vir ʼn nuwe gedig nie. “Ek dink nie te veel oor ʼn strategie wanneer ek moet skryf nie. Die woorde kom net na my gedagtes toe. 90 persent van my digkuns kom net vrylik en ek kan in vyf minute reeds ʼn gedig geskryf het. Ek glo ek is gebore met hierdie gawe,” sê hy.

Die afgelope maand of wat, is Zebulon diep geraak deur mense baie na aan hom wat gesterf het. Ook hierdie pyn het hy in diep woorde raakgevat: “O Almagtige God. My wonde bloei soos ʼn huilende druiwestok.” Die digter Carma Shaw, wat op 8 September dood is, het vir ʼn geruime tyd vir Zebulon onder haar vlerk geneem en aan hom heelwat raad en leiding verskaf. Vir Zeb was haar dood ʼn reuseverlies, en hy het enkele dae na haar dood ook aan haar die mooiste gedig as huldeblyk op sy Facebookblad geplaas. “Toe ek die tyding van haar dood kry, was my hart baie stukkend, maar ek het nie gaan lê nie. Al moet ek die dood in die oë kyk, en al die ander moeilike dinge, moet ons maar net aanbeweeg en ons geloof in die Hemelse Vader behou,” sê hy hieroor.

Zebulon vertel dat hy aansoek gedoen het om letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch te studeer. Hy het nog nie gehoor of hy toelating gekry het nie, maar het hierdie jaar akademies baie hard gewerk en hy hoop van harte dat hierdie droom van hom, met harde werk, bewaarheid sal word. Moenie glo hy droom bloot net van ʼn graad in letterkunde nie. Hy wil eendag ʼn doktorsgraad in poësie hê sodat hy uiteindelik ʼn professor kan word.

Hopelik sal alles in plek val vir hierdie besondere jong man wat nou op die drumpel van sy toekoms staan. Met sy digkuns het hy reeds soveel lewens aangeraak, en ʼn mens sal graag wil sien dat hy gehelp word om sy gawe ten volle te ontwikkel.

“2020 was ʼn uitdagende jaar, maar ek het hard gewerk en ek hoop ek sal by Stellenbosch inkom. As dit nie gebeur nie, sal ek na ʼn ander uitweg gaan soek. Ek sal nooit opgee en gaan stilsit by die huis nie. Ek wil uitgaan en my droom vervul. Dis sal wonderlik wees om dit in Afrikaans, my hartstaal, te kan doen!”

ange this text. Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit. Ut elit tellus, luctus nec ullamcorper mattis, pulvinar dapibus leo.

Vreugde voor my venster

Jou fatsoenlikheid mot soos
reëndruppels op my begeerte:
ek is stof, die kroon gepars –
jy innemend soos vonkelwyn.

Dit betower my hart, tot barstens toe vol.
Kyk! Vars blomme in die lig begin fleur en
teer ontluik:
as ék bid, sal dit soos gebede rank en na
dié hemel groei.

O my tuinier, jy wat my so goed versorg
sprinkel geure aangenaam
en ek drink die liefde rondom ons loot
kwistig uit dié rank.

met ’n bondel van bloeisels uit die kelk –
so onvermoeiend in pers.

Deur Zebulon Kochk (soos gepubliseer op LitNET)

Vreugde buite my venster 

The post Zebulon Kochk verryk ons taal op vele maniere appeared first on Afrikaans.com.


By Laerskool Cloetesville het drome vlerke …

$
0
0

“Die skoolgemeenskap van Laerskool Cloetesville spog met ‘n permanente herinnering dat alles moontlik is deur hul moedertaal, Afrikaans.”

– René Arendse, Afrikaans.com

Op Vrydag, 16 Oktober 2020, tydens die onthulling van die Afrikaans.com-muurkuns by Laerskool Cloetesville, kon die gemeenskap van Cloetesville die leerders van ver af hoor sing. “Drome het vlerke. Ek sien my naam in die sterre!” Só het die leerders saam met die musikant en skrywer, Frazer Barry, gesing.

Cloetesville - muurkunsprojek

“Die muur is ‘n motivering, nie net vir die leerders nie, maar vir die hele gemeenskap. Daar is baie mense wat hier verbybeweeg en die muur is op ‘n sentrale punt waar almal dit kan sien. Almal is beïndruk met die muur,” vertel die waarnemende prinsipaal, mnr. Roger Cupido.

Met ‘n jaar wat soveel uitdagings gebring het, het hierdie muuronthullingsgeleentheid die leerders weer met nuwe hoop gevul. Die muurkuns herinner leerders dat hulle enigiets kan word deur Afrikaans. Mnr. Roger Cupido vertel ons met trots dat Laerskool Cloetesville nog van die min skole is wat ‘n suiwer Afrikaans-medium skool is en dat hulle dit graag so wil hou. Die musikant en skrywer, Frazer Barry het sy inspirerende storie met die leerders gedeel en hulle vertel hoe hy as jong seun bo sy omstandighede kon uitstyg en hoe hy deur harde werk en toegewydheid sy drome kon vervul … alles deur en in Afrikaans.

Cloetesville - muurkunsprojek

Mnr.Roger Cupido, waarnemende prinsipaal by LS Cloetesville, verwelkom almal by die muuronthulling.

Cloetesville - muurkunsprojek

Van regs na links – Frazer Barry, Milanie Vosloo, René Arendse, Mnr.Roger Cupido en die graad-6 leerders by Laerskool Cloetesville.

Die doel van die muurkuns is om leerders, onderwysers en die gemeenskap te herinner om trots te wees op die uniekheid van hulle kultuur, hulle skool, gemeenskap en hulle moedertaal. Sê René Arendse, gemeenskapskoördineerder by Afrikaans.com: “Ons vier die diversiteit van ons taal met al sy verskillende tongvalle en ons laat kinders besef dat die toekoms van Afrikaans in hulle hande is. Bo en behalwe die trots vir ons moedertaal, herinner die projek ook gemeenskappe en kinders om eienaarskap van hulle unieke identiteit en herkoms te neem!”

Cloetesville - muurkunsprojek

Die kunstenaar Frazer Barry, vermaak en inspireer die leerders tydens die muuronthulling.

Cloetesville - muurkunsprojek

Laerskool Cloetesville se graad-6 leerders tydens die muuronthulling.

The post By Laerskool Cloetesville het drome vlerke … appeared first on Afrikaans.com.

Almal by Raithby Primêr is dit eens: “Enigiets is moontlik in jou eie taal!”

$
0
0

Almal by Raithby Primêr is dit eens: “Enigiets is moontlik in jou eie taal!”

René Arendse

“Hierdie muur sê vir my ek kan enige iets wees!”

Nathi Marafane, ‘n graad 7-leerder by Raithby Primêr.

“Die muurskildery het ons leerders en onderwysers stomgeslaan. Hulle kon nie glo toe hulle Maandagoggend hier instap en begroet word deur hierdie helderkleurige muur nie! Afrikaans.com het alles so glad en vinnig laat gebeur dat ons die hele skoolgemeenskap kon verras.”

Mnr. Ruben Steyn, die waarnemende prinsipaal by die pragtige skooltjie in Raithby, net buite Somerset-Wes.

Raithby - muurkunsprojek

Mnr. Ruben Steyn, waarnemende prinsipaal by Raithby Primêr.

Raithby - muurkunsprojek

Adri Arnolds en Kayleigh Lintnaar vermaak die gehoor tydens die spesiale program.

Raithby Primêr is die tweede oudste Afrikaanse skool in die omgewing en het ‘n besonderse geskiedenis. Dit is in 1845 as ‘n opvoedkundige hawe vir die vrygelate slawe se kinders gebou. Weggesteek in die pragtige omgewing, vind jy hierdie plekkie met die naam Raithby.

Selfs Covid-19-protokol kon nie verhoed dat die leerders en personeel die Afrikaans.com-muuronthulling op Vrydag, 16 Oktober 2020, ten volle geniet nie. Afgesien van maskers en sosiale afstand wat gehandhaaf moes word, het die leerders hulself gate uit geniet, items voorgedra en die inspirasie en vermaak van Frazer Barry geniet.

Leerders is opnuut daaraan herinner dat hulle die uniekheid en diversiteit van hulle taal moet vier en eienaarskap van hulle taal en identiteit moet neem. Ten spyte van al die uitdagings en beperkings van 2020, is Afrikaans.com trots om die jaar saam met Raithby Primêr en sy wonderlike leerders en personeel die dag te kon deel en geniet. Met die muurkunsprojek poog Afrikaans.com om die lekker en positiewe van Afrikaans in skoolverband uit te lig en te vier, om leerders te inspireer sodat hulle sal onthou dat hulle toekoms in hulle hande is en dat enigiets moontlik is in jou eie taal!

Raithby - muurkunsprojek

Links na regs- Frazer Barry, Ruben Steyn (prinsipaal) René Arendse en Gordon Olivier (HOD).

Raithby - muurkunsprojek

Die kunstenaar, Frazer Barry is op sy stukke tydens die muuronthulling.

Die uitnemende kunstenaar en skrywer, Frazer Barry, het die leerders inspireer met sy eie storie van die seun wat bo sy omstandighede kon uitstyg en vandag sy drome in sy eie taal kan uitleef. Frazer, gebore en grootgeword in Kleinmond, is al vir meer as 20 jaar besig om verhoë beide nasionaal en internasionaal te betower met sy unieke Afrika-klanke. Hy het al verskeie toekennings ontvang en is vanjaar met sy produksie Woorde op akkoorde, vir ‘n KykNET Fiësta-toekenning genomineer.

“Ons voorsien ‘n blink toekoms vir Afrikaans in die hande van leerders soos dié by Raithby Primêr!”

René Arendse, Afrikaans.com

Die kunstenaar en skrywer Frazer Barry wat by die muuronthulling opgetree het, gesels met ons oor wat sy Afrikaans vir hom beteken.

The post Almal by Raithby Primêr is dit eens: “Enigiets is moontlik in jou eie taal!” appeared first on Afrikaans.com.

Exclusive Books se Afrikaanse topverkopers vir Oktober

$
0
0

Koop tussen 30 Oktober en 13 November 2020 enige van die titels op hierdie lysie en ontvang 10% afslag in Exclusive Books se aanlyn winkel.

WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom! 
Klik hier.

Hierdie maand op ons boekrak spog ons met ou bekendes wat al maande lank op die lys pronk, soos Hans gee Herklaas horings deur Rudie van Rensburg en  Kanaän van Sophia Kapp. Oktober se lys spog ook met die lekkerste en nuutste op die Suid-Afrikaanse boekrak. Afspraak met Moord deur Jana Marx gee die leser ’n kykie na hoe skynbaar normale mense, gruweldade kan pleeg. Johan Bakkes gee ons ’n reis na binne sy gedagtegang in Erfgeld is Swerfgeld en vat die leser op verskeie avonture, sommige meer persoonlik en ander humoristies van aard. Tog is daar iets vir elke boekwurm, en kosliefhebber. Met Die Edik van Nantes gee Nataniël en Erik le Roux ’n eg Franse smaak in jou mond, met hul wenresepte vir die oog en maag. Moenie hierdie maand se uiteenlopende topverkopers misloop nie. Klik die skakel en lees saam met Afrikaans.com en Exclusive Books…

1

Afrikaanse Boeke

Hans gee Herklaas horings – Rudie van Rensburg

Hans van Kraaienburg, verlosser van Huis Madeliefie se oumense, se vriend Vasie nooi hom vir ‘n vakansie op Hermanus, as gaste van dié se neef Herklaas. Daar gekom, vind hulle Herklaas in die sop: die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, wil sy blyplek koop en herontwikkel – maar Herklaas wil nié trek nie. Toe Grond se kriminele handlangers hardhandig raak, besluit Hans dat Herklaas ‘n stel horings moet kry om Grond trompop te loop.

Koop die boek

2

Afrikaanse boeke

Die Brug: Na die hel en terug in Angola – Deon Lamprecht

In vergeelde foto’s van drie dekades gelede staan oopgesigseuns vol bravade voor Ratel-gevegsvoertuie. Hierdie dienspligtiges van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep staan aan die begin van hul reis diep in Angola in om vir volk en vaderland te gaan veg.

In ’n bloedige geveg op Valentynsdag 1988 en in die doodsakker by Tumpo sou hul jeugdige onskuld egter sneuwel. In die hitte van die gevegte kom die besef: Nou gaan dit nie oor ideologie nie, maar om oorlewing. Na die oorlog gaan die lewe voort, maar die vrae en geestelike letsels wyk nie.

In 2018 keer ’n groep van die ouddienspligtiges terug na Cuito Cuanavale op soek na afsluiting – en om die wrak te vind van die Ratel waarin ’n makker op die laaste dag van die oorlog gesterf het. Die Brug vertel van hul reis van jong man na veteraan en gee ook ’n stem aan die vroue in hul lewe. Dit is ’n verhaal van ontnugtering, maar ook van trotse kameraderie en genesing.

Koop die boek

3

Afrikaanse boeke

Merk – Rudie van Rensburg

Kassie het geglo sy speurderdae is getel na die Medusa-pedofielsaak, en sy hartaanval. Maar ses maande tuis bring perspektief – hy is ‘n speurder in murg en been. Terug by die Spookeenheid word hy en kollega Rooi Els dadelik by die diep kant ingegooi: Hulle moet ‘n reeksverkragter vastrek – een wat sy slagoffers met ‘n brandyster merk. Is die skuldige die man wat beskryf word as “‘n weerwolf met die sperm van ‘n wildehond”? Of lê die antwoord by die spesifieke merk wat hy op sy slagoffers laat?

Koop die boek

4

Afrikaanse boeke

Maggie: My lewe in die kamp – Maggie Jooste

Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek en haar lewe ingrypend verander. Na maande in huisarres word sy en haar gesin na ‘n konsentrasiekamp in Natal gestuur. Hier ervaar hulle honger, onsekerheid en verlies, maar ook soms op ‘n verrassende wyse die goedhartigheid van Britse soldate. Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ‘n verhaal van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en vriendskap oor vyandsgrense heen.

Koop die boek

5

Afrikaanse boeke

Erfgeld is Swerfgeld – Johan Bakkes

Johannes Bakkes is die geliefde skrywer van andersoortige reisverhale soos Ons is moertoe en Norrevok. Hierdie boek is meer persoonlik; hier skryf hy homself oop. Die subtitel is Reis na binne, die -ste -ste plek? Hy is altyd op soek na die koudste, warmste, hoogste, droogste plek om te besoek.

Hier word humoristiese vertellings oor sy reise afgewissel met sy pa se wolhaarstories en lewendige geskiedenisvertellings. Hy en sy seun vind aanklank tydens nog ‘n onbesonne reis. Sy liefde vir sy familie is tasbaar. Gerrit Rautenbach noem die manuskrip sy beste skryfwerk nog en blootstellend anders. Bakkes lê homself bloot in sy weerloosheid, vrees en krankheid.

Hy wys wie hy was in die ou bedeling en hoe hy probeer hand bysit in die nuwe bedeling, wat hy nie gekies het nie. Dis ’n dapper, aangrypende reis vol humor en deernis.

Koop die boek

6

Kanaän – Sophia Kapp

Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is ’n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ‘n skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ’n uitweg – ’n jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.

Koop die boek

7

Lapa Boekrak Afspraak met moord

Afspraak met Moord – Jana Marx

Elf wrede moorde oor ’n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landwyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg.

Die moordenaars is slim, gewone mense – ’n onderwyseres, ’n finansiële makelaar, ’n kind wat tussen die moorde deur steeds ses onderskeidings in matriek behaal en boonop keuring kry om medies te gaan studeer. Hul slagoffers het bloot ’n sake- afspraak nagekom, min wetend dat dít ’n afspraak met die dood was.

Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het Satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank?

Jana Marx beantwoord dié en ander vrae in ’n waremisdaadverhaal wat gelei het tot een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis.

Met behulp van onderhoude uit diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar poog Marx om die publiek se vrae te antwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus.

Koop die boek

8

Afrikaanse Boeke

Anton Goosen – Liedjieboer – Hanlie Retief

Na 40 jaar se rock ‘n roll in Afrikaans vertel die legendariese Anton Goosen nou sy volle verhaal, soos neergepen deur die bekroonde joernalis Hanlie Retief. Die vader van Afrikaanse rock skryf oor sy grootwordjare in die Vrystaat, sukses en roem, sy lewe op die langpad, die Musiek-en-Liriek-era, die hoogtepunte en teleurstellings langs die pad. Aangrypend, eerlik en vol humor: Dit is die lewe van Anton Goosen. ‘n Lewe teen die stroom op.

Koop die boek

9

Kookboek

Die Edik van Nantes – Kookboek – Nataniël le Roux, Erik le Roux

In Die Edik van Nantes-kookboek nooi Nataniël en sy broer, Erik le Roux, jou uit om saam met hulle ‘n kosreis na Nantes, Frankryk, te onderneem. Kom kyk hoe lyk die château waar Erik en sy gesin bly, beskou die argitektoniese wonders van Nantes en beleef die koue winter saam met hulle. Met resepte uit die eerste vier reekse van die gelyknamige TV-reeks asook nuwe resepte wat Nataniël en Erik by die huis maak. Maak Franse uiesop, clafoutti, artisjokpoeding, brioche met salm, bloubessiesjampanjesop en sjokoladeklappertruffels net soos die Franse kan. ‘n Visuele fees vir die oog.

Koop die boek

10

Afrikaanse Boeke

Bloedsteen – Irna van Zyl

Dinge ontrafel vinnig wanneer iemand speuradjudant Storm van der Merwe se ma voor ‘n trein op Paddington-stasie instamp. Storm moet Londen toe, al is sy tot oor haar ore met ‘n moordsaak: Beebee Bukelwa Babu, befaamde Suid-Afrikaanse modeontwerper, lê leweloos in ‘n luukse hotel op Hermanus.

Hande om Storm te help met die ondersoek na Beebee se dood is min, want protesaksie lê die dorp lam. Boonop sweep ‘n charismatiese profeet die skare tot ‘n histerie op. Storm besef gou dit is nie net haar ma se lewe wat in gevaar is nie. Sy is self ‘n teiken. Intussen probeer haar ekskollega, Andreas Moerdyk, nou ‘n privaat speurder, om ‘n skaars rooi diamant van onskatbare waarde op te spoor. Van Londen se donker strate tot Antwerpen se diamantebeurs, van Port Nolloth se verlate kuslyn tot Storm se geliefde Hermanus, ontvou die storie in Irna van Zyl se derde misdaadroman teen die pas van ‘n sneltrein.

Koop die boek

WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom! 
Klik hier.

The post Exclusive Books se Afrikaanse topverkopers vir Oktober appeared first on Afrikaans.com.

“Elke huis kort ’n hus met lang ore!”

$
0
0

Die talentvolle trio betrokke by die Murray&Me-idioom-reeks van links na regs: Milan Murray,  Marisa du Toit en Charmaine Nolte.

Gelukkig hoef nuuskierige agies nie langer te wonder oor wat presies ’n hus is nie. Skaf net Murray&Me se jongste idioom-boek, “Die Husse en die Klein Jakkalsies”, aan en elke knapie en dogtertjie sal uiteindelik weet wie en wat is ’n hus.

Milan Murray en haar vennoot, Charmaine Nolte, eienaars van die onafhanklike kinderboekuitgewery Murray&Me, laat hulle nie deur virusse en dies meer onderkry nie. Hierdie dinamiese duo het grendeltyd ten spyt, hulle sesde Afrikaanse kinderboek vrygestel. Afrikaans.com het by hulle ingeloer.

Hoe is dit dan nou dat ’n Afrikaanse kinderboekmaatskappy ’n Engelse naam het?  Vanwaar Gehasi?

Milan verduidelik: “Jong, ’n mens het mos sterre in jou oë as jy iets nuut begin.  Vyf jaar gelede toe ek en Charmaine die maatskappy begin het, was ons vas oortuig dat ons internasionaal sou versprei. Die Britte kan mos doen met ’n paar egte Suid Afrikaanse stories! Ons het wel ons eerste kinderboek, “Pieter Kokkewieter en die Hart op sy Mou”, in Engels vertaal na “Pete Twiddlefeet and the Heart on his Sleeve”, maar ons het weldra besef dat die lojale Afrikaanse mark tog ons hooffokus moet bly. Sê Charmaine: “Ja, … ons kan nie glo dis al Pieter se vyfde oplaag nie! Dis nou offisieel ’n Suid-Afrikaanse topverkoper!”

Maar die paadjie na sukses was nie altyd geteer nie.  Elke nuwe boek bring nuwe uitdagings en 2020 het niemand ’n guns bewys nie.  Vertel meer oor die slaggate.

“Kyk, dis meer as slaggate! Dis tamaai dongas! Toe April kom en ons besef boekwinkels is gesluit en geen koerier klim in sy kar nie, was ons amper seker ons doppie is geklink. Boeke is duur. En op daardie stadium was ons vierde idioom-boek op pad drukker toe. Ons het letterlik asem opgehou.”

Die vierde prenteboek in Murray&Me se idioom-reeks, “Die Husse en die Klein Jakkalsies”,  is weer ’n storie uit jou (Milan) pen. Hoekom idiome? 

“Ek is vreeslik lief vir idiome en ek wou nog altyd ’n storie skep rondom die idioom, “dis die klein jakkalsies wat die wingerde verniel”. My aanvanklike storie was oor ’n swart haas met die naam ‘Marmite’. Ons was nie seker oor die kommersiële regte van die ‘Marmite’-handelsmerk nie, so ek het maar langtand van die naam afgesien.”

En boonop het die ‘haas’ toe ’n ‘hus’ geword!

“Ons het ’n whatsapp-groep vir die maatskappy waar ons idees deel en soms ver uit die boks dink,” verduidelik Charmaine. “Ek is gewoonlik die een met die meer aweregse idees! My kop gaan maak ver draaie. So, Milan en Marisa – ons illustreerder – is al gewoond aan my kleurvolle voorstelle. Ek kon net nie anders as om ’n ‘hus’ te sien nie!  Elke huis kort ’n hus met lang ore!”

Op 20 September hierdie jaar is “Die Husse en die Klein Jakkalsies” sonder groot fanfare vrygestel.

“Dit was maar ’n bittersoet dag,” onthou Milan. “Ons nooi gewoonlik die wêreld en sy vrou om lekker saam met ons boekbekendstelling te hou, en ons was nog elke jaar gelukkig om televisieblootstelling by hierdie geleenthede te hê. Maar vanjaar was dit nie moontlik nie. Dan was daar ook die probleme met die koerierdienste wat as gevolg van die hoë volumes gesukkel het om betyds af te lewer. Ons het met ’n hele paar ongelukkige kliënte gesit wat langer as gewoonlik vir hulle pakkies moes wag.” “Sjoe, mense kan hulle mond uitspoel op sosiale media, hoor!” lag Charmaine. “Ek bel elke ongelukkige kliënt persoonlik, want kliëntediens is vir my ongelooflik belangrik. Maar hierdie jaar was daar soveel aspekte buite ons beheer en Facebook bly maar ’n plek waar mense voel hulle kan ontlaai.”

Slaggate ten spyt, word “Die Husse en die Klein Jakkalsies” met oop arms deur kinders landwyd ontvang.  Volgens Murray&Me is daar  blykbaar verskillende tipes husse: huis-husse en plaas-husse en berg-husse, onder andere…  En gelukkige lesers stuur elke dag foto’s van hoe daar ’n husse-soektog teen slaaptyd uitbreek!

Die Murray&Me.-kantoor staan vol kleurvolle toegedraaide pakkies.  Mag elke kind hierdie Kerstyd die chaos van 2020 vergeet en wegraak tussen die blaaie van hierdie prag-prenteboek.

Kinderboek

Die omslag van die nuutste boek in die Murray&Me-idioom-reeks.

Kinderboek

Twee van die illustrasies in die prenteboek, “Die Husse en die Klein Jakkalsies”.

“Die Husse en die Klein Jakkalsies” is geskryf deur Milan Murray, geïllustreer deur Marisa du Toit, met produksie deur Charmaine Nolte.

Besoek gerus die webtuiste www.murrayandme.co.za om jou kopie te bestel.

The post “Elke huis kort ’n hus met lang ore!” appeared first on Afrikaans.com.

Potgooi: Waarom vloek mense?

$
0
0

Prof. Gerhard van Huyssteen gesels op RSG oor sy navorsingsprojek waarin hy poog om die volgende vrae te beantwoord: Waarom vloek Afrikaanse mense en verskil dit dalk van mense uit ander taalgroepe?

Om antwoorde op hierdie en ander verwante vrae oor vloek te kry, het vloek.co.za, in samewerking met Afrikaans.com, ’n hoofmeningspeiling beskikbaar gestel wat jou die geleentheid bied om moontlik ’n R1000 te wen. Klik hier en neem deel.

The post Potgooi: Waarom vloek mense? appeared first on Afrikaans.com.

PappaChef en bekendes kattemaai en kook in die kombuis!

$
0
0

Klik hier vir Episode 1

Resep: Wildsvleisburgers.

Legende: Sandra Jacobs.

PappaChef

“’n Kookprogram met ’n verskil. PappaChef sit ’n kinkel in die konvensionele kookprogram.”

 Grense word verskuif in hierdie Afrikaanse multimediavertoning wanneer radio en sosiale media saamspan. Van die grootste name in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf sluit elke week by Pieter Malan, bekende sjef en kospersoonlikheid van KykNET se Kokkedoor-faam, aan vir ’n kookervaring soos min.

Die volgende twee maande gaan verskeie dorpe getrakteer word op dié kookprogram met ’n verskil. Die PappaChef-toer, in samewerking met Afrikaans.com, sit ’n kinkel in konvensionele kookprogramme  wanneer Pieter sy voorskoot vasmaak en sy potte en panne uithaal om saam met bekendes te klets en te kook.

Lek jou lippe af vir dubbele lekkerte!

Vir die eerste keer word radio en sosiale media saam ingespan en kan duisende luisteraars inskakel op hulle plaaslike radiostasie om na die manewales van hulle geliefde bekendes in die kombuis te luister. Die volledige video van die kosmakery kan ook op Afrikaans.com se webtuiste gekyk word – dus dubbele lekkerte om na uit te sien. Hou gerus die sosialemediablaaie dop om op hoogte te bly van gebeure in die PappaChef-kombuis. Tydens elke program, gaan daar gekook, gesels en gelag word … kosstories en geheime gedeel word … kortom, luisteraars en kykers gaan ’n heel ander kant van hulle geliefde bekendes ervaar en sommer ’n nuwe resep ook leer.

Op die spyskaart:

  • Daar is agt episodes wat weekliks vanaf 19 Oktober tot 7 Desember 2020 op 21 plaaslike radiostasies uitgesaai word.
  • Die programme is opgeneem voor ’n lewendige gehoor en word op Afrikaans.com se webtuiste gehuisves sodat mense agterna daarna kan gaan kyk.
  • Verskeie gaste en plaaslike legendes neem deel.
  • Daar sal elke week ook ’n insetsel wees wat fokus op toerismeaantreklikhede van die dorp wat besoek word.
  • Elke episode word afgesluit met musiek deur die PappaChef-orkes, Havanna.
  • Die aanbieder van die program is Pieter Malan, alias PappaChef en die kreatiewe regisseur is die akteur Francois Jacobs.
  • Elke week se resep word op Afrikaans.com geplaas (klik op die blokkie hieronder).
  • Elke week word daar ook ’n toekenning gemaak aan ’n plaaslike legende – iemand wat in en vir Afrikaans ’n bydrae maak. Hou gerus Afrikaans.com dop om meer van die legendes te wete te kom.
  • Hierdie toer is ’n verlenging van die aanlyn PappaChef-programme waar bekendes soos Kurt Darren, Fatman, Nicholas Louw, Manie Jackson, Rubber DUC, Posduif, Hannes van der Walt en Pierre Nel, hul vernuftigheid agter die kospotte gewys het.

PappaChef-kombuis word moontlik gemaak deur B-well.

Lusmaker vir program

In die eerste episode ontmoet ons die akteur en musikant Altus Theart wanneer hy saam met Pieter wildsburgers maak. Die plaaslike onderneming waarop daar vandeesweek gefokus word, is Chippos – Jaco Dos Santos. Ontmoet die span hieronder en hou ons webtuiste dop vir episode 1!

Meer oor Pieter Malan

PappaChef - Pieter Malan

Pieter het bekendheid as sjef verwerf toe hy in 2019 aan die gewilde werklikheidsreeks, Kokkedoor op KykNET deelgeneem het en uiteindelik een van die top-3-deelnemers was. Deesdae is hierdie besige pa en eggenoot ook ’n seremoniemeester, motiveringspreker, radioaanbieder, professionele lid van die Suid-Afrikaanse Sjefvereniging, ’n geakkrediteerde SA Sjef-beoordelaar en ’n ontvanger van die gesogte Eat-Out-toekenning. Behoorlik ’n mondvol!

Pieter het al opgetree by bekende feeste, soos Aardklop, die Pretoria-fees en die Pekan-fees. In 2019 is hy ook tydens Aardklop deur die plaaslike radiostasie, Overvaal Stereo, as die mees inspirerende ikoon by die fees vereer.

Radiostasies 

Skakel in op die volgende plaaslike radiostasies as jy wil deel in PappaChef se kombuisklets en -kook. Diegene wat oorsee woon, kan ook aanlyn inskakel en luister.

The post PappaChef en bekendes kattemaai en kook in die kombuis! appeared first on Afrikaans.com.

Afrikaans Huistaal: Wenke vir vraestel 2: gedigte

$
0
0

In dié episode van Kompas op RSG, gee Christopher Banda van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement wenke oor hoe matrieks moet voorberei vir Afrikaans Huistaal, vraestel 2: gedigte. Die vraestel word op 24 November 2020 geskryf. Christopher is die senior kurrikulumbeplanner vir Afrikaans (graad 10 – 12) by die WKOD.

Leerders:

  • Daar is 12 gedigte. Leer almal. MOENIE spot nie!

Ter voorbereiding:

  • Maak seker jy het al die tegniese aspekte onder die knie, bv. leestekens, klankeffekte, ens. – jy moet elkeen se funksie kan benoem.
  • Daar is twee kernvrae oor elke gedig, naamlik die tema (waaroor gaan die gedig?) en die boodskap (wat word gesê?).
  • Hoe word dit gesê? M.a.w. watter tegnieke word ingespan.
  • Leer alles wat die onderwyser jou geleer het en kry dit goed onder die knie.
  • Maak ’n skoon afdruk van die gedig en kyk nou of jy alles oor die gedig kan neerskryf, bv. reël 1 = metafoor; reël 3 = alliterasie, ens.

Vasleggingsoefening:

  • Die WKOD het ’n aanlyn toets beskikbaar (pdf op WA) wat leerders kan beantwoord. Die toets word elektronies gemerk en leerders kan dit meer as een keer aflê. Is ook op die departement se e-portaal beskikbaar.
  • Beantwoord ’n regte eksamenvraag in ’n ou vraestel en probeer dit binne 13 minute voltooi (ongeveer die tyd wat in die eksamen beskikbaar is).

Finale opsomming:

  • Gebruik ’n dubbelfolioblad en trek ’n tabel/diagram op waarop al die belangrike aspekte van elkeen van die 12 gedigte uiteengesit word.

Vrae:

  • Een opstelvraag en 4 kontekstuele vrae. Drie van die kontekstuele vrae handel oor behandelde gedigte en een van die vrae – die vraag is ook verpligtend – handel oor ’n ongesiene gedig.

Uitdagings:

Gebrekkige woordeskat lei tot swak begrip, vertolking en formulering van vrae. Die volgende woorde skep probleme:

  • Spreker: Dit is nie die digter nie! Stel vas wie is aan die woord in die gedig, of uit wie se gesigspunt word die gedig aangebied.
  • Aangesprokene: Met wie word daar gepraat?
  • Funksie/funksioneel: Wat word gedoen?
  • Effektief: Hoe goed word dit gedoen?
  • Plasing, tipografiese plasing, tipografiese alleenplasing: Een woord kan alleen in ’n reël voorkom, of een versreël kan los staan van ander versreël of strofe, ens.
  • Ondersteun: Hoe ondersteun versreël 5 die titel van die gedig? M.a.w. hoe help hierdie woord …
  • Benoem die beeldspraak/stylfiguur: Gee die naam van …
  • Verduidelik die beeldspraak: Wat beteken dit in die gedig?
  • Stemming: Gevoel wat by leser opgewek word.
  • Evalueer die geslaagdheid van bv. die beeldspraak: Is dit suksesvol? Ja/nee. En gee dan rede (motiveer) hoekom jy so sê.
  • Uithef/uitgehef: Hoe word dit (bv. beeldspraak) beklemtoon/benadruk?
  • Opgehef: Hoe word dit (bv. beeldspraak) tot ’n einde gebring?

Hoe kry jy goeie punte?

  • Maak seker jy verstaan wat gevra word.
  • Moenie ’n algemene antwoord gee as daar ’n spesifieke antwoord van jou verwag word nie – m.a.w. oor ’n spesifieke gedeelte van die gedig.
  • Deeglike kennis van die gedig, bv. watter letterkundige begrippe is op die gedig van toepassing? Watter klankeffekte, bv. alliterasie, ens. is van toepassing?
  • Lees elke vraag deeglik en ontleed – om kernwoorde en vraagdele te bepaal.
  • Kyk ook wat is die beperkinge van die vraag, m.a.w. die vraag is dalk net op ’n sekere deel van die gedig van toepassing.
  • Beantwoord die vraag in dieselfde volgorde as wat die vraag gestel is:
    • Beantwoord elke onderafdeling op ’n afsonderlike reël.
    • Spasieer jou antwoord en skryf netjies – daar is genoeg spasie/bladsye in die eksamenboek. Dit maak dit makliker vir nasieners om jou vraestel te merk.
    • Jy kan so ook seker maak dat jy alles (elke onderafdeling) beantwoord.

Hoe beantwoord jy die opstelvraag?

  • Ontleed die opdrag en beplan jou antwoord.
  • Beplan jou argumente d.m.v. bewyse in teks (wat jou antwoord ondersteun).
  • Struktuur wanneer jy die opstelvraag beantwoord:
    • Inleiding – ’n afsonderlike paragraaf (kan ook net een sin wees).
    • Lyf/liggaam – dit is jou argumente, bv. stelling plus verduideliking; stelling plus gepaste aanhaling; stelling plus omskrywing in jou eie woorde. LW – die lyfgedeelte kan uit afsonderlike paragrawe bestaan.
    • Slot – ’n afsonderlike paragraaf wat verband hou met die vraag en by die inleiding aansluit.

“Onthou matrieks: Matriek is dalk die einde van jou skoolloopbaan, maar dit is ook die begin van die res van jou lewe.”
– Christopher Banda, WKOD

Gaan ook na Afrikaans.com se leerhulpafdeling vir ’n lys van ou vraestelle:

Afrikaans Eerste Addisionele Taal (EAT)en Afrikaans Huistaal. Klik hier.

Nog skakels:

WOZA Matrics is ’n program saamgestel om matrieks te help met hulle studies. Lees meer.

Die Wes-Kaapse Departement van Onderwys (WKOD). Klik hier.

The post Afrikaans Huistaal: Wenke vir vraestel 2: gedigte appeared first on Afrikaans.com.


Inryteater by die Suidoosterfees

$
0
0

Kyk hier na die feesprogram.

Die Suidoosterfees en Atlantic Studios laat die klassieke inryteater herleef. Van 4 tot 15 November 2020 word feesproduksies in ’n splinternuwe baadjie geklee, en kan groter gehore vanuit die gemak en veiligheid van hul motors na feesaanbiedings op die silwerdoek kyk.

Produksies wat op die silwerdoek geprojekteer word, word direk opgeneem terwyl die kunstenaars op ’n buitelugverhoog optree. Inryteatergangers skakel in op ’n FM-radiofrekwensie om in hulle motors na die klankbaan te luister. Die geleentheid voldoen volledig aan vereistes ingevolge die COVID-19- nasionale gesondheids- en veiligheidsregulasies.

Volgens professor Brian Figaji, voorsitter van die Suidoosterfees-direksie, is gehore uitgehonger vir teater- en musiekproduksies. Die fees se inryteater bied ’n veilige uitlaatklep, danksy die ondersteuning van borge en die samewerking met Atlantic Studios. Dié inisiatief bied ’n alternatiewe opsie vir optredes en voorsien broodnodige inkomste aan kunstenaars. Inryteatergangers kan ook uitsien na heerlike ‘roadhouse’-etes wat vanuit die kykNET Kokkedoorstoor voorberei word.

Produksies om na uit te sien: Klopse Jol!, PJ Powers en die Tygerberg-kinderkoor, Die Variety Show that skriks vir niks, Lottering in Lockdown, Francois van Coke en Early B, Koortjies met Jonathan Rubain en Lag my kla’. Die vier topverkopers vir Suidoosterfees 2020, wat vroeër vanjaar as gevolg van die grendelstaat uitgestel moes word, was Kaapkreools, PJ Powers en die Tygerberg-kinderkoor, Die Variety Show that skriks vir niks en Marc Lottering. Gehore het nou die geleentheid om die nuwe produksies by die inryteater te geniet.

Suidoosterfees

Emo en Loukmaan Adams tree in die produksie Klopse Jol! op saam met ’n eg Kaapse Maleierkoor, ’n Klopsegroep en ’n tienstuk-orkes wat die voete sal laat jeuk. Die legendariese PJ Powers snoer talente met die Tygerberg-kinderkoor saam om ’n onvergeetlike musiek-extravaganza na die inryverhoog te bring. Feesgangers kan uitsien na treffers soos ‘Welcome to Africa’, ‘The right to learn’, ‘Jabulani’, ‘The world in union’ en ’n massauitvoering van ‘Shosholoza’.

Gehore kan ook uitsien na ’n gesamentlike optrede van Francois van Coke en Early B – Suid-Afrika se grootste rocker en rymkletser saam op een verhoog! Gary Naidoo tree op in Die Variety Show that skriks vir niks, ’n vertoning wat die verhoog in ligte laaie laat opgaan met skreeusnaakse komedie en ’n jol soos net die Kaap kan gooi. In Marc Lottering se produksie vertel die supergewilde grapjas van sy avonture gedurende die grendelstaat. Kom skaterlag saam vir sy weergawe van aanlyn vergaderings en tuisonderrig.

Lag my kla’ is die uitvloeisel van ’n aanlyn kompetisie wat van stapel gestuur is om nuwe komedie-talent te identifiseer vir verdere ontwikkeling. Met dié projek van Son, kykNET en die Suidoosterfees het Shimmy Isaacs, Rezah Forbes en Solomon Cupido nuwelinge se talent geslyp. Die wenners van 2020 se Lag my kla’-kompetisie tree saam met hulle op.

Die eerste Afrikaanse gospel-televisiereeks, Koortjies met Jonathan Rubain, is een van die gewildste reekse ooit op kykNET en Kie. Gaste wat in die reeks te sien was, kom byeen vir ’n aanskoulike verskeidenheidsvertoning by die inryteater.

Vir Stad Kaapstad is die kykNET Atlantic Inryteater die ideale geleentheid om die kunste weer behoorlik te vier ná die grendelstaat. Daarom gooi Kaapstad haar deure wyd oop om kunsteliefhebbers van oral in die provinsie te verwelkom. Spesiale pakkette word aangebied om dit vir besoekers van buite die stadsgrense moontlik te maak om te kom deel in vermaak uit die boonste rakke. Verblyfpakkette by City Lodge is beskikbaar teen R1 600 vir twee persone, en sluit bed en ontbyt, ’n inryteaterkaartjie en ‘roadhouse’-ete in.

Kaartjies kos vanaf R250 per motor, en kan by Computicket bespreek word. Besoek die Suidoosterfees se webwerf (www.suidoosterfees.co.za) vir meer inligting.

Hierdie inisiatief van die Suidoosterfees is moontlik gemaak deur die Departement van Kuns, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, kykNET, NATi, Die Burger, Media24, Smile FM en Atlantic Studios.

Vir verdere navrae, tree asseblief met Themba Mzondi in verbinding by 078 113 5216 of per e-pos Themba@sceproductions.co.za

BUITE KAAPSTAD, MAAR STEEDS GRETIG OM BY TE WOON? MOENIE HIERDIE SPESIALE PAKKET MISLOOP NIE!

’n Spesiale afslagpakket is beskikbaar vir besoekers wat lus is vir ’n paar dae se wegbreek na Kaapstad. “Met ’n knypende ekonomie wat Suid-Afrikaners hul sente laat omdraai, veral ná die pandemie, het ons besparende pakkette vir ons ondersteuners saamgestel,” sê Jana Hattingh, die fees se uitvoerende hoof. “Dit is vir ons belangrik om die kunste so toeganklik moontlik vir almal te maak. En ons wil dit vir besoekers uit dorpe rondom Kaapstad bekostigbaar maak om die fees by te woon.”

Kostes vir die inryteater beloop R250 per motor vir twee persone, en R300 per motor vir drie of vier mense. Vir besoekers wat in Kaapstad wil oornag, is daar ook ’n winskoop-pakket beskikbaar. Vir slegs R1 600 kan twee feesgangers die volgende waarde kry: Bed en ontbyt by City Lodge Hotel V&A Waterfront, toegang tot die fees se inryteater, en ’n Kokkedoor-ete daarby ingesluit. Besprekings kan telefonies by die City Lodge V&A Waterfront gedoen word. Mense wat van dié aanbod gebruik wil maak, kan die hotel by 021 419 9450 skakel om te bespreek.

The post Inryteater by die Suidoosterfees appeared first on Afrikaans.com.

Kunstenaarsfokus: Elandré Schwartz

$
0
0

Met sy kenmerkende langhare en diep stem, het Elandré Schwartz homself oor die afgelope drie jaar as een van die grootste name in Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiek gevestig. Ten spyte van ritse toekennings, miljoene videokyke op sy Youtube-kanaal, en talle aanhangers wêreldwyd, bly Elandré se voete plat op die aarde … Ons het met hom gesels oor sy liefde vir tuinmaak, dit wat hy by sy ouma en oupa geleer het, sowel as wat hy hoop om met sy nuutste album te bereik.

Wat is jou gunsteling- Elandré-liedjies? Hier is ons s’n!

Dag & Nag

Vuur op die Water

Woorde uit jou Mond

The post Kunstenaarsfokus: Elandré Schwartz appeared first on Afrikaans.com.

PappaChef – Episode 2

$
0
0

Episode 2

In die tweede episode ontmoet ons Melanie, ’n jong, opkomende sanger wat die PACISA- kompetisie gewen het. Sy het verskeie pryse gewen, onder andere ’n enkelsnit wat deur Rudi Claase geskryf is, ’n musiekvideo en stemopname deur InTune Productions. Haar bemarking word deur The Marketing Zoo behartig en sy het ’n volbeurs ontvang om musiek by COPA te studeer. Alles op die ouderdom van 19. Hierdie jong sanger het ’n stem wat jou hoendervleis sal gee.

Luister haar enkelsnit hier.

Melanie en Pieter maak ‘n varklies met ’n soet uiesous en groenboontjiepuree.

Episode 2: Resep vir Varklies
PappaChef-Melanie

Episode 2 se legende is die mediakonsultant Marius Bakkes. Lees gerus verder om Marius beter te leer ken.

Wie is Marius Bakkes?

Hendrik Marius Aucamp Bakkes, seun van die historikus en militêre wetenskaplike dr. Cas Bakkes en skrywer Margaret Bakkes het grootgeword in die Wes-Kaap en later in Pretoria. Marius het talle mediahoede met die jare gedra, onder andere as joernalis, televisieregisseur en vervaardiger, asook skakel- en reklameman –  hoofsaaklik in Johannesburg en Kaapstad en nou in Nelspruit. As mediakonsultant praktiseer en konsulteer Marius in alle vorme van media en is deesdae veral doenig met die publikasie van streekskoerante en toerismepublikasies en -reklame – gedruk en aanlyn.

Covid-19 het ’n beduidende impak op die mediabedryf gehad. Hoe lyk die pad vorentoe?

Om in die mediabedryf – van watter aard en medium ook al te oorleef, beteken om gedurig nuwe planne te maak en op hoogte te bly van die jongste giere en behoeftes van jou kliënte en jou publiek. Jy moet die onderskeie  markte en produkte ken en na gelang daarvan, die mees effektiewe weg vorm en gebruik om die boodskap oor te kry. Wat nuus en die gedrukte media betref, reken ek die Covid-skade was redelik groot. Veral nasionaal – en op plekke ook internasionaal – het die nuusmedia homself verder benadeel om so sonder slag of stoot die Covid-toestand in te gaan en het hulle gewoon napraters geword van ongegronde maatreëls en feite. Ek reken permanente skade is aangerig in terme van toekomstige geloofwaardigheid. Die gemeenskapskoerantbedryf is tot ’n mindere mate geraak omrede hulle tot ’n groot mate draers geword het van advertensie-invoegsels wat onder sekere dele van die kopersmark groot in aanvraag is – en steeds groot geld vir die uitgewers beteken. Die behoefte aan  gemeenskapsnuus vind nog goed uiting in so ’n gratis voorstedelike of plattelandse agtblad- koerantjie.

Enige staaltjies wat jy kan deel tydens verfilming van PappaChef?

Nie staaltjies nie, maar wel heimwee, denkend aan my eie jeug toe ek as jong regisseur moes leiding neem met regstreekse televisieuitsendings soos Goeie More Suid-Afrika  en Ses-op-Een, wat ons in die begindae daagliks en vreesloos op lug geplaas het. Natuurlik nie sonder ’n goeie span nie – en so het die professionaliteit en geesdrif van die jongklomp met die opnames van PappaChef  my weer na daardie dae laat verlang.

Jou gunstelinggereg – om te eet en om voor te berei.

Ek is lief vir kook, maar haak soms by ‘n paar gunstelinge vas. Op die oomblik is dit Ossobuco – sommer met gewone beesskenkel, want kalfsvleis het ons nie hier in die Laeveld nie, ’n lekker goulashsop met dik repe goeie beesvleis  en gerookte paprika en Thaise groenkerrie – ook nou nie so dat die oë traan nie.

Enige verskuilde talent waarvan ander dalk nie bewus is nie?

My lewe, skandes en skades is ‘n redelike oop boek. Wat ek kon doen en wat ek wou doen, het ek aangepak. Met minder en meerdere sukses.

Wat is heel bo-aan jou kluitklaplys?

Daar broei ’n prettig nostalgiese televisiereeks – nou dat tyd en kostes minder van ’n probleem is. Dit is om met ’n konvooitjie ou karre uit die jare dertig ’n landswye padreis op die ou paaie van die tyd te volg. Tans maak ek padkaarte en reisgidse bymekaar en het ek reeds begin soek na die plekke waar die ou motorpaaie  eers  geloop  het vanaf  Jan van Riebeeck se standbeeld deur elke dorp en Royal- of Grand-hotel verby tot by Carl Von Brandis voor die landdrosgebou in Johannesburg – of as oom Paul nog daai tyd staan, tot op Kerkplein in ou  Pretoria.

Radiostasies 

Skakel in op die volgende plaaslike radiostasies as jy wil deel in PappaChef se kombuisklets en -kook. Diegene wat oorsee woon, kan ook aanlyn inskakel en luister.

The post PappaChef – Episode 2 appeared first on Afrikaans.com.

Laai gratis stories af vir die jongspan

$
0
0

Kom ontdek saam met Afrikaans.com ’n droomwêreld waarin kinders hulle verbeelding vrye teuels kan gee en groot kan droom. Afrikaans.com stel die volgende gratis, aflaaibare stories in die reeks deur die skrywer Jana Snyman bekend. Hierdie stories is gemik op 7 – 12-jariges en ondersoek die temas van veiligheid en selfbeeld. Met karakters soos Bennie en Karlien, neem Jana die kleinspan na ’n droomwêreld waar hulle meer kan leer oor hulleself en van die moeilike uitdagings waarmee hulle daagliks te doen kry. Die doel is om deur hierdie stories kinders meer te leer oor die dieper kwessies van die lewe, sodat hulle van jongs af met die nodige kennis van die grootmenswêreld toegerus word.

Laai die stories hier af en word deel van Afrikaans.com se boekwurms…

Klik op die prentjie om die pdf af te laai

Storieboeke

Klik op die prentjie om die pdf af te laai

The post Laai gratis stories af vir die jongspan appeared first on Afrikaans.com.

Beer Adriaanse: ʼn Kop vol stories

$
0
0

Foto: Burger Meyer
Skrywer: Alita Steenkamp

Hy het in ʼn huis vol boeke grootgeword, vertel Beer Adriaanse, en hy onthou hoe sy ma hom en sy twee broers gereeld na die dorp se biblioteek geneem het om ure daar deur te bring. Vandag is woorde, en die skryf van tekste en draaiboeke, ʼn onlosmaaklike deel van sy lewe, en, soos hy eenmaal in ʼn onderhoud gesê het, heeltemal verslawend.

Beer Adriaanse se loopbaan in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf het ʼn hele paar interessante draaie geloop. Op skool was hy beslis nie die outjie wat altyd die kunswedstryde gedoen het en die hoofrol in die skoolkonsert vertolk het nie. Hy was eintlik ʼn skaam ou, sê hy. Nadat hy en ʼn paar vriende in graad 11 die musiekgroep Zinkplaat begin het, het hy uiteindelik op ʼn verhoog beland, en met tyd al hoe meer daarvan gehou. Die lede van Zinkplaat, waarvan hy die tromspeler was, het in 2012, na ʼn speelbeurt van tien jaar, op ʼn goeie voet uitmekaar gegaan, elk om ʼn eie loopbaan te begin. In die Zinkplaattyd, sê Beer, het hy geleer dat dit pret is om soos ʼn nar tekere te gaan terwyl mense video’s van jou maak.

Hy kry gewoonlik die rol van iemand wat jou laat lag sonder dat die karakter enigsins probeer snaaks wees, soos die liewe Corné Hanekom in Fynskrif of Thomas in Hotel. Dis juis die lomp en onbeholpe dinge wat die karakter doen, wat ʼn mens net laat lag en jou kop skud vir dié jansalie. Moet egter nie dink dat hy altyd net die ‘goofy’ rolle speel nie. Onlangs was hy die vuilbek korporaal in die omstrede rolprent Kanarie. Hy sê gelukkig was hy sy hele lewe lank in ʼn koshuis en daar was maar altyd die boelie of die doopkaptein by wie hy kon leer om hierdie karakter te word. “Ek het darem baie lekker skietgoed gehad om na die kampvuur toe te bring,” lag hy. Vir hom was die lekkerste van die hele Kanarie-ervaring om met ʼn wonderlike klomp akteurs, en die regisseur Christiaan Olwagen, saam te werk. Al was daar fliekgangers in Suid-Afrika wat dalk nie so baie van die fliek gehou het nie, het dit uitstekend in die buiteland gevaar en vir hom was dit besonder lekker om te kan sien dat eg Suid-Afrikaanse stories ook met mense in die buiteland kan praat.

“Die ding wat ons uiteindelik sal bevry, is wanneer ons besef dat ons in hierdie land ook universele stories kan vertel,” sê hy.

Tans is Beer se ligte dramareeks, Ekstra Medium, op kykNET en Showmax te sien. In hierdie heerlike reeks leer ons vir Bertie, gespeel deur Wilhelm van der Walt, ken. Die mat word onder Bertie uitgeruk wanneer sy vrou hom uit die bloute laat weet dat sy wil skei, en dan moet hy besluit of hy gaan lê of opstaan en sy lewe herontwerp. Daar is kostelike oomblikke, en ʼn uitstekende span akteurs wat Cintaine Schutte, Marvin-Lee Beukes, Llandi Beeslaar en De Klerk Oeloefse insluit.

“Ek is nogal trots op hierdie enetjie wat ek saam met Retief Scholtz geskep en skryf het,” sê Beer. “Ek was ook die regisseur van hierdie reeks. Alhoewel daar nog nie sprake van ʼn tweede seisoen is nie, het ek al klaar in my kop begin werk aan idees indien ons die kans gegun word.”

Beer Adriaanse

Op ‘n Stellenbosch-verhoog saam met Zinkplaat. Foto: Onbekend

Beer Adriaanse

Laaste dag op stel van Fynskrif 3. Foto:Jono Farr

ʼn Man met ʼn kop vol stories, die is hy beslis. Hy vertel dat daar ʼn lêer op sy rekenaar is, gemerk as Die Toekoms. Hierin is daar ʼn lang lys storie-idees wat hy reeds in sy kop bymekaar gemaak het. Soms raak hy bang dat daar soveel idees is, dat hy nooit in een leeftyd by alles sal uitkom nie. Sy rekenaar se toetse raak soms ook stil en in sulke oomblikke, wanneer daar geen inspirasie is nie, sal hy met sy ma, die skrywer Wilna Adriaanse, begin gesels. Sy weet net hoe om hom te inspireer, en soms gebeur dit ook andersom. Uit haar pen het al sedert 2000 16 boeke verskyn en sy werk tans aan ʼn volgende een.

Beer lag lekker wanneer hy vertel dat hy onlangs ʼn interessante mylpaal oorgesteek het: die van ʼn pa in ʼn fliek. Daar word tans tien semilang flieks wat vyftig minute duur vir kykNET vervaardig en hy het ʼn rol in een van hierdie flieks gekry. Daarin is hy te sien as een van ʼn klomp ouers langs ʼn rugbyveld. Dis moeilik om te glo dat Beer nou al die rol van ʼn pa kan speel, maar dan lag hy en sê dat dit wil voorkom asof hy nou daardie drempel oorgesteek het. Hy het sy hare baie kort geskeer, ʼn bokbaardjie gegroei en dit het die ding gedoen.

Beer Adriaanse

Saam met Zinkplaat tydens musiekvideo-opname. Foto: Annie Klopper

Beer Adriaanse

Toneel uit Kanarie met Germandt Geldenhuys en Schalk Bezuidenhout. Kinematograaf: Chris Vermaak

Dis heerlik om met ʼn jong man te gesels wie se hart sterk in Afrikaans klop. Hy was vroeër vanjaar deel van ʼn Afrikaans.com-advertensie en dink dat al die Afrikaanse nuutskeppings wat in hierdie advertensie gebruik is, ʼn duidelike bewys is dat Afrikaans ʼn lewende taal is wat bly groei.

“Hoe ouer ek word, hoe belangriker word Afrikaans vir my. Ek was gelukkig genoeg om tydens die musiekjare deel te wees van die generasie wat die MK-generasie genoem is, waar ons vir ʼn oomblik in tyd baie trots was om Afrikaans te wees. Met Zinkplaat se musiek het ons ook probeer om te wys dat Afrikaans veel meer as apartheid of onderdrukking of die NG Kerk is. Nadat ek in Afrikaans begin kortfilms maak het, het ek daardie trots oorgedra.

Ek dink ʼn mens kan jouself altyd die heel beste in jou moedertaal uitdruk.

Dit is asof jy ʼn bietjie dieper kan delf wanneer jy die taal, waarmee jy grootgeword het, gebruik in die kreatiewe proses.

“Toe ek in graad 8 was, het ek Koos Kombuis ontdek wat net anders geklink het as die res. Later was daar ook ander groepe wat my inspireer het. Die kere wat ons as Zinkplaat by iemand gehoor het dat ons musiek vir hulle iets beteken, was dit lekker en dan het ons geweet ons doen iets reg. Dankie tog ek het al meer as een keer die geleentheid gekry om vir jonger persone iets te wees wat van my Afrikaanse rolmodelle vir my was. Hopelik kan mense oor honderd jaar op Wikipedia sien dat daar veel meer rondom Afrikaners is as bloot net apartheid,” sê Beer.

Dis goed om te hoor dat Beer nog baie stories het wat hy wil vertel. “Daardie Die Toekoms-lêer op my rekenaar is nou al amper langer as die Bybel, en elke dag kom daar nog. Dis die wonderlike ding van kreatiwiteit. As jy eers daai klep oopgemaak het in jou kop, dan hou dit aan inspoel. Hoe lekker is dit nie?”

Beer Adriaanse

Toneel uit Wonderlus met Edwin van der Walt en Adam Heyns.
Kinematograaf: Devin Toselli

Beer Adriaanse

Op stel van Ekstra Medium.
Foto:
Dawid Swart

The post Beer Adriaanse: ʼn Kop vol stories appeared first on Afrikaans.com.

Toorbos – ’n Betowerende ervaring soos min

$
0
0

Wanneer Karoliena Kapp te staan kom voor die keuse tussen ’n lewe op die dorp saam met die man van haar drome en die Knysnabos waar sy veilig voel, ontketen dit ’n onvergeetlike reis van innerlike konflik, verandering, aanvaarding en bowenal, liefde. In Toorbos, volg die kyker Karoliena se verhaal, vandat sy trou beloof aan Johannes Stander tot haar besef van die geldgierige, selfsugtige en onderdrukkende samelewing waarin sy haarself bevind. In die reeks avonture wat volg, leer ken die kyker die hart van die bosmense in die 1930’s, die uitdagings van dié tyd en die magiese aard van die bos wat as’t ware ’n karakter op sy eie word.

Met die kombinasie van uitstekende toneelspel deur bekendes soos Elani Dekker, Stiaan Smith, Ira Blanckenberg en Clare Marshall, magiese kinematografie en ’n briljante teks waarvan die skryfproses sowat ses jaar vir skrywer en regisseur van Toorbos, René van Rooyen, geduur het, is dit geen verrassing dat Toorbos al wyd vereer is nie.

Die film het in 2018 weggestap met die toekenning vir die Works in Progress (WIP)-program by die Kaapstad Internasionale Mark- en Rolprentfees (CTIFMF). Dit is gekies as een van vyf rolprente uit 54 inskrywings uit 15 Afrikalande. Toorbos is ook in 2019 gekies as die sluitingsfilm by die 9de kykNET Silwerskermfees.

Toorbos is gebaseer op die gelyknamige roman uit die pen van die bekroonde skrywer Dalene Matthee en is die vierde boek in haar reeks bosverhale. In ’n destydse onderhoud met die SAUK, vertel Matthee van haar eie noue verbintenis met die Knysnabos en die bekoring wat hierdie ruimte vir haar inhou.

Films
Films

“Ek sal nie Bos toe gaan sonder om die Bos eers aan die rand te groet nie. Jy kan nie sommer net daar inloop nie. Dit is ’n kragstasie, ’n ding wat groter is as wat ons mense verstaan. My kinders sê altyd ‘Ma, moenie dat mense hoor Ma groet die Bos nie’.”

Dit is dan ook haar diepe konneksie met die bos en die magiese aard van hierdie ruimte wat as basis dien vir die roman en die film en gestalte kry deur die Karoliena-karakter. Vir Elani Bekker wat die rol van Karoliena vertolk, was een van die belangrikste aspekte van die voorbereidingsproses, die verstaan van die tydperk waarin dit afspeel.

“Ek het baie navorsing gedoen oor die bosmense in die 1930′ en 40’s, asook tyd spandeer saam met René, om myself te vereenselwig met die teks en veral ook met Karoliena se perspektief. Ons het ook die Knysna-bosmense se interessante aksent herontdek en deur hierdie aksent kon ek ook baie leer van hoe dié unieke kultuur gedink en gekommunikeer het.”

Vir Stiaan Smit, wat die rol van Johannes Stander, Karoliena se man vertolk, was die fisiese aspekte van sy karakter (soos aksent en postuur) ook iets wat hy moes inoefen.

“Johannes se spraakpatrone en postuur is baie meer statig as my eie! En dan, soos met enige teks, was dit vir my belangrik om die karakter se emosionele reis te verstaan, en om te kan vereenselwig met die dinge wat hom motiveer. Die groot uitdaging is wanneer daar negatiewe aspekte van ‘n karakter is wat jy ook moet verstaan en toelaat – soos byvoorbeeld Johannes se oortuiging dat vrouens altyd moet doen wat hul mans sê, en sy bereidwilligheid om dit af te dwing,” meen Stiaan.

Films

Volgens Stiaan is die temas wat in Toorbos ondersoek word, steeds net so relevant vandag as wat dit 90 jaar gelede was.

“In vandag se tyd is die kwessie van magspel in verhoudings baie relevant. Johannes en Karoliena se verhouding speel af in ‘n wêreld waar die man nog definitief die baas van die verhouding is. En ten spyte van die feit dat dit vandag ‘n baie meer subtiele dinamiek is, bestaan daardie wanbalans van mag steeds in verhoudings. Wat die storie vir my so relevant maak, is om te sien hoe ‘n karakter soos Karoliena, wat groot teenstand ervaar oor beide haar geslag en klasseverskil, die uitdaging aanpak om daardie hindernisse te oorkom,” sê hy.

Stiaan meen dit is juis hierdie chauvinistiese uitkyk wat sy karakter op die lewe het, waarmee hy sukkel om te vereenselwig.

“Wat ek wel hou van Johannes is dat hy die bereidwilligheid toon om daardie elemente in homself te ondersoek en te bevraagteken. Ek dink, maak nie saak wanneer of waar ons lewe nie, daar gaan altyd die moontlikheid wees dat ons sekere dinge glo bloot omdat die samelewing vir ons sê dat dit die regte ding is om die glo. En die mense vir wie ek die meeste respek het, is dié wat die energie vind om altyd aan te hou vrae vra, en die versteekte valse aannames oop te grawe.”

Vir Elani, is dit haar karakter se weerstand teen hierdie chauvinistiese lewensuitkyk, wat sy die meeste bewonder.

“Ek bewonder haar waagmoed om nie tevrede te wees met die drome en vooropgestelde idees wat ander vir haar het nie, maar eerder haar intuïsie te vertrou en uit te vind wie sy is en wat sy wil doen. Sy kan nogal hardkoppig wees! Daar is ‘n sterk tema van verandering en vooruitgang in Toorbos. Karoliena word konstant uitgedaag om op te staan vir dit wat sy glo reg is en om gegrond te bly in haar waarheid. Suid-Afrika is in ‘n baie onsekere tyd en hierdie storie sal hopelik vir mense moed gee om aan te hou groei en sterk te staan wanneer dit voel asof hulle effens ‘ontwortel’ word.”

Films
Films

Met die uitbeelding van ’n verhaal soos Toorbos deur ’n legende soos Dalene Matthee, kom daar altyd hoë verwagtinge; ’n onus om die karakters uit te beeld op dieselfde manier as waarop die leser dit in sy of haar kop gevisualiseer het.

“Elkeen wat die boek al gelees het sal hulle eie denkbeeldige weergawe van [Karoliena] in hulle kop hê en daarmee kan ek mos nou nie kompeteer nie,” sê Elani. Aanvanklik was ek oorweldig, juis omdat sy so ‘n bekende karakter vir mense sal wees, maar ek moes besef dat al wat ek kan doen is om die Karoliena in my te laat uitkom en mý weergawe van haar tot die beste van my vermoë te vertolk,” sê Elani.

“Dis altyd baie oorweldigend om ‘n karakter te moet uitbeeld wat reeds bestaan in die kop van die kyker,” meen Stiaan. Maar die waarheid is dat mens net eg kan wees aan die karakter soos wat dit in jou eie verbeelding lewe. So op die ou end doen ek net my bes om te vergeet dat die karakter reeds bestaan, en probeer die storie en die teks benader soos enige ander. Anders gaan mens jouself in twee skeur tussen jou eie interpretasies en die verwagtinge van die kyker.”

Toorbos word op 13 November 2020 in teaters regoor die land bekendgestel. Kry jou kaartjies vandag en deel in die betowerende ervaring van uitstekende Afrikaanse filmvermaak.

Loer ook gerus hier na die voorskou van Toorbos:

The post Toorbos – ’n Betowerende ervaring soos min appeared first on Afrikaans.com.

NB-Uitgewers se boekekeur vir November…

$
0
0

Kom loer saam met Afrikaans.com na hierdie maand se opwindende nuwe boekereeks. Die geliefde skrywer Deon Meyer boei die gehoor met sy spanningsverhaal Prooi. Elsa Joubert se Spertyd gee die leser ‘n outobiografiese kykie na veral haar latere lewe soos sy haar ervaringe deel van die hede tot die onlangse verlede, met die woordvaardigheid soos net sy kon. Ons kyk ook na ’n paar dieper insette soos deur Nico Smith met In Mamelodi het ek my God gevind, en word die leser opnuut bewus van belangrike historiese kwessies wat steeds vandag ‘n verskil in mense se lewens maak. En vir die jongspan is daar Die legendariese Lua Verwey deur Dihanna Taute waar Lua gereed maak om weg te breek van haar gesin en reg is vir ‘n vakansie saam met die krieketspan. Kom reis saam met Afrikaans.com deur hierdie maand se versameling van boeke, en kom vind jou gunsteling!

1

Die Dao van Daan van der Walt

Lodewyk G. du Plessis.

ISBN: 9780624082521

Uitgewer: Tafelberg Uitgewers

Toe Daan van der Walt, ‘n eerstydse Kalahari-boer, ‘n vertigo-aanval kry, laai sy vervreemde seun hom by ‘n monnikeklooster in China af. Onder leiding van Meester Yang moet Daan tai chi doen in ‘n poging om sy balans te herstel. Maar daar is ook iets anders wat aan Daan vreet, iets wat hy van sy hart móét afkry voor hy sy weg na die hiernamaals kan vind. Dalk is dit tyd dat hy aan Magrieta, sy oorlede vrou, skryf en sê dat hy haar liefgehad het.

2

Die biblioteek aan die einde van die wêreld 

Etienne van Heerden

ISBN: 9780624089216

Uitgewer: Tafelberg Uitgewers

Prokureur Ian Brand stuur ’n ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op ’n kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak. En al hoe gereelder slaan ’n kruisboogmoordenaar in die Moederstad toe . . . Dié tergend aktuele roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar “die waarheid” klaarblyklik ’n onhaalbare ideaal is.

Ek wens, ek wens - Afrikaanse boek

3

Ek wens, ek wens

Zirk van den Berg

ISBN: 9780795708558

Uitgewer: Kwela

As lykbesorger het Seb al talle lyke gebalsem, organe teruggepak in lyfholtes, beendere aanmekaargelas en doodsbleek gesigte gegrimeer vir roubeklaers om te besigtig. Wat help dit om te wens vir ‘n ingryping wat hom sal losruk uit sy saai bestaan? Maar toe die sterwende seuntjie Gawie en sy ma by die begrafnisondernemers instap, kry Seb tog rede om in wense te glo . . . En kom voor ’n dilemma te staan: Waarvoor wens jy as jy één wens het wat waar gaan word?

Afrikaanse Boeke

4

In Mamelodi het ek my God gevind

Nico Smith

ISBN: 9780796321152

Uitgewer: LUX VERBI

In 1982, tydens die hoogty van apartheid, ontvang ds Nico Smith ’n beroep na die NG gemeente in Mamelodi. Tot almal se verbasing aanvaar hy dit. Hy en sy vrou Ellen, ’n gerekende kinderpsigiater, laat

hulle gemaklike lewe in Stellenbosch agter en gaan bly in Mamelodi. Hier leer Nico en Ellen die harte van die mense ken, en beleef hul swaarkry sáám met hulle. Hulle leer ’n ander God ken, die God van die armes, die verworpenes en die verdruktes. Tog betaal hulle self ook ’n prys.

“We will remember him as a fearless fighter who sacrificed his wellbeing and forsook his privileged white status to join hands with black people.” – Jackson Mtembu

Afrikaanse boeke

5

Spertyd

Elsa Joubert

ISBN: 9780624084327

Uitgewer: Tafelberg

Hierdie boek is die voltooiing van Elsa Joubert se outobiografiese drieluik wat ingelei is deur ‘n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Dit fokus hoofsaaklik op die skrywer se latere jare, in die aftreeoord in Kaapstad, maar haar belewenis van die hede en onlangse verlede word onlosmaaklik vervleg met herinneringe aan veel verder terug, alles geteken met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers.

Afrikaanse Boeke

6

Anderman se vrou

Chris Karsten

ISBN: 9780798179829

Uitgewer: Human & Rousseau

Twee jaar ná die dood van die reeksmoordenaar Jack Niemand, is daar steeds raaisels wat by Wim Kellerman spook. Wim en Portis praat min daaroor by hulle skoenlapperboerdery op Wildernis. Maar albei wonder steeds wat het geword van Portis se vyf vermiste jeugvriende? En wat van Simon Pope en sy vrou se oorskot?

Wim wéét sy ou aartsvyand, Simon Pope, lewe nog. Hy vlieg Kanada toe, agter “skoenlappers” aan. Maar eintlik gaan soek hy die meesterbrein agter die verdwyning van Portis se jeugvriende.

Afrikaanse Boeke

7

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie

Pieter Odendaal

ISBN: 9780624085614

Uitgewer: Tafelberg

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie is ‘n opwindende en verweefde debuut uit ‘n jong digter se pen. Met ‘n eietydse en aktuele aanslag skryf Odendaal oor die politiek van verskil in ‘n multikulturele samelewing, die natuur en ons ekologiese voetspoor, verganklikheid, menswees, die liefde, asook die onlangse studentepolitiek. Ten einde vra hy: Re mang? Wie is ons? En wie is hulle?

Afrikaanse Boeke

8

Die legendariese Lua Verwey

Dihanna Taute

Illustrasies deur Theodore Key

ISBN: 9780798176811

Uitgewer: Human & Rousseau

Lua is nie soos enige meisie wat jy ken nie. Sy sal eerder tyd op haar J-board spandeer as voor ’n spieël of die TV. Sy’s ook allergies vir seuns. Wat vreemd is, want sy het drie boeties. En sy wil graag krieket speel, al sal sy die enigste meisie wees. Maar die krieketspan gaan see toe toer en sy kort beslis ‘n vakansie weg van haar mal gesin af.

Afrikaanse Boeke

9

Die Ongelooflike Onskuld van Dirkie Verwey

Charl-Pierre Naudé

ISBN: 9780624084341

Uitgewer: Tafelberg

Op ‘n dag in die vroeë sewentigs bemerk ‘n afgeleë Noord-Kaapse gemeenskap ‘n gebou in hul midde waar voorheen net ‘n stuk braakgrond was. Drie weke later verdwyn die gebou . . .

Lees ook oor die vreemde werklikheid van mense wat meer as een maal lewe, oor die jong man wat so skaam is dat hy nie op foto’s kan vertoon nie, en oor die intense liefdesverhouding van ‘n paartjie wie se lewenspaaie net vir ‘n paar sekondes gekruis het.

Deon Meyer Prooi

10

Prooi

Deon Meyer

ISBN: 9780798177757

Uitgewer: Human & Rousseau

Griessel en Cupido soek nie dié yskoue docket nie. Johnson Johnson, oudpoliesman, se lyk is gekry langs die treinspoor in die Karoo. In Bordeaux geniet Daniel Darret sy eenvoudige lewe, tot hy verplig word om nog een keer te jag – op die korrupte president van sy tuisland. Kan die Valke hom betyds keer? Kan Daniel die Russiese agente ontglip wat hom probeer elimineer? En gaan Bennie als oorleef om eindelik vir Alexa Barnard te vra om te trou?

The post NB-Uitgewers se boekekeur vir November… appeared first on Afrikaans.com.


2021 se Woordfees voorspel ’n heerlike lente in die Eikestad

$
0
0

Skrywer: Annelie van Jaarsveldt

Volgende jaar September gaan voorwaar ’n heerlike lente wees – veral in Stellenbosch – wanneer die Toyota US Woordfees van 17 tot 24 September 2021 in die Eikestad gehou word. Afrikaans.com het met feesdirekteur, Saartjie Botha, gesels oor die besluit om die fees na September toe te skuif.

Vertel meer oor die voorneme om vroeër volgende jaar aktiwiteite gerig op die Woordfeesgehoor aan te bied met die oog daarop om blootstelling te gee aan kunstenaars, maar ook borge. Wat beplan julle?

Ons beplan verskeie aanlyn en virtuele aanbiedings – o.a. leesteater waartydens akteurs nuutgeskrewe tekste voorbereid sal lees en sal deelneem aan gesprekke oor die tekste. Die grendeltyd het ’n oes van nuwe tekste opgelewer en ons is opgewonde oor die kwaliteit van die werk. Bemarkingsgeleenthede tydens aanlyn aanbiedings is groot – dink aan stroke onder aan die skerm, of rame met blootstellingsgeleenthede vir borge. Groter gehore versprei oor ’n wyer geografiese area kan aanlyn geleenthede bywoon. Ons wil nie soos advertensieborde lyk nie, maar wil graag die geleenthede wat met die platform gepaard gaan, benut.

Woordfees Saartjie Botha

Saartjie Botha
Woordfees – feesdirekteur

Jy sê in ’n artikel op jul webtuiste dat dit nog nie ’n uitgemaakte saak is dat die Woordfees na 2021 permanent na September gaan skuif nie – juis omdat julle ook in die belang van die groter bedryf moet optree. Die verantwoordelikheid teenoor ons kunstenaars is egter enorm, tog is dit noodsaaklik om ook ekonomies volhoubaar te bly – nie net vir die Woordfees nie, maar vir die ander kunstefeeste ook. Die pandemie het die kunste ’n groot knou toegedien. Wat is na jou mening die grootste uitdagings wat julle nou vorentoe sal moet aanpak, veral omdat daar steeds onsekerheid heers?

Ons grootste uitdaging was nog altyd volhoubaarheid. Met Covid en veral die beperking van kapasiteit, het ons ’n totale herdink van ons inkomstegenerering nodig. Ons moet anders oor borgskappe en donasies dink, en meer as ooit oor hoe ons dit vir borge die moeite werd kan maak om die kunste te ondersteun. Samewerking tussen kunstefeeste en ander rolspelers word belangriker as ooit. Ons kan geld spaar en uiteindelik beter benut as ons beter en saam beplan. Waar ons in die verlede enkele groter aanbiedings kon befonds, gaan ons waarskynlik in die onmiddellike toekoms meer kunstenaars met kleiner bedrae moet ondersteun.

Daar is tydens die grendeltyd heelwat aanlyn vertonings/produksies aangebied – sommige meer suksesvol as ander. Is dit dalk ’n model wat aangepas kan word en wat as ’n soort uitbreiding/verlenging op bestaande modelle kan dien? Veral as ’n mens daaraan dink dat nie almal by die feeste kan uitkom nie en met aanlyn kan hulle wel in van die produksies deel.

Wat my betref is die kwaliteit van die meerderheid teaterstukke wat ons die afgelope tyd aanlyn kon sien, nie goed genoeg nie. Die bedoeling is edel, maar teater bedoel vir ’n verhoog en teater bedoel vir skerm, is twee verskillende mediums. Jy kan nie net twee kameras neersit en dink jy kan die essensie van ’n stuk, of selfs net ’n oorsig vasvang nie. Om teater goed af te neem, soos die National Theatre in Londen doen, het jy ’n begroting nodig, en veral kundigheid buite die teateromgewing. Ek is baie opgewonde oor Proscenium, ’n projek wat ons saam met kykNET aanpak om kwaliteit opnames van gewilde stukke te doen. Dit is egter ’n baie duur projek en daar is beslis nie befondsing beskikbaar om alle teater so te verfilm nie. Die realiteit is egter dat indien ’n opname nie van hoë gehalte is nie, dit meer skade as goed doen en dat dit geen lewe het nie.

Woordfees 2021
Woordfees 2021

Die Woordfees het vanjaar die grendeltyd net misgeloop maar die ander feeste was nie so gelukkig nie. Het jy ’n boodskap vir die publiek wat dalk mismoedig voel oor die huidige stand van sake en die voortbestaan van die feeste – veral ook die Woordfees?

Die grootste positief wat ek uit grendeltyd kon neem, was die algemene publiek se versugting na lewendige optrede. Ons moes eers iets verloor voor ons dit werklik na waarde kon waardeer. Wat feeste betref, het mense waarskynlik in hulle gemis besef wat die sosiale waarde van ’n kunstefees is, en hoe dit meewerk aan sosiale kohesie en algemene wel-wees. ’n Fees is baie meer as net op- en uitvoerings, stalletjies en samesyn – dit stimuleer verbeelding en kweek trots en dit maak ons wêreld ’n beter plek om te wees. Mag ons gou weer voluit feesvier!

Wat kan Suid-Afrikaners met ’n liefde vir Afrikaans doen om aan te hou skryf aan die toekoms van die taal?

Die toekoms van Afrikaans is in ons hande. Kom ons koester dit.” – Saartjie Botha, feesdirekteur, US Woordfees

Chris Barnard het gesê die beste ding wat enigiemand vir Afrikaans kan doen, is om ’n goeie boek te skryf. Skrywers moet nie huiwer om werk in Afrikaans te skep nie. Die uitbouing van Afrikaans het te doen met verbruikerspatrone. Ons moet ons Afrikaanse kultuurskatte ondersteun – ook finansieel. Solank ons kaartjies verkoop vir Afrikaanse aanbiedinge, kan feeste aanbod handhaaf en uitbrei. Ek het ’n broertjie dood aan mense wat kla oor die verskraling van Afrikaans, maar dit nie aktief en ekonomies ondersteun nie. Die toekoms van Afrikaans is in ons hande. Kom ons koester dit.

Hou die Woordfees se webtuiste (www.woordfees.co.za) dop vir meer inligting.

The post 2021 se Woordfees voorspel ’n heerlike lente in die Eikestad appeared first on Afrikaans.com.

PappaChef – Episode 3

$
0
0
Kyk hier na al die episodes tot dusver

Episode 3

In die derde episode ontmoet ons Henrico, sanger van die TV-program Maak my Famous.

Lees meer oor die opwindende nuwe sanger, klik hier.

Episode 3: Resep vir Wildsvleisfillet in kerriebottersous
Henrico Coetzer

Episode 3 se legende is Radio Laeveld 100.5FM se stasiebestuurder, Robin Jansma. Lees gerus verder om Robin beter te leer ken.

Vertel ons bietjie meer oor jouself.

Ek woon al langer as 20 jaar in die Laeveld. Het destyds in Pretoria (waar ek grootgeword het) een Saterdagoggend by ‘n ontbytkafee in Hatfield vir ‘n vriend gesê ek gaan my lewe verder in die Laeveld voortsit. Ek was 27 en sy antwoord was: “Jy gooi groot geleenthede vir jou toekoms weg…” Die proe na die Laeveld water was te sterk. Ek wou hier trou, huis koop en kinders in die skool sit. Ek kon nie wag om my GP-registrasienommer met die van MP te ruil nie. Die bekoring aan die Laeveld het te doen met die reuk van ‘n hardehoutvuur (kan nie onthou wanneer laas ons met brikkette gebraai het nie), die warm Laeveld-sonnetjie op jou vel, die wildtuin by die agterdeur en ons is net ‘n bietjie meer as twee ure van die see af (deur die Mosambiek-grens). Ek het my eerste radioprogram destyds op Radio Rippel (Nou Groot FM) gedoen en spoedig in die Laeveld by 100.5FM aangesluit. Deur die jare het ek my beywer om te groei in die bedryf en het die trappe maar geklim van omroeper na programbestuurder, advertensieverkope en nou stasiebestuurder.

Jou rol as stasiebestuurder by Radio Laeveld 100.5FM – hoe het jy daar beland en hoe lank is jy al betrokke?

Radio Laeveld is hierdie jaar (2020) al 17 jaar oud en ek was basies van die begin af betrokke. Die beginjare was maar moeilik, maar was ook van die beste tye wat ons gehad het. Hulle sê mos radio is die meeste pret wat jy met jou klere aan kan hê. Alhoewel ‘n mens ongelooflike pret kan hê terwyl jy uitsaai, moet ‘n mens ook vir die toekoms beplan, want in die vermaaklikheidsbedryf kan die mat binne sekondes onder jou voete uitgeruk word. Ek het ook besef daar is baie meer agter die skerms betrokke om ‘n radioprogram op die lug te hou as wat dit klink, en daarop toegespits om alles van die bedryf te leer. So het ek al vloere gevee, mure geverf, tee en koffie gemaak, luidsprekers gedra en ‘branding’ opgesit. Ek het middernagprogramme aangebied, top 20-programme en spitsprogramme. Die wêreld van gemeenskapmedia verander so vinnig en daar is nog baie wat ons kan leer en op verbeter. Dit is wat my van gemeenskapsradio opgewonde maak. Die geleentheid om buite die sperband te mag probeer. Terwyl ek nou terugdink besef ek dat ek vir die laaste dertig jaar nog nie eendag gewerk het nie. Ek staan in die oggend op en kan nie wag om nog ‘n dag in die Laeveld te begin werk nie.

Die rol van gemeenskapsradiostasies kan nie misgekyk word nie. Tog is julle ook afhanklik van advertensies, ens. Hoe het Covid-19 julle geraak?

Die lewe is vol van goeie tye en moeilike tye en ons is al deur beide, herhalend. Ons beskou Covid as nog een van daai uitdagings. Gaan lê, was nie ‘n opsie nie. Die een voordeel wat ons deur Covid kon trek, was dat die radiostasie vinnig besluite kon neem en uitvoer, en ook baie vinnig by die omstandighede kon aanpas. Omroepers kon basies dadelik van die huis af uitsaai en ons kon met die aanbieding op programinhoud fokus wat onder andere kon sin maak uit die onsekerheid van ‘n pandemie soos die. Die ontbytspan het dadelik ingespring om die #koopplaaslik-inisiatief te ondersteun en sodoende ook plaaslike besigheid in die Laeveld bevorder.

Hoekom moet mense na 100.5FM luister? Wat is na jou mening ’n wenresep vir ’n radiostasie soos julle s’n?

Gemeenskapmedia is ‘n spieëlbeeld van die gemeenskap. Dit waarin jy belangstel is waarin ons belangstel. Dit wat jy doen, is wat ons doen. Jou waardes is ons waardes. Ons is gewoontediere en wil aan iets behoort. Die uitdaging vir gemeenskapsradio is om die grootste gemeenskaplike ooreenkomste uit te straal, genoeg spasie vir unieke verskille toe te laat, kwessies wat pla te ondersoek, ‘n platform vir interaktiewe kuier te wees en in geheel mekaar se doen en late ondersteun. Ons het die vryheid om foute te maak en daardeur gereeld nuwe idees te toets en aan te pak.

Hoe voel dit om as legende aangewys te word?

‘n Legende is iets wat iemand jou noem as jy nie meer hier is nie? Ek kan nie verstaan hoe mens op jou sosialemediastatus na jouself as ‘n ‘celebrity’ of ‘influencer’ kan verwys nie. Ek is nie ‘n legende nie. Ek sou nog graag ‘n verskil wil maak. ‘n Verskil in my familie, ‘n verskil by my werk en ‘n verskil aan iemand wat ek nie ken nie. Dis besonders om te kan gee sonder om iets terug te verwag. Nog meer, om iets te ontvang sonder dat jy daarvoor gevra het. Pieter is ‘n goeie mens en ek waardeer die geleentheid om deel van die program te wees. Hy is ‘n legende! 😉

Enige staaltjies wat jy kan deel tydens verfilming van PappaChef?

Ek het my as afgeskrik toe daar ‘n gedierte agter die skerms uitspring en ons met ‘n gejuig verras terwyl ons met ‘n eierklits-uitdaging besig was. Uit instinktiewe reaksie het ek my pot met eierwit op haar kop uitgegooi. Moes na die tyd groot om verskoning vra. Moet vir niemand vertel nie maar aan die einde van die aand, nadat die kameras al afgeskakel was, het ek teruggegaan vir nog ‘n hap of twee van die lekker stukkie steak wat Pieter so sag gaargemaak het. Nie omdat ek honger was nie, maar net omdat dit so lekker was. Kyk ook uit vir die seun wat uit die gehoor gekies is om Pieter met die kosmaak te help. Sy naam in Kiandré, en (ek ) pappa is trots op hom.

Jou gunstelinggereg – om te eet en om voor te berei.

Ons het ‘n gewoonte om nooit planne vir ‘n Sondag te maak nie. Ons word wakker en doen dan waarvoor ons lus is. Dit eindig gewoonlik met potjiekos later, en het nou al ietwat van ‘n tradisie geword. “Pappa, wat gaan ons vandag doen? Hoender of vleis?”. Ek is besonders lief daarvoor om met my gietysterpannetjies en -potte kos te maak. Die stoof en oond word nie aangeskakel nie, alles word op die vuur gemaak. Steak moet meer ‘rare’ as ‘medium-rare’ wees. Ek het gestaan en luister hoe Pieter en Pottie van Buco Nelspruit (wat ook op die program saam met ons was) gesels oor hoe om steak gaar te maak. Sondag het ons dit dadelik probeer en die komplimente het ingestroom. Drie minute op die een kant met ‘n baie warm plaat en daarna draai jy die vleis om op die ander kant en haal die plaat van die vuur af. Ligte sout en peper met jou gunstelingsousie, en jy het ‘n wenner.

Enige verskuilde talent waarvan ander dalk nie bewus is nie?

Ek weet nie hoeveel mense dit doen dit nie, maar ek probeer soms om een ding met my regterhand te doen en terselfdertyd iets anders met die linkerhand te doen. Ek daag myself ook uit om nie elke dag dieselfde roete heen en weer te ry nie. Ek hou oor die algemeen daarvan om lang afstande te bestuur. Miskien word ek ‘n langafstandtrokdrywer in my volgende lewe?

Wat is heel bo-aan jou kluitklaplys?

Ek voel ek is op ‘n plek in my lewe waar minder, meer is. My vrou en kinders moes lankal ‘n belangriker fokus in my lewe gewees het (ek het te veel tyd aan die jaag na ‘n loopbaan spandeer, en te min tyd aan hulle). Dus heelbo op my kluitklaplys sou tyd met my familie, iewers op ‘n eiland soos Reunion met ‘n rooiwyn in die hand, vis op die kole en ‘n Harley in die agtergrond wees. O, en ek moet regstreeks vandaar kan uitsaai! Ha ha ha, niks uitspattigs nie 😉

Radiostasies 

Skakel in op die volgende plaaslike radiostasies as jy wil deel in PappaChef se kombuisklets en -kook. Diegene wat oorsee woon, kan ook aanlyn inskakel en luister.

The post PappaChef – Episode 3 appeared first on Afrikaans.com.

In gesprek met dr Marlene le Roux – passievolle en deernisvolle omgeemens

$
0
0

Uitvoerende hoof van die Kunstekaap, dr. Marlene le Roux hier by die kunswerk, Dress Respectful of Women deur Lizette Chirremme. (Foto: Natalie Gabriels)

Skrywer: Annelie van Jaarsveldt

Wanneer ’n mens ’n artikel moet skryf oor ’n vrou soos dr Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap en voorsitter van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), kom jy sommer gou agter jy gaan nie genoeg plek hê om oor alles wat sy al vermag het, te skryf nie. Hierdie beskermvrou van Afrikaans.com maak elke dag ’n verskil en het reeds diep spore in die Afrikaanse leefwêreld getrap. Nie net as kampvegter vir die taal, kutuur en die jeug nie, maar ook vir persone met gestremdhede. Ons het met haar gesels oor haar passies, haar eie gestremdheid, haar talle bedrywighede en haar liefde vir die lewe.

Marlene, jy skroom nie om jou sê te sê nie, maar praat nie net nie, jy tree daadwerklik op. Waar kom hierdie uitkyk op die lewe vandaan?

Ek is in Wellington gebore en het as’t ware in die kerk grootgeword. My ouma het my grootgemaak – ek was haar 11de kind – en sy was altyd betrokke by die gemeenskap. Daar het ek gesien wat beteken betrokkenheid in aksie en dat armoede nie in ’n mens se pad moet staan nie. Dit is waar ek besluit het, waar ek ook al betrokke is, niemand sal onsigbaar wees nie – ons is almal waardig om raakgesien te word. Daarom moet ons mekaar met respek en deernis behandel. Ek sal nooit stilbly oor diskriminasie en ongeregtigheid nie.

Marlene le Roux

Die kunswerk Dress Respectful of Women (’n Rok deur dankbare mans) tydens die onlangse heropening van Kunstekaap vir die publiek. Die kunstenaar, Lizette Chirremme, saam met uitvoerende hoof van Kunstekaap, dr. Marlene le Roux. (Foto: Natalie Gabriels)

Die kunswerk (’n Rok deur dankbare mans) en onlangse heropening van Kunstekaap vir die publiek kom op ’n toepaslike tyd – binnekort (25 November tot 10 Desember) is dit weer die jaarlikse internasionale veldtog – 16 dae van aktivisme teen geslagsgeweld.  ’n Onderwerp wat jou na aan die hart lê. Hoekom dink jy is Kunstekaap ’n ideale platform om bewusmaking hiervoor en ook vir gestremdes te skep?

Kunstekaap het besluit om met hierdie visuele en pragtige kunswerk van Lizette Chirremme te open, omdat dit ten toon stel waarvoor die gebou staan:  MENSLIKHEID EN HOOP IN AKSIE. Hierdie kunswerk van deernis, en bereidwilligheid van 27 mans van verskillende agtergronde om deel te neem aan die projek, is net weer ’n bewys dat nie alle mans in ons patriargale samelewing verkrag, of vroue nie met respek behandel nie. Omdat Covid ons industrie hard geslaan het, het Kunstekaap besluit om met hierdie projek te open en nie met ’n groot konsert nie. Vir my het dit gegaan oor solidariteit en ook om te erken dat daar nog ’n lang pad vir ons voorlê om te herstel. Want, geweld teen vroue en kinders het toegeneem gedurende die grendeltydperk. Afgesien daarvan dat ons nie-verstaan van mekaar en ons individualistiese uitlewing van net vir onsself omgee na vore gekom het in hierdie tyd, het ek ook ervaar hoe gewone mense hande gevat en op soveel vlakke gehelp het. Menslikheid het geseëvier.

Hoe kan ons geslagsgeweld stop?

Ons kan net geslagsgeweld teen vroue en kinders stop as ons mans en jong mense betrek en deur daadwerklike optrede bewus maak van die kwessies wat hiertoe lei, soos kultuurinvloede, godsdienstige praktyke en taalgebruik wat negatief is teenoor vroue. Hulle te leer hoe om vroue as volwaardige persone aan te spreek. Daarom moet dit deel wees van ons onderwyskurrikulum, sodat hierdie beginsels daagliks op alle gebiede uitgeleef word. Wette sal nie alles oplos nie, maar wel kopskuiwe en opvoeding van vroue. Dit speel ’n belangrik rol – om vroue meer ekonomies onafhanklik te kan maak, om hul eie besluite en vooruitgang te bepaal.

Is persone met gestremdhede genoegsaam in ag geneem?

Wat my wel tot stilstand gedwing het tydens die grendeltyd, was toe die president, mnr Cyril Ramaphosa, met sy eerste afkondiging van die inperkingsreëls en -toegewings die persone met gestremdhede totaal uitgelaat het.  Ek het onmiddellik vir die president ’n brief geskryf, want persone met gestremdhede, of ouers met gestremde kinders, het ander behoeftes, soos tuisversorgers, en het nie altyd toegang tot die basiese noodsaaklikhede nie.  So dit was ’n geveg. Ek was later op elke radiostasie, en toe weer op elke internasaionale platform om te praat oor die basiese behoeftes van gestremde persone gedurende die grendeltydperk.  So, in Covid-19 was ek dag en nag besig!

Jy is een van die stigterslede van die Women’s Achievement Network for Disability (WAND) – waar julle bewusmaking skep oor gestremde vroue en dogters in Suid-Afrika sodat hulle menseregte bevorder kan word. Kan jy kortliks oor jou betrokkenheid hierby uitbrei?  

Ek is bevoorreg om saam met die formidable Karen Smit WAND te kon stig.  Ons twee is albei gestremde vroue, wat weet wat dit is om teen gediskrimineer te word.  En ons moet ekstra hard werk om te bewys dat ons wel oor die vaardighede beskik om ons plek in die samelewing volwaardig vol te staan. Daarom was dit vir ons twee so belangrik om jong meisies van spesiale skole te mentor en hulle bloot te stel aan die buitewêreld.  Ons konsentreer op lewensvaardighede en motiveer die jong dogters om matriek klaar te maak en aansoek te doen om beurse.  Ek persoonlik het ook vir NFSAS gehelp om kriteria te ontwikkel om die beurse van gestremde studente te vergroot om sodoende voorsiening te maak vir hul eiesoortige behoeftes, soos byvoorbeeld, aangepaste studiemateriaal (braille), ’n versorger en ook vervoer. Al hierdie elemente is belangrik vir ’n gestremde student om te presteer.

Marlene le Roux

Marlene le Roux tydens Kunstekaap se uitreikingsprogram saam met ’n groep persone met gestremdheid. (Foto: verskaf)

Marlene le Roux

Kunstekaap en Afrikaans.com het hande geneem tydens die Afrikaans.com-muurprojek by Hawston Primêr. Van links na regs: Skoolhoof, mnr. Julius Swart, saam met René Arendse van Afrikaans.com en dr. Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap. Voor is mnr. Julius Booysen van die Overstrand Assosiasie van Persone met Gestremdheid (APD). (Foto: verskaf)

Marlene, jy is self ’n polio-gestremde en het talle uitdagings oorkom. Dink jy daar is steeds ’n stigma verbonde aan gestremdheid?

Covid het my weereens laat besef dat die samelewing meer ingelig moet word. Dat mense met gestremdhede meer sigbaar moet wees – op alle gebiede. Dus is dit belangrik dat sosiale byeenkomste vir jeugdiges geïntegreer moet wees. Ons jeug is die volgende leiers en as spontane integrasie met persone met gestremdhede nie plaasvind nie, sal die gestremde persoon se blootstelling beperk wees en die niegestremde persoon gaan geen benul het hoe hy/sy interaksie moet wees om die samelewing toeganglik en gebruikersvriendelik vir gestremdes te maak nie.

Is daar genoeg ondersteuning vir diegene met gestremdheid? Hoe maak ons seker dat gestremdes hulle regmatige plek in die samelewing inneem?

Suid-Afrika het van die beste beleidmakers en van die wêreld se beste medici. En primêre gesondheid is prioriteit vir ons land.  Maar, weereens is daar ’n gebrek aan implementering op grondvlak. Ek werk tans nou saam met ander organisasies om die dienste van die plaaslike landelike klinieke uit te brei sodat daar ook gefokus kan word op spesialisbehandelings vir onder andere gestremdes. Tans moet landelike ouers en gestremde persone baie ver reis vir noodsaaklike behandeling. Duur behandeling waarsonder die gestremde vroeg kan sterf of bedlêend kan raak.

Jou seun, Adam, was serebraalgestremd en is in 2017 oorlede. Jy het al vertel hoe hy julle familie en die gemeenskap se lewens verryk het. Wat het Adam jou geleer?

Adam het my nederigheid geleer. Hy het my veral geleer, my ego is nie belangrik nie. Maar die grootste les wat ons almal wat na aan Adam was geleer het, is dat almal saak maak en diegene wat die stilste is dikwels die grootste verskil maak. Adam kon nie praat nie, maar het mense aangetrek. Hy was soos ’n sielkundige – mense het hulle “geheime” met hom gedeel – dalk juis omdat hy nie kon antwoord nie. Daarom was ek ook sy stem … sy baklei. My ondervinding as Adam se ma en versorger, veral wanneer hy in die hospitaal was, was die rede hoekom ek my meestersgraad daaraan gewy het om ’n mediese model te ontwikkel om dokters en terapeute te lei in die hantering van siek gestremde kinders. Adam se dood was ’n geweldige verlies en ek het ’n jaar lank gerou en in stilte geleef – net om myself weer te vind.

Marlene le Roux

Die Kunstekaap-span en -kunstenaars wat deel is van die Landelike UItreikingsprogram. (Foto: verskaf)

Marlene le Roux

’n Dansitem tydens Kunstekaap se uitreikingsprogram op die platteland. (Foto: verskaf)

Die jeug lê jou na aan die hart en Kunstekaap doen baie om veral die jeug op die platteland te betrek by die kunste. Kan jy ons meer vertel oor die inisiatiewe waarby julle betrokke is?

Die jeug is die toekoms van ons diverse land.  Daar moet ’n plek wees waar die jeug kan asemhaal en ander jong mense ontmoet sonder om volgens taal en velkleur veroordeel of gestereotipeer te word.  Ons skep geleenthede vir jeugdiges soos ons Jeug Jazz-program en Klassieke Jeug-fees.  Jonathan Rubain, wat tans die gewilde Koortjies-program op KykNET aanbied, is een van ons jeugdiges, asook die wêreldberoemde Pretty Yende.

Marlene le Roux

’n Balletopvoering tydens Kunstekaap se landelike uitreikingsprogram. (Foto: verskaf)

Marlene le Roux

Die saal by Hoërskool Weston is omskep in ’n sprokiesteater – alles te danke aan Kunstekaap se uitreikingsprogram, Teater vir die mense. (Foto: verskaf)

Teater vir die mense

Ons uitreikingsprogram, Teater vir die mense, is begin om die reis van Nico Malan tot Kunstekaap (Artscape) aan die mense te bring.  Dit was ons Aktiewe Burgerskap van Hoop in Aksies – nou reeds langer as 12 jaar aan die gang.  Ons besoek dorpe op die platteland en bou dikwels letterlik ’n verhoog en omskep ’n skool in ’n teater, om mense van verskillende geografiese agtergronde, velkleure en tongvalle en gemeenskappe wat in die nuwe Suid-Afrika nog nooit ’n sosiale byeenkoms saam bygewoon het nie, onder een dak saam te kry.  Die proses is ook belangrik, want munisipaliteite moet inkoop , ook kerke en gemeenskapsorganisasies.

Opregte omgee kos niks

“’n Projek soos die stroop jou van jou ego.”

In Ceres het ’n plaasboer en sy werkers onder een dak op dieselfde aand langs mekaar gesit en die nuwe Suid-Afrika ervaar met die beste kunstenaars en ’n rondreisende Kunstekaap met al die ghrênd behangsels.  Daar het ek mense sien huil.  Ons laaste uitreiking in Hawston was ’n vennootskap met die plaaslike organisasie wat hul bewillig vir die bemagtiging van persone met gestremdhede.  Hierdie ervaring het Kunstekaap se personeel vir altyd verander, want ons het MENSWEES ervaar – op alle vlakke.  Dit het my oneindig nederig gemaak.  Om weereens te besef dat om opreg om te gee niks kos nie.

Die pandemie het ’n geweldige negatiewe gevolg gehad (het steeds) – nie net ekonomies nie, maar ook op die kunste. Hoe beplan Kunstekaap om die grendel te breek en op te staan en aan te gaan en veral ekonomies volhoubaar te wees?

“Ons handelsmerk is nou bekender as ooit!”

Kunstekaap het nooit gesluit nie.  Ons moes ‘n gebou bestuur en omdat die gebou volgende jaar (2021) 50 is, het dit ons kans gegee om agterstallige instandhouding van die gebou en ons verhoë te doen.  Ons moes ook prosedures skryf vir teaters om die bekamping van Covid-19 tot stand te bring.  Bestaande regulasies is vir instansies en nie vir teaters nie geskryf. Ons het ook onmiddellik ons verhoë en tegniese personeel tot beskikking gestel vir ons professionele kunsteorganisasies soos die Kaapstadse Opera, Die Filharmoniese orkes en vele meer.  En ons het befondsing vir al ons programme deur die Stad Kaapstad bewerkstellig. Daarom kon ons sorg dat kunstenaars betaal word.  Ons skoleprogramme waar ons voorgeskrewe werke gewoonlik dramatiseer, is in radioprogramme omskep, soos Vlooi vir graad 1 – 3, Krismis Van Map Jacobs – Adam Small, Busani (isiXhosa voorgeskrewe werk) en ook ons program onder leiding van Rafiek Mammon, New Voices – Jong dramaturge, en nuwe werke het toe radioproduksies geword.  So, ons kon suksesvol aanpas.

Wat is jou boodskap van hoop vir ons jeug, vroue en ook gestremdes?

Die lewe skuld jou niks! Dit wil geleef word. Ons kan nie altyd die victim speel nie.” 

Ons kan net nooit opgee nie.  Daar moet kopskuiwe gemaak word en ons moet begin by ons jeug. Die vraag is natuurlik hoe.  Daarom is dit so belangrik dat ons na ons samelewing op alle gebiede moet kyk, dat ons ’n “sagter” land moet raak en daadwerklik met aksies begin om jeugdiges bymekaar te bring.

Jy is voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), betrokke by DAK-netwerk en voorsitter van die ATKV. Wat beplan jy as voorsitter van die ATKV?

“Die reis van die ATKV op pad na nuwe ontdekkings is oneindig. Die tyd van vingerwys is verby. Covid-19 het my geleer ons almal is gelyk. Ons het nie ’n ander keuse in ons land as om saam te staan en ons woordeskat te verander van ‘hulle’ na ‘ONS’ nie.”

Wat vir my belangrik is, is dat ek alleen nie die ATKV is nie. Ek is trots op my taal, maar dit is belangrik om te erken dat Afrikaans verskillende variëteite het en in ’n multikulturele landskap fungeer.  Inklusiwiteit is prioriteit vir my.  Die ATKV is op ’n ontdekkingsreis  om te verseker dat die taal ’n taal is wat ’n diverse, nieseksistiese, niepolitiese, niehomofobiese samelewing omarm en ’n tuiste vir almal van verskillende agtergronde sal wees. Die ATKV moet gestalte gee aan volhoubare maniere om om te sien na die diverse Afrikaanssprekende gemeenskap se taal- en kultuurbehoeftes.

Hoe voel jy oor die toekoms van Afrikaans in ons land? Veral op onderwysvlak.

Vir my leef Afrikaans voluit.  Dit is hoe ons die taal op onderwysvlak benader. Ek was ’n Afrikaansonderwyser en my leerders se wêrelde het oopgegaan met al die skrywers en digters aan wie ek hul blootgestel gestel het. Net soos my Afrikaansonderwyser, prof Micheal le Cordeur, my destyds in Afrikaans laat droom het.  Afrikaans is ’n taal van hoop en geleenthede.  Dit is hoe ons die taal bemark.

Na jou mening, wat kan elke landsburger doen om te help dat die storie van Afrikaans aanhou geskryf word?

“Afrikaans ken geen grense nie en is soomloos. My droom is ook dat die ATKV ongemaklike gesprekke moet hê. Ons moet praat oor die stigma van Afrikaans. Dán kan ons vorentoe beweeg.”

Afrikaans het so baie infrastrukture en ons moet dit gebruik om dit positief oor te dra as ’n taal wat ’n tuiste is vir almal. Dit is belangrik dat die verlede, hede en toekoms bewoord moet word deur ’n kleurryke tuiste vir almal te skep. Belangrik is dat ons voetjie vir voetjie moet begin aanstap na ’n Suid-Afrikaanse identiteit.  Maar ons kan nie begin stap as ons nie eers mekaar se seer van die verlede erken het nie.

En op ’n ligter trant

Hoe ontspan jy?

Ek hou van mense, het baie vriende uit verskillende kulture en ons kuier gereeld saam. Ons dans en gesels en ek maak graag kos. Ek doen pilates om my spiere aan die gang te hou. En dan lees ek vir die kinders. Die afgelope tyd het die kinders in die gemeenskap saans van 5 tot 7 Afrikaans en Engels hier by my geloop.

Wie sit vanjaar saam om jou Kerstafel?

Die mense vir wie ek elke week kos gegee en kospakkies voor opgemaak het. My wonderlike vriendinne, die gestremdes – diegene wat ek weet die lekkerste partytjie gaan hou. Dit gaan mos nie om die trimmings nie, maar oor die samesyn.

Jy kan ’n maand lank president wees. Wat is op jou agenda?

Ek sal net sê: “Hou nou net op! Hou op met partypolitiek, kyk mekaar in die oë en doen wat reg is.” Ek sal konsentreer op die onderwys en die geld begin bestee op grondvlak. Ons samelewing moet verander en ons moet ophou skuil agter kultuur. Geweld teen vroue en kinders, rassisme – dit moet op alle gebiede gestop word. Vergeet van wette en kommissies – elkeen kan ’n verskil maak.

Som Marlene op in ’n paar woorde.

’n Vrolike mens wat hou van gee sonder om iets terug te verwag. Ek is ’n geseënde vrou!

 

Lees ook:

https://afrikaans.com/2020/08/24/afrikaans-ken-geen-grense-nie-dis-soomloos-nuwe-voorsitter-van-die-atkv/

https://afrikaans.com/2019/07/01/kunstekaap-bedryfshoof-ontvang-toekenning-vir-sosiale-transformasie-deur-kultuur/

Lees meer oor die Women’s Achievement Network for Disability (WAND) by www.wand.co.za

Kunstekaap tydens Covid. Klik hier.

The post In gesprek met dr Marlene le Roux – passievolle en deernisvolle omgeemens appeared first on Afrikaans.com.

Potgooi: In gesprek met Ricky Schroeder

$
0
0

In hierdie podsendingreeks gesels Afrikaans.com met merkwaardige persone binne die Afrikaanse leefwêreld. Ons bied jou ’n blik op jou gunstelingbekendes op maniere soos jy hulle nog nooit vantevore kon leer ken nie, en stel jou ook bekend aan nuwe name, projekte en idees.

In hierdie episode gesels aanbieder Edwin van der Walt met die voormalige rugbyspeler en huidige mediapersoonlikheid en radio-omroeper, Ricky Schroeder. Hulle gesels oor:

  • Sy rugbyloopbaan en waarom hy besluit het om dit kort te knip vir ’n loopbaan in media
  • Hoe hy sy vriende kies en waarop hy staat maak
  • Sy ‘’me audit’’ aan die einde van die dag
  • Om hoop te bring en hoop te skep
  • Doelwitte
Edwin van der Walt

Edwin van der Walt is ‘n akteur, aanbieder en entrepreneur. Sedert hy vir die eerste keer gehore se harte in 2014 in die romantiese komedie, Hollywood in my Huis, gesteel het, het ‘n rits lokettreffers gevolg. In films soos Jagveld, Wonderlus, Ballade vir ‘n Enkeling en Die Pro het hy sy diversiteit as kunstenaar ten toon gestel en die respek van die industrie sowel as aanhangers gewen. Dit is egter die man agter die karakters, Edwin self, wat deesdae groot golwe maak. Onder sy vriende, en nog meer onder die publiek, word hy geken as ‘n persoon wat verbetering van self en van ander voorop stel. Edwin leef sy passie hiervoor ook uit op die platform Novieguide , waar ‘n verskeidenheid aanlyn kursusse gekoop kan word.

Ricky Schroeder

Ricky Schroeder is ‘n voormalige Super Rugby speler. Hy is tans ‘n omroeper by Kfm in Kaapstad en werk ook vir Supersport.

The post Potgooi: In gesprek met Ricky Schroeder appeared first on Afrikaans.com.

2020-Kokers: Afrikaans, die taal op almal se lippe…

$
0
0

Skrywer: Jana Snyman

Die Afrikaanse Taalraad het onlangs ’n paar merkwaardige mense vereer vir die rol wat hulle speel in die bewaring en bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur. 2020 se Koker-bekroondes is veelsydig, woordslim en het ’n onblusbare passie vir Afrikaans en sy kultuur. Met hul onderskeie talente leef elkeen hul Afrikaans in sy diversiteit, maar tog ook eendersheid, uit. Vanjaar se wenners wys opnuut dat Afrikaans aan almal behoort en dit is duidelik dat elkeen van hulle dit hul lewenstaak maak of gemaak het, om Afrikaans wêreldwyd op almal se lippe te kry.

Afrikaans.com het gaan loer wie hierdie jaar se bekroondes is…

Shafick April ontvang postuum ’n Koker vir sy lewenslange bydrae tot die bevordering en bewaring van die Maleise erfenis en veral sy groot bydrae as president van die Maleierkoorraad waartydens hy jare lank Afrikaans in die Maleierkoortradisie bevorder en beskerm het. Onder sy leiding is die jaarlikse koorkompetisie uitgebrei tot drie kategorieë, naamlik gekombineerde koorsang, moppiesang en solo-items. Tans is daar ses-en-twintig kore by die Kaapse Maleierkoorraad geregistreer, terwyl daar tydens die bloeitydperk van die Koorraad onder sy leierskap nie minder nie as vier-en-vyftig kore was. Hy sal vir altyd onthou word as ikoon van die Maleierkoorraad.

Prof. Ernst Kotzé word vereer met ’n Kokertoekenning vir sy lewenslange bydrae as ’n veelsydige en innoverende taalkundige. Prof. Kotzé word gereken as die ‘vader van forensiese linguistiek in Afrikaans’ – ’n nuwe veld in Afrikaans – en word gereeld as kenner by hofsake rakende forensiese taalkwessies betrek.

As ’n veelsydige taalpraktisyn, vertaler en teksversorger aan die Noordwes-Universiteit, kry Johan Blaauw hierdie jaar die Kokertoekenning vir bemagtiging deur Afrikaans. Hy het baanbrekerswerk gedoen op die gebied van tolkdienste en fokus daarop om Setswana, Afrikaans en Suid-Sesotho as akademiese tale te bevorder. Hy het ook ʼn sleutelrol gespeel in die ontwikkeling en hersiening van die 2007-, 2013- en 2018-weergawes van NWU se taalbeleid.

Met haar fokus om Afrikaans binne ’n breër raamwerk te bevorder, ontvang prof. dr. Ena Jansen vanjaar ’n Koker.  Sy word in besonder geken aan haar werk tussen 2002 en 2017 aan die Universiteit van Amsterdam waar sy as ‘n “bijzonder hoogleraar” gedien het. Sy het menigte studente gelei in die navorsing oor die Afrikaanse kultuur en literatuur en was ’n groot rolspeler in belangrike besluite wat oor die toekoms van Afrikaans by Zuid-Afrika-huis in Amsterdam geneem is.

Dr. Danny Titus is postuum vereer vir sy lewenslange bydrae om die belange van Afrikaans en sy sprekers te beskerm en te bevorder. Van dosent tot lid van die Menseregtekommissie van die Verenigde Nasies asook die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, het hy hom beywer vir die erkenning en beskerming van die taal- en kultuurregte van Suid-Afrikaners, o.a. om die Khoi- en Sankulture se herkoms te bewaar. Hy sal ook onthou word vir sy bydrae tot die uitdagende stigtingsproses van die Taalraad waar hy lid van die organisasie se eerste direksie was.

Aangewys as een van LitNET se top tien skrywers is Zebulon Kochk op 19-jarige ouderdom iemand wat met woorde woeker en verse sy lewe maak. Sy leuse in die lewe is om deur sy digkuns lig na homself en na ander mense te bring en van sy gedigte is reeds in bundels opgeneem. Na skool is sy droom om verder in die letterkunde te studeer. Hy ontvang ’n Jeugkoker vir die bevordering van Afrikaans onder die jeug.

Zalman S. Davis is eintlik Engelssprekend, maar die Kapenaar het ’n besonderse liefde vir Afrikaans. Hy het bekendheid verwerf as een van die jongste uitgewers van Afrikaanse boeke. Hy het al saam met talle bekendes gewerk om kompetisies, soos byvoorbeeld die onlangse Chris Barnard-prys, vir skrywers te loods. Hierdie ambassadeur van Afrikaans se kennis van Afrikaans en die skrywerswêreld maak hom ’n volwaardige wenner van ’n Jeugkoker.

Constance Thomas is tans ’n vierdejaar-onderwysstudent aan die Sol Plaatjie- Universiteit waar sy in tale, veral Afrikaans, spesialiseer. Nie net is sy passievol oor die taal nie, maar sy ondersteun ook medestudente akademies deur in haar vrye tyd ekstra taal- en letterkundelesse aan te bied. Sy het ook met die hulp van ander studente ’n boekklub gestig om bewustheid vir Afrikaans deur letterkunde te skep. Sy het ’n Jeugkoker ontvang vir haar bevordering van Afrikaanse letterkunde.

Volgens die Afrikaanse Taalraad maak die Kokertoekennings ’n groot verskil in die bevordering van Afrikaans. Hierdie toekennings vereer nie net sekere rolspelers nie, maar plaas veral ook die baanbrekerswerk wat hierdie mense doen, opnuut in die kollig. Sodoende lewer dit ’n bydrae tot die bewusmaking van wat daar vir Afrikaans gedoen word en dat ons as een diverse taalgemeenskap kan saamstaan in die bevordering van Afrikaans.

Lees meer oor die 2020-Kokertoekennings hier of besoek die Afrikaanse Taalraad se webtuiste by www.afrikaansetaalraad.co.za

The post 2020-Kokers: Afrikaans, die taal op almal se lippe… appeared first on Afrikaans.com.

Viewing all 1121 articles
Browse latest View live