Quantcast
Channel: Afrikaans.com
Viewing all 1120 articles
Browse latest View live

Hoe lyk die toekoms van onderwys na Covid-19?

$
0
0
Onderwys

“In ons strewe om beter modelle te skep, sal die omgekeerde klaskamer, selfgerigte leer en die onderwyser as fasiliteerder en mentor belangriker word. My boodskap aan onderwysers? Onderwysers, julle is onmisbaar! Ek haal aan:
Aan jou dade grens ’n ewigheid …
– So sê Daan Potgieter, hoof- uitvoerende beampte van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) en ‘n gesoute onderwyskundige.

René Arendse van Afrikaans.com het onlangs met Daan Potgieter van die AON gesels oor die toekoms van onderwys na Covid-19. Hierdie gesprek maak deel uit van die Ommietafelgesprekreeks – ‘n inisiatief van die Vriende van Afrikaans, ‘n divisie van die ATKV, wat in samewerking met Afrikaans.com aangebied word.

Daan, ons was nie voorbereid vir hierdie krisis nie. Is skole bevoeg om hierdie pandemie te deurstaan?

As ons begin by die begin … hoe gereed was ons vir die onderwysmodelle wat ons gedryf het voor die pandemie plaasgevind het? Ons is in die 21ste eeu ingepluk deur hierdie pandemie en dis nodig dat ons ons onderwysmodelle gaan herbesoek. Net 74% van skole in Suid-Afrika het aan die begin van die pandemie lopende water gehad.

Die pandemie het ons uitgedaag om anders te dink oor onderwys en so ook is die gapings in ons samelewing uitgewys. Byvoorbeeld die toeganklikheid van data en toestelle om leer in hierdie nuwe omgewing en nuwe realiteit te bewerkstellig. Is ons modelle gereed? Ons het baie geleer en gelukkig het ons onderwysers wat kreatief, veerkragtig en innoverend is en kon ons met daardie positiewe ingesteldheid van onderwysers nog tydelik onderwys ondersteun. Baie moet nog gebeur om ons onderwysmodelle gereed te kry. So was ons gereed? Glad nie! Is ons nou beter voorbereid? Ons is nog nie daar waar ons kan sê ons is gereed vir die nuwe realiteit nie, want dinge gaan nie oornag verander nie. Wat gaan gebeur na die piektyd van Augustus en September? Gaan ons terugkeer na ons vorige modelle waar ons met lineêre denke oplossings geformuleer het? Gaan ‘n oplossing ’n korrespondensieproses wees om te kyk of ons onderwys en leer kan laat plaasvind? Wil ons na ‘n totale aanlyn of digitale omgewing waar tegnologie vooropgestel word, oorgaan? Dan is ons nog minder gereed, want net 13% van leerders in Suid-Afrika het ten tyde van die pandemie toegang tot toestelle en data gehad.

Dan is daar ook vervlegte of versnitte leer. Die vraag is wat het ons nodig om die onderwys in die kort-, medium- en langtermyn so te kan plaas dat ons kan sê ons is beter toegerus en beter voorbereid en ons kan opvoedende onderwys beter dien.

Kyk gerus die volledige onderhoud hieronder:

Hoe dink jy lyk die opvoedingslandskap oor 2 tot 5 jaar?

Onsekerheid is tans ons grootste vyand. Daarom moet ons:

  • meer doelgerig wees om oplossings te vind en sal ons onsekerheid eenkant toe moet stoot.
  • ophou tradisioneel en lineêr dink. Ons sal totaal nuut, kreatief en innoverend moet dink.
  • ophou terugkyk en meer vorentoe kyk.
Onderwys

Die druk en lading op onderwysers is enorm!

  • Ons moet kyk na hoe ons ons onderwysers versorg, want die emosionele impak op onderwysers, sowel as op ouers en leerders, is geweldig groot.
  • Hoe gereed is onderwysers om hulle kennis en vaardigheid in ‘n digitale wêreld om te skakel? Ons sal moet besluit of ons deur of met tegnologie wil klasgee.
  • Ons moet onderwysers voorberei om beter mentors en fasiliteerders van leer te word.
  • Die “nuwe onderwysmodel” moet toepaslike kennis oordra en daardie kennis moet prakties toegepas kan word.
  • Vaardighede soos kreatiewe en kritiese denke, emosionele intelligensie en kommunikasievaardighede is nodig om in die nuwe realiteit te oorleef. Daar moet dus gekyk word na hoe ons binne die “nuwe onderwysmodel” ruimte vir hierdie vaardighede kan skep. Ons sit met ‘n groot bron van kennis, maar ons is nie noodwendig gereed om dit na ’n digitale wêreld oor te dra nie.

Hoe lyk ‘n onderwysmodel vir leerders?

‘n Kind is gemaak om te leer en om in ‘n sosiale omgewing talente en vaardighede te ontwikkel. Hierdie pandemie ontneem ‘n kind van daardie vaardigheidsontwikkeling. Die pandemie het ‘n emosionele impak op ons kinders.Ons sal na ons kinders moet luister en hulle beter toerus om hierdie veranderde omgewing te aanvaar. Kom ons stel sielkundiges aan by skole voor ons nog ‘n afrigter aanstel.

Ons moet modelle bou wat die leerverliese by kinders kan assesseer, die emosionele ontwikkeling van kinders kan ondersoek en ouers beter kan ondersteun. In ons strewe om beter modelle te skep, sal die omgekeerde klaskamer, selfgerigte leer en die onderwyser as fasiliteerder en mentor belangriker word.Ek sal daarvan hou as skole self kan besluit op grond van die skoolkultuur, gemeenskapsbehoeftes, onderwysers en kinders, watter opvoedingsmodel hulle skool die beste kan dien.

Het die pandemie die AON se bedrywighede geraak?

Tydens die pandemie, is die AON se grootste uitdaging om die onderwys, wat ‘n mensgedrewe sosiale interaksie verg, steeds te ondersteun. Ons moes totaal anders dink en nuwe maniere vind om die vakuum wat nou ontstaan het, te vul. Ons is baie bly dat ons deur tegnologie steeds skole, prinsipale, beheerliggame en onderwysers kan ondersteun en ook wat ons nou die nodigste het, naamlik hoop, te kan gee.

Wat doen die AON?

Ons kyk na die behoeftes in skole en dit begin met die vroeëkinderontwikkelingsfase tot op tersiêre vlak in ‘n pyplyn waar Afrikaans as onderrigtaal gebruik word. Die AON ondersteun en beskerm dit wat nodig is om Afrikaans as onderrigtaal in ‘n skool gevestig te hou. Ons hoofdoel is om saam met ons netwerk van organisasies en vennote aandag te skenk aan die uiteenlopende behoeftes van skole en onderwys in Suid-Afrika te ondersteun.

The post Hoe lyk die toekoms van onderwys na Covid-19? appeared first on Afrikaans.com.


Fiksie op ons Lapa-boekrak!

$
0
0

Verlede maand het ons niefiksieboeke wat gelees moet word, op ons Lapa-boekrak uitgelig. Hierdie maand verskuif ons die kollig terug op fiksie … en deel ons drie van Lapa Uitgewers se gunstelingboeke vir ouer tieners en volwassenes. Laai die eerste hoofstuk gratis af en besluit self watter een jou verbeelding die meeste prikkel … daarna is dit doodmaklik om die boek aan te skaf!

Afrikaanse Boeke

Die 17de veer

Nanette van Rooyen

Lara werk in haar vrye tyd by ’n tatoeëersalon, en wonder soms oor die pa wat sy nooit gehad het nie. Alex het in ’n kinderhuis grootgeword en het ’n vreemde fassinasie met uile. Lara weet dit nog nie, maar haar en Alex se stories is op die punt om vir ewig verstrengel te word. En alles begin met ’n boks vol briewe wat sy in ’n hoededoos op haar ma se kas ontdek.

Koop die boek of e-boek hier.

Laai hoofstuk af

Afrikaanse boeke

Oopmond

Jan Vermeulen

Hierdie boek was die wenner van LAPA se Jeugromankompetisie in 2017. Madelaine Taaibosch vermoed die skenkerhart wat in haar bors klop, is ’n gebroke hart. Die dokters verseker haar daar is niks met die hart verkeerd nie, maar sy begin vreemde dinge sien. Dinge uit die verlede. Dinge wat in die toekoms gaan gebeur. Die speurtog na die waarheid oor haar skenker laat haar stadigaan besef dat party harte mekaar selfs oor eeue heen kan vind.

Koop die boek of e-boek hier.

Laai hoofstuk af

Afrikaanse boeke

Pleisters vir die dooies

Fanie Viljoen

In een hellenag konfronteer die swerwende, naamlose hoofkarakter sy duiwels kaalvuis; ontmoet hy vreemde en skrikwekkende karakters wat sy innerlike demone laat lewe kry; vertroetel hy sy wraakgedagtes soos ’n magasyn vol koeëls; lek hy die wonde van sy tienerseerkry. Hierdie is nie ’n boek vir sensitiewe lesers nie. Dis ’n boek wat tieners én hul ouers moet lees. Dis ’n boek oor seerkry en wraak. En tog is dit ’n boek wat onverwags troos en begrip, soos pleisters, uitdeel. Dis ’n vuishou van ’n boek.

Koop die boek of e-boek hier.

Laai hoofstuk af

Ons is volgende maand terug met ‘n splinternuwe keur op die boekrak … in watter genre? Daarvoor sal jy moet wag en kyk!

The post Fiksie op ons Lapa-boekrak! appeared first on Afrikaans.com.

Produk van die maand – Tjirp

$
0
0
Oorbelle

Vir Jacorien Swart het die groot deurbraak een aand by ’n troue gekom. Een van haar vriende het na haar toe gedraai met die vraag: Op ’n skaal van een tot tien, hoe mal is jy? Grappenderwys het sy hom met twee groot oë beantwoord. Hy het gevolg met die stelling dat hulle hulself besig hou met ’n klomp dinge waarin hulle nie belangstel nie omdat hulle te bang is (of nie mal genoeg is) om dít te doen wat hulle regtig WIL doen nie.

“Ek was uit die veld geslaan omdat ek so pas ’n speech gekry het wat ek gewoonlik aan ander mense gee,” sê Jacorien. Net daar het sy die besluit gemaak om haar werk as onderwyser te bedank en al haar tyd en aandag aan haar juweelbesigheid, Tjirp, te skenk. Vandag dryf Jacorien die Tjirp-skip met twee ander kollegas en vriende – Mohneen van Wyk en Thoko Mnguni.

Ons het by Jacorien gaan inloer om meer te leer oor wat Tjirp so uniek maak.

Hoe het Tjirp ontstaan?

Ek kan die kere wat ek juwele gekoop het op my een hand tel. Ek het nog altyd my eie juwele gemaak met gomgewere, glitter, knope, geld, felt, materiaal, hout, leer – enige ding wat ek in die hande kon kry. Ek het met klei begin werk omdat my idees nie gewerk het met ander materiale nie en ek nie geld vir duur masjiene gehad het nie. Ek rol steeds my klei uit met ’n roller en vorm die meeste dele met my hande self. Ek het in 2015 vir ’n vriendin gewys hoe om haar eie juwele te maak sodat sy nie deur haar ore daarvoor betaal nie en later het ek begin om dit te verkoop. Dit het vrek stadig gegaan aan die begin. Ek dink ek het een bestelling gekry. My vriendin, Christine, het toe gesê ek moet dit na ‘n mark neem en daar het dit vlam gevat.

Wat maak Tjirp se juwele so uniek?

Elke stukkie van hierdie juwele word met klei en deur een mens gemaak. Die klei is nie sag nie en word eers 45 minute lank gebrei voordat dit gebruik kan word. Die klei kom ook nie voor in die kleure wat ons gebruik nie, so elke kleur word ook spesiaal gemeng. Om een paar oorbelle te maak, neem sowat 60 minute waarna dit dan in ‘n oond gebak word. Ek het al van kleins af met klei gespeel op elke liewe geleentheid wat ek kon kry en is MAL daaroor. Ek is baie lief vir mode en juwele en om goed met my hande te maak.

Oorbelle
Oorbelle
Oorbelle

Hoe werk julle ontwerpproses?

Ek ontwerp al die juwele self (sonder die hulp van Pinterest). Dit is nie soveel van ‘n proses as wat dit ‘n geskenk is nie. Ek is nie kunstig nie, maar ek dink wel die Here het my geseën met bonatuurlike kreatiwiteit en ek is elke dag dankbaar dat ek iets kan doen wat ek só baie geniet!

Hoekom doen julle juis besigheid in Afrikaans?

Afrikaans is my moedertaal. Ek vind dit baie makliker om in Afrikaans besigheid te doen (daar is wel Engelse kliënte en ek help hulle met liefde in Engels … natuurlik), maar ek glo daar is baie minder misverstande wanneer twee mense in hulle moedertaal kommunikeer. Aan die begin het ek hier en daar Engels gepraat, maar baie vinnig besef dat die meerderheid van my kliënte Afrikaans is.

Wat is jou toekomsdrome vir Tjirp?

Tjirp is soos ’n kind vir my. Ek wil net die beste hê vir my besigheid. Dit is klaar vir my verskriklik lekker om in die dorp te loop en iemand te sien wat van my juwele dra. Ek wens dat die idees nooit opraak nie. Ek sal dink dit is baie cool as dit so kan groei dat een van my kinders dit eendag by my kan oorvat.

Tjirp se slagspreuk is “Niks wat mooi is, is perfek nie”. My wens vir die toekoms is dat elke vrou wat dit dra dit sal onthou.

Vir meer inligting of om juwele te bestel, besoek gerus Tjirp se Facebook- en Instagramblaaie.

The post Produk van die maand – Tjirp appeared first on Afrikaans.com.

Potgooi: In gesprek met Mila Guy

$
0
0
Mila Guy

In hierdie podsendingreeks gesels Afrikaans.com met merkwaardige persone binne die Afrikaanse leefwêreld. Ons bied jou ‘n blik op jou gunstelingbekendes op maniere soos jy hulle nog nooit vantevore kon leer ken nie, en stel jou ook bekend aan nuwe name, projekte en idees.

In hierdie episode gesels aanbieder Edwin van der Walt met die geliefde aktrise Mila Guy (Hotel, Wonderlus, Binnelanders). Hulle gesels oor:

  • Haar tyd in Nieu-Seeland.
  • Die moeilikste seisoene in haar lewe.
  • Die realiteite van aktrise-wees.
  • Waarom sy daarin glo om ja te sê.
  • Wat sy in die wêreld sal wil verander.

Luister saam …

Mila Guy

Mila Guy is ‘n aktrise en opgeleide kostuumontwerper van Nelspruit wat tans in Linden, Johannesburg woon. Sy is bekend vir haar rolle in films soos Liewe Kersfeesvader (2017), Wonderlus (2017) en die kykNET-komediereeks, Hotel (2016).

Edwin van der Walt

Edwin van der Walt is ‘n akteur, aanbieder en entrepreneur. Sedert hy vir die eerste keer gehore se harte in 2014 in die romantiese komedie, Hollywood in my Huis, gesteel het, het ‘n rits lokettreffers gevolg. In films soos Jagveld, Wonderlus, Ballade vir ‘n Enkeling en Die Pro het hy sy diversiteit as kunstenaar ten toon gestel en die respek van die industrie sowel as aanhangers gewen. Dit is egter die man agter die karakters, Edwin self, wat deesdae groot golwe maak. Onder sy vriende, en nog meer onder die publiek, word hy geken as ‘n persoon wat verbetering van self en van ander voorop stel. Edwin leef sy passie hiervoor ook uit op die platform Novieguide , waar ‘n verskeidenheid aanlyn kursusse gekoop kan word.

The post Potgooi: In gesprek met Mila Guy appeared first on Afrikaans.com.

Teken nou in op die ATR se Vrouedag-webinaar!

$
0
0
Vrouedag

Vrouwees is nie maklik nie … nog minder wanneer ’n mens ’n mamma word. Tog is dit ook een van die grootste voorregte en leerskole binne ’n mens se leeftyd. Sommiges beweer dat die taak van ouerskap oor die afgelope jare selfs moeiliker geword het. Hoe berei ’n mens jou kind voor vir ’n onbekende en snelveranderende wêreld? En is Afrikaans die regte taal om dit in te doen?

Sluit op 7 Augustus 2020 by ons aan vir ’n gratis webinaar wat hierdie vrae binne die milieu van die toekomstige besigheidsomgewing, huidige leeromgewings, taalerfenis en die toekoms van die taal ondersoek. Die paneellede is almal sterk vroue wat ’n verskil in hulle onderskeie leefwêrelde maak.

Waar, wanneer, en hoe?

Datum:

7 Augustus 2020

Tyd:

10:00 – 11:30

Hierdie webinaar word deur die Afrikaanse Taalraad aangebied, en trots deur Afrikaans.com ondersteun.

Afrikaanse taalraad

Registreer by https://us02web.zoom.us/webinar/register/WN_-aqJAjpDQUG-lk84R11B5g om by te woon.  ‘n E-pos met ‘n unieke skakel sal outomaties aan jou gestuur word na registrasie. Neem asseblief kennis dat spasie beperk is. Die gesprek sal wel later op Afrikaans.com en die Afrikaanse Taalraad se platforms beskikbaar gestel word.

Vir meer inligting oor die sprekers en temas, klik hier.

Die Afrikaanse Taalraad bevorder Afrikaans en sy sprekers in hulle volle diversiteit. Leer meer oor die belangrike organisasie, klik hier.

The post Teken nou in op die ATR se Vrouedag-webinaar! appeared first on Afrikaans.com.

Wil jy liefde vind? Die wêreld se eerste Afrikaanse vlerksleeptoepassing is hier!

$
0
0
Online dating

Dating … of dan nou vlerksleep, is ’n nodige maar gereeld pynlike en humoristiese ervaring in ’n mens se pogings om uiteindelik ’n lewensmaat te vind. Dis ritse ongemaklike koffies, later se lag oor skielike belangstelling in oefening, lees of kook om die ander party te beïndruk, en noukeurige beplanning van elke teksboodskap met inset van jou 10 beste vriende of vriendinne. Tog is dit ook een van die lekkerste ervarings in ’n mens se lewe. Ja, die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik, en, deesdae, is die liefde ook aanlyn.

Volgens navorsing maak ’n beweerde 91-miljoen persone wêreldwyd van toepassings soos Tinder en iDate gebruik om pasmaats te soek. Hieronder ook talle Afrikaanssprekendes … tot dusver moes ons egter in Afrikaans op Engelse toepassings probeer vry. Maar, die voëltjies fluit dat dit verander het – Koer, die eerste Afrikaanse vlerksleeptoepassing, is nou wêreldwyd en gratis beskikbaar om af te laai.

Binne ’n week het ons al meer as 3 000 mense – dit bevestig dat die behoefte inderdaad bestaan. – Armand Aucamp, Koer

Afrikaans.com het met een van die stigters, Armand Aucamp (ook ’n bekende akteur en kok), gesels oor wat hierdie toepassing uniek maak.

Hoekom liefde op ’n Afrikaanse toepassing soek, eerder as bloot in Afrikaans op van die ander gewilde vlerksleeptoepassings soos Tinder?

Dit was ons hele uitgangspunt: Hoekom sal mense Koer kies bo die wat reeds bestaan? Die behoefte om te doen en leef in Afrikaans is duidelik uit besighede soos Lekkeslaap en Virseker – verblyf en versekering is immers dienste wat in oorvloed ook in Engels beskikbaar is. Wanneer ’n mens egter in jou moedertaal kan omgaan, is daar meer gemak en selfvertroue. Natuurlik kan jy dalk op ’n ander platform ’n Afrikaanssprekende ontmoet, maar ons wou ’n plek skep waar dit juis die fokus is. Ons taal, kultuur en mense is uniek, en na gelang daarvan het ons ’n unieke en geteikende toepassing ontwikkel.

Online dating

Wat kan mense te wagte wees wanneer hulle die toep aflaai?

Absolute eenvoud. In ons marknavorsing het ons gevind dat die Afrikaanse vlerksleep-webtuistes wat wel bestaan nie gebruikersvriendelik is nie – dit neem ure om jou profiel uiteindelik lewendig te maak. Boonop is die navigasie ’n nagmerrie. Ons wou hierdie model verander. Die toep kan gratis afgelaai word, jy sluit dan deur Facebook of e-pos aan, en voltooi ’n vinnige en eenvoudige proses om jou profiel te skep. Daarna kan jy koer na hartelus!

Die toepassing is nou al meer as ’n week beskikbaar … Hoeveel Afrikaanssprekendes koer reeds? Hoe is die toepassing deur die publiek ontvang?

Ek dagdroom al vir ’n jaar – as ons 100 mense per dag kan werf, sal ons 3 000 lede hê aan die einde van maand 1.  Binne ’n week het ons al meer as 3 000 mense – dit bevestig dat die behoefte inderdaad bestaan. Ons is baie opgewonde om Afrikaanssprekendes by mekaar te bring! Die terugvoer wat ons tot dusver ontvang, is baie positief.

Oor die afgelope jare het dit meer aanvaarbaar geraak om aanlyn na ’n pasmaat te soek … Julle bied ook egter opsies vir vriendskap. Vertel ons meer daarvan?

Ons dink altyd dis kinders wat moeilik vriende maak, maar ek wonder of dit nie moeiliker is as ’n volwassene nie.  Veral nou dat mense van die huis af werk … waar moet jy vriende maak? Ons glo ook dat die post-Covid-19-wêreld baie meer afgesonder gaan wees. Digitale oplossings tot vriende ontmoet is dus die toekoms.

Baie mense glo dat kuberkletskamers gevaarlik is. Watter maatreëls het julle ontwikkel om persone se gemoedsrus en veiligheid te verseker?

Die aard van toepassings op sigself maak dit eintlik veiliger as tradisionele vlerksleep – jy hoef nie jou huis te verlaat gedurende die eerste fases van die verkenningsproses nie. Binne Koer het jy ook die opsie om iemand op enige tyd te blok of te rapporteer. Verder, word geen persoonlike inligting soos selnommers op jou profiel gedeel nie. Om mense teen hulself te beskerm, laat ons ook nie toe dat enige foto’s uitgeruil word nie.

Op soek na ’n Rooirok-Bokmakierie of 'n Flirt-vinkie?

In die mark vir ’n Prag-tegaal of iets meer Fisants? Van Bleshoenders tot Duif-kuiwe, Dansganse tot Makou-skieters, Kekkelbekke, Swaan-lykers, huishenne en alles tussen-in. Kom kyk wat pronk in óns paradys!

Ontdek KOER! Die eerste Afrikaanse liefdestoep. KOER bied ’n wêreldwye platform om mede-Afrikaanse penmaats, pasmaats of praatmaats te ontmoet! Gratis beskikbaar op – App Store & Google Play.

Besoek koer.co.za vandag! KOER. Jou hart, jou taal, jou kans.

Laai die toep af, klik hier vir Anroid en hier vir Apple.

The post Wil jy liefde vind? Die wêreld se eerste Afrikaanse vlerksleeptoepassing is hier! appeared first on Afrikaans.com.

Ek vloek (nie) in my taal (nie)…

$
0
0
Vloek

Ek kan rock in my taal.

Ek maak amok in my taal.

En ek kan skok in my taal.

Maar kan ek vloek in my taal?

Ons almal het dit al gedoen… Wanneer iemand voor jou motor injaag, wanneer jy jou kleintoontjie teen die sitkamerbank stamp, of wanneer jy jou roomys op die vloer laat val. Tog bly die vraag onbeantwoord: Hoekom vloek ek en jy?

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het einde verlede jaar n simposium oor vloek en vloekwoorde aangebied, wat opnuut die kollig op hierdie taboe-onderwerp geplaas het. Professor Gerhard van Huyssteen, taalkundige aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en die oprigter van vloek.co.za het n navorsingsprojek van stapel gestuur wat vloek in Afrikaans bestudeer.

Hierdie projek word onderneem met befondsing van die NWU, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en BlueTek Computers.

Hoekom is dit belangrik om navorsing te doen oor vloek?

Weens die taboewaarde van vloekwoorde is navorsing in hierdie veld baie beperk. Volgens Gerhard is dit byvoorbeeld belangrik dat daar in die veld van kunsmatige intelligensie onderskei word tussen “gewone taal” en vloektaal. Toepassings soos Alexa en Siri moet vloekwoorde kan herken, wat slegs moontlik is as hierdie woorde in die programmatuur gemerk word. Daarom stel vloek.co.za hul ook ten doel om n Afrikaanse vloekwoordeboek – die Vloekepedia – saam te stel wat nie net n definisie vir verskeie vloekwoorde bied nie, maar hul ook op grond van hul taboewaarde van mekaar onderskei.

Oor die afgelope paar maande het Gerhard al taboewaardes vir ʼn klompie woorde aan die hand van meningspeilings ingesamel. Hierdie eerste resultate is vanaf vandag op ʼn interaktiewe manier beskikbaar by vloek.co.za se Vloekmeter.

Wanneer is ’n woord ’n vloekwoord?

Navorsing het reeds uitsluitsel gebied oor die verskillende domeine waaruit Afrikaanse vloekwoorde ontleen is. ʼn Paar “makkerige” voorbeelde illustreer die domeine:

  1. Diereryk (belhamel)
  2. Natuur (donder)
  3. Religie (allemapstieks)
  4. Skatologie, die domein wat betrekking het op liggaamsprosesse en uitskeiding (poefie)
  5. Seks (tollie)
  6. Siekte en dood (vrek)
  7. Andersheid (skurk, of skelwoorde om na ander bevolkingsgroepe, mense van die ander geslag, ensovoorts te verwys)

Een van die onopgeloste probleme in (internasionale) navorsing oor vloek, is die vraag oor wat presies ʼn vloekwoord is en wanneer ʼn woord as ʼn vloekwoord beskou kan word. Is ʼn versagtende woord (soos poefie hier bo) byvoorbeeld ook ʼn vloekwoord slegs omdat dit na ʼn taboe domein verwys? Tans gebruik Gerhard en sy span die term “vloekwoord” as sambreelterm wat alles insluit – van beledigings, vervloekings, swetse en skelwoorde, tot versagtende woorde wat gebruik kan word in omgewings waar ʼn mens dalk maar wil doekies omdraai. Al wat nié ingesluit word nie, is neutrale, wetenskaplike woorde, soos ekskresie in plaas van poefie.

Hoekom vloek mense?

Nog ʼn vraag wat Gerhard hoop om deur sy navorsing te beantwoord, is waarom Afrikaanse mense vloek, en of dit dalk verskil van mense uit ander taalgroepe. Selfs ook in internasionale navorsing is daar nog nie ʼn klinkklare beeld hierop nie.

Om antwoorde op hierdie en ander verwante vrae oor vloek te kry, gaan vloek.co.za, in samewerking met Afrikaans.com, in die komende maande blogs, podsendings en ʼn hele klomp meningspeilings oor dié boeiende onderwerp beskikbaar stel. Ons loods ook verskeie kompetisies wat jou die geleentheid bied om aan hierdie unieke navorsingsprojek deel te neem.

Hoe werk die kompetisie?

Die hoofmeningspeiling oor hoekom mense vloek, is vanaf 7 Augustus 2020 tot en met 31 Oktober 2020 op vloek.co.za beskikbaar. Een gelukkige persoon wat hierdie vraelys invul, sal met n kontantprys van R1 000 wegstap.

Verder gee Afrikaans.com ook maandelikse pryse weg. Elke maand kom n ander tema van vloek aan die beurt. Ons gaan byvoorbeeld fokus op vloek in Afrikaanse musiek (September 2020), TV, rolprente en teater (Oktober 2020) en publikasies (November 2020), onder andere ook met die doel om die eerste vloekwoorde in Afrikaans op te spoor.

Aan die begin van elke maand sal ʼn nuwe tema aangekondig word. Deelnemers sal dan voorbeelde wat met daardie tema verband hou, op vloek.co.za se webblad kan gaan laai, deelneem aan meningspeilings, luister na onderhoude met bekende Afrikaanse mense, ensovoorts. Aan die einde van elke maand sal daar ook n kontantprys van R1 000 vir ʼn gelukkige deelnemer gegee word.

Die wenners van die kompetisie, sowel as die voorlopige resultate van die hoofmeningspeiling, sal op 1 Desember 2020 bekendgemaak word.

Jy moet registreer om deel te neem

Om te verseker dat voldoen word aan die streng etiese voorwaardes wat aan sulke wetenskaplike navorsing gekoppel word, moet deelnemers op vloek.co.za se webtuiste registreer. Die registrasieproses verseker ook dat jy in die toekoms baie vinnig en maklik aan vloek.co.za se meningspeilings kan deelneem. Registrasie is gratis en inskrywings word volledig anoniem hanteer.

Om as deelnemer by vloek.co.za te registreer, klik hier.

As jy al geregistreer is en direk aan die meningspeiling wil deelneem, klik hier.

Vir die volledige bepalings en voorwaardes, klik hier.

 

Bron: VivA Afrikaans

The post Ek vloek (nie) in my taal (nie)… appeared first on Afrikaans.com.

Minki is terug in die voorhuis

$
0
0
Minki van der Westhuizen

As jy haar gelukkig wil maak, gee vir haar ʼn bos blomme. So sê Minki van der Westhuizen, ankeraanbieder van die gewilde geselsprogram Minki, wat weer op 8 Julie op VIA (DStv-kanaal 147) begin het. Oor die splinternuwe seisoen, wat reeds die vyfde een is, is Minki besonder opgewonde. Sy vertel dat die program ʼn nuwe formaat het. Dit word nou ʼn uur lange program met baie nuwe insetsels. Die seksuoloog Elna Rudolph sal elke week raad verskaf oor bedsake en kykers se vrae beantwoord. Herman Lensing, Sarie se kosredakteur, is weekliks saam met Minki in die kombuis waar hulle ʼn storm los kook. Alles klink voorwaar heerlik opwindend.

Kleintyd het Minki nooit daarvan gedroom om eendag as ʼn televisieaanbieder ʼn kuiergas in mense se voorhuise te word nie. Haar loopbaan as model het ná matriek blink voor haar uitgestrek en sy het alle geleenthede in daardie rigting aangegryp en baie sukses, plaaslik en internasionaal, as model gehad. In 2007 het daar onverwags ʼn nuwe deur oopgegaan toe Amor Engelbrecht, wat op daardie tydstip die vervaardiger van die joernaalprogram Pasella was, haar genader het om as aanbieder op te tree.

“Aanvanklik was ek so ʼn bietjie skaam voor die kameras, want ek het nog altyd geglo ek is nie ʼn aktrise nie, maar met Pasella het alles verander. Van die eerste oomblik af was dit vir my verskriklik lekker. Ek sal Amor altyd dankbaar wees,” sê Minki.

Minki van der Westhuizen

In 2016 en 2017 het sy behoorlik diep in die harte van televisiekykers gekruip met haar sprankelende aanbieding van die gewilde realiteitsprogram op kykNET, Boer soek ʼn Vrou. Tevrede kykers het haar ook in 2017 in die Huisgenoot Tempo-toekennings aangewys as die beste televisieaanbieder van die jaar. Sy is besonder dankbaar dat mense haar ondersteun en haar harde werk raaksien, sê sy.

Om ʼn beeldskone swemklere-model te wees en aangewys te word as die sexyste vrou in die wêreld, kan dalk veroorsaak dat mense jou nie te ernstig opvat nie. Hieroor lag Minki net en systap die vraag baie effektief. “Ek was nog altyd net myself en het nooit probeer voorgee om iets anders te wees nie. Ek glo dit het natuurlik gekom en danksy die televisiebedryf, kon mense my hart raaksien. Soms het mense baie vooropgestelde idees en dit is moeilik om dit te verander, maar ek is dankbaar dat ek wel die geleentheid kon kry om vir mense ʼn deel van my hart en ʼn deel van my menswees te wys met dit wat ek op televisie doen,” verduidelik sy.

Oor een ding is Minki baie ernstig: haar program is nie bloot net ligte vermaak nie. Haar gaste word sorgvuldig gekies, juis omdat hulle op een of ander manier inspirerend is. Sy wil graag mense inspireer deur met verskilmakers te gesels wat ten spyte van moeilike omstandighede, ʼn opdraande stryd of een of ander gebrek, positief kan wees en ʼn verskil maak waar hulle ook al gaan. Sy hoop haar program kry dit reg om goedvoel-emosies wakker te maak en aan kykers se harte te raak.

Minki van der Westhuizen

Een ding waaroor Minki baie graag gesels, is haar drie dogtertjies. Haar oudste, Katerien, het nou in Julie sewe jaar oud geword en is vanjaar in graad 1. Elise, haar middelkind, word ses in Augustus en klein Elsa het in Maart twee jaar oud geword.

Ma-wees is die lekkerste lekker in haar lewe, sê sy. Dis boonop ʼn lekker wat nie ophou nie. “Wanneer ek na my dogtertjies kyk, dan dink ek dat hulle nie ouliker kan word nie. Dan doen hulle weer iets anders of begin gesels en dan is dit nóg ouliker. Dis heerlik om hulle dop te hou en te sien hoe hulle as mense ontwikkel, elkeen op haar eie manier. Dis ʼn wonderlike voorreg om ʼn ma te kan wees van drie gesonde kinders en hulle groot te maak in ʼn gesonde en gelukkige huwelik. Ernst is ʼn baie betrokke pa wat altyd met die kinders help. ʼn Mens kan net dankbaar wees oor soveel seën en genade,” sê Minki.

Iets wat ʼn mens opval van Minki is dat sy, anders as baie ander bekendes, heerlik in Afrikaans gesels op sosiale media. Afrikaans, sê sy, lê haar baie na aan die hart. Afrikaans is haar moedertaal en ook hulle huistaal. Sy skram nooit daarvan weg om op sosiale media in Afrikaans te kommunikeer nie, want dis ʼn taal waarin sy gemaklik is en die taal waarin sy dink en droom.

Een van die dinge waaroor sy juis baie dankbaar is, is die geleentheid wat haar drie kinders het om hier in Suid-Afrika in hulle moedertaal te kan skoolgaan. Tydens Ernst se rugbyloopbaan by Saracens, het hulle in Londen gewoon. Minki vertel dat die inperkingstyd haar nogal herinner het aan die tyd in Londen weens die feit dat hulle in daardie eerste vyf weke van streng inperking baie op mekaar aangewese was en geen familie of vriende gesien het nie.

“Alhoewel ek baie lief is vir Engeland, wil ek nie teruggaan nie. Die feit dat ek kan werk, dat my kinders kaalvoet én in Afrikaans kan skoolgaan, die feit dat hulle omring is met oupas en oumas, tannies en ooms en neefs en niggies, ons wonderlike klimaat en die hele leefwyse wat ons hier het, sal ek vir niks verruil nie,” sê sy beslis.

Met ʼn gelukkige huwelikslewe, drie pragtige kinders en ʼn baie suksesvolle loopbaan, wonder ’n mens onwillekeurig of daar nog drome oorbly. Sy gee weer daardie mooi glimlag van haar. “Daar sal altyd drome bly, maar ʼn mens mag seker ook nie gulsig wees nie. Vir nou hoop ek dat my program nog vir lank sal kan aangaan en goed doen. Dat mense dit altyd sal geniet en dat ons die beste moontlike programme kan maak. Ek is oneindig dankbaar vir al die geleenthede wat oor my pad gekom het en die werk wat ek kan doen. Eintlik kan ek vir niks meer vra nie.”

Skakel Woensdae om 19:30 in op VIA (DStv-kanaal 147) om die program te kyk.

The post Minki is terug in die voorhuis appeared first on Afrikaans.com.


2020 AVBOB-Poësiekompetisie kondig wenners aan

$
0
0
Gedigte

“Poësie bring ons terug na mekaar, en na onsself. Want poësie behoort aan mense. So ook kan pyn as ’n katalisator vir kreatiwiteit gebruik word … AVBOB se poësieplatform is daarom ’n spilpunt van genesing,’n smeltkroes van skeppende talent.”

Die jaarlikse AVBOB-Poësiegala-aand, met die immer sprankelende Rozanne McKenzie as gasvrou, het op 6 Augustus 2020, in die brawe nuwe wêreld van sosiale distansiëring – en vir die eerste keer sedert die bekendstelling van die AVBOB-Poësiekompetisie in 2017 – virtueel en aanlyn plaasgevind.

AVBOB-bestuurshoof Carl van der Riet, Engelse redakteur Douglas Reid Skinner, en digter en dosent Liesl Jobson was die gassprekers wat gepraat het oor die meriete van poësie as deel van die rouproses en die sosiale nut en waarde daarvan. Van der Riet het ook gesê dat die bloemlesings wat uit hierdie kompetisie saamgestel word “moet dien as historiese rekord, ’n lewende bewaarplek van en vir al ons tale”.

Die kompetisie se hoofredakteur, Johann de Lange, glo dit is belangrik om ons inheemse tale te bewaar. “Geskiedenis op sigself vertel nie die hele verhaal van die mens nie; die kunste vorm die ander helfte, en taal is die menslikste ding wat ons het. Dit is ook deur en deur verweef met wie ons is en waar ons is. Taal is nie net hierdie deursigtige medium wat ons gebruik om dinge te sê nie; dit is die kwas, dit is die skilderdoek. Dit skep werklikheid. Daarom is poësie ʼn kragtige medium.”

Die 11 eerstepryswenners het elk ʼn kontantprys van R10 000 en ʼn boekbewys ter waarde van R2 500 ontvang.

In sy programrede by die gala-aand, het AVBOB-bestuurshoof, Carl van der Riet, sy dankbaarheid teenoor die nasie se digters uitgespreek: “Ek wil graag elke digter bedank vir haar en sy waagmoed en vir hul bereidwilligheid om kwesbaar te wees – dit verg enorme moed om ʼn mens se intieme gedagtes en gevoelens met ander te deel. Ons vereer julle vir jul eerlikheid en vrygewigheid, en dat julle hierdie reis met ons deel.”

Die 2020 AVBOB-Poësiepryswenners vir Afrikaans:

Wenner: Maretha Maartens – Peperboom

2de plek: Maritha Broschk – Swanesang

3de plek: Hannes Visser – Vir Piet Visser (21.7.1925 – 19.7.1967)

Maretha Maartens

Maretha Maartens is ʼn vryskutskrywer wat in Bloemfontein woon en al verskeie toekennings vir haar werk ingepalm het. Sy skryf sedert die ouderdom van 13 toe sy ʼn Olivetti-tikmasjien by haar pa present gekry het. Maretha het vir die kompetisie ingeskryf omdat dit vir haar soos ʼn welkome tuiste vir digters voel. Haar wengedig is geïnspireer deur ʼn onuitwisbare oomblik tydens haar ma se laaste winter op aarde – die bewustheid van die naderende dood.

Peperboom

Maretha Maartens (1ste plek)

“Geil en goed gegroei om só verwoes te word.”

Die lem vibreer deur bas en duramen

en jy, suurstofsoekend voor die venster,

kreun oor die peperboomstam wat grond toe stort.

 

Ma, jy was tog lewenslank lembestand

onknakbaar sterk en doodweerstandig

– ons lowerryke peperboom

huisboom, groen baken van ons binneland.

 

Ons het ons honger en nood voor jou oopgegooi

en die bessies wat jy strooi soos die sysies

streepkoppies en rooirugsaadvreters opgepik.

Weet jy, Ma, daardie bessies was genesend rooi.

 

“Aan ’n peperboom,” het jy gesê, “kleef daar ’n eenvoudigheid

wat aan saadvretervoëls en koeltesoekers bied wat hulle soek.”

Toe jy gekreun het omdat die stam dwarsdeur sy pithout knak

– ou huilboom, huisboom in jou gewaande onaansienlikheid –

 

moes ek gesê het: “Die boomsaer dink hy vát jou, Ma,

maar die takke uit jou stam sal jou peperbessies dra.”

Swanesang

Maritha Broschk (2de plek)

dood begin by die voete, het ek Breyten aangehaal

na jou hoeveelste oudisie,

jy het net gelag, gesê: as ek nie dans nie, ís ek dood

en jou bloeiende tone verbind en verberg

in bedrieglike satyn

ons eiesoortige pas de deux – ek denker, jy danser –

twee spikkels in ’n skare aspirantdromers,

ek onthou hoe ons in jou flat in Sunnyside bokswyn drink,

Mahler luister, en ek aanhaal – God is dood –

jy wat lag soos ’n drein – nee, Nietzsche is! –

jou arms swaaiend asof jy ook windmeulens jaag,

ons het geglo ons is uniek soos jy glo as jy jonk is

en aan halms van clichés klou – if you can dream it you can do it –

en hét jy gedroom van hoofswaan in die hoofstroom wees,

die slapende skoonheid verrys ná die kus van sukses,

die naam Gisela klink na Giselle, lag jy en pirouette tot by die yskas

vir nog ’n glasie,

later ’n buiging vooroor soos ’n kwynende Odette

terwyl jy ’n wit lyn sny

want dit maak jou veerlig en jy wil vlieg, vlieg soos ’n swaan

jy maak jou buiging, keer op keer, in rehab,

plié oor ’n urienstokkie, jou pupille swart gate in die kollig van ’n dokterslig

maar jy wil vlieg, veerlig soos ’n swaan

die opsigter kry jou in jou flat in Sunnyside

met rigor mortis-tone gepunt en onverbind

vingers steeds ongekrul – allongé! – en ek dink Gisela wat na Giselle klink,

as jy nie dans nie, is jy dood, my maat, met die laken ’n gordyn oor jou gesig

en ek vra vir God of jy en Nietzsche nou op dieselfde plek is

en huil en huil elke keer as ek Mahler hoor

Vir Piet Visser

(21.7.1925 – 19.7.1967)

Hannes Visser (3de plek)

pa, ek verjaar vandag, twee en sestig jaar nadat

jy my geboortehuis in Curriestraat gekoop het

en twee en vyftig jaar nadat hulle jou daardie

Woensdagnag op ’n wit trollie uitgehaas het

ek het nog één foto van die huis met sy bont

stoeptralies en hekke van gekrulde yster wat jy

oor naweke op die myn gesweis het, maar die

swart en wit versteek die helder kleure van toe

ek kan bladsye vol gedigte skryf oor jou, maar

sukkel my dood om te onthou hoe jy lyk, want ma

het mos met haar tweede keer in die waan van trou

teatraal een Saterdag vuur gemaak met alles van jou

ja, ek verjaar vandag twee en vyftig jaar nadat jy

by jou stoeptralies en ysterhekke verby en onder

flitsende rooi ligte onomkeerbaar verdwyn het en

elke jaar is daar meer en meer wat ek jou nog wou vra

Skryf nou in vir 2021

Die vierde kompetisie is reeds op 1 Augustus 2020 geloods en jy word uitgenooi om deel te neem.

“Deur die kompetisie het AVBOB ʼn ruimte geskep waarbinne die digkuns vir ons almal toeganklik is. En dit is die wonderwerk: Al wat ons hoef te doen, is om die deur van die poësiebiblioteek oop te maak, om ons oë en koppe oop te maak, en te lees.” – John Muir, Amerikaanse omgewingskundige

Besoek www.avbobpoetry.co.za om in te skryf.

 

Volume 3 van die AVBOB-Poësie-bloemlesing nou beskikbaar

Die jongste bloemlesing, I Wish I’d Said, wat saamgestel is deur die kompetisie se hoofredakteur, Johann de Lange, saam met digter en skrywer Goodenough Mashego, bevat 102 plaaslik geskrewe gedigte – 66 gedigte (ses in elke ampstaal) wat in opdrag geskryf is, 33 deur die eerste- tot derdepryswenners in elke taalkategorie, en drie gedigte in die |Xam-taal wat besig is om uit te sterf.

Volume 3 kan bestel word by www.naledi.online of 078 648 8616, en is beskikbaar by vooraanstaande boekwinkels. Of SMS die woord ‘poem’ na 48423 (teen ʼn standaardkoste van R1.50 per SMS) om dit per pos teen ’n totale koste van R240 te ontvang.

Besoek gerus die AVBOB aanlynpoësieversameling, wat vryelik beskikbaar is by www.avbobpoetry.co.za.

Bron: Persverklaring

Skrywer: Annelie van Jaarsveldt

The post 2020 AVBOB-Poësiekompetisie kondig wenners aan appeared first on Afrikaans.com.

NB-Uitgewers se boekekeur –’n Viering van vroueskrywers

$
0
0

Augustus is Vrouemaand en Afrikaans.com en NB-Uitgewers vier dit deur jou ’n blik te bied op van ons land se beste Afrikaanse vroueskrywers. Laai gerus hieronder ’n gratis uittreksel uit elke boek af en word deel van Afrikaans.com se leesgemeenskap.

Ons vier ook vandag Koop-’n-Afrikaanse-Boekdag. Om jou Vrouemaand selfs meer spesiaal te maak, bied Exclusive Books jou tussen 14 en 21 Augustus ook sommer 20% af op alle Afrikaanse boeke. Loer gerus hieronder na watter boeke vir jou uitstaan en maak ’n draai by jou naaste Exclusive Books om jou winterleeslys aan te vul met die beste op die NB-boekrak.

Afrikaanse boeke

1

Vers & vrou: 258 gedigte 

Karen de Wet

ISBN: 9780798180665

Uitgewer: Human & Rousseau

’n Versameling gedigte oor vroue, deur vroue, vir vroue – en vir dié wat met vroue leef.

Lees oor beroepsvroue en huisvroue, verliefde, geliefde en ontnugterde vroue, vroue met kinders en sonder kinders, vroue wat in die kalklig staan en vroue wat deur grense breek. In dié boek word die heelal beskou deur ’n vroulike blik. ’n Bloemlesing om aan te gee vir ’n vriendin of ’n suster, vir ma’s en vir dogters, vir geliefdes – omdat ons almal ’n bietjie so is, en ook nié so is nie. 

Laai hoofstuk af

Afrikaanse boeke

2

Israel-reeks 11: Hooglied

Shir HaShirim

Marzanne Leroux-Van der Boon

ISBN: 9780796321695

Uitgewer: Lux Verbi

Marc se ou kunsdosent, Simon, kom kuier en hulle wys die hele land vir hom. Ma se Mara en haar oppasser, Anna, kom kuier in Jerusalem en Mara begin al meer haar Joodse afkoms verwelkom. Dit is Yoshi se bar mitzvah.

Die dae is vir die Kriges soms donker, maar soms ook wondermooi. Shir-HaShirim – ‘n hooglied? Dikwels nie. Tog is daar altyd ‘n lied om te sing. Die hooglied van Israel is die elfde boek in die reeks.

Laai hoofstuk af

Somtotaal - Afrikaanse boek

3

Somtotaal

Anschien Troskie

ISBN:9780798180856

Uitgewer: Human & Rousseau

Ester Labuschagne en Nonthando Majolo het saam grootgeword op ‘n afgeleë plaas in die Oos-Kaap. Boesemvriendinne gewees – tot een dag van verraad. Nou, soveel jare later, met Nonthando se dogter, Mila, self al ‘n volwasse vrou, kom spook die verlede by Ester. Met dié nuwe roman vestig Troskie haar opnuut as meevoerende skrywer. Dit is ’n storie wat geen leser onaangeraak sal laat nie. Troskie skryf met groot vertedering, maar ook met humor. Somtotaal is ’n hoogtepunt in haar skrywersloopbaan.

Koop die boek hier.

Laai hoofstuk af

Afrikaanse boeke

4

Reënboogmelodie

Anzil Kulsen

ISBN: 9780796322159

Uitgewer: Lux Verbi

Diané sukkel van jongs af met ‘n eetversteuring. Toe sy Robert ontmoet is sy so dankbaar vir die aantreklike man wat haar help en aanvaar net soos sy is. Robert het haar nog altyd lief gehad, maar nou is hulle huwelik op die rotse. Hoekom sal Robert nou die pad vat? En wie is die persoon wat sê dat Robert die pa van haar kind is? En sal sy haar seuntjie wat outisties is kan help? Of is sy juis die oorsaak van sy probleme? Sal Diané kans sien om te bly as sy uitvind wat werklik aan die gang is?

Koop die boek hier.

Laai hoofstuk af

Afrikaanse boeke

5

Maggie: My lewe in die kamp

Maggie Jooste

ISBN: 9780624090250

Uitgewer: Tafelberg

Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek en haar lewe ingrypend verander. Ná maande in huisarres word sy en haar gesin na ’n konsentrasiekamp in Natal gestuur. Hier ervaar hulle honger, onsekerheid en verlies, maar ook soms – op ’n verrassende wyse – die goedhartigheid van Britse soldate. Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ’n verhaal van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en vriendskap oor vyandsgrense heen.

Koop die boek hier.

Laai hoofstuk af

Afrikaanse Prosaboek

6

Vreugde vir Larissa

ISBN: 9780796322005

Uitgewer: Lux Verbi 

Larissa gaan Nederland toe om verder te studeer. Dan hoor sy die jong Chandré, wie se aanrandingsaak sy vantevore behartig het, is vermoor. Larissa weet wie die skuldige is en sal nie rus voor hy aan die pen ry nie. Sy keer terug na Suid-Afrika. By haar vriendin, Reina, en dié se man Derek, word sy met Gideon gekonfronteer. Gideon wat deur nagmerries geteister word. Sal Larissa en Gideon saam vreugde kan vind? Nog ’n lekkerleesroman uit die pen van ATKV-Woordveertjiewenner, Elsa Winckler.

Koop die boek hier.

Laai hoofstuk af

Afrikaanse boeke

7

Bientang

Jolyn Phillips

ISBN: 9780798180948

Uitgewer: Human & Rousseau

Van Bientang het net die naam van ‘n restaurant in Hermanus oorgebly: Bientang’s Cave, asook ‘n weggooi-opmerking: die laaste Strandloper. Uit hierdie gegewens sny die digter se verbeelding spoor in ‘n kontra-epos. Wie was Bientang? Te midde van historiese geskrifte, kontemporêre angste en oorlewerings, verskyn buitelyne om haar vir oomblikke binne bereik te bring. Die toonaard van die bundel is egter verlies oor ‘n verlede wat geen spoor laat in die opgeskryfde geskiedenisse van die land nie.

Koop die boek hier.

Laai hoofstuk af

Ek wens, ek wens - Afrikaanse boek

8

Draairivier

Engela Ovies

ISBN: 9780798180795

Uitgewer: Human & Rousseau

Dis die jaar 1955 en Suzanna Jansen woon saam met haar pa, ma en broer, Gert, in ’n riethuisie op ’n plaas naby Kakamas. Dis die Kersvakansie voor Sanna se laaste skooljaar en deesdae kry sy vlinders in haar maag elke keer as sy die buurseun, Johannes, in een van die veekampe raakloop. En dan is daar Inge wat soos die slapende skoonheid gevangene is in die Groothuis.

Engela Ovies se debuutroman, Draairivier, is ’n deernisvolle verhaal oor familie, vriendskap, liefde en vergifnis.

Koop die boek hier.

Laai hoofstuk af

Afrikaanse boeke

9

Uit die kroes

Lynthia Julius

ISBN: 9780795709531
Uitgewer: Kwela

In Uit die kroes word die Noord-Kaapse leefwêreld opgeroep in verse wat Namawoorde op verrykende wyse inkorporeer. Dit bevat gedigte wat die sentrale dog geringgeskatte rol van die bruin vrou in die Suid-Afrikaanse geskiedenis belig. Ook die hedendaagse posisie van die jong bruin vrou word bekyk – hoe daar byvoorbeeld steeds teen wanpersepsies oor ras en skoonheid gestry word.

Jy dra jou kroes hare so laat mense kan sien

Glad alleen beteken nie mooi nie.

Koop die boek hier.

Laai hoofstuk af

Wilna Adriaanse - afrikaanse boek

10

Luistervink

Madré Marais

ISBN: 9780798180887

Uitgewer: Human & Rousseau

‘n Verrassende kortverhaaldebuut deur ‘n jong skrywer van Bloemfontein. Marais is goed geskool in die klassieke Afrikaanse kortverhaal, maar bied vernuwing op vele vlakke. Elke verhaal bevat iets ongewoons, nie net wat betref taal en register nie, maar veral t.o.v. karakter en perspektief. Hoogtepunte sluit in “Brandoffer” (briewe aan ‘n ma), “Sinker” (oor ‘n seun wat op die rand van ‘n damwal huiwer) en “Driehonderd-vyf-en-sestig en ‘n kwart”.

Koop die boek hier.

Laai hoofstuk af

The post NB-Uitgewers se boekekeur – ’n Viering van vroueskrywers appeared first on Afrikaans.com.

12 witwarm Afrikaanse woorde wat baas soek …

$
0
0
Borg 'n woord

Woorde maak van ons lewens werklikheid. Dit is hoe ons die verlede onthou, die hede beleef en oor die toekoms droom. Dis die troubelofte vir ‘n vir altyd om te begin, die woorde van die simpatieke dokter wanneer medisyne nie kon red nie, en die lawwe Whatsapp-boodskap wanneer jy jou beste vriendin mis.

Dit is om hierdie rede – die mag en mooiheid van woorde – dat die Woordeboek van die Afrikaanse Taal die publiek die geleentheid gee om woorde wat vir hulle van spesiale belang is, te borg en koop. Met hierdie kopies dra jy boonop by tot die behoud van ons pragtige taal!

“Woorde is kosbaar. Borg of koop ’n woord wat vir jou van besondere waarde is en help

so om die toekoms van ons lieflike taal te verseker. Laat die woord jou lei!”

Laurika Rauch

 

Sedert die aanvang van die projek, is duisende woorde reeds gekoop en geborg … Borg ‘n Woord word ook deur bekendes soos Laurika Rauch en Deon Meyer ondersteun. Afrikaans.com het daarom gewonder of daar nog enige woorde op aanbod is … kan jy glo die volgende 12 witwarm woorde is nog nie gekoop nie? Toe, waarvoor wag jy!

  1. inperking
  2. koeksister
  3. vleisbraai
  4. skuimkop
  5. katswink
  6. koer
  7. geswael
  8. kammakastig
  9. kaboemielie
  10. tandmuis
  11. aalmoes
  12. bitterbessiebos

Hierdie woorde, sowel as alle ander woorde wat nog nie baas gekry het nie, kan  teen R100 geborg word of teen R5 000 gekoop word. Wanneer ‘n woord gekoop word, behoort die woord slegs aan jou. Met aankoop ontvang ‘n mens ook ‘n sertifikaat met jou naam sowel as die woord daarop, en kom jy in aanmerking om R25 000 te wen. Hoe meer woorde in jou woordeskat, hoe groter jou kanse!

As die woorde hierbo nie binne jou keurwoorde val nie, is dit vinnig en maklik om op die WAT se portaal te soek vir die woord wat jy graag wil koop en te bepaal of dit nog beskikbaar is. Maar, moenie gras onder jou voete laat groei nie – iemand koop dalk net jou woord onder jou uit!

Om te bepaal watter woorde beskikbaar is, sowel as vir meer inligting, klik hier.

The post 12 witwarm Afrikaanse woorde wat baas soek … appeared first on Afrikaans.com.

Afrikaans ken geen grense nie; dis soomloos – Nuwe voorsitter van die ATKV

$
0
0

Marlene le Roux het reeds diep spore in die Afrikaanse leefwêreld getrap, nie alleenlik as kampvegter vir die taal, kultuur en die jeug nie, maar ook vir persone met gestremdhede. Dit is dan ook hierdie passie vir haar taal en die diversiteit van sy sprekers, wat as bousteen dien vir die belangrike rol as voorsitter van die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV) se direksie, wat sy nou aanpak.

Vir Marlene is dit nie die titel wat die werk doen nie – dis die mense wat die werk doen.

Marlene meen dit is nou belangriker as ooit vir die ATKV om te kyk hoe hulle die breër gemeenskap kan dien.

“Alhoewel elke dag ’n ontdekkingsreis is, moet ons besef hoe ver ons gekom het in ons land wat met sy vele tale, rasse en kulture, saam die pad vorentoe aangepak het. Die ATKV se rol daarin is merkwaardig.”

As ’n organisasie wat ten alle tye sy lede dien en nuwe lede werf, blink die ATKV uit as die een wat die stryd om Afrikaans en alle tale in die Suid-Afrikaanse milieu omhels. Met die hulp van bekwame personeel, ’n doelgerigte direksie en passievolle lede, is Marlene opgewonde om nog vele ontdekkings saam aan te pak.

Sy beskou haar rol as fasiliteerder om mense saam te laat werk, om hul positief en kreatief te laat dink, om alle persone ’n ervaring van hoop en inspirasie te bied by ATKV-oorde, om die kunste onder die jeug te ontwikkel, om meer te wil doen vir ander en om ons land te laat werk.

Die ATKV vier vanjaar sy 90ste bestaansjaar – ’n jaar van vele uitdagings, maar ook groot geleenthede, veral op die virtuele front. “Die reis van die ATKV op pad na nuwe ontdekkings is oneindig. Die tyd van vingerwys is verby. COVID-19 het my geleer ons almal is gelyk. Ons het nie ’n ander keuse in ons land as om saam te staan en ons woordeskat te verander van ‘hulle’ na ‘ONS’ nie.”

ATKV

Marlene, ’n beskermvrou vir Afrikaans.com, dien die afgelope ses jaar as uitvoerende bedryfshoof van die Kunstekaap-teater, waar sy die instansie na nuwe hoogtes geneem het deur dit onder andere ’n toeganklike ruimte vir persone met diverse agtergronde te maak. Onder haar leiding as die eerste vrou aan die stuur van dié instansie, is die Kunstekaap bekroon met die gesogte Fair Saturday Foundation-toekenning in Spanje vir hul wye reeks diverse en toeganklike programme en sosiale transformasie deur kultuur. Tesame hiermee is Marlene ook self vereer vir haar moed en deursettingsvermoë as menseregte-aktivis en as sosiale leier wat die regte van minderheids- en weerlose groepe (insluitend persone met gestremdhede) beveg. Sy het ook verskeie ander toekennings op haar kerfstok waaronder die Commonwealth Point of Light-toekenning vir die bevordering van gestremde persone.

Marlene is tans ook betrokke by verskeie ander organisasies waaronder die Chrysalis Jeugakademie, die Stigting vir die Bemagtiging van Afrikaans (SBA) en die Presidensiële Werksgroep oor Gestremdhede. Verder was sy ook tot en met verlede jaar betrokke by die Desmond en Leah Tutu Legacy Foundation waar sy as voorsitter gedien het.

Dit is in haar nuwe rol by die ATKV waar sy ook nou die geleentheid gaan kry om verder diep spore in die bedryf te trap.

Volgens Marlene, is haar droom vir die ATKV dat dit ’n huis sal wees vir alle inheemse tale en die toonaangewende organisasie wat nasiebou bevorder en ons diversiteit in totaliteit sal omarm.

“Ons het ’n diverse land en ons moet dit erken as ons sterkpunt,” sê Marlene. Afrikaans kan net volhoubaar wees as alle inheemse tale bevorder word. Afrikaans moet brûe bou vir geïntegreerde gemeenskappe en die taal wees wat met deernis en met ’n snoes lappieskombers alle variëteite, tongvalle, en al die pilare waarop die erfenis van Afrikaans gebou is, toevou.

Haar wens vir die ATKV in hul 90ste bestaansjaar is eenvoudig: Dat hulle voortdurend op reis sal wees om veeltaligheid, kultuurrespek en menslikheid te bevorder.

“Afrikaans ken geen grense nie en is soomloos. My droom is ook dat ATKV ongemaklike gesprekke moet hê. Ons moet praat oor die stigma van Afrikaans. Dán kan ons vorentoe beweeg.”

ATKV

The post Afrikaans ken geen grense nie; dis soomloos – Nuwe voorsitter van die ATKV appeared first on Afrikaans.com.

Exclusive Books se Afrikaanse topverkopers vir Augustus 2020

$
0
0

WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom! 
Klik hier.

’n Groot aantal nuwe boeke het vandeesmaand hul regmatige plek ingeneem op Exclusive Books se top 10-verkoperslys. Bekende joernalis Hanlie Retief maak haar verskyning op die topverkoperslys met haar boek Liedjieboer oor die lewe van die legende Anton Goosen. Verder maak Maggie: My lewe in die kamp, ook ’n verskyning op die lys en neem dit die leser op reis met ’n persoonlike vertelling van die lewe in ’n konsentrasiekamp. Lees gerus hieronder watter ander boeke is tans die gewildste in die land.  

1

Exclusive Books se Afrikaanse topverkopers

Merk – Rudie van Rensburg

Kassie het geglo sy speurderdae is getel na die Medusa-pedofielsaak, en sy hartaanval. Maar ses maande tuis bring perspektief – hy is ‘n speurder in murg en been. Terug by die Spookeenheid word hy en kollega Rooi Els dadelik by die diep kant ingegooi: Hulle moet ‘n reeksverkragter vastrek – een wat sy slagoffers met ‘n brandyster merk. Is die skuldige die man wat beskryf word as “‘n weerwolf met die sperm van ‘n wildehond”? Of lê die antwoord by die spesifieke merk wat hy op sy slagoffers laat?

Koop die boek

2

Die Brug: Na die hel en terug in Angola – Deon Lamprecht

In vergeelde foto’s van drie dekades gelede staan oopgesigseuns vol bravade voor Ratel-gevegsvoertuie. Hierdie dienspligtiges van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep staan aan die begin van hul reis diep in Angola in om vir volk en vaderland te gaan veg.

In ’n bloedige geveg op Valentynsdag 1988 en in die doodsakker by Tumpo sou hul jeugdige onskuld egter sneuwel. In die hitte van die gevegte kom die besef: Nou gaan dit nie oor ideologie nie, maar om oorlewing. Na die oorlog gaan die lewe voort, maar die vrae en geestelike letsels wyk nie.

In 2018 keer ’n groep van die ouddienspligtiges terug na Cuito Cuanavale op soek na afsluiting – en om die wrak te vind van die Ratel waarin ’n makker op die laaste dag van die oorlog gesterf het. Die Brug vertel van hul reis van jong man na veteraan en gee ook ’n stem aan die vroue in hul lewe. Dit is ’n verhaal van ontnugtering, maar ook van trotse kameraderie en genesing.

Koop die boek

3

Exclusive Books se Afrikaanse topverkopers

Anton Goosen – Liedjieboer – Hanlie Retief

Na 40 jaar se rock ‘n roll in Afrikaans vertel die legendariese Anton Goosen nou sy volle verhaal, soos neergepen deur die bekroonde joernalis Hanlie Retief. Die vader van Afrikaanse rock skryf oor sy grootwordjare in die Vrystaat, sukses en roem, sy lewe op die langpad, die Musiek-en-Liriek-era, die hoogtepunte en teleurstellings langs die pad. Aangrypend, eerlik en vol humor: Dit is die lewe van Anton Goosen. ‘n Lewe teen die stroom op.

Koop die boek

4

Erfgeld is swerfgeld – Johan Bakkes

Johannes Bakkes is die geliefde skrywer van andersoortige reisverhale soos Ons is moertoe en Norrevok. Hierdie boek is meer persoonlik; hier skryf hy homself oop. Die subtitel is Reis na binne, die -ste -ste plek – hy is altyd op soek na die koudste, warmste, hoogste, droogste plek om te besoek. Hier word humoristiese vertellings oor sy reise afgewissel met sy pa se wolhaarstories en lewendige geskiedenisvertellings. Hy en sy seun vind aanklank tydens nog ‘n onbesonne reis. Sy liefde vir sy familie is tasbaar. Gerrit Rautenbach noem die manuskrip “sy beste skryfwerk nog” en “blootstellend anders”. Bakkes lê homself bloot in sy weerloosheid, vrees en krankheid. Hy wys wie hy was in die ou bedeling en hoe hy probeer hand bysit in die nuwe bedeling, wat hy nie gekies het nie. Dis ‘n dapper, aangrypende reis vol humor en deernis.

Koop die boek

5

Afrikaanse boeke

Maggie – My lewe in die kamp Maggie Jooste

Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek en haar lewe ingrypend verander. Na maande in huisarres word sy en haar gesin na ‘n konsentrasiekamp in Natal gestuur. Hier ervaar hulle honger, onsekerheid en verlies, maar ook soms op ‘n verrassende wyse die goedhartigheid van Britse soldate. Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ‘n verhaal van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en vriendskap oor vyandsgrense heen.

Koop die boek

6

Afrikaanse boeke

Kanaän – Sophia Kapp

Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is ’n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ’n skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ’n uitweg – ’n jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.

Koop die boek

7

Afrikaanse boeke

1 Recce – Volume 2: Agter Vyandelike Linies – Alexander Strachan

Daar was hewige vuurgevegte, oorwinnings, maar ook verliese . . . 1 Recce, Agter vyandelike linies, neem die leser tot in die Recces se ‘binnekamer’. In hul eie woorde vertel Recce-operateurs van die lewensgevaarlike operasies wat hulle onder groot geheimhouding in die laat 1970’s in Angola en die voormalige Rhodesië uitgevoer het.

Die leser sien die operateurs sweet in die vliegtuig of duikboot en beleef die gevaar wanneer hulle in die nagdonker riviere met krokodille trotseer. Die spanning en adrenalien loop hoog wanneer die Recces springstof in ‘n treintonnel diep in vyandelike gebied plaas of ‘n groot brandstofbergingsplek in ‘n Angolese hawestad in ‘n vlammehel omskep.

Die wat daar was, vertel van die spanning, afwagting, vrees, adrenalien, moegheid, dors en hartseer wat hulle beleef het, maar ook van die humoristiese momente en die vriendskapsbande wat gesmee is. 1 Recce, Agter vyandelike linies is Alexander Strachan, bekroonde skrywer en gewese Recce, se opvolgboek op sy topverkoper: 1 Recce, Die nag behoort aan ons.

Koop die boek

8

Exclusive Books se Afrikaanse topverkopers

Bloedsteen – Irna van Zyl

Dinge ontrafel vinnig wanneer iemand speuradjudant Storm van der Merwe se ma voor ‘n trein op Paddington-stasie instamp. Storm moet Londen toe, al is sy tot oor haar ore met ‘n moordsaak: Beebee Bukelwa Babu, befaamde Suid-Afrikaanse modeontwerper, lê leweloos in ‘n luukse hotel op Hermanus.

Hande om Storm te help met die ondersoek na Beebee se dood is min, want protesaksie lê die dorp lam. Boonop sweep ‘n charismatiese profeet die skare tot ‘n histerie op. Storm besef gou dit is nie net haar ma se lewe wat in gevaar is nie. Sy is self ‘n teiken. Intussen probeer haar ekskollega, Andreas Moerdyk, nou ‘n privaat speurder, om ‘n skaars rooi diamant van onskatbare waarde op te spoor. Van Londen se donker strate tot Antwerpen se diamantebeurs, van Port Nolloth se verlate kuslyn tot Storm se geliefde Hermanus, ontvou die storie in Irna van Zyl se derde misdaadroman teen die pas van ‘n sneltrein.

Koop die boek

9

Exclusive Books se Afrikaanse topverkopers

Hans steek die Rubicon oor – Rudie van Rensburg

Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders maneuvreer hom vanuit hul tuistes oorsee in Huis Madeliefie in, maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.

Koop die boek

10

Exclusive Books se Afrikaanse topverkopers

Negentien minute – Jodi Picoult

Nadat hy jare lank wreed verbaal en fisiek deur klasmaats geboelie is, knak die 17-jarige Peter Houghton een oggend. Binne slegs negentien minute sterf tien inwoners van die dorp Sterling in Amerika.

Die geskokte gemeenskap is vasberade dat geregtigheid moet geskied. Soos die hofsaak ontvou en Peter getuienis lewer, kom dit egter aan die lig dat die inwoners van Sterling ’n rol daarin gespeel het om ’n innemende, liefdevolle seun in ’n moordenaar te laat verander.

In ’n era waarin boeliegedrag toenemend ’n probleem is, hou hierdie meesleurende boek talle insigte in vir ouers, onderwysers en tieners.

Koop die boek

WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom! 
Klik hier.

The post Exclusive Books se Afrikaanse topverkopers vir Augustus 2020 appeared first on Afrikaans.com.

Die Vrystaat Kunstefees 2020/2021 –’n unieke aanlyn aanbod wat jy nie mag misloop nie.

$
0
0

“In die moeilike tyd, het die fees soos ’n feniks uit die as herrys, en die taak voor ons met durf en daad aangepak. Hulle verskaf aan kunstenaars hoop en bowenal die geleentheid om te werk. NATi is saam met die res van die land en ons kunstenaarsgemeenskappe opgewonde om te sien hoe die platform gaan werk. En daarom ondersteun ons graag die fees met hierdie unieke inisiatief. ” – Cornelia Faasen, Hoof- Uitvoerende Beampte: Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi)

Die Covid-19-pandemie het die wêreld op sy kop kom draai en daar moes vinnig aangepas en planne beraam word om te oorleef in hierdie uitdagende ekonomiese tye. Dit is veral ons kunstenaars wat swaar trek – nou meer as ooit. Die Vrystaat Kunstefees was voor in die koor om hierdie uitdagings aan te pak en beoog nou om die fees in Oktober deur middel van verskeie aanlyn inisiatiewe aan te bied. Soos wat die feesdirekteur, dr. Ricardo Peach, sê: “Ons het besluit om aan te gaan, want daar was baie projekte wat ons aanlyn kon doen. En ons wou geleenthede skep vir almal in die kunsbedryf. Almal moet tog eet!” Dit is vanjaar die fees se twintigste bestaansjaar.

“Hierdie inperkingsperiode het ’n uitstekende geleentheid gebied om beduidende aanlyn aanbiedings te ontwikkel wat in die toekoms jaarliks aangebied kan word, nie net aan plaaslike gehore nie, maar ook aan nasionale en internasionale gehore.”

Hoewel die volskaalse digitale fees eers in Oktober plaasvind, was daar reeds ’n lusmaker van wat aanlyn gehore te wagte kan wees. Die Snelstroomsluipkyk is vanaf Mei tot Julie 2020 aangebied en is saamgestel om die moontlikhede van aanlyn optredes en betaalpunte te ondersoek en ook te sien hoe mense reageer – “wat werk en wat nie werk nie – sodat ons die nodige aanpassings kon maak”. Gehore kan uitsien na musiek, komedie, drama, visuele kuns, dans, eksperimentele kuns, film en nog baie meer. “Alles is daar! Jy moet net jou eie mampoer byderhand hê en jou eie pannekoeke bak!”

Hoe ontvang feesgangers hierdie aanlyn aanbod? Ricardo vertel dat hulle nou so halfpad daar is. “Hoe meer mense begin verstaan hoe dit werk, hoe makliker gaan dit word. Party mense sukkel nog met die proses, maar ek dink veral as gesinne saam kyk en die meer tegniese mense in die gesin die ander help om die vertonings op die TV te stroom, hoe meer sal mense dit geniet.”

Hoogtepunte om na uit te sien: 

Sê feesdirekteur dr. Ricardo Peach: “Ons beplan groot! Marion Holmes en Dowwe Dolla, Ilne Fourie se die-skunnige-skinnery-van-Smitstraat-se-skinderaars-darem!, Anton Goosen en Zolani Mahola, ’n nuwe aanslag van DEURnis-digitaal en met die ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi), werke soos Die Besoek (Bartho Smit se vertaling van Friederich Dürrenmatt), Sonkykers met Gerben Kamper en Mount Maak se Amuse Bouche, is maar enkele voorbeelde van ’n lang lys hoogtepunte. “

Vryspraak Digitaal – Suid-Afrika se eerste aanlyn boekefees

Vryspraak Digitaal is ’n digitale uitbreiding van die Vrystaat Literatuurfees en sal Suid-Afrika se eerste aanlyn boekefees wees. Die program bestaan uit 45 aanbiedings, wat stelselmatig deur die loop van September bekendgestel sal word. Die program sal Maandag tot Vrydag aangebied word, met twee, en soms drie, aanbiedings per dag. Dit sluit in: boekbekendstellings, asook boek- en paneelgesprekke, digkunsaanbiedings, en kinderstorie-ure.

Volgens Corneli van den Berg, koördineerder van die Literatuurfees, is die program uiteenlopend en divers. Enkele hoogtepunte sluit in memoirs (Anton Goosen en Basetsana Kumalo), spanningsverhale (Irna van Zyl en Anel Heydenreich), kortverhale (Madré Marais en Jolyn Philips), bekroonde romanskrywers (Anchien Troskie, Christine Barkhuizen-le Roux, Francois Smith), niefiksie (Albert Blake, Heinz Modler, Ena Jansen, André le Roux), vertaling (Daniel Hugo en Kobus Geldenhuys), aktuele onderwerpe (Jana Marx, Susan Cilliers, Jan-Jan Joubert, Oscar van Heerden, Ivor Price), kinderstories (Antoinette Louw en Fanie Viljoen), digkuns (Jolyn Philips, Diana Ferrus, Mongane Serote, De Waal Venter, Petrovna Metelerkamp/Jeanne Goosen, Pieter Odendaal), asook verskeie internasionale skrywers (Mira Feticu, Jerzy Koch, Nachoem Wijnberg, Bart de Graaff).

Corneli sê voorts: “Ons is tans besig met voorafopnames van die verskeie aanbiedings. Hierdie opnames sal deur die loop van September op die kunstefees se webbladsy bekendgestel word. Om ‘n geleentheid te skep vir gehoordeelname beoog ons om ook Zoom-geleenthede te hê wat oop sal wees vir die publiek en wat lewendig na Facebook gestroom sal word.

Virtuele Vrystaat – Klank & Klassiek

September 2020

Die Virtuele Vrystaat Klank & Klassiek  is ’n nuwe inisiatief van die Vrystaat Kunstefees om klassieke musiek en klankkuns in die Vrystaat te bevorder en te vier. Dit bied ’n voorafbetaalde, aanlyn geleentheid en is ’n kombinasie van vooraf opgeneemde en regstreekse sessies. Dit behels interaktiewe  digitale foyers waar gehoorlede voor elke vertoning saam kan vergader, asook lewendige vraag-en-antwoord-sessies met die musici na elke uitvoering. Dit bied ook ’n platform vir plaaslike en nasionale kunstenaars asook werksgeleenthede vir kunstenaars en tegniese personeel.

Snelstroom

Oktober 2020

Snelstroom is gemaak vir almal en deur almal. Die program sal gevul word met bekende en nuwe gesigte. Gehore sal na regstreekse optredes kan kyk en wêreldwye samewerking sien, met kunstenaars wat iets nuuts skep vir almal om te geniet.

Daar sal ook geleentheid wees om kursusse by te woon en te gesels met mense wat jy nooit voorheen gedink het moontlik sal wees nie. Die program word ontwerp om alles so toeganklik as moontlik te maak, insluitend vernuftige lae-tegnologie platforms en nuwe webreekse, asook deelname van die

publiek in die skepping van nuwe werk. Byvoorbeeld: Skep kortfilms en wees deel van die fees se filmkomponent, of toets jou skryfvaardighede deur middel van toneelstukvoorlesings.

Crossings Aanlynlaboratorium

November 2020

Crossings bied die geleentheid vir jong kunstenaars om deur middel van die internet verbind te word

en om mekaar se ruimtes oor te steek en binne te gaan, met die doel om nuwe werke te skep. Jong

choreograwe, beligtingontwerpers en komponiste sal idees aanlyn deel met die doel om uiteindelik met die ondersteuning van ’n jong, kreatiewe fasiliteerder drie nuwe kontemporêre danswerke te skep.

Hoe werk die aanlyn proses?

’n Paar maklike stappe en jy kan solank jou stoel regskuif…

  1. Klik op die produksie wat jy wil sien.
  2. Registreer as jy nog nie het nie.
  3. Koop of “huur” ’n kaartjie met ’n kredietkaart of Paypal.
  4. Jy het 48 uur om die vertoning te kyk – waar en wanneer jy wil.

Om kaartjies te koop:

Gaan na South African Theatre on Demand se webtuiste vir Snelstroomsluipkyk. Klik hier.

OF

Gaan na die Vrystaat Kunstefees se webwerf. Klik hier.

The post Die Vrystaat Kunstefees 2020/2021 – ’n unieke aanlyn aanbod wat jy nie mag misloop nie. appeared first on Afrikaans.com.

Wie is die mens agter Sarie se Nuwe Gesig 2020?

$
0
0

Vir die eerste keer sedert SARIE se gewilde Voorbladgesigwedstryd tien jaar gelede begin het, het die tydskrif vanjaar ’n nuwe afdeling, SARIE Nuwe Gesig, geloods. Hierdie kompetisie het aan jong leerders tussen die ouderdom van 16 en 18 jaar die geleentheid gebied om moontlik weg te stap met die titel as die SARIE Nuwe Gesig-wenner van 2020, ’n jaar se tienervelsorgbehandelings van die Isa Carstens Akademie en ’n kontantprys van R10 000 van Afrikaans.com.

Die jong dames moes elk drie foto’s van hulself instuur en ook aktief aanlyn deelneem met die hutsmerk #Jyisgenoeg.

Jonadrie van Aardt is ’n paar dae gelede by haar skool, Hoërskool Jan van Riebeeck, deur die SARIE-redakteur, Michelle van Breda, met die nuus verras dat sy aangewys is as die heel eerste SARIE Nuwe Gesig-wenner. Vandag pronk sy op die voorblad van SARIE se kleiner “handsak”-weergawe – ’n droom wat sy nooit gedink het waar sou word nie.

Afrikaans.com het met Jonadrie gesels om uit te vind wat #Jyisgenoeg vir haar beteken, wat haar toekomsplanne is en hoe dit voel om jou gesig op een van die mees ikoniese tydskrifte in die land te sien.

Wat het deur jou kop gegaan toe jy hoor jy is SARIE se heel eerste Nuwe Gesig 2020?

Ek weet nie presies wat deur my kop gegaan het toe ek my naam hoor nie … my hartklop was veels te hard! Dit was ’n onwerklike gevoel, een van die bestes nog.

Die eerste ding waaraan ek kon dink, was hoe tevrede ek uiteindelik met myself was, hoe trots en sterk ek op daardie oomblik gevoel het. Dit het soos ’n feëverhaal gevoel, asof ek nou net die wêreld oorwin het!

SARIE se wekroep vir 2020 is #Jyisgenoeg. Hoekom dink jy is die boodskap van hierdie hutsmerk so belangrik?

#Jyisgenoeg – iets só na aan my hart en een van dié belangrikste hutsmerke nóg! Ek dink die samelewing stel ’n belaglike standaard van perfeksie waarna elke jong dame streef. Dis eintlik so hartseer, want ek was self al daar.

Ek het op die jong ouderdom van 14 die modelindustrie betree en daar was konstant vir my gesê dat ek dit nie gaan maak tensy ek my “beauty spot” bo my oog verwyder nie. Dit was ’n bitter groot hindernis vir my. Ek was skaam daaroor. “Jy is genoeg!”. Dis al wat ek altyd wou hoor. Maar ek was nooit, of nie volgens die wêreld of die industrie nie. Hierdie boodskap stem dus presies ooreen met dit wat ek aan dames wil oordra: JY, presies wie en hoe jy nou is – daardie onperfekte jy – DIT IS GENOEG!

Hoe voel dit om jou gesig op een van die bekendste tydskrifte in die land te sien?

Die tydskrif is op my 18de verjaarsdag vrygestel en dit was die beste geskenk waarvoor ek kon vra! Daar is geen woorde wat kan beskryf hoe lekker dit voel om myself daar te sien nie. Dit wys net dat jy regtig enigiets kan doen as jy jou hart daarin sit. En dit waardeur jy moet gaan om daar uit te kom, vorm deel van jou wonderlike storie. Dit is ’n bedekte seën.

Hoekom moet ander meisies inskryf vir die kompetisie?

Want daar is nie een rede hoekom hulle nie moet inskryf nie! Daar kan net goed daaruit kom. Die ervaring is iets besonders. Jy het niks om te verloor nie, maar jy ondergaan soveel selfontwikkeling en jy leer jouself regtig ken in die proses en besef dat jy eintlik só baie werd is in hierdie lewe. Dit is iets wat elke jong dame behoort te leer. Jy is beslis ’n voorblad werd!

Wat is die belangrikste ding wat jy tydens hierdie kompetisie geleer het? 

Ek het geleer dat ek genoeg is nes ek is, dat ek myself kan wees en dat ek soveel meer kan bereik deur net ék te wees. Jy het ’n krag in jou wat jou onstuitbaar maak. Jy moet dit altyd op die regte maniere gebruik. Wees net wie jy is.

Wat hou die toekoms vir jou in?

Ek is baie lief vir die skoonheidswêreld en ek geniet dit vreeslik om met mense te werk. My toekomsplanne is nog nie heeltemal uiteengesit nie, ek gaan volgende jaar gebruik om te werkskadu by plekke soos Isa Carstens om uit te vind watter planne ek werklik in ’n loopbaan wil verander. Ek sal graag my eie skoonheidsalon wil besit. Modelwerk sal ook altyd deel van my storie wees en wie weet, dalk skryf ek nog eendag vir Mej. SA in!

Jy is Afrikaans en gaan ook skool in Afrikaans. Wat is vir jou die lekkerste deel van Afrikaanswees en hoe leef jy dit elke dag uit?

Afrikaans is ’n bitter belangrike deel van my menswees. Dit vorm deel van wie ek is en ek is verskriklik trots op my taal! Die lekkerste deel van Afrikaanswees is om te weet ek is deel van ’n groter Afrikaner-familie, dat ek in my eie taal kan inspireer en ’n verskil maak deur net myself te wees en myself op die beste manier moontlik uit te druk – deur Afrikaans! Ek praat, lees, skryf en leef in Afrikaans. Dis net wie ek is.

Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord?

My gunsteling- Afrikaanse woord is beslis “skitter”. Ek voel die woord praat vir homself en in hierdie donker wêreld het elkeen van ons ons eie manier van skitter om die wêreld ’n beter plek te maak. Ek glo jy moet die bul aan die horings gryp, jou drome najaag en al die pad SKITTER!

Jonadrie

The post Wie is die mens agter Sarie se Nuwe Gesig 2020? appeared first on Afrikaans.com.


Deel jou vertalings met ons!

$
0
0

Het jy en jou gesin ook snaakse vertalings vir bekende Afrikaanse woorde? Professor Gerhard van Huyssteen, taalkundige aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en die oprigter van vloek.co.za het van sy gunsteling- direkte vertalings met ons gedeel. Sommige van hierdie woorde val onder die kategorie van skelwoorde en vorm dus deel van Gerhard se navorsingsprojek, Ek vloek (nie) in my taal (nie). Hierdie projek plaas die klem op Afrikaanse vloekwoorde ten einde ’n antwoord te bied op die vraag: Hoekom vloek mense? Lees meer oor die projek hier.

Het jy ’n interessante vertaling wat jy graag tot hierdie lys wil voeg? Stuur dit aan Afrikaans.com op WhatsApp na 064 652 6873.

Laai ook gerus die pdf-weergawe van die onderstaande woorde af.

Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel
Skel

The post Deel jou vertalings met ons! appeared first on Afrikaans.com.

Lente-reeks: Danie du Toit van Spoegwolf oor boeke, geld en mislukking

$
0
0

September. Dis die amptelike begin van lente en daarmee saam ’n gevoel van vernuwing en groei. Dit is om dié rede dat ons dit goedgedink het om in die komende maand met suksesvolle persone uit verskillende ruimtes van die lewe te gesels om meer te leer oor hoe hulle groei …

Die reeks is gebaseer op die Amerikaanse entrepreneur en skrywer Tim Ferriss se Tribe of Mentors-boek en skop af met Afrikaanse legende en Spoegwolf-voorsanger, Danie du Toit. Soos met die ander deelnemers, het ons ’n lys van 11 vrae aan Danie gestuur en hom genooi om 6 tot 8 daarvan te antwoord …

Hier is wat ons geleer het …

Watter aanvanklike mislukking of skynbare mislukking het later vir jou sukses ingehou? Het jy ’n “gunsteling”-mislukking?

Ek was op die finale kortlys om Oxford toe te gaan met die Rhodes-beurs. Daar was ’n ete vir die top 9 by Mandela se ou huis (hulle gebruik dit nou vir sulke goed). Die oomblik was vir my te groot en ek kon nie die knoop deurhaak nie. Ek het toe nie Oxford toe gegaan nie. ’n Paar maande later het ons ons liedjie Die Donker Toring bekendgestel. The rest is history! As ek die Rhodes-beurs ontvang het, sou ek hierdie jaar eers teruggekom het – met geen Spoegwolf nie. En dit sou verkeerd gewees het, want hierdie is die lewe wat ek oor en oor sou kies (ek was net bietjie mal toe ek gedink het ek wil oorsee gaan!). Iets wat dus skynbaar soos ’n mislukking lyk of voel, stel jou dalk op die presiese pad waar jy moet wees.

Wat is een van die beste beleggings wat jy al ooit gemaak het? Dit kan tyd, geld, energie, ens. wees?

Ek het dit nie self gemaak nie. Die kerk het vir my ’n tweedehandse Fender Stratocaster-kitaar gekoop toe ek 14 was. Ek het “Basjan” op dit geverf. Hy speel in elkeen van ons shows. Ek het selfs as jong student session-werk daarmee gedoen. Daai stukkie hout het my deur universiteit gesit. Hy word amper elke dag gebruik. Hy word rondgegooi, hy het al buite in die reën gelê vir ’n aand in Ceres. No problems – just service. Day in and day out – al van 2006.

’n Belegging in jou eie of iemand anders se talente en passies het altyd ’n goeie opbrengs – al is dit net in die vorm van daardie persoon se geluk.

Spoegwolf

Wat is ’n ongewone gewoonte wat jy het, of iets skynbaar absurd wat jy baie graag doen?

Ek bid konstant. Konstant! Selfs as ek sing.

Watter raad sal jy vir ’n jong, gedrewe persoon gee wat op die drumpel staan om die sogenaamde “regte wêreld” te betree? Watter raad moet hulle ignoreer?

Doen cool goed en glo in jouself! My raad vir ’n jong persoon wat hul lewe as volwassene begin sal wees om nie eerste te dink aan geldmaak nie. Die mense wat ek ken wat op die ou end baie geld gemaak het, het almal een ding in gemeen – hul het nie probeer om geld te maak nie. Blywende rykdom en blywende nalatenskappe kom van persone wat iets doen waarvan hulle hou. As jy in die oggend wakker word en nie opgewonde is om te gaan doen wat jy moet doen nie … en dit vir baie oggende so aanhou, verander dan wat jy doen. My wens vir elke persoon is dat hul soggens kan wakker word en voel dat wat hulle doen die wêreld op een of ander wyse ’n beter plek maak.

Wanneer jy oorweldig of ongefokus voel, wat doen jy om dit te oorkom?

Ek is baie gelukkig dat al die besighede waarby ek betrokke is, die restaurant, die uitgewersmaatskappy ensovoorts, alles in een blok in Stellenbosch is – toevallig ook naby die Eersterivier hier in Dorpstraat. Wanneer ek oorweldig voel, verwyder ek myself en stap af na die rivier toe. Ek gaan sit, drink ’n koffie en word rustig. Ek luister ook dan gereeld na Bob Dylan, Valiant Swart of Bruce Springsteen. Wanneer ’n mens sukkel om te fokus, help dit juis om ’n tree terug te neem. Vind ’n plek waar jy dit kan doen.

Wat is die slegste raad wat jy al ten opsigte van jou beroep/vakgebied gehoor het?

Baie mense het al vir my gesê dat daar nie ’n mark vir ons musiek is nie. Ons het vir 10 jaar aanhou speel sonder enige vergoeding – ons kon ook nooit by ’n platemaatskappy teken nie.  Maar ons het gehou by ons plan en dít wat ons geweet het. Daar gaan baie oppe en affe wees in ’n mens se beroep, ongeag wat jy doen. As jy egter oortuig is dat jy op die regte plek is, hou aan. Vir ons eerste album, het ons geld geleen. Die res is geskiedenis.

Wat is die boek (of boeke) wat jy graag en mees dikwels as geskenk gee en hoekom? Of, wat is die een tot drie boeke wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het en hoekom?

Ek is mal oor Harry Potter en For Esmé, with love and squalor. Ek het die Harry Potters gelees soos ek gegroei het, en Esmé toe ek begin krimp het. Harry Potter help jou om die wêreld te fight. Esmé help jou om die vernedering te hanteer.

Afrikaans.com doen gedurende September 2020 ’n reeks gebaseer op die entrepreneur en skrywer Tim Ferriss se Tribe of Mentors. In Tribe of Mentors, gesels Ferriss met invloedryke en suksesvolle persone uit verskillende omgewings om die publiek die geleentheid te bied om beter te verstaan hoe hierdie mense dink en leef. Ferriss gebruik 11 vrae wat hy aan hierdie persone stel. Vir hierdie reeks, wat weekliks gepubliseer gaan word, het ons dieselfde gedoen.

The post Lente-reeks: Danie du Toit van Spoegwolf oor boeke, geld en mislukking appeared first on Afrikaans.com.

Afrikaans.com gesels op Ivor en die Verskilmakers

$
0
0

Jy kan enigiets word in, met en deur Afrikaans. Ons projekbestuurder, Milanie Vosloo, het onlangs met Ivor Price op sy program, Ivor en die Verskilmakers, gesels oor ons Muurprojek wat poog om skoolleerders op te hef en te ondersteun in hul moedertaal … Kyk en glimlag saam.

The post Afrikaans.com gesels op Ivor en die Verskilmakers appeared first on Afrikaans.com.

Van (hoeka) toeka tot nou: Ons top-15 gunsteling- outydse Afrikaanse liedjies

$
0
0

Onthou jy nog die dae toe Sonja Herholdt se Ek verlang na jou oor die radio geblêr het as jy saam met jou gesin die ooppad aandurf? Of hoe Liefling deur die skares gedreun het as Derick Hougaard die knie buig vir die perfekte skop na die pale?

Ons mis dit ook! Daarom het ons besluit om die horlosie terug te draai en jou ’n blik te gee op van die gewildste Afrikaanse musiektreffers uit die verlede.

Vir hierdie week se #dinkterugdonderdag het die Afrikaans.com-span ons top-15 gunsteling- outydse Afrikaanse liedjies gelys. Kan jy raai wat is ons nommer 1? Kyk hieronder.

Ons wil graag hê jy moet saamgesels. Vertel ons wat is jou gunsteling- outydse Afrikaanse liedjie op Facebook.

15 Hoeka Toeka – Carike Keuzenkamp

14 Waterblommetjies – Sonja Herholdt

13 Ou ryperd – Chris Blignaut 

12 Ruiter van die windjie – Bles Bridges 

11 Lisa se Klavier – Koos Kombuis 

10 Haai Casanova – Glenys Lynne  

9 Kinders van die wind – Laurika Rauch

8 Vrot pampoen – Steve Hofmeyr

7 Jantjie – Sonja Herholdt 

6 Ek verlang na jou – Sonja Herholdt

5 Sproeitjies – Sias Reinecke (lid van Groep Twee)

4 Afrikaners is plesierig – ADE Gutsche / Con Lamprecht (soos gesing deur die Kampvuursangers)

3 Ek lewe – Anneli van Rooyen

2 Stuur groete aan Mannetjies Roux – Laurika Rauch 

1 Liefling – Gé Korsten 

The post Van (hoeka) toeka tot nou: Ons top-15 gunsteling- outydse Afrikaanse liedjies appeared first on Afrikaans.com.

Die toekoms van Afrikaanse media: ’n Donker prentjie?

$
0
0

“Here today, gone later today.” – Bun Booyens, voormalige redakteur van Die Burger

In 2011 praat Bun Booyens, destydse redakteur van Die Burger, oor die bedreiging van die gedrukte media – spesifiek koerante. Toe reeds het hy beweer dat die antwoord om oorlewing lê by die begrip van die markte. So noem hy destyds voorbeelde van hoe gedrukte media in simbiose met nuwe mediagenres saamleef. Byvoorbeeld, met die koms van televisie, druk tydskrifte en koerante TV-programme, vertel meer oor die programme en deel brokkies oor die filmsterre.

Dit is juis hierdie aanpasbaarheid van ons media wat ’n mens moed gee en laat besef dat die prentjie wat voorgehou word nie heeltemal so donker is nie – ongeag daarvan dat daar deur sommige doemprofete voorspel word dat sekere Afrikaanse koeranttitels binne die volgende twee jaar gaan toemaak, saamsmelt of suiwer digitaal word. As dit waar is, dui dit op ’n “dramatiese verskraling van die Afrikaanse koerantmark” en gaan daar oor twee jaar nie meer gedrukte Afrikaanse koerante oor wees nie. Hoekom is Afrikaans dan so kwesbaar?

Waldimar Pelser lewer in 2013 tydens die Afrikaanse Taalraad se simposium ’n bydrae oor Afrikaans en die media op pad na 2020. Toe reeds wys hy daarop dat meer mense nou Afrikaans praat as op enige stadium in die verlede en dat meer as die helfte van hulle bruin is. Hy noem ook die gewildheid van Afrikaanse musiek en CD-verkope, Afrikaanse feeste, Afrikaanse skole se prestasies, die Afrikaanse letterkunde, ens. “Daar is ’n ontploffing van Afrikaanse stemme in die media. Die meeste Afrikaanse koerante is markleiers, al is sirkulasie onder druk. “Ons doelwit is om die werklikheidservaring van veral Afrikaanse mense, maar nie nét Afrikaanse mense nie, sekuur te verwoord, en in Afrikaans te vermaak, te boei en ook vrae te vra.”

’n Mens kan maar net kyk na digitale platforms, die skerp groei in aanlyn gebruikers en watter webtuistes die beste vaar. Dit is duidelik: Solank Afrikaans gepraat word, gaan die taal voortbestaan en gaan daar ’n vraag na Afrikaanse media wees. Daar sal weliswaar aanpassings gemaak moet word om die mark te behou en te laat groei, maar dit is juis wat so opwindend is. Afrikaans.com het met ’n paar kenners in die media gesels en deel graag van hulle menings.

Afrikaanse media

Wat is die media en spesifiek die Afrikaanse media se grootste uitdaging om hulle voortbestaan en geloofwaardigheid te verseker?

“Afrikaanse publikasies sal lewenskragtig en volhoubaar bly met die steun van lesers en adverteerders. Uiteraard besef ons die verantwoordelikheid wat dit op ons as publikasies plaas om relevant en nuttig vir ons lesers te bly. Dit is ons erns en passie.” – Henriëtte Loubser, Netwerk24

Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, se  mening is dat in hierdie tye waar daar heelwat wantroue teenoor die hoofstroommedia en die gehalte van nuus is, die uitdaging vir koerante daarin lê om aan hulle lesers te bewys dat hulle gerespekteer word en “dat hulle versugtinge en aspirasies verstaan word”. Daar moet sorg gedra word hoe daar met die nuus omgegaan word en die inligting wat gedeel word. Kwessies wat vir die gemeenskap saak maak moet aandag geniet en dit moet met integriteit en waagmoed getakel word. Die gemeenskap wil deel voel van die leefwêreld waaroor berig word en “wil hulleself in die produk (koerant) herken”. Tog, sê  Waldimar is die uitdaging nie ’n tekort aan lesers nie, maar kommersieel, want waar adverteerders voorheen produksiekoste gedra het, het dit nou gedeeltelik verander. Hy noem dat daar in 2018 meer aan aanlyn reklame bestee is as op advertensies in koerante en op radio. Die probleem is egter dat die inkomste uit digitale advertensies landuit vloei. Dit stop die sakke van Google en Facebook, maar dra nie by tot die produksie van gedrukte media nie. Die gevolg is dat lesers die ekstra las moet dra. Tog blyk dit dat indien koerante relevant bly en nie skroom om met ’n “harde” stem die waarheid te praat nie,  lesers hulle sal aanhou steun.

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, sluit hierby aan en sê dat mense moet weet dat hulle jou sonder huiwering kan vertrou, anders gaan hulle hul lojaliteit êrens anders neem. Lesers wil weet jy verstaan hulle leefwêreld. Daarom moet media-instansies veerkragtig en aanpasbaar wees “om instinktief en deurlopend by die vinnig veranderende nuusomgewing aan te pas”. Daarsonder kan hulle nie oorleef nie.

Henriëtte Loubser, hoofredakteur by Netwerk24 is van mening dat goeie joernalistiek teen ’n prys kom. Daar moet wegbeweeg word van telefoon- en lessenaarjoernalistiek. Daarom is genoeg joernaliste nodig wat kan navorsing doen om “by die kruks van die saak uit te kom, wat kan uitgaan na nuustonele en wat die nodige ondersteuning, in die hoedanigheid van subredakteurs en hekwagters, in die nuuskantoor kry om die joernalistieke kuns te bemeester en so seker te maak die produk wat lesers bereik is geloofwaardig en van goeie gehalte”. Daarom is dit nodig dat die lesersgemeenskap bereid sal wees om vir inhoud te betaal, hetsy in gedrukte media of aanlyn. “Vir advertensie-inkomste moet ons teen internasionale reuse soos Facebook en Google meeding en dit boonop in ‘n klein Afrikaanse mark. As lesers ons ondersteun sal adverteerders eweneens besef dat Afrikaanse media ‘n belangrike plek is om hul teikenmark te bereik.” Aldus Loubser.

Wat maak Afrikaanse gedrukte koerante so kwesbaar?

Lees ’n mens tussen die lyne, lyk dit asof rand en sent hier die leiding neem. Henriëtte sê dan ook  dat Media24 se hooffokus gehalte joernalistiek is, maar soos reeds genoem, kos dit geld. “Ons werk voluit om ons koerante vir so lank as wat ons moontlik kan in gedrukte formaat te laat voortbestaan. Die toekoms hang natuurlik van baie faktore af, ook die eksterne ekonomiese omstandighede in die land en die wêreld.”

Sy sê verder dat die sluit van koerante of die verskuiwing na ’n suiwer digitale model die afgelope maande wêreldwyd plaasgevind het.  Net so is die Afrikaanse mark ook besig om digitaal te skuif en werk hulle onverpoos daaraan om ook Netwerk24 ’n volhoubare toekoms vir gehalte-joernalistiek in Afrikaans te skep.

Digitaal ons voorland? Maak ’n kopskuif.

“Joernalistiek is nie papier nie. Dit is navorsing, feite en sifting. Dis woorde wat vernuftig en akkuraat sin maak van die nuus. Dis joernaliste wat kan ontleed en konteks gee en omgee oor wat gebeur en namens lesers die vrae stel.” – Henriëtte Loubser, Netwerk24

Afrikaanse media

Daar sal aanpassings gemaak moet word om te verseker die mark hou aan groei, maar Henriëtte is van mening dat digitale media groot voordele kan inhou. Veral as ’n mens kyk na die onlangse verlede waar van die grootste korrupsie-blootleggings in Suid-Afrika en internasionaal aanlyn en met meer impak gebeur het. Die rede hiervoor was juis omdat dit aan “‘n groter digitale klok gehang is, teenoor die meer beperkte blootstelling in die suiwer gedrukte era”.

Sy sê ook: “Met die digitale omskakeling van Volksblad en Die Burger Oos-Kaap het ons juis daarop gekonsentreer om nie aan die verslaggewing en nuusaanbod uit daardie streke afbreuk te doen nie. Trouens, daar word elke dag baie meer berigte uit die streke aanlyn gedoen as waarvoor daar in die gedrukte koerant plek was. Die berigte word ook deur duisende meer mense gelees as wat die geval in die gedrukte era was – tot in Australië en Kanada en waar ook al Afrikaanse mense hulself bevind.”

Susan Lombard van Maroela Media sê dat ’n sterk handelsmerk baie belangrik is. “Ons filosofie met Maroela is dat ons handelsmerk ons lesers moet “vind”, ongeag die platform of medium waarop hulle is. Jou waardes is onlosmaaklik deel van jou handelsmerk, en daarom moet jou waardes saam met jou handelsmerk gereflekteer word in alles wat jy doen. Dit gaan oor hoe jy jou lesers antwoord; hoe jy kommentaar hanteer; hoe jy met hulle teruggesels as hulle met jou gesels op sosiale media; hoe joernaliste in ‘n aanlyn onderhoud met ‘n kunstenaar praat, in die manier hoe mens e-posse en telefoonoproepe hanteer.” Die lys is eindeloos. Volgens Susan gebruik hulle lesers ’n verskeidenheid van platforms om Maroela te volg, en al verskil die inhoud en formaat waarin dit aangebied word, ervaar die lesers die handelsmerk steeds dieselfde.  “En vind hulle jou daar, voel hulle dadelik tuis en veilig, want hulle weet wat hulle van jou kan verwag.”

Waldimar Pelser sê die digitale revolusie het nuwe gehore na vore gebring. Hy self lees nuus digitaal, maar ook in gedrukte formaat en volgens hom gaan dit goed met die Afrikaanse media in hulle pogings om die nuus aanlyn te vestig. Boonop gee digitale platforms geleentheid vir nuwe projekte en kort video’s waarin berigte verpak word. Dus is daar interaksie tussen die statiese produk en sosiale media.

Volgens Loubser is die digitale waarde-aanbod nie te betwis nie, maar die grootste struikelblok is dat lesers die tegnologie soms nog oorweldigend en vreemd ervaar. Dit is een van die uitdagings om die gebruik van hierdie platforms  so maklik en intuïtief moontlik vir mense te maak.

“Vir sommige is die bekoring van ‘n koerant dat dit ‘n begin en ‘n einde het. Ons probeer in daardie behoefte voorsien deurdat mense benewens al die brekende nuus heeldag lank op ons tuisblad steeds ook hul koerant aanlyn kan lees – hetsy in webformaat op die koerant se landingsblad, met al die stories in daardie dag se koerant onder mekaar, of as e-koerant met dieselfde uitleg as ‘n papierkoerant.”

Die statistiek vertel sy eie storie

Kyk ’n mens na die syfers en meningspeilings, lyk die prentjie beslis meer rooskleurig.

Volgens Loubser het Netwerk24 se intekenare oor die huidige boekjaar wat einde Maart geëindig het, met 32% gegroei en sê sy dat die koronavirus-pandemie verbruikers se digitale kopskuif nog verder versnel het. “Van begin Maart tot einde Junie het ons meer as 10 000 intekenare bygekry. Netwerk24 se intekenare staan dus nou op bykans 70 000 – die grootste inteken-nuusdiens in Afrika.”

Afrikaanse media

“In April het byna 2,5 miljoen unieke gebruikers ’n draai op die webwerf of app gemaak om berigte te lees of te kom kyk wat Netwerk24 alles bied.” Loubser is van mening dat weerstand teen digitale joernalistiek baie te make het met gewoontes en persepsies en dat baie lesers nou eers nuwe gewoontes sal moet kweek.

Pelser vertel dat Rapport se pdf-koerant al hoe groter aanhang geniet en dat die intekenare reeds op 70 000 staan. So ook is hul sirkulasiesyfers reeds weer amper waar dit was voor die aanvang van inperking.

In 2013 tydens ’n praatjie by die Afrikaanse Taalraad se simposium deel Waldimar die volgende “profetiese” inligting: “Die grootste mediawindkous vir Afrikaans in 2020 is egter aanlyn. Die internet lyk dalk van ver af Engels, maar as jy Afrikaans soek, gaan jy vind dat sowat 40% van webgebruikers in Suid-Afrika Afrikaans praat.” Destyds noem hy ook die sukses wat die tydskrif Huisgenoot op sosiale media geniet (toe reeds spog hulle met 220 000 volgers).

En die rol van gemeenskapsmedia?

Christo Theron, besturende redakteur van die Rustenburg Herald, vertel dat hulle situasie van die hoofstroommedia verskil, omdat hulle dalk minder blootgestel en beter geposisioneer is ten opsigte van die wispelturigheid van die mark en ander uitdagings. “Ek glo nog altyd die plaaslike koerant is die enigste werklike stem van die plaaslike gemeenskap.” Daarom is hy van mening dat die behoud van ’n gemeenskapskoerant sy “unieke aard, karakter en persoonlikheid” is.

Ook gemeenskapskoerante was die afgelope tyd genoodsaak om koerante aanlyn uit te gee. Hieroor sê Christo dat dit ’n verskynsel van sy tyd is en dat dit oor die langtermyn sal beteken dat dit waarskynlik meer nuwe lesers of dan volgers in die mark sal oplewer … en dit kan net positiewe gevolge inhou “Dit sal egter ’n tydjie neem, maar omdat die mens aanpasbaar is, sal die meeste mense vinnig aan die nuwe manier van doen gewoond raak.”

Die rol van televisie en die radio om Afrikaans te bevorder

Susan sê dat radio veral ‘n baie belangrike rol speel. Hoewel internetpenetrasie in die Afrikaanse mark reeds redelik hoog is, is baie Afrikaanssprekendes vanweë finansiële uitdagings nie in staat om data te gebruik vir aanlyn media nie, en baie mense is ook nie lief vir lees nie. Radio bly ‘n geselskapsmedium… oral byderhand en goedkoop om te gebruik. “Gemeenskapsradiostasies doen in hierdie verband ongelooflike werk, want hulle ken hulle gemeenskappe en bedien hulle. Ongelukkig kry gemeenskapsradiostasies finansieel tans baie swaar. Daar is min mediums wat ‘n Afrikaanse gemeenskap so goed kan bereik as radio. Daarvoor moet daar natuurlik goeie gehalte produksies in goeie Afrikaans op hierdie radiostasies wees.”

Televisie sien reeds ‘n baie sterk migrasie na digitale platforms. Susan se mening is dat die dae van lineêre TV waarskynlik amper op ‘n einde is. “Mense wil self kies wat hulle wanneer wil kyk, want dis deel van die verbruikerskultuur waarin ons tans is. Goeie gehalte Afrikaanse produksies in beeld wat vir kykers beskikbaar is om te kyk wanneer en waar hulle wil, gaan toenemend belangrik word.” Dit sluit aan by die punt dat ‘n handelsmerk teenwoordig moet wees op mediums en platforms waar die mark reeds is. “As daar goeie gehalte videoproduksies in Afrikaans beskikbaar is op ‘n platform, sal Afrikaanssprekendes dit vind, want hulle eerste keuse van media sal spontaan in hulle moedertaal bly indien dit beskikbaar is – maar ongelukkig sal hulle nie huiwer om ‘n ander taal te “verbruik” as daar nie sulke media in hulle eie taal beskikbaar is nie.”

Watter vaardighede het die hedendaagse joernalis nodig?

Lees, en as jy daarmee klaar is, lees nog … want dit is slegs as jy wyd en gereeld lees, dat jy beter sal skryf.” – Waldimar Pelser

’n Mens hoor dikwels dat die gehalte van nuusstories aanlyn en ook in die gedrukte media veel te wense oorlaat. Stories is eensydig, duidelik nie goed nagevors nie en die taalgebruik is vrot. Tog is daar joernaliste wat gehalte werk lewer en sê Waldimar dat daar baie goeie gehalte inhoud aanlyn en ook in gedrukte media beskikbaar is. So, wat maak van iemand ’n goeie joernalis?

Susan sê daar is twee belangrike dinge:

  • Eerstens, veelsydigheid. ’n Joernalis moet veelsydig wees en eienaarskap neem van sy hele storie. Deesdae het ’n joernalis nie meer ’n spesialisrol nie en moet hy verskillende tipes stories kan doen. Hulle moet ook kan video’s of foto’s neem, klankonderhoude doen, ens. en natuurlik kan skryf en dus ’n goeie taalvermoë hê. Dit is nou behalwe die tegniese kundigheid om self ’n storie te publiseer, op sosiale media te deel en dit dop te hou en te bestuur om te bepaal hoe lesers daaroor voel, watter wenke vir opvolgstories in die kommentaar gedeel word en so meer.
  • Tweedens, is daar ’n groot behoefte aan Afrikaanse, ondersoekende joernaliste. Volgens Susan is hierdie soort joernaliste wat diepgaande en politieke stories kan doen so skaars soos hoendertande en in groot aanvraag. Sy beveel dus aan dat joernalistiekstudente dit oorweeg om ’n addisionele vak soos politieke wetenskappe te neem en as student reeds geleenthede sal soek en aangryp om ondersoekende werk te doen – selfs sonder vergoeding, want dis ’n vaardigheid wat volgens Susan al meer in aanvraag gaan word, veral in Suid-Afrika.

Waldimar sê ’n joernalis is daar om agter die kap van die byl te kom – nie sy eie opinie te lug nie. Sosiale media is waar mense die nuus deesdae ontdek, maar dit is die joernalis se taak om die nuus behoorlik te verpak. En dit kom met ervaring en opleiding in die nuuskantoor – daar waar daar vangnette behoort te wees en die storie deur meer as een stel hande gaan om te verseker dat wat die leser uiteindelik op swart en wit sien, geloofwaardig en korrek is.

Henriëtte sê dat sy die grootste respek het vir die manier waarop joernaliste die eise wat nou aan hulle gestel word, hanteer. “Benewens die eienskappe wat nog altyd deel was van ‘n joernalis se mondering, soos belangstelling in die wyer wêreld en om deel van die groter dialoog te wees, moet jy nog meer as ooit aanpasbaar wees, in ‘n span kan saamwerk, bereid wees om heeltyd nuwe vaardighede te leer en jy moet vir seker veelsydig wees. Joernaliste wat die kern van ‘n saak vinnig kan snap en dit akkuraat en verstaanbaar kan weergee, floreer in ‘n aanlyn werksomgewing. Fisieke en geestelike stamina is ook van groot belang, want die druk is groot en die nuus waarmee jy werk dikwels boonop ontstellend. Jy moet jouself kan bestuur en meganismes hê om stres te hanteer.“

Christo Theron is van mening dat ’n joernalis wat sy sout werd is, ’n uitstekende kommunikeerder moet wees, intens belang moet stel in sy gemeenskap en ’n goeie verbeelding moet hê. Hy moet die vermoë het om die kernfeite vinnig uit ’n storie te haal en saam te vat. Daarbenewens moet hy vinnig en onder druk kan werk. En dan is ’n besondere taalvaardigheid natuurlik ’n plusplunt.

In vandag se era van fopnuus het dit nog belangriker geword dat joernaliste baie seker moet maak van hulle feite voordat hulle iets plaas – selfs al is die druk soveel groter en moet daardie storie binne 20 minute aanlyn wees. Daar is altyd nog tyd om 100% seker te maak. Trouens, jy is dit aan jou lesers verskuldig.

Afrikaanse nuus

Wat kan ons doen om oorlewing van die media in Afrikaans te verseker?

“Dit gaan eerstens oor mense, maar ook oor ’n taal. Elke bietjie Afrikaans wat verdwyn, of dit nou ’n verhoogstem of ’n gedrukte koerant is, is ’n stukkie verlies vir die taal.” – Tim du Plessis, hoof van aktualiteit, KykNET

Hier by Afrikaans.com is ons slagspreuk: “Koop dit. Lees dit. Praat dit. Leef dit.” En dit is presies wat ek en jy kan doen om seker te maak Afrikaanse media gedy. Koop koerante en tydskrifte – dit sluit aanlyn in. Ondersteun ons uitvoerende kunstenaars. Sonder hulle sal Afrikaans in die vermaaklikheidswêreld moeilik oorleef. Help waar jy kan. Ondersteun inisiatiewe soos NATi, die Tribuo-hulpfonds en ander om kunstenaars en verwante personeel in die verhoogbedryf by te staan.

“Al sterf koerante, sal nuus nie sterf nie, want uiteindelik is nuus vaardighede, nie papier nie. Dit gaan dus oor die diens wat gelewer word nieteenstaande die medium .. en is dit eerder ’n geval van meer keuses, maar nie noodwendig vervanging van een medium met ’n ander nie.” – Bun Booyens

Koerante het dalk nie meer die monopolie op nuus nie en kyk ’n mens deesdae op Twitter om te sien wat aangaan, tog doen die meeste joernaliste steeds wat hulle die beste doen, naamlik om konteks aan die nuus te verskaf.

Ons moet ook nie ons ouer garde te vlak kyk nie, veral as ’n mens agterkom dat jou tannie van 90 plus heel aktief op Facebook en WhatsApp is, nie bang is vir knoppies druk nie en selfs die nuus aanlyn lees!

Kom ons volstaan met die woorde van Waldimar Pelser tydens die ATR-simposium in 2013 en weergee in ’n artikel op LitNET:

“’n Bepaalde bevryding van stemme is moontlik gemaak deur die digitale revolusie.
Afrikaanse mense is digitaal geletterd en honger vir Afrikaanse inhoud. Ons vernaamste uitdaging is egter om met gesag te kan praat oor wat om en in ons gebeur, in Afrikaans. Om nie op te hou praat in Afrikaans oor ideale nie, en nie net Afrikaanses se ideale nie, maar ook anderstaliges s’n, want Afrikaans het nog nooit gefloreer in kunsmatig Afrikaanse omgewings nie. Dit is ’n taal van hier.”

The post Die toekoms van Afrikaanse media: ’n Donker prentjie? appeared first on Afrikaans.com.

Viewing all 1120 articles
Browse latest View live