2 – 4 Oktober 2020
The post Rocking the Daisies, Darling appeared first on Afrikaans.com.
2 – 4 Oktober 2020
The post Rocking the Daisies, Darling appeared first on Afrikaans.com.
5 September 2020
The post Proe’toria – PRETORIA PROE mos lekker! appeared first on Afrikaans.com.
“Elke sekonde van my lewe is die Krag by my. En as ek sterf, sal ek net dieper daarin glip”
– Elsa Joubert in Spertyd
Die Afrikaanse letterkunde is armer na die dood van die skrywer Elsa Joubert op Sondag, 14 Junie 2020. Sy was 97 jaar oud. Joubert was sedert 1998 na die dood van haar man, Klaas Steytler, ’n inwoner van die Berghof-aftreeoord in Kaapstad.
Elsa Joubert het veral bekendheid verwerf met haar novelle, Die swerfjare van Poppie Nongena. Die boek is uiteindelik in 13 tale vertaal, is vir die verhoog verwerk en in 2019 ook as ’n film vrygestel. Plaaslik is die boek bekroon met die WA Hofmeyr-, CNA- en Louis Luyt-prys. Poppie haal ook die lys van die 100 beste boeke van die vorige eeu in Afrika. Die British Royal Society of Literature het haar vereer met die Winifred Holtby-prys en in 1981 is sy aangewys as ’n “Fellow of the Society”. Joubert se 12 letterkundige pryse sluit ook die gesogte Hertzogprys in 1998 in vir haar boek, Die reise van Isobelle. Talle ander toekennings, twee eredoktorsgrade en die Orde van Ikhamanga in silwer, is ’n verdere bewys van die belangrike bydrae wat Elsa Joubert tot die Afrikaanse letterkunde gelewer het.
Een van die hooftemas van Joubert se werk, is haar “liefdesverhouding met Afrika” – ’n onderwerp van talle van haar romans en “bron van haar politieke oortuigings”. Sy het op ’n keer gesê dat sy deur haar skryfwerk gepoog het om Afrika aan haar lesers bekend te stel en hulle bewus te maak van die res van Afrika. “Dit was vir my belangrik dat ons mense die boeke van Afrika moes lees. Daar is geen toekoms as ons nie ander mense ken nie. Om ander te sien soos hul hulself sien, dis belangrik.”
Joubert se passie vir Afrikaans is welbekend en in ’n berig in Die Burger op 10 Mei 2001, sê sy:
“… Afrikaans is met my wese verweef … Afrikaans is my avontuur en my vennoot. Sonder Afrikaans is ek stom.”
Elsa Joubert se dood laat ’n leemte in Afrikaans wat moeilik, indien ooit, op so ’n besonderse wyse gevul sal word. Sy laat haar seun, Nico en dogters Elsabé en Henriëtte agter.
Afrikaans.com spreek ons innige medelye met die familie uit.
Lees meer
Oor die skrywer en haar oeuvre, Klik hier.
The post Elsa Joubert se aardse reis afgesluit appeared first on Afrikaans.com.
Die gewilde Sonja & Tjokker wat reeds jare lank voorskoolse en juniorfase-leerders met hulle vertonings vermaak, het nou ’n stappie verder gegaan en kort storievideo’s vervaardig wat op Sonja en Tjokker se kanaal afgelaai kan word.
Die stories is beskikbaar in Afrikaans en/of Engels en behandel onder andere onderwerpe uit die leerareas van die vak Lewensvaardigheid, soos in die KABV-kurrikulum (CAPS) uiteengesit.
“Ons poog om vermaak en leer te integreer, gebaseer op ’n Christen-etiek. Die stories is kort (tussen 4 en 7 minute lank) om maksimale impak by die teikengroep te verseker. Die leertemas vorm ’n breë agtergrond vir ons onderwerpe en ons hoop dat dit ondersteunend in ’n leeromgewing of by die ouerhuis gebruik kan word.”
Meer oor Sonja en Tjokker
Die gewilde en geliefde sangeres Sonja Herholdt het in 2012 haar eerste volwaardige kinderalbum “Sonja en Tjokker sing kinderliedjies” opgeneem. Met die opname van meestal nuwe storieliedjies, het Sonja gevoel die produksie kort ’n karakter wat kan help om die stories te vertel. Dit is waar Tjokker, haar beste hondjie-pêl, gebore is. Sedertdien vermaak die twee gereeld die junior fase met instapbesoeke aan skole en kleuterskole. Die besoeke sluit ’n groot dosis pret, vermaak en humor, maar ook leer in.
Sonja vertel dat hulle dagboek met die uitbreek van Covid-19 skielik baie bleek geraak het. “Ons het beplan dat ons in die toekoms Sonja & Tjokker verder op ’n visuele medium wil uitbrei en Covid-19 het daardie proses net baie versnel omdat daar eintlik geen ander keuse is nie. “Dit is moeilik om so ’n produksie tydens inperking te konseptualiseer en tuis met beperkte hulpbronne te verfilm. Daar was aanvanklik ook nie eens hardewarewinkels oop nie. Maar dit was vir ons belangrik om net ’n begin te maak en soos wat die projek moontlik sukses behaal, dit te verbeter.”
Sonja sê dit bly ’n leerkurwe, aangesien hulle op hierdie stadium alles self behartig – tot by die finale video’tjie.
Hoe moet jy maak om die stories af te laai?
WatchaTV is ’n plaaslike stroomplatform en kan op die internet gekry word by www.watchatv.co.za. Deur hulle ”menu”-skakel te volg, kan jy navigeer na Sonja en Tjokker se kanaal. Daar word beplan om weekliks ’n nuwe video by te voeg en teen slegs R10 per video is dit beslis ’n belegging in ons jonger kinders se toekoms! Hou Sonja en Tjokker se kanaal op WatchaTV weekliks dop vir nog prettige, maar leersame video’s.
Laai gerus hierdie twee gratis video’s as voorsmakie af. Afrikaans.com weet sommer die jongspan gaan dit baie geniet.
Wat is ’n virus? Sonja en Tjokker vertel jou meer.
My masker. Leer hoekom dit nou belangrik is om ’n masker te dra wanneer ons winkel of skool toe gaan.
The post Sonja & Tjokker: Aflaaibare storievideo’s nou beskikbaar by WatchaTV appeared first on Afrikaans.com.
Die winter is hier … maar musiek in Afrikaans bly witwarm! Afrikaans.com het met JOOX Musiek gaan gesels oor die 40 grootste liedjies in Afrikaans hierdie winter … Kyk na die lysie en vertel ons wat is jou gunsteling! Jy kan ook hier klik om die speellys op Joox oop te maak.
1 Ruk die dam – Juanita du Plessis
2 Lewe soos ‘n laanie – Biggy, GBOY
3 Lekkerder op my trekker – Brendan Peyper
4 There was Jesus – Demi Lee Moore, Riaan Benade
5 Hemelse Seën – Andriette
6 Nonna – Appel
7 Wit skoene – Loufi, Jayms
8 Boom boom waatlemoen – Synth Peter, Leila
9 Boerepompie – Ricus Nel, Snotkop
10 Party tyd – Kurt Darren
11 Yum yum – Juanita du Plessis
12 Sterk soos ‘n leeu – Brendan Peyper
13 ‘n Liefde soos die – Willem Botha, Tarryn Lamb
14 Pens en pootjies – Snotkop
15 Maak dit lops – Juanita du Plessis
16 Ewigheid – Riana Nel
17 Stiltes – Karlien van Jaarsveld
18 Woorde uit jou mond – Elandré Schwartz
19 Hugo bel die polisie – Jak de Priester
20 Donker nag – Karen Zoid
21 Hou die hemel oop – Riana Nel
22 Gedislokeerde hart – John James
23 Goochy rokkie (maak ’n ding lekker) – Dirk van der Westhuizen
24 Ek weet al lankal – Bobby van Jaarsveld, Demi Lee Moore
25 Dames – Biggy
26 Langpad alleen pad – Elvis Blue, Snotkop
27 Was – Bok van Blerk
28 As ek kon – Francois van Coke
29 Ek is broke – Loufi
30 Ons maak saak – Christia Visser, Brendan Peyper, Elandré Schwartz, Refentse
31 Die heelal– Janie Bay, Early B
32 Klein Saterdag – Kurt Darren
33 Jy stel my teleur – Die Heuwels Fantasties
34 Vier seisoene kind – Tasche, Francois van Coke
35 Kyk na My – Leah
36 Een shot – Willem Botha
37 Vergeet om my te vergeet – Soné
38 Vuur op die water – Elandré
39 Ek skyn (heilig) – Tasché
40 Elektrisiteit – Dewald Wasserfall
JOOX Musiek is die Afrikaanse afdeling van die musiekplatform, JOOX! Al die nuutste plaaslike en internasionale musiek – alles in een app! Luister na al jou gunstelingmusiek. Skep en deel jou eie musiekspeellyste. Luister na al jou musiek aflyn en spaar jou data met JOOX VIP. Sing karaoke en deel jou liedjies.
Laai die app af:
The post Die 40 warmste liedjies hierdie winter! appeared first on Afrikaans.com.
Afrikaans.com het onlangs die geleentheid gehad om met Chareldine van der Merwe en Mandie Ehlers van die Vriende van Afrikaans (VVA) te gesels oor hulle “nuwe” virtuele reis en die opwinding wat daarmee gepaardgaan. Chareldine van der Merwe is sedert 2018 die projekbestuurder by Vriende van Afrikaans, ‘n divisie van die ATKV. Mandie Ehlers is werksaam as projekorganiseerder by die taal-en-kultuurafdeling van die ATKV.
Afrikaans.com se René Arendse in gesprek met Mandie Ehlers en Chareldine van der Merwe van die Vriende van Afrikaans.
“Binne elke krisis is daar ‘n geleentheid en dit is presies wat Die Vriende van Afrikaans aangegryp het.”
So begin die eerste virtuele “Ommietafelgesprek” saam met Afrikaans.com se gemeenskapkoördineerder, René Arendse.
Chareldine – Om te begin met bietjie agtergrond. Die VVA het in 1994 in Stellenbosch ontstaan waar ons ander andere verskeie projekte aanbied. Ons fokus is hoofsaaklik die waarde en belangrikheid van lees en voorlees. Sedert Oktober 2014, is ons ‘n divisie van die ATKV waarvoor ons baie dankbaar is. Met die inperking, moes ons gaan stilsit en dink hoe ons gaan maak om steeds aan te hou met ons projekte. Ons moet nou, meer as ooit, ouers en onderwysers help. Ons het toe besluit op ‘n paar projekte wat ons digitaal gaan aanbied sodat ons steeds mense kan help. Byvoorbeeld, hierdie “Ommietafelgesprek” gaan ‘n reeks gesprekke wees wat digitaal sal plaasvind. Ons gesels later oor die res van ons projekte. Maar ons gaan voort en mense moet hulle oë en ore oophou vir dit wat kom!
Die VVA gedurende ‘n geleentheid voor Covid-19.
Chareldine – Dit was definitief ‘n uitdaging, want mense word nou skielik oorval met baie inligting. Ons moes dus mooi dink oor wat mense se aandag sal trek. Een aspek wat ons baie belangrik ag, is die voorlees van boeke en ons het begin met die inisiatief “Kwarantyn-storietyd” waar ons weekliks met die toestemming van die skrywer en uitgewers stories voorlees, sodat ons steeds op ‘n manier by kinders kan uitkom wat nie toegang tot boeke het nie. Die ander uitdaging is natuurlik dat baie kinders nie data het nie. Maar enige iemand kan dit aflaai en dis nie nodig vir ‘n klomp selfone nie. Een persoon kan toegang hê. Terselfdertyd, word ouers gehelp en word hulle gewys hoe dit gedoen word en wat jy as ouer by die huis self kan doen. Nou is dit ook ‘n ander tannie en ander stem waarna die kind kan luister, wat ook lekker is.
Mandie – Dis besonders toeganklik! Dis veral nou makliker om toegang te kry tot die virtuele wêreld. Ons inhoud word beskikbaar gestel op Facebook en YouTube en ek dink nie daar is ‘n kind wat nie weet hoe dit werk nie. Wat ons werk spesiaal maak, is dat ons juis uitreik na mense wat nie altyd toegang het om ons hulpbronne te gebruik nie. Nou word dit meer toeganklik, want ons kan met mense praat vanaf Limpopo en Nelspruit, en selfs tot in die kleinste dorpies. Hulle kan inskakel, saam gesels en saam luister. Mense kan uitsien na meer kwarantynstories, leeskonferensies, doen-en-leer-wenke oor hoe ouers hulle kinders kan help in hierdie tyd en leerondersteuning. Binnekort kom lekker blokkies- en woordraaisels. Dis besonders opwindend, want daar is geen perke daaraan verbonde nie. Dit maak nie saak hoe ver jy is, of waar jy woon nie. Jy kan nou van ons hulpbronne gebruik maak en ons kan jou help!
Navorsing in 2018 toon dat net 14% van Suid-Afrikaners aktief lees en 58% van huishoudings het nie ‘n enkele boek nie. Ons wil probeer om die hele land se kinders aan die lees te kry. ‘n Kind wat nie met begrip kan lees nie, kan nie optimaal leer nie.
Ons het aanvanklik begin om stories voor te lees vir die kinders by verkillende kleuterskole in die Stellenbosch-omgewing. Ons fokus het begin by kleuterskole omdat die kind die meeste en vinnigste leer tussen die ouderdom van 0 en 6 jaar. As daar nie genoeg stimulasie en ontwikkeling plaasvind in daardie tyd nie sal die kind met leeruitdagings sit. Ons het vinnig agtergekom dat daar nie genoeg boeke is nie. As kinders nie toegang tot lekker leesboeke het om hulle lief en lus te maak vir lees nie, sal jy nie ‘n leeskultuur by so ‘n kind, in die omgewing, by die huis of in jou klas kan skep nie. Ons het dus gekyk na verdienstelike, geregistreerde kleuterskole om hierdie boektrommels te ontvang. Elke trommel bevat ongeveer 90 – 110 geskikte leesboeke. Dit is belangrik om te noem dat hierdie nie net ‘n boekskenking is nie. Ons het gou agtergekom dat nie almal opgelei is nie en so het ons voorleeswerskwinkels ontstaan. Uit die voorleeswerkwinkels het ons leeskonferensies, wat deur kundiges aangebied word, ontstaan om onderwysers met die leesuitdagings van kinders te help.
Dan is daar die leesondersteuning wat ons met ons Doen-en-Leer-projek bied waar ons mense help en oplei om kinders wat ‘n agterstand het, te leer lees. Die resultate van hierdie projek is fantasties! Kinders behaal onmiddellike sukses wat help met ‘n kind se selfvertroue, want ‘n kind wat nie kan lees nie se selfvertroue ontbreek.
Die ATKV vier hulle 90ste bestaansjaar vanjaar.
Met die 90ste bestaansjaar fokus ons juis om die liefde vir lees te bevorder. Ons motiveer kinders om te lees en veral ouers en onderwysers om boeke te koop. Met veral die Kwarantyn- storietyd en deur Doen-en-Leer te bemark en ouers aan te moedig om kinders te help met leesprobleme, verrig die ATKV wondere. Ons het ook boekklubs dwarsdeur die land wat mense aanmoedig om te lees en saam met die VVA projekte aan te bied.
Mandie, jy is binnekort ‘n mamma.
Dis so belangrik om reeds terwyl ons swanger is, vir ons babatjies te lees. Nie net leer hulle jou stem of stemtoon ken nie, maar dis ‘n ongelooflike band wat vorm tussen ma en baba. Ek laat selfs my man ook vir haar lees tydens die swangerskap. Ons gaan dit definitief voortsit wanneer sy hier is. Ek het reeds boekies vir haar en sy het haar eie boekrakkie in haar babakamer. Al kan sy dit nie verstaan nie, sal lees definiteif deel van ons daaglikse roetine wees. Dis so belangrik… al lees jy elke dag net vyf minute lank!
Chareldine, jy is baie passievol oor die werk wat jy doen.
As jy kan lees, kan jy enigiets doen! Ek dink lees is die grootste geskenk wat ouers vir ‘n kind kan gee. Dit help kinders om te droom, gee vaardighede, kreatiewe denke, doeltreffende kommunikasie, want iemand wat nie kan lees nie het eenvoudig nie die woordeskat om hom-/haarself uit te druk nie. My persoonlike motto is dat lees soos enige sportsoort is. Jy moet oefen om ‘n goeie sportman of -vrou te word. Net so moet jy oefen om ‘n goeie leser te word.
Vriende van Afrikaans is deel van die ATKV. Lees meer hier
Vriende van Afrikaans het talle projekte. Lees meer hier
Volg hulle op Facebook
The post Die Vriende van Afrikaans verwelkom ‘n nuwe virtuele reis! appeared first on Afrikaans.com.
Soms maak die werklikheid vir beter stories as selfs daardie verhale wat uit die beste fiksieskrywers se pen kan kom … Niefiksie laat ons ook toe om verskeie geskiedkundige gebeure beter te verstaan, eerstehands te leer uit ander se lewenservaring en deur ander se avonture na plekke, andersins onbekend aan ons, te reis. Ons Lapa Uitgewers-boekrak bevat vandeesmaand niefiksie boeke om oor huis toe te skryf. Laai die eerste hoofstuk gratis af om self te besluit watter een jou volgende kopie gaan wees!
Jana Marx
’n Blik op die binnekring van die Krugersdorp-kultus. Elf wrede moorde oor ’n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landwyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg. Die moordenaars is slim, gewone mense – ’n onderwyseres, ’n finansiële makelaar, ’n kind wat tussen die moorde deur steeds ses onderskeidings in matriek behaal en boonop keuring kry om medies te gaan studeer. Hul slagoffers het bloot ’n sake- afspraak nagekom, min wetend dat dít ’n afspraak met die dood was. Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het Satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank? Jana Marx beantwoord dié en ander vrae in ’n waremisdaad-verhaal wat gelei het tot een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Met behulp van onderhoude uit diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar poog Marx om die publiek se vrae te antwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus.
Susan Cilliers
Huis van gruwels is die skokverhaal van die sogenaamde “Springs-monster” wat op die wreedste manier denkbaar alles van sy gesin weggeneem het, maar ook ’n storie van hoop oor hoe ’n dapper jong vrou uiteindelik geluk en genesing vind. Landi is die oudste van vyf kinders wat uit die sogenaamde Springs-gruwelhuis gered is. Sy is nou 21 jaar oud en vertel vir die eerste keer haar verstommende verhaal. In Mei 2014 het die polisie dié huis ontdek waar ’n sadistiese pa sy vrou en vyf kinders vir jare tussen vullis en rotte aangehou, getreiter en gemartel het. In ysingwekkende besonderhede onthou Landi hoe hul pa hulle aangerand, met ’n skokstok geskok, met ’n gaspistool geskiet en met ’n blaasvlam gebrand het, hoe hy martelmetodes nagevors en hulle byna in ’n bad verdrink het. Sy vertel hierdie herinneringe aan Susan Cilliers, ’n ervare joernalis, wat dit met deernis weergee en dit vernuftig met die feite van die polisie-ondersoek en die hofsaak verweef.
Marita van der Vyver
Op reis saam met Marita van der Vyver, van Pretoria tot Provence! Retoer: Pretoria – Provence is ’n bundel van dié bekroonde en immergewilde skrywer se beste rubrieke, sketse en essays wat nog nie voorheen in bundelformaat uitgegee is nie. Dit sluit in ’n rubriek oor seksuele teistering waarvoor sy in 2018 met ’n ATKV-Mediaveertjie vereer is. Dié “meisie van die suburbs”, soos sy haarself beskryf, neem die leser op reis deur haar lewe en wêreld: Van haar jeugherinneringe – haar oumas, haar eerste juffrou en die kind wat sy was – tot haar dae op Stellenbosch, Pretoria en natuurlik die Franse platteland. Sy raak nostalgies oor ’n tiekieboks, die karre van haar kleintyd (’n bruin Opel en ’n geel kewer), en laat die leser tegelyk skater en verlang. Met haar kenmerkende humor, deernis en eerlikheid skryf sy oor die ouderdom, tienerstreke, Calvinisme, David Bowie, vegetariërs en die verskriklike vrees vir “verdagte knoppies”. Haar woordkuns neem die leser van die alledaagse na die eksotiese, van die skreeusnaakse na die hartverskeurende, van die lyflike na die geestelike. ’n Tema wat soos ’n paar voetspore deur Retoer loop, is dié van reis: Die reis na heerlike, onbekende plekke en die meer onstuimige, dikwels vreesaanjaende reis na die self. Retoer sal jou hardop laat lag en trane in jou oë laat opwel terwyl dit jou boei, ontroer en op ’n sielsreis neem.
Saamgestel deur Lizz Meiring
‘n Versameling woorde oor die verleidelikste ding op aarde: Sjokolade
Die mensdom se emosionele verhouding met sjokolade is legendaries. Van suikersoet tot bittersoet, van donker tot melk – dié lekkerny bied ons oor al die eeue heen troos, terapie, hedonisme en loutere plesier. Sjokolade was nog altyd ‘n simbool van belofte, versugting, verlange en sensualiteit.
In Soete sonde ondersoek bekende skrywers en nuwe stemme die tekstuur van sjokolade in al sy heerlike vorme – van lewensredder tot moordwapen. Daar’s komedie, satire, sensasie, tragedie, die absurde en fantasie. Sommige stories daag jou uit, ander verskuif grense en baie laat jou tot in jou kiewe lekkerkry.
Die samesteller van die bundel is Lizz Meiring: aktrise, vervaardiger, skrywer en selferkende plesiervraat, hedonis en sjokolis. Van die bydraers tot hierdie bundel sluit in: Jak de Priester, Johann Smith, Gielie Hoffmann, Henque Heymans, Lizette Murray, ens.
Ander kategorieë wat op ons boekrak wag, sluit in fiksie vir tieners, stories vir kinders, ernstiger werk vir volwassenes en niefiksie … Wat gaan op volgende maand se boekrak wees? Hou Afrikaans.com dop en vind uit!
The post Niefiksie op ons Lapa-boekrak! appeared first on Afrikaans.com.
“Vyfjariges wat leer lees, was 30 jaar gelede ongehoord. Kinders moes toe speel, klim, klouter, verf en teken. Soos wat Finse kinders vandag steeds doen.” – Christien Neser in Help! My kind is anders
In Suid-Afrika begin die leesproses reeds in graad R. Maar sit dit nie onnodige druk op ons kinders nie? As hulle so jonk moet begin met formele leer, steel ons nie van hulle speeltyd nie? Speel maak juis deel uit van ’n kind se ontwikkeling. Die skrywer en spraakterapeut, Christien Neser, skryf in haar boek, Help! My kind is anders, dat kinders in Finland eers op sewe jaar aan formele lees blootgestel word. En tog word Finland se opvoedingstelsel as een van die beste ter wêreld beskou. Is ons hier in Suid-Afrika en ook ander lande dan op ’n dwaalspoor? Afrikaans.com het by Christien gaan kers opsteek.
CN: In die woorde van ’n Finse kleuterskoolhoof, Tiina Marjoniemi: “Ons (die Finse skoolsisteem) glo dat kinders onder sewe nog nie skoolgereed is nie. Hulle het tyd nodig om te speel en om fisiek aktief te wees. Dis ’n tyd vir kreatiwiteit.” Die eerste sewe jaar van ’n kind se lewe is die laaste kans wat hulle kry om vry te speel en om hul kreatiwiteit spontaan te laat ontwikkel. In Brittanje begin formele lees reeds op vier. In Finland eers op sewe. En tog lyk dit nie of die Finse kinders enigsins daardeur teruggehou word nie. Inteendeel, met die 2016 PIRLS-studie, waarin die graad 4’s van 50 lande vir geletterdheid getoets is, het Finland in die top 5 presteer, saam met lande soos Ierland en Rusland. Die Britte was in 8e posisie, wat aandui dat die drie jaar wat hulle vroeër met formele onderrig begin, nie ‘n beduidende verskil maak nie. Suid-Afrika was ongelukkig heel laaste.
CN: Dit is ’n vraag wat ’n hele dik boek as antwoord verg. Maar kortliks: Kinders leer deur te beweeg. Die WGO (Wêreld- Gesondheidsorganisasie) se riglyne sê dat kinders onder vyf nie langer as ’n uur per dag in ’n stoeltjie moet wees nie, nie meer as 60 minute skermtyd moet hê nie en vir ten minste 180 minute aktiewe beweging en spel moet hê in ’n 24 uur periode. Daarvan moet ten minste 60 minute kardiovaskulêre oefening wees, dus hardloop, spring en buitespel. Slaaptyd moet ten minste 8 – 10 uur per 24 uur beloop. Arbeidsterapeute en fisio’s kan nie genoeg predik dat kinders moet speel nie. Buitespel leer hulle waag. Vaardighede soos balans, koördinasie, beplanning, probleemoplossing, groot- en fyn-motoriese ontwikkeling, asook sensoriese ontwikkeling vind so speel-speel plaas. Eers as hulle kernspiere (core muscle) en hul balans en propriosepsie voldoende ontwikkel het, kan ons verwag dat hulle by ‘n tafeltjie moet sit en met papier en pen aktiwiteite moet slaag. As ‘n kind nog nie gereed is vir die formele leerproses nie, dus nog nie genoeg gespeel het nie, lei dit dikwels tot angs. Hierdie outjies kry die goed nie reg soos hul maatjies nie. Hulle kan nie so mooi verf of so lank stilsit nie. En skielik is die leerproses in sy peetjie in. Want ‘n angstige kind se brein word oorspoel met adrenalien, wat weer die amigdala stimuleer (die oerbrein) en dadelik ’n veg- of vlugreaksie aan die gang sit. Die angstige outjie kan veg (opstandige gedrag, weiering, woedebuie) of vlug (onttrekking, huil, skaamte), maar van formele leer gaan daar nie veel kom nie. Te veel kinders wat té vroeg formeel begin leer, word gespanne onderpresteerders, wat dikwels eers in hul tienerjare die gaping oorbrug.
CN: Gestruktureerde spel is dit wat deur ’n volwassene gelei word. Daar is apparaat en daar is voorskrifte. Reëls moet gevolg word sodat ’n doel bereik kan word. Dit kan aktiwiteite wees soos ’n legkaart wat saam gebou word, ’n model wat saam aanmekaar gesit word, ’n hindernisbaan of selfs ’n sportsoort, soos sokker of netbal. Spesifieke vaardighede word so gebou.
Ongestruktureerde spel is sonder ’n spesifieke doel en is suiwer kreatief en vir die lekkerte. Dink aan boomklim, fietsry, popspeel, karretjies, huis-huis. Dit stimuleer kreatiewe denke, om ‘buite die boks’ te dink.
By ’n goeie kleuterskool sorg die program dat kinders aan beide soorte spel blootgestel word.
CN: Met die WGO se riglyn van slegs 1 uur per dag skermtyd vir voorskoolse kinders, sal meeste ouers sukkel. Skermtyd sluit ma se slimfoon, die televisie, die rekenaar en rekenaarspeletjies in. Oor naweke kan ouers die reëls aanpas, veral as hulle saam met die kinders ’n lekker fliek of interessante programme op TV wil kyk. Om saam met ’n kind TV te kyk, het groot waarde. Mens kan dan nog dae ná die tyd oor die storie gesels. Dis hoe woordeskat en logiese redenasie gebou word. Morele waardes word ook gebou as mens saam gesels oor die reg en die verkeerd in die storie.
Wat van rekenaarspeletjies/ Xbox? Ouers moet saamspeel. Dit gee hulle ’n kykie in hul kind se geheime speletjie-wêreld. En ’n dom ma of pa moet mooi verduidelik word hoe dinge werk: dis uitstekend vir ’n kind se taalontwikkeling om die reëls aan hulle te verduidelik.
As skermtyd ingeperk word, moet ouers regstaan met iets om daardie gaping te vul. Saam lees, saam buite speel, saam bak en brou, legkaart bou of kaart speel is alles heerlik en opvoedkundig, al kos dit ’n ouer se duurste kommoditeit. Tyd.
Maak ’n gelukkige kind groot
Moedig jou kinders aan om buite te speel. Klouter, swaai, met ’n bal speel, modderkoekies bak, trouens enige iets wat die kind se verbeelding vrye teuels gee, is goed vir jou kind se ontwikkeling. Speel bied kinders die geleentheid om hulle omgewing en die wêreld op ’n kreatiewe manier te verken. Terselfdertyd ontwikkel aktiewe spel gesonde en aktiewe liggame en leer kinders vaardighede aan wat bydra tot hulle selfvertroue.
Christien Neser is ’n spraakterapeut en skrywer van Johannesburg. Nagraadse kwalifikasies sluit ’n Honneurs in Frans en ’n MA in Toegepaste Linguistiek in. Sy skryf veral jeugverhale, soos die Elle-reeks vir LAPA (11 titels). Sy het ’n besondere belangstelling in outisme. Amper Einstein (2013) en Absoluut Einstein (2020) (NB) is jeugverhale met outisme as tema.
Pienk is nie vir sissies nie (2018) is ook deur NB uitgegee. In April 2020 verskyn die niefiksie boek, Help! My kind is anders (LAPA). Dit is ’n gids vir ouers oor die waarde van terapie en vroeë ingryping by kinders met ontwikkelingsagterstande en talle ander kwessies. Gehoorverlies, spraakontwikkeling, lees, ADHD, outisme en angs is enkele van die kwessies wat deur kundiges bespreek word.
“Die boek is geïnspireer deur die kinders wat vir ’n korter of langer tydperk deel van my lewe was of steeds is. Met die boek probeer ek hulde bring aan die briljante en toegewyde kollegas wie se pad myne met die jare gekruis het. Dit is ook opgedra aan elke onderwyser wat met toewyding deel is van kinders se wenverhale.” – Christien Neser
Met die lees van die boek, is wat my eerste opgeval het, die lekker skryfstyl. Hier is uiteindelik ’n praktiese gids, in geselstrant, maar kundig geskryf sodat ouers en ook onderwysers antwoorde op hulle vrae kan kry. Die boek is in drie dele opgedeel en bespreek verskillende Wat as …?-vrae wat dan met behulp van kundiges beantwoord word. Daar is ook 11 persoonlike verhale van “hoop, bemoediging en dapperheid” – persoonlike ervarings waaruit ander ouers kan leer om sodoende hulle moontlike bekommernisse oor hul eie kinders te besweer. Die boek gee wenke oor wat ouers kan doen om hierdie “anderster” kinders te help en ook wie hulle kan raadpleeg om hulle by te staan. Onderwysers met “anderster” kinders in die klas kan ook baie leer uit die boek sodat hulle ingelig kan wees en die kinders daadwerklik kan help. Vroeë intervensie is baie belangrik en ’n ingeligte onderwyser, veral op preprimêre vlak, kan ’n baie belangrike rol hierin speel. Trouens, onderwysers kan ’n groot verskil aan ’n kind se lewe maak. Soms verg dit net ’n paar aanpassings in die klas. Ook terapeute kan uit die boek leer. “Dis in die kind se belang dat ons (terapeute) met mekaar skakel en mekaar se kennis deel. ’n Multidissiplinêre benadering is altyd die eerste prys.”
Christien skryf:
“Niks is onmoontlik waar liefde en onvoorwaardelike aanvaarding is nie.” En lees ’n mens die spesiale verhale oor hierdie superspesiale kinders, besef ’n mens net weer dat toewyding en kennis, maar veral liefde en begrip, die wenresep is om “die ster in jou anderster kind te ontdek”.
Afrikaans.com beveel die boek sterk aan.
Genre: Niefiksie
Uitgewer: Lapa Uitgewers
ISBN
9780799396300
Die boek is ook as e-boek beskikbaar. Klik hier.
Klik hier vir ’n uittreksel uit die boek.
Kyk ook:
Groot Ontbyt-onderhoud met Christien Neser oor haar boek, Help! My kind is anders. Klik hier.
Groot Ontbyt-onderhoud met Timothy Hamman en hoe hy met sy “andersheid” saamleef. Timothy se verhaal (hy het ernstige verworwe bilaterale gehoorverlies) word in Christien Neser se boek, Help! My kind is anders, vertel. Klik hier.
The post Speel jou kind genoeg? appeared first on Afrikaans.com.
“Skares sal moet luister, dit is my song,” vertel Jodi Jantjies met die bekendstelling van haar eerste enkelsnit.
Die ATKV het op Jeugdag 2020 met trots Jodi Jantjies se eerste enkelsnit bekendgestel.
Hierdie eerste enkelsnit van die jong Kapenaar het sy geskryf tydens Crescendo se finale slypskool. Die liedjie, “Dis my song”, vertel van Jodi se ontwaking en bewuswording dat haar spraakgebrek nie haar menswees of waarde bepaal nie.
Danie du Toit van Spoegwolf sê dat Jodi sy lewe verander het. “Sy is ’n stem wat my verander het, my geroer het tot in my diepste. Dis ’n stem wat mense wakker maak. Sy is die rede hoekom ek teruggekom het na die ATKV toe, want ek het hier baie meer geleer as wat ek ooit vir mense sou kon leer.”
Hierdie is die volvoering van ’n vier jaar lange pad wat ATKV-Crescendo met Jodi stap sedert haar eerste oudisie in Maart 2016 as 15-jarige by die Cedar Sekondêre Skool in Mitchells Plein.
Gedurende die laaste vier jaar het Jodi ’n verskeidenheid werkswinkels, ’n mentorprogram en ’n finale slypskool bygewoon. Sy het ook die geleentheid gehad om op verhoë by die KKNK, Suidoosterfees, Gariepfees en Aardklop op te tree.
Die bekende sangeres Anna Davel het die volgende oor Jodi gesê: “ATKV-Crescendo is ’n plek waar mense hulle drome kan verwesenlik en Jodi is een van die beste voorbeelde van iemand wat ’n droom het … sy’t net ’n sleuteltjie nodig gehad. Ietsie en iemand wat in haar glo en vir haar ’n fondasie skep waarvandaan sy kan wegspring. Die talent was reeds daar. Die passie was reeds daar. En hier is die ongelooflike stem en liedjieskrywer en ek kan nie wag om te sien wat sy in die toekoms gaan regkry nie.”
Tydens die #OnseFees in 2019 het sy die Rieldansfinaal geopen met die sing van die volkslied. Jodi het hierdie geleentheid gedeel met medefinaliste van ATKV-Crescendo, sowel as groot name soos HemelBesem, Anna Davel, Deon Meiring, Danie du Toit en Die Hooflig.
Jodi het ook as mentor tydens ATKV-Crescendo se mentorprogramme opgetree. Met lirieke soos “skares sal moet luister, dit is my song” sê sy dat sy steeds deur haar musiek kan praat.
Iets wat ’n mens dadelik opval tydens onderhoude met Jodi, is haar selfvertroue en nederigheid. Dit is voorwaar indrukwekkend en inspirerend.
Deur die bekendstelling van hierdie liedjie, wil die ATKV ’n boodskap van hoop aan jongmense uitdra. “Ons wil vir jóú sê hier is ’n tuiste vir jou by die ATKV. Kom laat ons jou drome vlerke gee.”
Volgens Gerrie Lemmer: uitvoerende hoof: kultuur by ATKV, gebruik Jodi haar sangtalent nie net om te vermaak nie, maar om haar boodskap wat ’n reuse-impak op hom gehad het, oor te dra.
“Jodi het deur haar sangtalent ontpop in ’n ambassadeur, kampvegter, rolmodel en inspirasie vir baie jongmense wat nie die vrymoedigheid het om hul stem te laat hoor nie. Mag Jodi nog baie mense raak met haar stories en unieke klanke!”
Oor die bekendstelling van die liedjie en haar reis saam met ATKV-Crescendo, sê Jodi: “Die journey saam met ATKV-Crescendo het my lewe radikaal verander. Die mense wat betrokke is, is só amazing en hulle hart is soos wat ek nooit vantevore ervaar het nie.
“Dit maak die proses van die opneem van my liedjie so maklik. Om heeltyd met daai tipe positivity omring te wees is asemrowend. Ek is baie excited om my song daar buite te sit sodat mense kan ervaar wat ek ervaar, en dat mense waarlik kan sien dat ongeag jou
tekortkominge, you can do anything you set your mind to.”
Die enkelsnit word deur ESL vervaardig en is die eerste van twee enkelsnitte wat saam met musiekvideo’s bekendgestel sal word. Jodi se album sal later in 2020 beskikbaar wees.
Die akoestiese weergawe van “Dis my song” wat Jodi saam met Danie du Toit van Spoegwolf opgeneem het, sal in Junie gevolg word deur ’n amptelike musiekvideo en die enkelsnit wat digitaal afgelaai kan word. Die tweede enkelsnit is ’n lied wat Jodi geskryf het
en waarin Die Hooflig saam met haar optree.
Ons het met Danie du Toit van Spoegwolf, Robin Fourie van Die Hoofligen Jodi Jantjies gesels oor hierdie ongelooflike projek.
Kyk ook:
Jodi Jantjies tydens ATKV-Crescendo se finale slypskool. Klik hier.
The post ’n Droom verwesenlik. Jodi Jantjies stel haar eerste enkelsnit bekend appeared first on Afrikaans.com.
Die sanger, Brendan Peyper, is lief vir die Bosveld … Ons het hom by Dinokeng Wildsreservaat ontmoet om uit te vind hoe sy lewe sedert die Covid-19-pandemie verander het. Hy gesels ook oor sy verhouding met sy ouers … en ons toets sy Afrikaanse taalvernuf!
Stop wag bly nog ‘n bietjie
Sterk soos ‘n Leeu
Twee Is Beter as Een
The post Kunstenaarsfokus: Brendan Peyper appeared first on Afrikaans.com.
Wat is die grootste les wat jy al ooit geleer het? Watter boeke het jou lewe verander? Wat hoop jy om eendag as ouer aan jou kind oor te dra? Met sosiale media, is ons vandag nader as ooit aan ‘n magdom mense – jou buurman en jou gunstelingbekende is almal net ’n soekfunksie weg. Tog loop media en menslikheid nie altyd parallel nie … want, tussen die hoogtepunte wat gedeel word, lê daar ‘n 1000 ander ervaringe.
In ons nuwe podsendingreeks, wat deur die geliefde akteur, aanbieder en entrepreneur, Edwin van der Walt, aangebied gaan word, bied ons ‘n blik op bekendes en ander invloedryke persone soos nog nooit tevore nie … Edwin span sy liefde vir mense, passie vir leer en die geleentheid om deur sy beroep allerlei interessante mense vriende te kan noem, in om vrae te vra wat saak maak.
‘’Daar het iets in my lewe gebeur wat my heeltemal geshake het. Ek het besef: Edwin, jy is toe nie sogoedas wat jy gedink het nie! Ek het gewerk aan al hierdie karakters, maar nie aan myself nie. Ek moes gaan ondersoek instel en ‘n paar dinge op die harde manier leer. Daarna was ek baie gesteld om nie net uit my eie lewe te leer nie, maar ook by ander. Ek wil en wou dit ook graag met die groter publiek deel – daar het my paadjie met potgooie begin.’’
Op sy persoonlike platform, Rock What You Got, het hy bekendes soos Bibi Slippers, Beer Adriaanse, Neels van Jaarsveld, Jamie Marais, Cobus van den Berg en Bennie Fourie openlik gevra nie net oor hul sukses nie, maar ook hul wonde, moeilike seisoene, belangrike lesse … selfs hul daaglikse roetines! En nou is Edwin terug om ‘n splinternuwe, eerlike en op die man af potgooi aan te bied … die keer eksklusief op Afrikaans.com!
Voor Edwin ons egter oor die komende maande gaan bekendstel aan geliefde Suid-Afrikaanse gesigte soos jy hul nog nooit vantevore ervaar het nie, het ons dit goedgedink om hom eers beter te leer ken … Wat het hy tydens sy jaar uit van sosiale media geleer? Wat het hom gelei om die opwindende nuwe platform, NovieGuide, op die been te bring? Hoe voel hy oor Covid-19? Wat is onder sy gunstelingboeke? En, wat het Elton Jantjies en gladdejantjies in gemeen? Luister die gesprek en vind uit!
Edwin van der Walt is ‘n akteur, aanbieder en entrepreneur. Sedert hy vir die eerste keer gehore se harte in 2014 in die romantiese komedie, Hollywood in my Huis, gesteel het, het ‘n rits loktreffers gevolg. In films soos Jagveld, Wonderlus, Ballade vir ‘n Enkeling en Die Pro het hy sy diversiteit as kunstenaar ten toon gestel en die respek van die industrie sowel as aanhangers gewen. Dit is egter die man agter die karakters, Edwin self, wat deesdae groot golwe maak. Onder sy vriende, en nog meer onder die publiek, word hy geken as ‘n persoon wat verbetering van self en van ander voorop stel. Die eerste episode van sy Afrikaans.com-potgooireeks sal in Julie beskikbaar wees.
The post Eksklusief: Edwin van der Walt eersdaags aanbieder van ons nuwe potgooi-reeks! appeared first on Afrikaans.com.
“Die heel belangrikste ding is natuurlik dat families die navraag vir Afrikaans moet handhaaf deur Afrikaans aan hulle kinders oor te dra en te sorg dat hulle by Afrikaanse skole uitkom. Daarsonder sal Afrikaans nie staande bly nie. ” – Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof, Afrikaanse Taalraad
Sedert 2016 en na ’n hofbevel in 2019 deur die hooggeregshof in Pretoria, is Afrikaans uitgesluit as onderrigtaal aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en is Engels as primêre onderrigtaal gebruik. Talle studente en voornemende studente is hierdeur geraak en was verplig om ander keuses uit te voer.
Buiten Unisa was daar die afgelope paar jaar drie ander hofuitsprake teen die verengelsing van voorheen Afrikaanstalige universiteite, naamlik die Universiteit Stellenbosch, Universiteit van Pretoria en Universiteit van die Vrystaat. Daar is telkens ten gunste van verengelsing beslis. Daarom is dié jongste hofuitspraak ’n ligpunt vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal.
“Die ontwikkeling van enige ander inheemse taal bevorder meertaligheid en daarmee die saak vir Afrikaans.”
Die hooggeregshofuitspraak in 2019 is sterk teengestaan en die burgerregtegroep AfriForum het Unisa die stryd aangesê. Op Dinsdag, 30 Junie 2020, het die appèlhof in Bloemfontein die omstrede taalbeleid wat Afrikaans die afgelope vier jaar reeds as onderrigtaal by Unisa uitsluit, tersyde gestel. Appèlregter Mandisa Maya, president van die appèlhof, het die taalbeleid as ongrondwetlik en onregmatig verklaar. Sy het onder andere beveel dat voornemende studente wat nou wil studeer ook die keuse moet hê om die vakke wat sedert 2016 nie meer in Afrikaans aangebied is nie, op eerstejaarsvlak en in Afrikaans te ontvang. Huidige studente wat tot dusver genoodsaak is om enige van hierdie modules in Engels te volg, moet nou die keuse hê om die modules in Afrikaans te voltooi. Die regter het ook Unisa se argument dat dit onprakties is om Afrikaans vir ’n minderheid studente aan te bied, verwerp.
Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum het gesê dat die Grondwet voorsiening maak vir onderrig in Afrikaans en dat daar nou vir die eerste keer wel ’n lig in die tonnel is. “Dit is ’n oorwinning vir die beginsel van taalregte en ’n baie belangrike uitspraak vir Afrikaans.”
Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR) het aan Afrikaans.com gesê dat hy AfriForum gelukwens hiervoor en dat die uitspraak ’n groot oorwinning vir Afrikaans is “omdat die hof na ’n reeks terugslae vir Afrikaans, uiteindelik die regte van Afrikaanssprekende studente bevestig”.
Hoe Unisa op die uitspraak gaan reageer en of die saak uiteindelik na die Konstitusionele Hof verwys sal word, bly uiteraard ’n ope vraag en Steenkamp sê dat dit ’n vraag vir die regskundiges is om oor te besin. Steenkamp sê wel dat die Afrikaanse Taalraad as ’n organisasie “beter gerat is om kwessies onderliggend aan die saak te takel, naamlik die persepsies en vooroordele jeens Afrikaans wat in die eerste plek tot die uitskakeling van die taal by Unisa gelei het. In die langtermyn, hang die behoud van Afrikaans by Unisa en enige ander instelling daarvan af of mens ook die oortuigingsaak kan wen.”
Ervaring het natuurlik geleer dat dit nie so ’n maklike taak is nie. Steenkamp voel egter dat dit “die enigste pad vorentoe is indien mens Afrikaans as onderrigtaal en vak by openbare instellings wil behou. Om hierdie rede skakel die Taalraad al ’n geruime tyd reeds met rolspelers wat meertaligheid en die ander inheemse tale van die land bevorder, onder andere ook by universiteite. Die behoud van Afrikaans vereis vennootskappe met ander tale.”
“Wys dat daar aanvraag vir Afrikaans is en ondersteun daarmee die implementering van die Taalbeleid vir Hoër Onderwys. Bou alliansies met medestudente wat ander tale praat. Probeer om saam iets vir almal te kry.”
Afrikaans.com sal die saak vorentoe dophou en lesers op die hoogte hou indien die saak na die Konstitusionele Hof verwys word.
The post Unisa se taalbeleid ongrondwetlik. So sê die appèlhof. appeared first on Afrikaans.com.
Daar is niks soos ’n lekker boek voor ’n kaggelvuur om jou warm te hou hierdie winter nie. Met NB-Uitgewers se boekekeur van die maand, kan jy in Julie uitsien na leesvermaak uit die pen van sommige van die land se beste Afrikaanse skrywers. Laai ook gerus ’n gratis uittreksel uit elke boek af en word deel van Afrikaans.com se leesgemeenskap.
1
Anschien Troskie
ISBN:9780798180856
Uitgewer: Human & Rousseau
Ester Labuschagne en Nonthando Majolo het saam grootgeword op ‘n afgeleë plaas in die Oos-Kaap. Boesemvriendinne gewees – tot een dag van verraad. Nou, soveel jare later, met Nonthando se dogter, Mila, self al ‘n volwasse vrou, kom spook die verlede by Ester. Met dié nuwe roman vestig Troskie haar opnuut as meevoerende skrywer. Dit is ’n storie wat geen leser onaangeraak sal laat nie. Troskie skryf met groot vertedering, maar ook met humor. Somtotaal is ’n hoogtepunt in haar skrywersloopbaan.
2
Jan Spies
ISBN: 9780624089513
Uitgewer: Tafelberg
Daar is min mense wat ’n storie soos Jan Spies kan vertel. Die antie met die pienk rok en ander stories is ’n keur uit sy humoristiese vertellings in Pilatus tot molshoop, Poort deur die koue, Profeet met kondensmelk en Pille vir servette. Maak opnuut kennis met onvergeetlike karakters soos Maans Maanse, sersant Jônie Louw en pater Hoeflies wat ietsie neem vir die koue in ’n poort naby Kenhardt, Orrelkosie wat ’n halwe dag neem om te verduidelik hoe om ’n pil in ’n hoender se keel af te kry, Hábakuk en sy blik kondensmelk en die leerlingverpleegstertjie wat ’n plan bedink om die oumense se valstande skoon te maak.
3
ISBN: 9780796322005
Uitgewer: Lux Verbi
Larissa gaan Nederland toe om verder te studeer. Dan hoor sy die jong Chandré, wie se aanrandingsaak sy vantevore behartig het, is vermoor. Larissa weet wie die skuldige is en sal nie rus voor hy aan die pen ry nie. Sy keer terug na Suid-Afrika. By haar vriendin, Reina, en dié se man Derek, word sy met Gideon gekonfronteer. Gideon wat deur nagmerries geteister word. Sal Larissa en Gideon saam vreugde kan vind? Nog ’n lekkerleesroman uit die pen van ATKV-Woordveertjiewenner, Elsa Winckler.
4
Engela Ovies
ISBN: 9780798180795
Uitgewer: Human & Rousseau
Dis die jaar 1955 en Suzanna Jansen woon saam met haar pa, ma en broer, Gert, in ’n riethuisie op ’n plaas naby Kakamas. Dis die Kersvakansie voor Sanna se laaste skooljaar en deesdae kry sy vlinders in haar maag elke keer as sy die buurseun, Johannes, in een van die veekampe raakloop. En dan is daar Inge wat soos die slapende skoonheid gevangene is in die Groothuis.
Engela Ovies se debuutroman, Draairivier, is ’n deernisvolle verhaal oor familie, vriendskap, liefde en vergifnis.
5
Dalene Matthee
ISBN: 9780624043669
Uitgewer: Tafelberg
Karoliena Kapp is ’n alleenkind. Haar pa is vroeg-vroeg deur ’n weerligstraal doodgeslaan en sy het die bos aanvaar as haar oermoeder. Nog voordat sy twintig is, trou sy met Johannes en moet sy haar plek as dorpsvrou volstaan. Maar Karoliena gebruik die eerste kans om weg te loop. Die dag ná die troue weet sy: Sy het verkeerd gekies. Sy het van die bos af weggevlug en haar vryheid verruil vir ’n kou. Nou is sy bang, en sy vat die pad terug.
6
ISBN: 9780798178082
Uitgewer: Human & Rousseau
Die nuwe Afrikaanse prosaboek is ’n viering van verskeidenheid. Dit bied ’n verruimende, vars blik op die Afrikaanse kortverhaal met sowel klassieke verhale deur welbekende skrywers asook voorheen ongepubliseerde verhale deur nuwe stemme. Met Rabie-verhale as invalshoek is hierdie ’n bloemlesing van eggo’s, spore en teenspraak in die werk van die wyd uiteenlopende skrywers wat hom opgevolg het.
7
Madré Marais
ISBN: 9780798180887
Uitgewer: Human & Rousseau
‘n Verrassende kortverhaaldebuut deur ‘n jong skrywer van Bloemfontein. Marais is goed geskool in die klassieke Afrikaanse kortverhaal, maar bied vernuwing op vele vlakke. Elke verhaal bevat iets ongewoons, nie net wat betref taal en register nie, maar veral t.o.v. karakter en perspektief. Hoogtepunte sluit in “Brandoffer” (briewe aan ‘n ma), “Sinker” (oor ‘n seun wat op die rand van ‘n damwal huiwer) en “Driehonderd-vyf-en-sestig en ‘n kwart”.
8
Zirk van den Berg
ISBN: 9780795708558
Uitgewer: Kwela
As lykbesorger het Seb al talle lyke gebalsem, organe teruggepak in lyfholtes, beendere aanmekaargelas en doodsbleek gesigte gegrimeer vir roubeklaers om te besigtig. Wat help dit om te wens vir ‘n ingryping wat hom sal losruk uit sy saai bestaan? Maar, toe die sterwende seuntjie Gawie en sy ma by die begrafnisondernemers instap, kry Seb tog rede om in wense te glo … En kom voor ’n dilemma te staan: Waarvoor wens jy as jy één wens het wat waar gaan word?
9
Helena Hugo
ISBN: 9780624087991
Uitgewer: Tafelberg
Liefde met gevoel
Laerskoolonderwyser Magriet sit in ’n penarie. Sy’t gedink Walter is die een, maar o wee! Ná ’n seevakansie by sy ouerhuis, waar daar van haar verwag is om heeldag en aldag vis te vang, vis te bewerk, vis te eet, is dit duidelik dat hulle nie vir mekaar bedoel is nie. Dis ook nie net oor die vis nie – maar hoe raak sy van hom ontslae?
Veldpad van verlange
Paulie Hopkins het twee probleme: haar doktorsgraad wat sy moet afhandel en haar verloofde, dokter Lüther Meyerhoff. Van hierdie twee ag sy eersgenoemde verreweg die belangrikste, want daar lê vir haar drie weke se veldwerk op ’n plaas in die Vrystaat voor. Lüther gaan saam, al is hy nie juis ’n buitelugman nie, maar gelukkig is haar assistent die bekwame Andreas Bergh.
10
Wilna Adriaanse
ISBN: 9780624088752
Uitgewer: Tafelberg
Georgina Walters besluit om die kinderoppasser vir drie kinders te wees in ’n Ongewone belegging. Die kinders se pa dink sy is nie opgewasse vir haar taak nie. Francis Malan se verbintenis met die enigmatiese joernalis Michael Alheit is veronderstel om slegs platonies van aard te wees in Alleenvlug. Dr. Josslyn Neethling sien vroualleen om na ’n sendinghospitaal in Die reuk van verlange. Dan daag haar eerste liefde, dr. Adam Berkowitz, daar op.
The post NB-Uitgewers se boekekeur vir Julie appeared first on Afrikaans.com.
Jy wil jou kinders tuisskool en het reeds jou navorsing gedoen, maar hoe weet jy watter program is die beste vir jou doeleindes en spesifiek jou kind se behoeftes. Hierdie keuse gaan berus op watter onderrigstyl die beste by jou kind pas, of jy self as fasiliteerder wil optree of nie, en natuurlik jou beursie. In ’n vorige artikel het Afrikaans.com die voor- en nadele van tuisskoling uitgelig en ook die vyf hoofstrome ten opsigte van die keuse hoe jy tuisskoling behoort te benader, genoem. In dié artikel poog ons om riglyne te gee oor hoe ouers te werk moet gaan om die beste keuse vir hulle en hul kinders te maak en lys ons verskillende opsies waaruit jy kan kies. Die lys is nie volledig nie, maar uit ons navorsing is dit die programme wat meestal in Suid-Afrika gebruik word.
Tegniese matriek is bekostigbaar omdat dit stuk-stuk afgehandel kan word. Hierdie roete word blykbaar nie baie deur tuisskolers benut nie, maar ’n instansie soos Sol-Tech kan beslis raad gee.
https://pestalozzi.org/af/wie-is-ons/
https://www.facebook.com/tuisonderwys/
https://www.facebook.com/groups/homeschoolinginSA/
https://www.facebook.com/groups/741229909592361/
https://www.sahomeschoolers.org/
Aanlyn kurrikulumverskaffers
Die Wolkskool – https://wolkskool.co.za/
Brainline – https://brainline.com/
Impaq – https://www.impaq.co.za/
Nukleusonderwys – https://www.nukleusonderwys.co.za/
Curro Online – https://www.curro.co.za/western-cape/curro-online-homeschooling/
Clonard Distance Education – https://www.clonard.co.za/
Mytopdog – https://www.mytopdog.co.za/vodacom
Think Digital College – https://www.thinkdigitalcollege.co.za/
Cambrilearn – https://www.cambrilearn.com/
Sol-Tech – Tegniese matriek – https://sol-tech.co.za/
Ntek Kollege – Tegniese afstandsonderrig – https://www.ntek.co.za/
The post Tuisskool: Kies ek aanlyn of tuisonderrig? appeared first on Afrikaans.com.
In 2014 het Rolene Strauss se lewe onherroeplik op die Mejuffrou Wêreld-verhoog verander. Met die afsluiting van dié kompetisie, was dit duidelik dat veel meer as skoonheid binne haar borrel. Nou, ses jaar later, as mamma, besigheidsvrou, spreker en skrywer, is Rolene meer as ooit die baken van hoop wat sy as 21-jarige beloof het om te word – ’n rolmodel – maar tog ook so heeltemal menslik. Ons het met haar gesels oor haar nuutste projekte, ouerskap en Covid-19. Lees en kuier saam!
“As ’n mens helderheid wil hê oor wat jy wil doen, moet ’n mens ook helderheid hê oor wie jy is – en vir my is Afrikaans ’n baie groot deel daarvan… My vermoë om ’n goeie ma te wees, is ook soveel meer as ek dit in my moedertaal doen.” – Rolene Strauss, voormalige Mej. Wêreld
Rolene by die bekendstelling van haar Christelike dagboek, Vanuit die Hart.
Baie keer as ek praat oor my eie worsteling met selfvertroue wil niemand my glo nie… Ek dink dis ’n bewys dat ’n mens nie selfvertroue van buite af kan kry nie, maar dat selfvertroue van binne kom. Dit wat jy het, hoe mense jou sien of hoe jy lyk, gaan dus nie vir jou selfvertroue gee nie. Ek het altyd gedink dat selfvertroue ’n abstrakte term is en dat ’n mens nie regtig daaraan kan werk nie – of jy het dit of jy het dit nie. Ek is tans besig met ’n meestersgraad in filosofie en afrigting, en het met daardie navorsing besef dat dit wel iets is wat ’n mens prakties kan opbou. Die raad wat ek dus vir mense het, is eerstens om te weet dat jy nie alleen is nie – daar is soveel mense wat daarmee struikel. Tweedens, om te besef dat selfvertroue van binne af kom. Dit is waarom ek ’n aanlyn kursus, Herontdek Jou Selfvertroue, ontwikkel het. Die kursus sal vanaf 24 Julie beskikbaar wees en sal veral vroue met hierdie kwessie help.
Rolene – ‘n skoonheid van binne en buite.
Rolene word in 2014 as Mejuffrou Wêreld verkies.
Rolene is passievol daaroor om ‘n gesonde en aktiewe leefstyl te handhaaf. Foto: Instagram.
Wat vir my die belangrikste is, is dat jy helderheid moet hê oor jou toekoms. Baie vroue wat inskryf se hoofdoel is om die titel te wen … As jy egter op die ouderdom van 23 of 24 jou lewensdoelwit verwesentlik – wat dan daarna? Ek glo wanneer jy duidelikheid het oor waarheen jy wil gaan en wat jy wil doen met jou lewe, jy die platform werklik kan gebruik om lewens te verander. Jy moet weet waar jy op die langtermyn ’n verskil wil maak. Vir my was dit (en is dit steeds) om vroue te help met die dinge waarmee ek self ook sukkel. Mejuffrou Suid-Afrika was dus deel van die groter prentjie, eerder as die uiteinde.
Dit sluit mooi aan by waaroor ons vroeër gesels het … Een van die dinge wat jy kan gebruik om jou selfvertroue op te bou, is om rolmodelle te hê wat van toepassing is op die huidige situasies waarin jy jouself bevind. Dit klink dalk teenstrydig – ons het immers so pas gesê dat selfvertroue van binne af kom. Maar, as jy ’n rolmodel het wat iets bereik het wat jy graag wil bereik, of ’n uitdaging oorkom het wat jy graag wil oorkom, gee jy jouself die toestemming om dit ook te doen. ’n Ander belangrike ding is om nie na ’n persoon op te kyk nie, maar na sekere kwaliteite wat jy binne hulle raaksien. Ons is almal mense wat soms kortkom. Afhangend van die situasies waarin ek al was en die persoon waarna ek strewe om te word, het ek dus al baie verskillende rolmodelle gehad – dit is moeilik om enkele individue uit te lig. Ek het verskillende rolmodelle in verskillende fasette van my lewe, byvoorbeeld spiritualiteit, fisiese gesondheid, besigheid, verhoudings, ensovoorts. Terselfdertyd is dit ook belangrik om inspirasie van hierdie persone af te ontvang, sonder dat jy jouself met hulle begin vergelyk. Vergelyking kan die teenoorgestelde van die gewenste effek tot gevolg hê.
Die oorhoofse doelwit van my lewe is om my volle potensiaal te bereik, om my familie – veral die drie manne in my lewe – te help om hulle volle potensiaal te bereik, sowel as om vroue te help met die dinge waarmee ek ook gesukkel het. Enige geleenthede wat oor my pad kom om dit te doen, sal ek graag wil aangryp. Op die oomblik is een van daardie geleenthede om aanlyn hulpbronne te ontwikkel wat ’n gehoor van mense bereik waarby ek nie tans persoonlik kan uitkom nie.
Vir my gaan ’n taal hand aan hand met kultuur en identiteit – ek is so trots om Afrikaans te wees. Toe ek jonger was, het ek soms gewonder of daar genoeg geleenthede binne die taal is en hoe dit gaan bydra tot dit wat ek graag wou bereik … Dit is egter ’n integrale deel van ’n mens se persoonlikheid en vorm ook grootliks hoe jy die wêreld ervaar. As ’n mens helderheid wil hê oor wat jy wil doen, moet ’n mens ook helderheid hê oor wie jy is – en vir my is Afrikaans ’n baie groot deel daarvan.
Afrikaans.com se projekbestuurder, Milanie Vosloo, in gesprek met Rolene.
Ek glo dat elke ding wat in ’n mens se lewe geplaas is, is daar om ’n rede, hetsy dit nou die taal is wat jy praat, of waar jy grootword. Ek het soveel geleer by die Afrikaanse kultuur en wil graag my seuns die geleentheid gee om dieselfde te doen. My vermoë om ’n goeie ma te wees, is ook soveel meer as ek dit in my moedertaal doen. Ongeag die taal of tale wat hulle eendag gaan praat, fokus ek ook daarop om hulle die universele taal van liefde en genade te leer. As ’n mens daardie taal kan praat en verstaan sal jy suksesvol wees en werklik ’n verskil kan maak.
Rolene met die drie manne in haar lewe. Foto: Instagram
Met ’n klein woordjie – prioritiseer. Dit is so belangrik om te weet waarvoor jy wil ja sê en waarom. Dit is hoekom van die aanlyn hulpbronne wat ek tans ontwikkel juis oor tydsbestuur gaan. Dit voel soms of die lewe ’n mens in alle rigtings trek, maar jy kan dit voorkom en jy is in beheer van waarby jy jouself betrek.
Eerstens Bybelstudie – om myself emosioneel voor te berei vir die dag. Dan, natuurlik, my man en kinders – om seker te maak dat ek kwaliteit tyd met hulle spandeer voor my werksdag begin. Laastens maak ek tyd om gesonde kos vir die dag voor te berei – as jou liggaam gesond is, dan volg die res.
Daar is baie dinge wat ’n mens nie meer kan doen nie … Die een ding wat egter vir my uitstaan, is hoe ek skielik meer kreatief geword het om ’n verskil te maak. Ek was gewoond daaraan om deur praatjies, funksies en so meer met mense in gesprek te tree. Ek kan dit egter nie meer doen nie. Dit het gelei tot die aktiewe ontwikkeling van my aanlyn hulpbronne en daaroor is ek baie opgewonde.
Hulle kan gerus my webtuiste, https://www.rolenestrauss.com/, besoek. Ek nooi mense ook om spesifiek in te teken op die nuusbrief waarin ons alle nuwe kursusse sowel as heerlike ander inhoud, deel.
Rolene Strauss is ’n voormalige Mejuffrou Wêreld. Sy is ook ’n gekwalifiseerde mediese dokter en studeer tans verder aan ’n meestersgraad in filosofie en afrigting. Sy is ’n kranige skrywer, spreker en besigheidsvrou wat haar sake bedryf om ’n verskil te maak.
The post Rolene Strauss – passievol en gedrewe in Afrikaans. appeared first on Afrikaans.com.
Enige gesprek oor die toekoms van Kaaps gaan eintlik oor die toekoms van Afrikaans as geheel. Afrikaans moet herbedink word – nie net deur die akademici nie, maar deur sy sprekers. Die Afrikaanse Taalraad, in samewerking met Litnet en die Afrikaanse Taalmuseum, het onlangs ’n webinaar aangebied om Kaaps as skryftaal, spreektaal, besigheidstaal, onderrigtaal en leeftaal, te ondersoek.
Die paneel het bestaan uit Charlyn Dyers (professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap), Monn-lee Geduld (‘n Afrikaansonderwyser), Jeremy Vearey (skrywer), Gerda Odendaal (mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal) en Frank Hendricks (professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap) en het die belangrikheid van Kaaps in alle milieus van die Afrikaanse leefwêreld bespreek.
Bo van links na regs: Charlyn Dyers, Heindrich Wyngaard, Jeremy Vearey, Frank Hendricks. Onder van links na regs: Gerda Odendaal, Monn-lee Geduld, Conrad Steenkamp.
‘’Kaaps en sy sprekers is histories gemarginaliseer en gestigmatiseer – hieroor moet ons eerlik wees. Afrikaans in sy geheel ly vandag hieronder. Die toekoms van Kaaps gaan dus in wese oor die waardigheid daarvan as die moedertaal van miljoene. Dit gaan ook oor die gelykwaardigheid van alle Afrikaanse variëteite en oor regstelling en versoening.’’ Conrad Steenkamp, Afrikaanse Taalraad
Kyk die volledige webinaar:
Watter voordele sou dit hê vir die sprekers van Kaaps spesifiek, maar ook alle Afrikaanssprekendes oor die algemeen, as Kaaps in ’n verskeidenheid ruimtes aangemoedig en aanvaar word? Jeremy Vearey verduidelik dat dit eerstens skrywers, leerders en ander sal toelaat om egte uiting te gee oor hul ervarings in en oor hul leefruimtes – sonder dat enigiemand anders namens hul praat of hulle in vertaalde denke moet leef en verbeeld. Dit sal tweedens verseker dat die geskiedenis van hierdie leefwêrelde in eie stem op alle gebiede vir die toekoms vasgelê en vergeld word.
‘’Herstandaardisering gaan dus nie om enigiets van enigiemand af weg te neem nie – maar oor toevoeging – ’n verbreding na alle variëteite van Afrikaans.’’ Gerda Odendaal (Woordeboek van die Afrikaanse Taal)
Gerda Odendaal wys egter tereg uit dat hierdie herstandaardisering nie bereik kan word deur mooipraatjies nie – die vraag is dus nie wat daar gesê word oor Kaaps nie, maar wat daar gedoen word vir Kaaps. Sy verduidelik dan dat die herstandaardisering van Afrikaans konstant moet plaasvind. Hierdie proses behels die volgende stappe:
Daar is reeds opwindende vooruitgang gemaak om te verseker dat Kaaps, as die oudste en oorspronklike variëteit van Afrikaans, weer sy regmatige plek sal inneem. Die taal blom deesdae opnuut in besighede (dink byvoorbeeld aan Vannie Kaap), in skryfkuns (Jeremy vannie Elsies, Kaaps in Fokus en talle ander) en word al meer aangemoedig in skole en universiteite. Alhoewel daar steeds ’n lang pad is om te stap, stem ons heelhartig saam met Charlyn Dyers se woorde: ‘’Die toekoms van Kaaps is vir my baie blink. Dit is bykans onmoontlik om te praat oor die uitsterf van hierdie dinamiese variant – hy groei, elke dag en in nuwe praktyke!’’
Daar is tans verskeie praktiese projekte wat die oplewing en herlewing van Kaaps ondersteun. Hou Afrikaans.com dop vir meer.
The post Die toekoms van Kaaps – klokhelder en kleurvol! appeared first on Afrikaans.com.
Afrikaans.com se nuutste veldtog en TV-advertensie is net weereens ’n bewys dat Afrikaanssprekendes ’n woord of uitdrukking vir elke situasie het – en bestaan daar nie ’n woord nie, dan skep hulle een! Boonop sit hulle ’n lag by die traan en is die nuutskeppings gewoonlik met humor deurspek, want as die lewe druk, druk hulle hom eenvoudig harder terug.
2020 was tot dusver ’n jaar van verandering – alles te danke aan die koronapandemie. ’n Virus wat die lewe soos ons dit ken, op sy kop kom draai het. Vreemde ervarings moet egter naam kry en so het bestaande woorde nuwe betekenis gekry en is daar ook nuwe woorde geskep om sin te maak van die onderskeie gedeelde ervarings wat skielik deel van ons lewens geword het. Hieruit het Afrikaans.com se Covid-19-woordeboek ontstaan. ’n Woordeboek wat terme en verduidelikings bevat vir al die vreemde ervarings waarmee alledaagse Suid-Afrikaners gekonfronteer is.
Dit is hierdie woorde (en ervarings) wat die vertrekpunt vir Afrikaans.com se nuutste veldtogadvertensie was, want daarmee wil ons die kollig plaas op Afrikaans se dinamiese aard en wys dat elke Afrikaanssprekende help skryf aan die toekoms van die taal.
Met hierdie advertensie poog Afrikaans.com om ’n belangrike deel van die geskiedenis in woorde en beelde vas te vang. Gebeure of ervarings dien dikwels as inspirasie vir die skep van nuwe woorde of uitdrukkings in Afrikaans.
Alhoewel baie dinge verander het, bly die lewenskragtigheid en dinamiese aard van Afrikaans steeds behoue en word daar steeds aan die toekoms van die taal geskryf. Daarom word ’n ieder en ’n elk genooi om saam te skryf.
Die advertensie speel in 2020 in Suid-Afrika af – in ’n tyd waarin die lewe soos ons dit ken, onherroeplik verander het. Deur gebruik te maak van ’n verteller, word spesifieke scenario’s van die veranderende realiteite in 2020 uitgebeeld en word nuutskeppings ingespan om hierdie ervarings te beskryf – maar met ’n goeie skeut humor daarby.
Die volgende woorde word in die advertensie uitgebeeld:
* Die advertensie word vanaf 15 Julie 2020 op Via, DStv-kanaal 147, uitgesaai. Kyk gerus Minki om 19:30 wanneer Afrikaans.com se nuutste advertensie die eerste keer op TV te siene sal wees.
The post Afrikaans.com se veldtog wys Afrikaans laat hom nie stuit nie! appeared first on Afrikaans.com.
“Ons is nie almal dieselfde nie, soortgelyk maar nie identies nie.”
– Emile Gouws, ambassadeur vir outisme en self op die spektrum
Die Amerikaanse vereniging, Autism Support Network, se slagspreuk is: “Autism is not a disability, but a different ability.” Om die rede behels outisme ook nie bloot ’n eenvoudige en vinnige diagnose en siedaar behandeling kan begin nie. Om ’n akkurate diagnose te maak, verg ’n uitgebreide proses en uiteindelik is dit net ’n ervare mediese spesialis wat die diagnose mag maak. Daarna is daar ’n hele span wat betrek word om die kind wat op die outismespektrum is, by te staan. Die skrywer en spraakterapeut Christien Neser het ’n spesiale belangstelling in outisme en Afrikaans.com het by haar gaan kers opsteek.
CN: Kom ons begin by die term outisme. Dit dateer uit die 1920’s toe navorsers probeer het om iets van die afgeslotenheid van hierdie persone vas te vang. Maar kom ek voeg dadelik by: outisme is ’n wye spektrum. Nie twee persone wat as outisties gediagnoseer word, het presies dieselfde simptome of ervaring nie. In die woorde van Emile Gouws, ’n ambassadeur vir outisme en self op die spektrum: “Ons is nie almal dieselfde nie, soortgelyk maar nie identies nie.” Outisme word wel gekenmerk deur probleme of tekorte in kommunikasie en/of taalvaardigdheid, sosiale vaardighede en sensoriese integrasie. Daarby is ’n vierde kenmerk ’n nou en obsessiewe belangstellingsveld. Senutrekkings, herhalende bewegings of sogenaamde tics, kom dikwels voor. Hierdie aspekte klink sommer maklik om raak te sien, maar dis ’n kuns en ’n wetenskap om outisme akkuraat te diagnoseer. Daarvoor is ‘n spesialis taakspan nodig. Dit sluit in die huisdokter, spesialis soos ’n kinderarts of neuroloog of psigiater, spraakterapeut, arbeidsterapeut en ook ’n sielkundige. Dis nie ’n eenmalige, vinnige besoekie aan ’n dokter nie. Dis ’n proses van waarneming, familiegeskiedenis afneem, toetsing en gesamentlike besluitneming. Selfs al vermoed ’n onderwyser of terapeut of ouer dat ’n kind op die spektrum is, mag slegs ’n mediese spesialis die diagnose maak.
CN: Vanaf babatyd is die kind op die spektrum anders. Afhangend van die graad van outisme, mag die kenmerke meer of minder duidelik wees. Hier is ’n paar om dop te hou:
Soms wys outisme eerste simptome rondom 2 of 3 jaar oud. Dan is die tekens ’n skielike verlies van spraak, onverklaarbare huilbuie of tantrums, uiterste sensitiwiteit vir klanke (gehoor), smake en teksture van kos, teksture van kledingstukke (taktiele stimulasie) en ’n skielike obsessie met dinge wat draai of tol. Daar kan ook ’n regressie wees van toiletgewoontes en ander onafhanklikheid.( ‘n Volledige lys van hierdie rooi vlaggies, verskyn in die boek*. )
Een kind mag net effens sensitief wees vir vuil hande, die ander mag ’n allemintige uitbarsting hê as hul hande vuil word. Een mag volsinne gebruik, ’n ander een mag dalk net enkelwoordsinne sê. Tussen 3 en 5 jaar oud word hul gebrek aan sosiale vaardighede veral duidelik. Meeste van hierdie outjies gaan dan na ’n kleuterklas, waar maatjies maak ’n groot probleem mag wees. Emile Gouws vertel in die boek* hoe hy as kleuter maatjies gebyt het, uit frustrasie omdat hulle hom nie kon verstaan nie. Hy verduidelik dit aan die hand van die hoë vlak van angs wat kinders op die spektrum ervaar. ’n Kind wat angs ervaar, se byniere skei hope adrenalien af. Dit het een van drie reaksies tot gevolg: veg, vlug of vries. Vir hom was dit veg (byt of skop), vries (hande flap langs sy gesig) of vlug (onttrekking deur weg te kruip of te skree).
Hoogs funksionerende kinders se simptome is minder akuut en hulle kan makliker in ’n hoofstroomskool funksioneer. In die ou dae sou ons hier van Aspergersindroom gepraat het. Met die nuwe kriteria van die DSM 5 (Diagnostic and Statistical Manual), is Aspergersindroom vervang met die term “hoogs funksionerend.” Hierdie kinders sal steeds sosiaal meer probleme ondervind, geneig wees om lesings te gee, eerder as om te gesels, ’n nou belangstellingsveld hê, obsessief wees oor sekere dinge, uiters roetinegebonde wees, selektiewe eters wees, sekere kledingstukke nie wil dra nie, eienaardige taal hê. Soms herinner die taalgebruik aan ’n volwassene s’n. Hulle leer maklik vreemde aksente aan en is baie geheg aan skerms. Televisieprogramme of rekenaarspeletjies kan hulle ure besig hou. Hulle begin dikwels karakters se spraak naboots of sal sommer met ’n Amerikaanse aksent begin praat. Tweetaligheid vorder gewoonlik nie goed nie en hulle verkies dikwels die taal van hul televisie. Omdat hulle objekgebonde is, is ’n rekenaar hul beste maat. Die tegnologie is vir hierdie kinders ’n groot uitkoms. In die preprimêre klaskamer, vind hierdie kinders dit moeilik om te wag vir ’n beurt, hulle deel nie graag speelgoed nie en kan geraas gewoonlik nie hanteer nie. Onthou, hulle is per definisie sensories hipersensitief. Ek het al met hoogs funksionerende kleuters gewerk wat hulself voorskools leer lees het. Daar is kenners wat van mening is dat outisme ’n gawe is. Geen wonder dat geniale persone soos Mozart en Einstein al die tekens van outisme getoon het nie.
Die eerste persoon om te kontak, is die huisdokter. Vra egter dat die onderwyser ’n verslag oor die kind skryf. Alle inligting wat die dokter met sy diagnose kan help, moet ingewin word. As die huisdokter kundig en wys is, sal julle direk na ‘n pediater of pediatriese psigiater verwys word. Van hier af sal verdere verwysings volg en ’n behandelingsprogram uitgewerk word.
*Help! My kind is anders deur Chrisiten Neser – Hoofstuk 12, pp. 159 – 173
CN: Kennis is mag. Bemagtig jouself eerstens met soveel moontlik kennis oor outisme.
Die MMR-inenting kan NIE outisme veroorsaak nie, maar het weliswaar ’n beskermende funksie.
CN: Daar is die afgelope twintig jaar ’n golf van protes teen die inentings wat babas en kleuters moet deurgaan. Dit is veral die MMR (measles, mumps, rubella) wat in die spervuur is. Die ‘anti-vaccers’ is groepe wat weier dat hul kinders ingeënt word, weens die vrees dat outisme hierdeur veroorsaak kan word. Ek het hierdie besware aan prof Petrus de Vries, hoof van kinderpsigiatrie aan die Universiteit van Kaapstad se mediese skool gerig. Hy het ’n superspesialisasie in outisme gedoen. Sy antwoord was ’n onomwonde NEE. Die MMR-inenting kan nie outisme veroorsaak nie, maar het weliswaar ’n beskermende funksie.
’n Reusestudie van data (’n metastudie), is vanaf 2009 tot 2019 in Denemarke gedoen met die data van 600 000 kinders van oor die wêreld heen. Die uitslag van hierdie studie is op 16 April 2019 in die gerespekteerde joernaal, Annals of internal medicine, gepubliseer. Die gevolgtrekking: Daar bestaan geen bewys dat die MMR-inenting en outisme verband hou nie. Babas kry op 9 maande die MMR-inspuiting. Dis eina en die babas mag huilerig en koorsig wees vir ’n dag of twee. Dis gewoonlik ook rondom 9 maande wat babas begin woordjies naboots en begin ‘mens’ raak. Dis dan ook op hierdie ouderdom wat ouers kan begin oplet dat hul baba se interaksie nie na wense ontwikkel nie. Dit is hierdie toevallige sameval van ’n inenting en ’n eerste oplet van ’n kommunikasiegebrek, wat waarskynlik aanleiding gee dat ouers die twee sake met mekaar verbind. Ons as mense het dit nodig om ’n oorsaak vir ’n probleem te vind. Of die oorsaak dan waar of vals is, maak nie altyd saak nie. Solank ons net ’n oorsaak het.
Interessant: In Amerika was daar in 2016 ’n uitbraak van masels, juis weens die groot aantal ouers wat die MMR teengestaan het. Met Covid op ons drumpel, is dit interessant dat die MMR nou voorgestel word as ’n moontlike beskerming teen die virus. Daar is nog nie uitsluitsel nie, maar die saak geniet groot voorrang onder navorsers. Gaan lees meer hier.
Nuttige hulpbronne:
Christien Neser is ’n spraakterapeut en skrywer van Johannesburg. Nagraadse kwalifikasies sluit ’n Honneurs in Frans en ’n MA in Toegepaste Linguistiek in. Sy skryf veral jeugverhale, soos die Elle-reeks vir LAPA (11 titels). Sy het ’n besondere belangstelling in outisme. Amper Einstein (2013) en Absoluut Einstein (2020) (NB) is jeugverhale met outisme as tema.
Pienk is nie vir sissies nie (2018) is ook deur NB uitgegee. In April 2020 verskyn die niefiksie boek, Help! My kind is anders (LAPA). Dit is ’n gids vir ouers oor die waarde van terapie en vroeë ingryping by kinders met ontwikkelingsagterstande en talle ander kwessies. Gehoorverlies, spraakontwikkeling, lees, ADHD, outisme en angs is enkele van die kwessies wat deur kundiges bespreek word.
The post Outisme: ’n Wye spektrum met verskillende simptome en ervarings. appeared first on Afrikaans.com.
Die opwinding op die verhoog is tasbaar. Dis hul eerste optrede in maande. Teen die vooraansig van die Voortrekkermonument pryk ’n lewensgrootte projeksie van die groep. Die hele Pretoria kan dit sien. Met die lirieke van “Storm” breek Danie du Toit se stem deur die stilte. Geskiedenis is gemaak.
Die lede van die gewilde groep Spoegwolf is 18 Julie aanlyn te sien in hul eerste lewendige optrede sedert die inperking begin het. Met enorme projektors, wat die beeld van die konsert op die monument projekteer en sewe kameras, waaronder hommeltuie wat die optrede vasvang, beloof dit om ’n eens-in-’n-leeftyd-ervaring te wees wat jy nie wil mis nie.
Die inperkingsmaatreëls van die Covid-19-pandemie het die vermaaklikheids- en toerismebedryf op sy knieë gedwing. Met lewendige vertonings en besoeke aan landswye monumente wat iets van die verlede is, het die behoefte ontstaan vir ’n fondsinsamelingsprojek wat beide hierdie industrieë baat.
Om hierdie rede het Jak de Priester hande gevat met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vir die opname van die Hier staan ons-konsertreeks om deur middel van kaartjieverkope die monumente te beskerm en ook om in hierdie tyd die nodige blootstelling aan kunstenaars te gee. Na die sukses van die eerste Hier staan ons-konsert op 16 Junie met Steve Hofmeyr as gas, het die FAK besluit om dié projek voort te sit met verskeie ander kunstenaars. Die reeks bestaan uit drie konserte waar die volgende sangers aan die beurt kom: Spoegwolf (18 Julie), Corlea Botha, Monique Steyn en Nianell (9 Augustus) en Jannie Moolman (13 September).
Spoegwolf se konsert word Saterdagaand aanlyn bekendgestel, waar die groep gewilde treffers soos “Geel”, “Lenie Blou” en “Storm” met aanlyn gehore deel. Kykers sal ook die geleentheid kry om vir die eerste keer van heel splinternuwe enkelsnitte te hoor. Afrikaans.com het ’n draai gaan maak by een van die repetisies om te sien wat hierdie vertoning alles inhou.
Danie du Toit, hoofsanger van Spoegwolf, sê dié groep is baie opgewonde om deel te wees van hierdie projek.
“Dit gaan ons eerste groot show in ’n baie lang tyd wees. Die Spoegwolf-masjien het nodig om weer te loop. Ons kan nie wag nie. Ons gaan ’n hele paar liedjies vir die eerste keer ooit speel. Ons gaan die Voortrekkermonument afbreek en weer herbou,” het Du Toit tong-in-die-kies oor hierdie konsert gesê.
Joe Engels, eienaar van Xtreme Productions wat hierdie konserte moontlik gaan maak, verduidelik dat die Voortrekkermonument sélf as skerm dien vir dié konserte.
“Konserte is oor die jare heen by al die verskeie terreine en selfs voor die trappe van die Voortrekkermonument aangebied, maar nog nooit op die monument sélf lewensgroot vertoon nie. Die monument is 1 600 vierkante meter groot en 42 m hoog. Dit is gróót. Die hele Pretoria sal dit kan sien.”
Tydens die vertonings gesels De Priester ook met sy gaste op ’n verhoog wat voor die monument opgestel is en deel hul ook van hul gunstelingliedjies met luisteraars. Wees deel van hierdie onvergeetlike ervaring en koop jou kaartjie vandag.
Waar kan ek ’n kaartjie kry?
Kaartjies kos slegs R60 en met dié kaartjie kan jy en jou hele gesin of vriendekring saam na die konsert vanuit julle sitkamer kyk of waar julle ’n vleisie op die kole braai. Jy kan ook vir net R150 na al drie konserte kyk. Kaartjies is beskikbaar by www.ticketslive.co.za en www.plankton.mobi.
The post Die Spoegwolf-masjien loop weer … en jy is genooi! appeared first on Afrikaans.com.
WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom!
Klik hier.
Vandeesmaand se top 10-verkopers by Exclusive Books lyk heel anders as vorige maande … Literêre legende Elsa Joubert, wat onlangs die tydelike met die ewige verwissel het, se skrywe oor oudword, Spertyd, is opnuut deur lesers opgeraap. Intussen het Annelien Pienaar se Boerekos met ‘n Twist sowel as voormalige nommer een, Prooi van Deon Meyer, net-net nie die lys gehaal nie … Watter boeke is die gewildste in die land? Lees en vind uit!
1
Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is ’n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ’n skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ’n uitweg – ’n jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.
2
Kassie het geglo sy speurderdae is getel na die Medusa-pedofielsaak, en sy hartaanval. Maar ses maande tuis bring perspektief – hy is ‘n speurder in murg en been. Terug by die Spookeenheid word hy en kollega Rooi Els dadelik by die diep kant ingegooi: Hulle moet ‘n reeksverkragter vastrek – een wat sy slagoffers met ‘n brandyster merk. Is die skuldige die man wat beskryf word as “‘n weerwolf met die sperm van ‘n wildehond”? Of lê die antwoord by die spesifieke merk wat hy op sy slagoffers laat?
3
Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders maneuvreer hom vanuit hul tuistes oorsee in Huis Madeliefie in, maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.
4
Kook en geniet het in 1951 vir die eerste keer verskyn. Met meer as ‘n halfmiljoen eksemplare in druk is dit ongetwyfeld dié klassieke Suid-Afrikaanse kookboek. Generasies is grootgemaak en het self leer kook aan die hand van die boek. Kook en geniet dek alles wat jy ooit oor kook moet weet – van hoe om bestanddele af te meet, oonde optimaal te gebruik, groente voor te berei en vleis gaar te maak, tot hoe om kos perfek te vries – naas die meer as 700 ekonomiese, beproefde en geliefde resepte. Dink aan Japie se gunsteling, waterblommetjies of souskluitjies.
5
Hierdie boek is die voltooiing van Elsa Joubert se outobiografiese drieluik wat ingelei is deur ‘n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Spertyd fokus hoofsaaklik op die skrywer se latere jare, in die aftreeoord in Kaapstad waar sy nou al geruime tyd woon, maar haar belewenis van die hede en onlangse verlede word onlosmaaklik vervleg met herinneringe aan veel verder terug, alles geteken met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers.
6
Daar was hewige vuurgevegte, oorwinnings, maar ook verliese . . . 1 Recce, Agter vyandelike linies, neem die leser tot in die Recces se ‘binnekamer’. In hul eie woorde vertel Recce-operateurs van die lewensgevaarlike operasies wat hulle onder groot geheimhouding in die laat 1970’s in Angola en die voormalige Rhodesië uitgevoer het.
Die leser sien die operateurs sweet in die vliegtuig of duikboot en beleef die gevaar wanneer hulle in die nagdonker riviere met krokodille trotseer. Die spanning en adrenalien loop hoog wanneer die Recces springstof in ‘n treintonnel diep in vyandelike gebied plaas of ‘n groot brandstofbergingsplek in ‘n Angolese hawestad in ‘n vlammehel omskep.
Die wat daar was, vertel van die spanning, afwagting, vrees, adrenalien, moegheid, dors en hartseer wat hulle beleef het, maar ook van die humoristiese momente en die vriendskapsbande wat gesmee is. 1 Recce, Agter vyandelike linies is Alexander Strachan, bekroonde skrywer en gewese Recce, se opvolgboek op sy topverkoper: 1 Recce, Die nag behoort aan ons.
7
Johannes Bakkes is die geliefde skrywer van andersoortige reisverhale soos Ons is moertoe en Norrevok. Hierdie boek is meer persoonlik; hier skryf hy homself oop. Die subtitel is Reis na binne, die -ste -ste plek – hy is altyd op soek na die koudste, warmste, hoogste, droogste plek om te besoek. Hier word humoristiese vertellings oor sy reise afgewissel met sy pa se wolhaarstories en lewendige geskiedenisvertellings. Hy en sy seun vind aanklank tydens nog ‘n onbesonne reis. Sy liefde vir sy familie is tasbaar. Gerrit Rautenbach noem die manuskrip “sy beste skryfwerk nog” en “blootstellend anders”. Bakkes lê homself bloot in sy weerloosheid, vrees en krankheid. Hy wys wie hy was in die ou bedeling en hoe hy probeer hand bysit in die nuwe bedeling, wat hy nie gekies het nie. Dis ‘n dapper, aangrypende reis vol humor en deernis.
8
Die bloedbevlekte brief wat Theresa tussen haar eksman, Theo, se besittings ná sy dood ontdek, skeur haar lewe oop. Vir jare het sy haar rug op Theo gedraai, ’n man wat sy laaste twee dekades in ’n inrigting moes deurbring. Só ook het sy die land se verlede weggestoot, die tyd toe tienerseuns gestuur is om op die Grens te veg – ’n plek en ’n oorlog waarvan mense tuis bittermin geweet het. Vir Theresa self was dit ’n tydperk van eerste liefdes, disko’s en vakansies by die see.
Theresa besef gou die brief aan Theo toevertrou, is deur ’n sterwende Kubaanse soldaat geskryf en aan sy pasgebore kind gerig – iemand wat, indien hy of sy nog leef, nou reeds veertig jaar oud sal wees. Theresa weet in haar siel sy moet Kuba toe: om die soldaat se kind te vind, om die brief te besorg, om vir Theo en ook vir háár boete te doen.
In die swoelende, afgeleefde Kuba, tussen sy kleurryke motors uit die vyftigerjare en geurige sigaarrook, vervleg Theresa se lewe intiem met diegene wat in Angola as “die vyand” gebrandmerk is. Só ontrafel sy wat dit beteken het om groot te word in die Suid-Afrika van daardie tyd.
9
In Dit proe soos huis eer Herman Lensing sy ma met sy uitsonderlike talent. Hy weef haar gunstelingresepte, passie vir kos en hul eie stories ineen. Dit is resepte van onthou dié – ‘n kosverhaal wat dít wat is, verbind met dít wat was. Kos is liefde en in die kombuis klop die hart van die huis.
10
Dinge ontrafel vinnig wanneer iemand speuradjudant Storm van der Merwe se ma voor ‘n trein op Paddington-stasie instamp. Storm moet Londen toe, al is sy tot oor haar ore met ‘n moordsaak: Beebee Bukelwa Babu, befaamde Suid-Afrikaanse modeontwerper, lê leweloos in ‘n luukse hotel op Hermanus.
Hande om Storm te help met die ondersoek na Beebee se dood is min, want protesaksie lê die dorp lam. Boonop sweep ‘n charismatiese profeet die skare tot ‘n histerie op. Storm besef gou dit is nie net haar ma se lewe wat in gevaar is nie. Sy is self ‘n teiken. Intussen probeer haar ekskollega, Andreas Moerdyk, nou ‘n privaat speurder, om ‘n skaars rooi diamant van onskatbare waarde op te spoor. Van Londen se donker strate tot Antwerpen se diamantebeurs, van Port Nolloth se verlate kuslyn tot Storm se geliefde Hermanus, ontvou die storie in Irna van Zyl se derde misdaadroman teen die pas van ‘n sneltrein.
WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom!
Klik hier.
The post Exclusive Books se Afrikaanse topverkopers vir Julie 2020 appeared first on Afrikaans.com.