Afrikaans.com-skrywer Jana Snyman neem die jongspan op reis. Vind ’n lekker leeshoekie en neem jou kind op ’n verbeeldingsvlug met leesgenot uit die boonste rakke!
Klik op die onderstaande prentjies om die boekies af te laai.
“Ons hoofdoel is om hoop te skep – veral vir die afvlerkkinders in ons gemeenskap – sodat hulle in hulleself kan glo en met ’n positiewe selfbeeld vir hulleself in die toekoms ’n inkomste kan genereer.” – Johannes van Schalkwyk, skoolhoof by Westcliff Vaardigheidskool in die Wes-Kaap.
Kom ons wees nou maar eerlik. Ons land se tegniese opleiding het histories aan die agterspeen gesuig en tans sit ons met die gebakte pere en ‘n tekort aan goed opgeleide tegnici. Toegegee, daar word geruime tyd nou weer aandag hieraan gegee, maar die pad vorentoe is nog lank. Dit is duur, die aanvraag na instansies is groter as die aanbod en daar word steeds in baie gemeenskappe geglo dat ‘n mens net suksesvol kan wees as jy universiteit toe gaan.
Suid-Afrika se arbeidsmarkklimaat is ‘n tameletjie om die minste te sê, en duisende jongmense moet daagliks meeding om werksgeleenthede en ervaring. Een van die grootste struikelblokke vir jongmense wat die arbeidsmark wil betree, is hulle gebrek aan praktiese ervaring. Daarom is die opleiding in vaardighede een van die beste maniere om hulle ekonomiese geleenthede te bied. Suid-Afrika het vaardigheidsontwikkeling geskoei op spesifieke behoeftes nodig. Nie almal kan die ingenieur of bestuurder wees nie en daarom is daar beslis plek vir diegene wat in ’n spesifieke vaardigheid opgelei is. Vaardigheidskole kan aan hierdie behoefte voldoen. Wanneer daar dan ook verdere opleiding gebied word deur internskappe of aanvullende kursusse, kan ons seker maak ons jongmense word toegerus met spesifieke vaardighede waaraan daar ‘n tekort bestaan. Sê mnr Van Schalkwyk: “Ons leerders kry die geleentheid om twee weke lank praktiese ondervinding by ’n buite-instansie op te doen – en ten minste 64% van ons leerders kry werk na skool.”
Die verskil tussen ’n tegniese skool en ’n vaardigheidskool
Tegniese skole is dieselfde as hoofstroomskole waar leerders tot graad 12 skoolgaan en ’n groot gedeelte van die kurrikulum akademiesgerig is, maar met sekere tegniese vakke waarin hulle onderrig ontvang. So ’n leerder kan dan na skool kollege, technikon of selfs universiteit toe gaan, of in die praktyk as vakleerling gaan werk en op dié manier ’n verdere kwalifikasie behaal.
Vaardigheidskole is skole vir leerders wat dit moeilik vind om in die hoofstroomskole te vorder en meer baat sal vind by ‘n skool waar hy/sy in spesifieke handvaardighede opgelei kan word – vaardighede wat hulle sal toerus om uiteindelik ’n selfstandige lewe te lei. Dit is vaardighede soos houtwerk, basiese sweis- en metaalwerk, paneelklop en spuitverf, haarversorging, voedselproduksie, vroeëkinderontwikkeling, boukonstruksie, boerdery, gasvryheidstudie, ens.
Leerders – gewoonlik op graad 2- of 3-vlak, ongeveer 14 jaar oud en wat reeds twee keer gedruip het – word op aanbeveling van opvoedkundige sielkundiges in vaardigheidskole geplaas. Die laerskool moet ook gewoonlik namens die leerder aansoek doen tot toelating by ‘n vaardigheidskool. Leerders of hul ouers kan dus nie uit eie keuse aansoek doen om na ’n vaardigheidskool toe te gaan nie. Gesels dus betyds met jou kind se onderwysers en kundiges, bepaal dan wat die beste opsie vir jou kind sal wees en sit die bal aan die rol.
Onderrig by ’n vaardigheidskool
Hier ontvang die leerder vier jaar lank beroepsgerigte onderrig (jaarvlak 1 tot 4) en kwalifiseer uiteindelik met ’n NKR-vlak 1-kwalifikasie (“NQR Level 1”). Dit is gelykstaande aan ’n graad 9 in ’n hoofstroomskool.
Elke leerder ontvang steeds 50% akademiese opleiding in vakke soos Afrikaans, Engels, Wiskunde, Lewensvaardighede en dies meer, en neem deel aan sport en kultuur, maar dit is die ander 50% tegniese opleiding in die werkswinkel en die teorie wat daarmee saamgaan, wat uiteindelik die leerder in staat gaan stel om na skool ‘n beroep te volg. Verder stel die tegniese vaardigheid die leerder in staat om na skool hul gekose ambag te voltooi, of in die spesifieke rigting te gaan werk. Party leerders gebruik ook hulle vaardighede om hulle eie werk te skep en besighede te begin.
Die uitdagings
Dit klink dus voor die hand liggend – vaardigheidskole is nie net nodig nie, dit is noodsaaklik. Tog is daar talle uitdagings wat die hoof gebied moet word en is die “alternatiewe roetes vir leerders wat probleme ervaar om by te bly by die eise van die kurrikulum, soos byvoorbeeld vaardigheidskole, beperk.” Baie leerders wat aansoek doen by vaardigheidskole word ook nie geakkommodeer nie – dikwels weens ‘n gebrek aan fondse. Omdat sulke leerders nêrens geholpe raak nie, verlaat hulle dan dikwels na graad 9 die skool. Nog uitdagings:
Tegniese opleiding is duur. Dink maar net aan ‘n goed toegeruste werkswinkel met die verskillende werktuie en masjinerie – en dan moet dit ook in stand gehou word.
Witboordjiearbeid is steeds die ideaal van menige jongmens. Hulle (en dikwels hulle ouers) glo dat beroepe soos onder andere dokters, tandartse, veeartse, rekenmeesters, ingenieurs en finansiële adviseurs deure gaan oopmaak.
Die stigma verbonde aan tegniese/vaardigheidskole is steeds met ons met die persepsie dat dit minderwaardige onderrig is, trouens die soort beroepe wat daaruit voortspruit word ook as minderwaardig beskou. Daar is selfs diegene wat glo dat dit “dom” of “moeilike” kinders is wat na sulke skole gestuur word! Allermins!
Ouers glo dat hulle kinders nie ‘n toekoms het indien hulle akademies sukkel nie, maar dit is ‘n groot fout. Sulke kinders leer net anders, hulle stel in ander goed belang en dikwels is ‘n tegniese rigting juis die antwoord. Soos wat mnr Van Schalkwyk van Westcliff tereg sê: “Ons leerders leer alternatiewelik.”
Akademie is die enigste roete. Baie leerders glo dat hulle slegs uit hulle “omstandighede” kan ontsnap as hulle die akademiese roete volg, en dat dit die enigste manier is om nie soos hulle ouers handearbeid te verrig nie.
Gebrekkige inligting. Inligting by laerskole oor tegniese vakke is nie genoegsaam nie. Ouers en talle onderwysers is ook nie op hoogte met tegniese vakke en die geleenthede wat dit bied nie.
Voordele van meer tegniese opleiding
Leerders ontwikkel waarneembare vaardighede.
Vaardigheidskole is minder teoreties ingestel en laat leerders toe om oorwegend ’n tegniese kurrikulum te volg omdat hulle meer tegnies aangelê is.
Wetenskap word deur praktiese en konkrete ervarings bemeester.
Die leerder se kreatiwiteit word bevredig.
Dit dra by tot ‘n positiewe selfbeeld, omdat die leerder iets konkreet het om te wys en sy sukses dus gesien kan word. Hy of sy is trots op die tafel wat gemaak is, die hek wat gesweis is of die haarstyl wat geskep is.
Vaardigheidskole het gewoonlik ook winkels waar die leerders hul werk/items kan verkoop. Boonop word hulle aangemoedig om self die prys te bepaal en die verkope en wins te hanteer. Dus, ’n verdere vaardigheid wat na skool grootliks kan bydra tot die leerder se sukses, veral as hy/sy ’n eie onderneming vestig.
Die werkswinkels waarin die leerders opgelei word, is goed toegeruste klaskamers.
Heelwat tegniese onderwysers kom uit nywerheid in die onderwys, is dikwels self ’n vakman – en dit dra by tot die standaard van opleiding.
En die ouer wat moeilik aanvaar dat hulle kind nie in die hoofstroom kan funksioneer nie?
Mnr Van Schalkwyk vertel dat dit in die meeste gevalle waar is en dat ouers omtrent altyd vir hom sê dat dit beslis nie hulle keuse is om hulle kind in die vaardigheidskool te plaas nie. Aan sulke ouers sê hy dan gewoonlik dat hulle dit ses maande moet gee en dan kyk hulle weer. “In my meer as 30 jaar in die onderwys by Westcliff, kan ek met alle eerlikheid sê dat daar nog net een ouer is wat na ’n ruk gevoel het hulle kind hoort tog in die hoofstroom – en ek het met hulle saamgestem.”
“Dit is geen maatskaplike skande om ‘n tegniese skool by te woon nie. Wat belangrik is, is dat lewenslange leerroetes geskep word. Mense moet na ‘n Verdere Onderwys- en Opleidingskollege (VOO-kollege) kan gaan, ‘n oorbruggingskursus kan volg, na die eerste jaar op universiteit kan vorder en met ‘n PhD-graad kan eindig.”
– Prof Piet Naudé, US Bestuurskool (Die Burger – Oos-Kaap, 23 Maart 2016)
Een ding wat soos ‘n paal bo water staan: ’n Kind wat in hom-/haarself glo, ’n positiewe selfbeeld ontwikkel omdat hy/sy deur sy groep aanvaar word en nie meer die kind is wat uitgesluit word nie, of die kind is wat glo dat hy/sy nie goed genoeg is nie, is ’n gelukkige en goed aangepaste kind wat presteer op sy/haar eie gebied. Ja, dalk lees die kind nie so vlot nie, maar hy kan ’n netjiese las sweis – of ’n ordentlike gevulde pannekoek bak – of hare netjies sny!
Tesis ingelewer ter gedeeltelike voldoening aan die vereistes vir die graad Magister in Opvoedkunde (Onderwysbeleidstudies) – Maart 2012 (‘n Ondersoek na enkele implikasies van die bevorderingsbeleid in die Algemene Onderwys- en Opleidingsfase in Suid-Afrikaanse skole – epistemologiese toegang deur Agnes Hanli Geldenhuys)
WEN 1 van 2 Exclusive Books-geskenkbewyse ter waarde van R500.00
– teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom! Klik hier.
Sedert ons vorige boeklysie in Desember is heelwat nuwe boeke bekendgestel … en pronk baie daarvan as topverkopers vir die eerste kwartaal van 2021. Die verskeidenheid, wat alles van fiksie, geld, tot biografieë insluit, beloof om iets vir elke leesvoorkeur te bied. Maar, wat is die topboeke? Kyk saam!
1. ‘n Baie Lang Brief aan my Dogter
‘n Baie Lang Brief aan my Dogter
Marita van der Vyver
’n Baie lang brief aan my dogter is Marita van der Vyver, een van Afrikaans se mees geliefde skrywers, se ontroerende jeugmemoir. Hierin vertel ’n Afrikaanse ma vir haar Franse dogter van haar grootwordjare in die sestigs en sewentigs, in die bloeityd van apartheid.
Maar dit is ook ’n storie oor taal en boeke en die wonderwerk van woorde. En hoe dit gekom het dat ’n skaam boekwurm uit ’n Afrikaanse middelklasfamilie, wat slegs ’n geslag vroeër nog werkersklas was, ’n skrywer geword het.
Dis ’n boek wat die meeste mense nie sal kan neersit nie omdat dit ’n speurtog is deur ’n skrywer se beginjare en ’n liefdesbrief is aan ’n dogter en aan ’n taal en aan ’n land. ’n Ma se poging om sin te maak van hierdie onverskillige en wrede wêreld waarin sy haar nou begewe.
Dink soos ‘n Miljardêr – Geheime van ‘n Suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneur
Daniel Strauss
Wat onderskei die rykes van ‘gewone mense’? Hulle dink anders. In Dink soos ‘n miljardêr verduidelik Daniel Strauss, die Strauss in die beleggingsonderneming Stocks & Strauss, wat dit beteken om soos ‘n miljardêr te dink en deel sy geheime vir sukses, soos hoe om toegang tot kapitaal te verkry, die regte mense te vind om jou te help om jou doelwitte te bereik en hoe om jou gedagtes van selfopgelegde beperkings te bevry sodat jy ook soos ‘n miljardêr kan dink – en uiteindelik self een kan word.
’n Reeksmoordenaar jag by stormweer, en Rooi en Kassie moet hom vastrek. Die Hartedief kom met moord weg, en dan is Kassie se volle aandag ook nie eintlik by die saak nie, want hy is smoorverlief op ’n aanvallige medeseëlversamelaar.
Vlerksleep is nie vir sissies nie. Om sake vir hom en Rooi te vererger, word hul baas daarvan verdink dat sy hul ondersoek in die wiele ry, en Kassie moet haar onskuld bewys. Intussen word Kaapse vroue vermoor wanneer daar onweer broei.
‘n Koelbloedige moord by die Kaapse Waterfront. Wat dalk verband hou met geheimsinnige briewe wat geskorste luitenante Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang het. Maar eers moet Bennie-hulle op Stellenbosch soek na ‘n verdwene student, en die spoor vat van die eiendomsagent wat die kooptransaksie van Donkerdrif, korporatiewe swendelaar Jasper Boonstra se peperduur wynplaas, behartig het. Stadigaan besef die speurders al hul ondersoeke het ‘n gemene deler: die donkerste drif, gierigheid.
Die ikoniese en geliefde skrywer Dana Snyman deel sy 100 gunstelingstories in ’n buksie van ’n bundel. Die stories strek van ou familiestories, reisverhale uit Dana se Weg!-dae en ware lewensdrama uit sy Huisgenoot-dae, tot intieme verhale uit sy meer onlangse werk. Twintig nuwe stories gaan oor rugby en oor die huidige pandemie, gesien op Dana se unieke manier.
‘n Splinternuwe, skitterende versameling kortverhale deur Nataniël. Twintig in Afrikaans en agt in Engels. Skreeusnaaks, aangrypend, wys, onvoorspelbaar en – soos altyd – hoogs vermaaklik. Soos gewoonlik delf hy goud uit sy kinderjare – oor sy ouers, sy ouma – maar daar is ook fantastiese en fantasmagoriese verhale oor sy lewe as sanger op plattelandse dorpies, oor ‘n vreemdeling wat hom een aand in sy huis help om sy vrese te besweer, en hoe ‘n mens jou eerste reus oorwin . . .
Aan die Kaapse Weskus versorg Rebecca Maas haar sterwende pa in ‘n tegnologies gevorderde slimhuis, ‘n huis wat praat in ‘n halfbekende stem. Op die horison, ‘n olietenkskip. ‘n Posthuman biohacker trou met die enorme skip, en maak kuns oor die wittebroodsreis. En in die yswildernis van Svalbard verdwyn ‘n navorser se minnaar spoorloos. Hulle is daar om geheimsinnige, spierwit items te ondersoek – dalk beendere, maar dan beendere wat vertak en ineensmelt soos geen bekende skepsel s’n nie.
Elkeen het ’n heelal in hul mond. Keuses wat jou wentelbaan van uur tot uur bepaal.
Willemien is keelvol vir dik wees. En bang wees vir kaas en vir inkopies doen. Hoe kan mens so verwyderd van jouself wees dat jy van buite liederlik obees is, maar in jou kop sing jy vry en kaal op ’n krans? Sy wonder waar kom die rondomskrik van haar lyf vandaan terwyl sy en haar sus in die vretende hitte van die Richtersveld ’n kluis in ’n winkeltrollie sleep. Willemien is vasbeslote om dit oor ’n afgrond te boender.
Van Kaapstad na San Francisco en ’n dwelmdieet in Sri Lanka – met ontvoerings, partytjies, ’n seksles in Hong Kong se hawe en ’n onvermydelike ontmoeting met ’n onbekende man – tref Anoeschka von Meck se nuutste roman jou soos ’n reusegolf en spoel sy die verhoudings oop wat van ons soekende, spirituele wesens maak.
Krog is ‘n internasionaal gerekende digter, maar ook plaaslik geliefd. Vyftig jaar na haar opspraakwekkende debuut, Dogter van Jefta, verskyn daar ‘n splinternuwe versameling waarin meer as honderd gedigte uit haar elf bundels saampraat. Verse oor eerste liefde, oor moederskap, oor die landskap, en oor onreg; oplaas ook oor ouer word. ‘n Vry vrou bevat gunstelinge uit Krog se oeuvre, maar ook minder bekende dog ewe verrassende verse. Saamgestel deur Karen de Wet, kenner van Krog se oeuvre.
Covid-19 het die wêreldekonomie soos ‘n atoombom getref. Die markte het oornag getuimel en die pandemie het groot skade aan die geldsake van individue en maatskappye aangerig. Wat nou? Hoe hou ek kop in sulke onseker tye? In Jou geldsake gee Theo Vorster riglyne oor hoe om rasionele langtermynbesluite in moeilike omstandighede te neem. Krisistye laat baie mense moedeloos en vuisvoos, maar dit hoef nie. Met die regte kennis kan jy en jou gesin moeilike tye oorleef en finansieel aanhou floreer.
Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek en haar lewe ingrypend verander. Na maande in huisarres word sy en haar gesin na ‘n konsentrasiekamp in Natal gestuur. Hier ervaar hulle honger, onsekerheid en verlies, maar ook soms – op ‘n verrassende wyse – die goedhartigheid van Britse soldate. Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ‘n verhaal van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en vriendskap oor vyandsgrense heen.
Ella Neser is terug van haar Karibiese skeepsvaart, en soort van terug in Lou se arms. Haar nuwe opdrag, as private speurder, is ‘n bisarre een. Donna Maas, eggenoot van die sielkundige Thomas Maas, is oortuig haar man het ‘n skelmpie. En dit is Ella se taak om dit te bewys. Die roman begin egter by die einde, waar Ella haar verslag tik. Daar is ‘n moord gepleeg, maar wie is die slagoffer en wie die skurk? ‘n Verbysterende roman deur een van die top- spanningsromanskrywers in Afrikaans.
Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is ‘n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ‘n skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ‘n uitweg – ‘n jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.
Katriena is ‘n vrou met ‘n knieg aan haar, en somtyds ook ‘n rug en ‘n elmboog, maar sy is ook ‘n vrou met ‘n hart. ‘n Ruim hart vol deernis met die wêreld: vir bergies en wedevroue en vroue wat alleen die wêreld moet aandurf, maar veral vir die mêrrem van die halwe huis en haar twee onhebbelike seunskinders.
Daar was hewige vuurgevegte, oorwinnings, maar ook verliese . . . 1 Recce, Agter vyandelike linies, neem die leser tot in die Recces se ‘binnekamer’. In hul eie woorde vertel Recce-operateurs van die lewensgevaarlike operasies wat hulle onder groot geheimhouding in die laat 1970’s in Angola en Rhodesië uitgevoer het.
Die leser sien die operateurs sweet in die vliegtuig of duikboot en beleef die gevaar wanneer hulle in die nagdonker riviere met krokodille trotseer. Die spanning en adrenalien loop hoog wanneer die Recces springstof in ‘n treintonnel diep in vyandelike gebied plaas, of ‘n groot brandstofbergingsplek in ‘n Angolese hawestad in ‘n vlammehel omskep.
Die wat daar was, vertel van die spanning, afwagting, vrees, adrenalien, moegheid, dors en hartseer wat hulle beleef het, maar ook van die humoristiese momente en die vriendskapsbande wat gesmee is.
In vergeelde foto’s van drie dekades gelede staan oopgesigseuns vol bravade voor Ratel-gevegsvoertuie. Hierdie dienspligtiges van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep staan aan die begin van hul reis diep in Angola in om vir volk en vaderland te gaan veg.
In ’n bloedige geveg op Valentynsdag 1988 en in die doodsakker by Tumpo sou hul jeugdige onskuld egter sneuwel. In die hitte van die gevegte kom die besef: Nou gaan dit nie oor ideologie nie, maar om oorlewing. Ná die oorlog gaan die lewe voort, maar die vrae en geestelike letsels wyk nie.
In 2018 keer ’n groep van dié ouddienspligtiges terug na Cuito Cuanavale op soek na afsluiting – en om die wrak te vind van die Ratel waarin ’n makker op die laaste dag van die oorlog gesterf het. Die Brug vertel van hul reis van jong man na veteraan en gee ook ’n stem aan die vroue in hul lewe. Dit is ’n verhaal van ontnugtering, maar ook van trotse kameraderie en genesing.
Voetstoots is ‘n bontgejasde keur uit sestien jaar van Annelie se koerantrubrieke. Die temas is so wyd soos die Heer se genade. Rakende aan die torings van Babel wat ons bou. ‘n Kind wat doodgeskok word terwyl hulle jagentjies speel. ‘n Begrafnisbrief uit Holland. ‘n Boer wat sy plaashek vir oulaas sluit. Toentertyd se poskoets en handsentrale. Die boks langspeelplate in die gryse se waenhuis. Die smart om ‘n kind te begrawe. ‘n Glips met bensien in die tamatieslaai. ‘n Sywurmhart wat sy in haar Bybel bêre. Mense sonder ‘n woord van eer. ‘n Eensame oom wie se hondjie op ‘n sypaadjie doodgebyt is. ‘n Lys van moets en moenies vir dames uit 1944. ‘n Boks papsakwyn wat suur geword het. Dis lag, huil, kwaadword, nostalgie, deernis, onbegrip en lewenswette saamgeryg in ‘n kleurvolle lappieskombers. En Annelie is bedrewe met die rygnaald.
Hier word humoristiese vertellings oor sy reise afgewissel met sy pa se wolhaarstories en lewendige geskiedenisvertellings. Hy en sy seun vind aanklank tydens nog ‘n onbesonne reis. Sy liefde vir sy familie is tasbaar. Gerrit Rautenbach noem die manuskrip sy beste skryfwerk nog en blootstellend anders. Bakkes stel homself bloot in sy weerloosheid, vrees en krankheid.
Hy wys wie hy was in die ou bedeling en hoe hy probeer hand bysit in die nuwe bedeling, wat hy nie gekies het nie. Dis ‘n dapper, aangrypende reis vol humor en deernis.
Sy stoei vir asem … Die mistigheid is klam en koel en dwarrel in vlae teen haar vel. Sy sak weg daarin. Los daarin op. Die mis rol nog digter teen haar aan, begin haar versmoor. Sy asem die digte klamheid hortend in. Nou is dit ook binne-in haar. Sy stoei vir asem … Die droomwip moes haar drome verklaar, maar sy weet steeds nie wat hulle inhou nie. Die runesteen moet haar beskerm, maar die eerste aand op die plaas in die Maluti’s is daar ’n moord. Die antieke manuskrip kan dalk haar toekoms verseker … as sy oorleef.
Louis Botha was ‘n briljante Boeregeneraal wie se taktiese vernuf en intuïtiewe aanslag vir etlike oorwinnings oor die Britse magte in die Anglo-Boereoorlog gesorg het. Maar dit was sy enigmatiese karakter en vaste oortuiging om te hou by wat hy geglo het reg was, wat hom as ‘n leier van die Boerevolk gevestig het. Richard Steyn gee op meesterlike wyse insae in die lewe van hierdie grootse Suid-Afrikaanse krygsman en staatsman. Hy beskryf verhelderend hoe Botha saam met sy hegte vriend, Jan Smuts, die vier Suid-Afrikaanse kolonies na Uniewording in 1910 gelei het waarna Botha as die eerste eerste minister van die Unie aangewys is. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was Botha aan die voorpunt van die Suid-Afrikaanse magte se suksesvolle inval van Duits-Suidwes-Afrika. Tog is hy deur talle Afrikaners verkwalik vir sy steun aan Brittanje, en die Afrikaner-rebellie van 1914, waartydens hy teen voormalige makkers moes optree, het sy hart gebreek. Botha se groothartig en vrygewige omgang met mense – van Vereeniging tot Versailles – het hom bo sy tydgenote laat uitstaan.
Deur Lizette Volkwyn, Meester Lewensafrigter, gepubliseerde skrywer en menslike kredietwaardige konsultant (human lie detector)
Ons is grootgemaak met die idee dat as enige iemand nie vir ons gee wat ons graag wil hê nie, of as ek vir iemand iets of selfs myself aanbied en hy of sy dit van die hand wys, dit verwerping is. Die woord “verwerping” word vinnig rondgeslinger sodra ons nie gekry het wat ons graag wou gehad het, of dink dit is wat ons nodig gehad het nie.
Wat hartseer is, is dat bykans die hele samelewing glo dat hulle op ‘n daaglikse basis verwerp word. Verwerping is nie ’n aksie nie, maar wel ’n gevoel.
Gevoelens word slegs deur jóú gekies — NIEMAND kan jou verwerp laat voel nie — jy KIES dit.
Hier is ’n voorbeeld:
Jy het hard gewerk om jouself te posisioneer vir ’n sekere pos by jou werk. Jy het selfs ’n kursus gedoen om jou kanse te verbeter, en dan kom die uitslag … ’n ander kandidaat is vir die posisie gekies. Jy is teleurgesteld, kwaad, en voel verwerp. Jy sê vir jouself: “Ek is nie goed genoeg nie.”
Is jy verwerp? Is jy nie goed genoeg nie? Nee, beslis nie. Die waarheid is, keuses, besluite en opinies word gemaak vanuit ’n ander persepsie. Jy het geen beheer daaroor nie. Die uitslag is terugvoer. Dit sê dat wat hulle in gedagte het en wat jy kan aanbied, nie in lyn is met mekaar nie. Dit is nie persoonlik nie.
Dit klink makliker gesê as gedaan. So, hoe begin jy om jou persepsie te verander? Ek deel graag ’n paar wenke.
Wenk 1: Niks in die lewe is persoonlik nie.
Dit is die belangrikste wenk. NIKS in die lewe is persoonlik nie, en alles gebeur uit ’n enkele perspektief.
Jy mag sê: “Dit klink nie reg nie”, maar dink daaraan … Jy vra vir manlief of hy saam met jou na ’n dinee of werksfunksie toe sal gaan waar meestal net dames sal wees. Manlief antwoord versigtig en wys dit van die hand.
Jou eerste reaksie is dat hy jou verwerp en nooit saam met jou iets wil doen nie. Jy is nie goed genoeg nie en hy wil nie saam met jou gesien word nie. Die waarheid is dat hy moontlik nie van sulke geleenthede hou nie, en nog minder wil uitstaan as een van die mans wat dit wel bywoon. Dit is persepsie — nie verwerping nie. Dit was nie persoonlik teen jou gemik nie.
Wenk 2: Besluite word geneem vanuit die persoon se oogpunt.
Elke persoon se opinie en uitkyk op die lewe hou direk verband met hul kultuur, opvoeding en kernwaardes, enbesluite word vanuit daardie perspektief geneem. Dus, as jy nie in daardie raamwerk gaan pas nie, gaan hul nie gemaklik voel om jou in hul binnekringe toe te laat nie.
Ek onthou spesifiek ’n geval waar ek so bitter graag ’n pos wou hê. Ek was goed gekwalifiseerd, reg geposisioneer en bo alles was ek oortuig ek en die direkteure het ’n goeie gesprek gehad. Ek was op die kortlys, ek het voorberei om vir hulle die voorlegging volgens hulle reëls te doen. Ek het navorsing gedoen en my voorlegging was foutloos. Drie dae later kontak hulle my en sê hulle het die ander kandidaat aangestel – sy voorlegging was buite die reëls. Ek was verpletterd; oortuig dat ek nie goed genoeg is nie en het onmiddellik verwerp gevoel.
Ek kyk vandag terug na daardie posisie en ek besef dat ek nooit in hul oorwegend Engelse omgewing en kultuur sou kon aanpas nie, al was ek hoogs gekwalifiseerd vir die posisie. Het hulle my verwerp? Nee, hulle het net ’n besluit geneem vanuit hulle perspektief en wat volgens hulle die beste vir hulle sou werk.
Wenk 3: Verstaan waarom jy ’n gevoel van verwerping ervaar.
Dis nie so voor die hand liggend as om te sê jy het nie gekry wat jy graag wou hê nie. Baie keer ervaar ons ’n baie dieper, onvervulde behoefte en is die negatiewe uitslag net die kersie op die koek.
Een van my kliënte was verslae nadat haar huwelik van 14 jaar verbrokkel het. Haar man het haar blameer dat sy stagneer het, en hy meer avontuurlustig en ambisieus geword het. Hy het uitgestap en wou nie vir berading gaan nie. Die eerste reaksie was om te voel dat sy nie goed genoeg is nie en onmiddellik die egskeiding te blameer vir die intense gevoel van verwerping.
Die realiteit is dat ons gevoel van verwerping alreeds van kindsbeen af gekweek is en die programmering in elke besluit ‘n effek het. Vir my kliënt was dit die feit dat haar pa en ma geskei het toe sy nog klein was. Sy moes dus op vroeë ouderdom die hartseer, teleurstelling en verwyte meemaak. In haar wêreld word sy dus elke keer verwerp as iemand haar nie kies nie, en koppel sy die hartseer, teleurstelling en verwyte aan wat sy as kind ervaar het. Dit laat die gevoel van verwerping dan soveel meer dramaties na vore kom.
Die oomblik toe sy besef het dat die beëindiging van haar huwelik nie verwerping is nie, maar eerder iemand se opinie is (al is jy hoe lief vir die persoon), kon sy haar fokus verskuif op wie sy regtig is, op haar waardes en wat sy verdien en kon sy die verbrokkelende huwelik verwerk en aanbeweeg.
Wenk 4: Gee jouself grasie.
Jy moet jouself grasie gee en koester in tye wanneer die gevoel van verwerping jou oorheers. Ons is 75% geprogrammeer om eerste negatief te dink en dis hoekom ons onmiddellik voel die wêreld het in duie gestort sodra ons nie die verwagte uitkoms kry nie. Dit is in hierdie oomblikke waar ’n verhouding verbrokkel het, ’n werksaansoek onsuksesvol was, of ’n toekenning jou ontglip het, dat jy eerder jouself moet opbou, op jou sterk eienskappe fokus en die emosies opsy sit. Koester jouself, hergroepeer en sien dit as terugvoer.
Wenk 5: Jou negatiewe situasie is nie jou eindbestemming nie.
Jy moenie toelaat dat die negatiewe uitslag jou toekoms definieer of bepaal nie. Jy weet nou dat niks in die lewe persoonlik is nie, en dat daar soveel buitefaktore is wat ’n invloed op bepaalde uitslae het. Daarom kan jy elke keer opstaan en van rigting verander, totdat jy die verlangde resultaat kry.
Ek verwys graag na Kolonel Sanders, die stigter van KFC. Hy was maar vyf jaar oud toe sy pa oorlede is. Op 16 het hy die skool verlaat, en op die ouderdom van 17 het hy al vier posisies beklee wat almal misluk het. Die weermag het hom afgewys, hy het later probeer om sy studies te hervat en is afgewys. Sy vrou het hom op 25 verlaat en hulle enigste dogter saamgeneem. Alle pogings om sy dogter te sien of terug te kry, het misluk. Op 65 het hy afgetree met ‘n staatsubsidie van $105, reg om selfmoord te pleeg, en toe besef hy hy het nog nooit kosmaak probeer nie. Daar het hy besluit om nie toe te laat dat enige iemand sy lewe gaan definieer nie, en het begin met die bekende KFC-hoender. Op die ouderdom van 88 was hy ’n miljardêr.
Of dit nou ‘n netelige situasie is wat jou verwerp laat voel, en of dit ’n ernstige verhouding is wat tot niet is, die feit is dat verwerping ’n gevoel is wat jy toelaat om alle geleenthede vorentoe te steel. Moenie dat dit jou definieer nie. Jy is soveel meer werd as dit.
Die wetenskapfiksiefilm WESENS gee filmliefhebbers nou die geleentheid om groot kontantpryse te wen met ‘n eerste van sy soort filmontledingskompetisie.
Die skeppende agentskap The Suits en LitNet is op soek na ’n kritiese ontleding van WESENS – die veelbekroonde Karoo-Sci-Fi-film – wat in Oktober verlede jaar in Suid-Afrikaanse bioskope vrygestel is, en nou eksklusief op DStv se BoxOffice beskikbaar is.
Vir die kompetisie is hulle op soek na meer as ’n konvensionele filmresensie, maar eerder ‘n kritiese ontleding waar jy die temas en simboliek in die film ondersoek en jou insigte en interpretasie daarvan deel.
Dit is nie nodig om die storielyn van die film te herhaal in jou ontleding nie, fokus meer op die metafore en filmtegnieke wat gebruik is en hoe dit alles bydra tot jou interpretasie van die temas, simboliek en uiteindelike boodskap van die film.
Die kompetisie is oop vir skoliere, studente en filmliefhebbers. Die kritiese ontleding van die film moet tussen 500 en 1 200 woorde lank wees. Stuur jou inskrywing aan izak@litnet.co.za met die woord “Wesens” duidelik in die onderwerplyn.
Kontantpryse sluit in R10 000 vir die eerste prys, R3 000 vir die tweede prys en R2 000 vir die derde prys. Inskrywings moet LitNet voor of op 9 Mei 2021 bereik om in aanmerking te kom vir die pryse.
Nog opwindende nuus is dat die bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer en rolprentresensent, Leon van Nierop, ook een van die beoordelaars is van hierdie unieke filmontledingskompetisie!
Besoek LitNet of die WESENS-webwerf vir meer inligting en vind die WESENS-lokprent vir DStv BoxOffice hier.
Meer oor Wesens
Wesens is in Oktober 2020 vrygestel en vertel die verhaal van vier Suid-Afrikaanse Republikeinse Intelligensiediensagente wat ’n vreemde voorwerp wat op 1 Desember 1967 op ‘n boer se plaas in die Karoo geland het, met ’n Super 8- en 16 mm-kamera ondersoek. Wat volg is ‘n raaiselfilm wat jou boei tot op die laaste oomblik. Afrikaans.com het met die regisseur Derick Muller gesels om meer te leer oor die film. Derick is die stigter en hoof van The Suits Communications, ‘n reklame-agentskap in Kaapstad. Wesens is sy eerste vollengtefilm en is in beide Suid-Afrika en Namibië vrygestel.
Wat maak Wesens uniek van ander Afrikaanse films?
Ons dink die konsep van die film alleen maak dit ‘n unieke Afrikaanse film. Met Wesens probeer ons nie noodwendig om anders te wees nie, Wesens ís maar net anders. Ek en Karin Muller – wat die film saam met my vervaardig het – het uit die staanspoor besluit om ‘n film te maak wat vir mense meer bied as enige ander Afrikaanse film. Ons wou iets skep met waarde en ‘n diepte; iets waarop ons as Afrikaanssprekendes en as Suid-Afrikaners trots kan wees. En Wesens was die gevolg van hierdie uitgangspunt.
Randy Januarie, Karin en Derick Muller en Pietie Beyers.
Wat is die uitdagings verbonde aan die skiet van ’n “found footage”-film?
Een van die grootste uitdagings was dat ons die film op ‘n plaas op die Oubergpas meer as ‘n uur buitekant Montagu geskiet het, waar daar geen selfoonontvangs, geen elektrisiteit, en geen water was nie. Behalwe vir die omgewing, was dit ook ‘n enorme uitdaging om glad nie tradisionele kamerahoeke te gebruik nie, want alles moes voel asof hulle dit “regtig” so sou verfilm.
Die naproduksie was nog ‘n groot uitdaging. Om die film te laat lyk soos ou 16 mm- en 8 mm-filmrolle wat uit 1967 dateer, was nie maklik nie. Ons het maande spandeer in naproduksie om die beeld perfek te kry. Ek dink naproduksie was van die uitdagendste werk in die hele produksieproses.
Watter voordele hou hierdie genre vir die storievertelproses in?
Een van die grootste voordele daarvan om in die “found footage”- en wetenskapfiksie-genre te werk, is dat dit vir jou ‘n raamwerk gee waarbinne jy iets kan skep. Maar hierdie raamwerk gee jou dan ook die geleentheid om die “reëls” van die genre te breek. Die feit dat mens hierdie reëls dan kan breek, gee ruimte tot nuwe kreatiwiteit.
Hoekom sou jy Afrikaanssprekendes aanmoedig om die film te gaan kyk?
Ek dink nie noodwendig mense van alle lande sal die film verstaan nie. Dit is ‘n film vir Suid-Afrikaners en spesifiek Afrikaanssprekendes. Net ons as Afrikaanssprekendes sal die nostalgie en emosies van byvoorbeeld die musiek wat ons spesfiek gekies het vir die film regtig kan voel. Net ons gaan werklik die karakters en die “wêreld” waarin hulle leef, kan verstaan. En dit is spesiaal. Daar is ‘n diepte in ons as Afrikaanssprekendes se kultuur wat net ons werklik kan verstaan en aanvoel. En dit is iets waarop ons baie trots kan wees.
Is daar enige ander projekte waaraan jy tans werk waarna ons kan uitsien in die toekoms?
Ons doelwit vir nou is eers net om hierdie projek daar buite te kry. Maar ek is altyd aan die skryf en ons kan nie wag om op die volgende film te begin werk nie!
Vir meer inligting oor Wesens, besoek gerus hul Facebook– en Instagramblad en kyk die lokprent hier:
Soms maak die werklikheid vir beter stories as selfs daardie verhale wat uit die beste fiksieskrywers se pen kan kom … Niefiksie laat ons ook toe om verskeie geskiedkundige gebeure beter te verstaan, eerstehands te leer uit ander se lewenservaring en deur ander se avonture na plekke, andersins onbekend aan ons, te reis. Ons Lapa Uitgewers-boekrak bevat vandeesmaand niefiksie boeke om oor huis toe te skryf. Laai die eerste hoofstuk gratis af om self te besluit watter een jou volgende kopie gaan wees!
Afspraak met moord
Jana Marx
’n Blik op die binnekring van die Krugersdorp-kultus. Elf wrede moorde oor ’n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landwyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg. Die moordenaars is slim, gewone mense – ’n onderwyseres, ’n finansiële makelaar, ’n kind wat tussen die moorde deur steeds ses onderskeidings in matriek behaal en boonop keuring kry om medies te gaan studeer. Hul slagoffers het bloot ’n sake- afspraak nagekom, min wetend dat dít ’n afspraak met die dood was. Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het Satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank? Jana Marx beantwoord dié en ander vrae in ’n waremisdaad-verhaal wat gelei het tot een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Met behulp van onderhoude uit diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar poog Marx om die publiek se vrae te antwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus.
Huis van gruwels is die skokverhaal van die sogenaamde “Springs-monster” wat op die wreedste manier denkbaar alles van sy gesin weggeneem het, maar ook ’n storie van hoop oor hoe ’n dapper jong vrou uiteindelik geluk en genesing vind. Landi is die oudste van vyf kinders wat uit die sogenaamde Springs-gruwelhuis gered is. Sy is nou 21 jaar oud en vertel vir die eerste keer haar verstommende verhaal. In Mei 2014 het die polisie dié huis ontdek waar ’n sadistiese pa sy vrou en vyf kinders vir jare tussen vullis en rotte aangehou, getreiter en gemartel het. In ysingwekkende besonderhede onthou Landi hoe hul pa hulle aangerand, met ’n skokstok geskok, met ’n gaspistool geskiet en met ’n blaasvlam gebrand het, hoe hy martelmetodes nagevors en hulle byna in ’n bad verdrink het. Sy vertel hierdie herinneringe aan Susan Cilliers, ’n ervare joernalis, wat dit met deernis weergee en dit vernuftig met die feite van die polisie-ondersoek en die hofsaak verweef.
Op reis saam met Marita van der Vyver, van Pretoria tot Provence! Retoer: Pretoria – Provence is ’n bundel van dié bekroonde en immergewilde skrywer se beste rubrieke, sketse en essays wat nog nie voorheen in bundelformaat uitgegee is nie. Dit sluit in ’n rubriek oor seksuele teistering waarvoor sy in 2018 met ’n ATKV-Mediaveertjie vereer is. Dié “meisie van die suburbs”, soos sy haarself beskryf, neem die leser op reis deur haar lewe en wêreld: Van haar jeugherinneringe – haar oumas, haar eerste juffrou en die kind wat sy was – tot haar dae op Stellenbosch, Pretoria en natuurlik die Franse platteland. Sy raak nostalgies oor ’n tiekieboks, die karre van haar kleintyd (’n bruin Opel en ’n geel kewer), en laat die leser tegelyk skater en verlang. Met haar kenmerkende humor, deernis en eerlikheid skryf sy oor die ouderdom, tienerstreke, Calvinisme, David Bowie, vegetariërs en die verskriklike vrees vir “verdagte knoppies”. Haar woordkuns neem die leser van die alledaagse na die eksotiese, van die skreeusnaakse na die hartverskeurende, van die lyflike na die geestelike. ’n Tema wat soos ’n paar voetspore deur Retoer loop, is dié van reis: Die reis na heerlike, onbekende plekke en die meer onstuimige, dikwels vreesaanjaende reis na die self. Retoer sal jou hardop laat lag en trane in jou oë laat opwel terwyl dit jou boei, ontroer en op ’n sielsreis neem.
‘n Versameling woorde oor die verleidelikste ding op aarde: Sjokolade
Die mensdom se emosionele verhouding met sjokolade is legendaries. Van suikersoet tot bittersoet, van donker tot melk – dié lekkerny bied ons oor al die eeue heen troos, terapie, hedonisme en loutere plesier. Sjokolade was nog altyd ‘n simbool van belofte, versugting, verlange en sensualiteit.
In Soete sonde ondersoek bekende skrywers en nuwe stemme die tekstuur van sjokolade in al sy heerlike vorme – van lewensredder tot moordwapen. Daar’s komedie, satire, sensasie, tragedie, die absurde en fantasie. Sommige stories daag jou uit, ander verskuif grense en baie laat jou tot in jou kiewe lekkerkry.
Die samesteller van die bundel is Lizz Meiring: aktrise, vervaardiger, skrywer en selferkende plesiervraat, hedonis en sjokolis. Van die bydraers tot hierdie bundel sluit in: Jak de Priester, Johann Smith, Gielie Hoffmann, Henque Heymans, Lizette Murray, ens.
Ander kategorieë wat op ons boekrak wag, sluit in fiksie vir tieners, stories vir kinders, ernstiger werk vir volwassenes en niefiksie … Wat gaan op volgende maand se boekrak wees? Hou Afrikaans.com dop en vind uit!
Spoegwolf se tromspeler, Moskou du Toit, is nie net passievol oor sy musiek nie, hy is ook ‘n passievolle sjef en familieman. Ons het hom en die groep agter die skerms by die Atterbury-teater ontmoet om meer te leer oor hom as mens, sy liefde vir die verhoog, sowel as wat hy vir sy seun, ook Moskou, in die lewe wens. Kyk saam!
Wat is jou gunsteling- Spoegwolf-liedjies? Hier is ons s’n!
Ons almal weet hoe belangrik moedertaalonderrig is. Navorsing toon dat kinders wat in hul moedertaal onderrig word nie net beter presteer op skoolvlak nie, maar ook in die tersiêre omgewing.
Afrikaans.com stel ondersoek in oor die verskillende Afrikaanse tuisonderrigopsies en wat ouers vir wie moedertaalonderrig of tuisonderrig nie moontlik is nie, kan doen.
Verband tussen moedertaalonderrig en prestasie
Kyk hier na ‘n video hoekom dit belangrik is om in jou moedertaal te leer en studeer:
Moedertaalonderrig behels dat leerders die fundamentele konsepte van ‘n vak of onderwerp in hul moedertaal leer. Sodra hulle hierdie konsepte begryp, kan hulle dit toepas wanneer hulle ‘n tweede taal aanleer. Kinders verstaan konsepte makliker in ‘n taal wat aan hulle bekend is, maar in ‘n tweede taal word dit ‘dooie’ woorde wat net gememoriseer, maar nie geïnternaliseer word nie.
Indien ‘n leerder nie moedertaalonderrig ontvang nie, het dit ‘n enorme invloed op sy/haar vermoë om die kurrikulum te verstaan. Die leerder presteer nie net swak in taalvakke nie, maar ook in al die ander vakke omdat hulle nie verstaan wat hulle moet lees en leer nie. In wiskunde byvoorbeeld, kan ‘n leerder swak vaar indien hy nie die konsepte van halveer en verdubbel verstaan nie.
Vian Singleton
Die bekende kinderakteur en uitblinker Vian Singleton (12) vertel hoe hy sukses behaal deur sy moedertaal.
Maar hoe gemaak wanneer die opsie nie daar is om jou kind in sy/haar moedertaal te onderrig nie?
Tuisskool
Jare gelede is ouers wat hul kinders tuis geskool het snaaks aangekyk, vandag is dit egter ‘n uitstekende opsie wanneer goeie skole nie tot jou beskikking is nie.
Tegnologiese vooruitgang het dit ook maklik gemaak om toegang te verkry tot verskeie platforms en bronne wat jy benodig.
SA Tuisskolers (https://www.sahomeschoolers.org) is ‘n goeie wegspringplek indien jy meer wil weet van tuisonderrig in Suid-Afrika. Dié webblad bevat omvattende inligting oor waar om te begin, die wetlike aspekte van tuisonderrig, nuus, hulpbronne en skakels van organisasies wat kurrikulums en ondersteuning bied.
Daar is ‘n magdom verskillende opsies wanneer dit by tuisonderrig kom. Deeglike navorsing oor watter kurrikulum die beste vir jou kind en julle as gesin gaan werk, gaan nodig wees. Elke kind is tog ‘n individu met sy/haar eie behoeftes en leerstyle.
‘n Paar kurrikulumopsies wat in Afrikaans beskikbaar is, is:
Maar wat kan jy doen as moedertaalonderrig of tuisonderrig nie ‘n opsie is nie?
Lees
Lees bly beslis die belangrikste wapen in jou kind se arsenaal wanneer dit by akademiese sukses kom. Alles wat ons doen, behels die vermoë om te lees. Lees kweek immers begrip en sonder begrip gaan jou kind kleitrap, nie net op skool nie, maar ook in hul alledaagse lewe!
Lees verbeter jou algemene kennis, jou taalvermoë (woordeskat, skryf- , spel- en praatvermoë), jou kommunikasievermoë, dit stel jou bloot aan nuwe dinge en help jou ook om die wêreld rondom jou te verstaan. Die skrywer George R.R. Martin, van die Game of Thrones-faam, het by geleentheid gesê:
“‘n Leser leef ‘n duisend lewens, ‘n nie-leser leef slegs een.”
Al is moedertaalonderrig nie ‘n opsie vir jou kind nie, kan jy verseker dat hy/sy steeds in hul moedertaal lees. Sorg dat jou kind altyd toegang het tot Afrikaanse leesmateriaal.
Sluit by jou plaaslike biblioteek aan, besoek gereeld boekwinkels (tweedehandse boekwinkels is ook ‘n goeie opsie) begin ‘n gesinsboekklub waar jul boeke in Afrikaans bespreek en sorg dat jy tydskrifte in Afrikaans koop.
Maak Afrikaans deel van jul daaglikse lewe
Ons is geneig om te vergeet hoe baie kinders leer deur osmose. Gebruik net een maal daai gewraakte drieletterwoordjie voor jou kind en voor jy jou kom kry, herhaal hul dit kliphard op die mees ongewenste plek (dikwels in die ry by die supermark of voor die dominee as hy huisbesoek doen).
Sorg dat jou kind omring word met Afrikaans in hul daaglikse lewe; luister Afrikaanse radio en musiek, kyk Afrikaanse TV-programme, kook Afrikaans en gesels Afrikaans. Al gaan jou kind in Engels skool kan jy steeds sorg dat sy huislewe Afrikaans is.
Jy kan ook sorg dat jou kind pret het in Afrikaans. Daar is verskeie bordspeletjies, rekenaarspeletjies en toeps wat in Afrikaans beskikbaar is. Leer en speel gaan hand aan hand en wanneer jou kind pret het in ‘n taal, leer hulle!
Ander doen-dinge om jou kind se moedertaal te bevorder
Een van die wonderlikste geskenke wat jy jou kind kan gee is om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem. ‘n Organisasie soos die Voortrekkers en Landsdiens verskaf nie net pret nie, dit kan ‘n waardevolle leerskool word vir jou kind waar hy/sy, in Afrikaans, kan leer en speel.
Jy kan ook jou kind laat deelneem aan ander kulturele aktiwiteite. Laat jou kind by ‘n jeugkoor aansluit, eisteddfods en kunstefeeste en redenaarskompetisies soos die ATKV Redenaars en Radikale Redenaar kan ook help om jou kind se liefde vir Afrikaans te bevorder.
Jy kan ook vir ‘n Lees- en Leersentrum naby jou soek. Al gaan jou kind nie skool in sy/haar moedertaal nie kan jy steeds sorg dat hulle die nodige akademiese leiding in hul moedertaal ontvang. Edublox, en Kumon is van die bekendste name, maar doen navorsing oor watter sentrum in jou area beskikbaar is.
Dink buite die boks wanneer dit kom by jou kind se opvoeding. Daar is verskeie maniere om by dieselfde eindresultaat te kom: ‘n Gelukkige, gebalanseerde kind wat na die beste van sy/haar vermoë presteer ongeag van die taal waarin dit gebeur
Internasionale Moedertaaldag – 21 Februarie 2018
Hierdie spesiale dag is in 1999 deur UNESCO ingestel om mense bewus te maak van die belangrikheid van moedertaalonderrig en veeltalige opvoeding.
Op 17 November 1999 het UNESCO (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) die heel eerste Internasionale Moedertaaldag aangekondig. Sedertdien word Moedertaaldag elke jaar op 21 Februarie gevier. Die datum verteenwoordig die gebeure op 21 Februarie 1952 toe vier jong studente in Dhaka, die hoofstad van Bangladesj, dood is weens konflik tussen Bengali- en Urdu-sprekers. Die studente het geveg vir die reg om in hul moedertaal gehoor te word, en die datum is ook tot openbare vakansiedag verklaar in Bangladesj.
Internasionale Moedertaaldag beklemtoon die belangrikheid van moedertale regoor die wêreld en moedig mense aan om ingelig te wees oor hul moedertaal en die belangrikheid van moedertaalonderrig en laat val die fokus op die bewaring van kultuur en erfenis.
Afrikaans.com se interaktiewe lekker-lees Moedertaalonderrig-blad is beskikbaar! Hier beantwoord ons jou vrae oor hoekom moedertaalonderrig so belangrik en broodnodig is vir toekomstige sukses, vertel jou meer oor veeltaligheid en besweer sommer ook ‘n paar bekommernisse en mites oor moedertaalonderrig. Ons nooi jou uit om jou vrae te vra sodat ons die kundiges kan raadpleeg en saam met jou ons kennis oor hierdie belangrike onderwerp kan uitbrei in ons strewe na suksesvolle opvoeding en opleiding vir ons kinders in ‘n veeltalige, multikulturele land.
As jy jou tande vir TV- en verhoogwerk slyp, is daar geen beter manier om by iemand te leer wat sy slag al in rolprente, op die verhoog en in TV-reekse gewys het nie.
Edwin van der Walt
Vanjaar gee ATKV-Tienertoneel jou die geleentheid om by niemand anders nie as Edwin van der Walt kers op te steek. Edwin het bekendheid verwerf vir sy spel in Ballade vir ’n Enkeling, Hollywood In My Huis, Die Pro, Wonderlus, Sara se Geheim, Fynskrif, Koningin Lear, Asem en A Cock and Bullshit Story..
Volgens JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel en -DigiToneel, gaan vanjaar se opleidingsreeks toneelliefhebbers en -leergieriges nie net inspireer nie, maar ook met vaardighede toerus wat hulle lewenslank tot hul voordeel sal kan gebruik.
“Die ATKV is baie opgewonde om saam met Edwin te werk. Hy is ’n hardwerkende entrepreneur wat nuwe werk skep en nou wil hy terugploeg deur die jeug en nuwe teatermakers te inspireer om hul kuns te vervolmaak. Hy het reeds ongelooflike dinge met Novieguide vermag,” sê JJ.
Edwin van der Walt het ná skool vir ’n jaar film studeer en toe sy graad in drama aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Hy is reeds in sy tweede jaar deur Marthinus Basson vir rolle in professionele produksies gekies.
“In 2020 het ons opleidingsegment ’n digitale baadjie aangetrek deur die ontwikkeling van ’n reeks webinare deur kundiges in die industrie wat op ses diverse toneelsegmente gefokus het. Die inhoud was vars en die aanbieding interaktief en toeganklik tot baie. Vanjaar wil die ATKV, met Edwin se hulp, voortbou op ’n nalatenskap vir die Afrikaanse toneelindustrie deur die ontwikkeling van die tweede reeks in ons toneelopleidingsbiblioteek.”
Die opleidingsreeks van Mei tot Julie 2021 bestaan uit 6 meesterklasse wat fokus op geloofwaardige spel. Ter ondersteuning van elke meesterklas kan belangstellendes ook ’n webinaar met Edwin bywoon.
“’n Meesterklas (webinaar ingesluit) kos net R150. Die formaat van die meesterklas en hoe Edwin dit verpak het, is werklik indrukwekkend en ek wil enigeen wat belangstel in toneelspel aanmoedig om dit by te woon.”
Die volledige reeks is beskikbaar teen R650.
Die formaat van elke meesterklas bestaan uit die volgende:
’n Videotutoriaal met akteurs en gevallestudies ter ondersteuning van die lesinhoud.
Kort opsomming van lesinhoud.
Toegang tot ’n interaktiewe webinaar met Edwin oor die les-inhoud.
ATKV-Opleidingsertifikaat as bewys van bywoning van die meesterklas.
Die onderwerpe wat tydens onderskeie meesterklasse fokus gaan geniet, is:
Meesterklas 1: Hoe om jou woorde vinniger en meer effektief te leer en hoe om navorsing en inspirasie rondom jou te gebruik vir karakterisering.
Webinaar oor Meesterklas 1: 29 Mei
Meesterklas 2: Die belangrikste vaardigheid vir enige akteur: Luister- en reageertegnieke.
Webinaar oor Meesterklas 2: 5 Junie
Meesterklas 3: Karakterontleding vanaf teks, teksanalise en spelkeuses.
Webinaar oor Meesterklas 3: 12 Junie
Meesterklas 4: In diepte-karakterisering en oefentegnieke.
Webinaar oor Meesterklas 4: 19 Junie
Meesterklas 5: Tegnieke om realistiese en interessante spelkeuses te maak.
Webinaar oor Meesterklas 5: 26 Junie
Meesterklas 6:Tegnieke hoe om “in die oomblik” te bly.
Die videotutoriale met die opsommings word gestuur met die aankoop van die meesterklas en die deelnamesertifikaat, asook ’n opname van die webinaar word gestuur na afloop van die interaktiewe webinaar met Edwin.
Edwin gaan ook optree as mentor vir deelnemers van ATKV-Tienertoneel 2021 en is ook beskikbaar om ATKV-DigiToneelfinaliste vanjaar met een-tot-een mentorsessies te help skaaf.
Kontak ATKV-Tienertoneelprojekorganiseerder JJ van Niekerk vir meer inligting of inskrywings by jj@atkv.org.za of by 076 391 3414.
* Die eerste ATKV-Tienertoneelwebinaarreeks met Cintaine Schutte, Jacques Bessenger, Amalia Uys, Wilhelm van der Walt, dr. André Gerber en Henrietta Gryffenberg kan by jj@atkv.org.za teen R80 per episode of R480 vir die hele reeks gekoop word.
Edwin van der Walt is ook die aanbieder van Afrikaans.com-potgooie. Klik hier en luister saam.
“Ek het as remediërende terapeut in my privaatpraktyk gesien hoeveel kinders sukkel om te lees. Kinders wat nie kan lees nie, is kinders wat nie kan leer nie.”
– Reinette Lombard, medeskepper van die Tippie-leesreeks
WEN ‘n Tippie-geskenkmandjie ter waarde van R1 799 ter viering van Afrikaans.com se splinternuwe Tippieblad.
Die prys sluit in:
‘n Vlak 1 Kurrikulumstel – R999.00
‘n Vlak 1 boekies – R390.00
‘n Tippie-teddiebeer – R410.00
Teken in op ons nuusbrief en gebruik die kompetisie-kodewoord “Tippie” om in aanmerking the kom.
Lees moet ten alle tye ‘n positiewe ervaring wees. Daarom moet ouers deur hulle eie voorbeeld en met behulp van geskikte hulpbronne, hul kinders se liefde en lus vir lees aanwakker. Anders as wat jy dalk gedink het, is om na jou kind se leesles te luister, nie altyd die beste manier om leesvaardigheid te bevorder nie en is daar allerlei maniere om lees deel van jou kind se lewe te maak. Reinette sê die volgende: “Ek glo dat dit belangrik is vir ouers om van kleins af eerstens vir hulle kinders te lees. Kinders moet ook sien dat hul ouers lees. ’n Kind wat in ’n leeskultuur grootword sal makliker bereid wees om te lees as ’n kind wat nie voorheen enige blootstelling aan boeke gehad het en ’n positiewe persepsie op boeke en lees het nie.”
Lees, lees, lees vir jou kinders
“Saamlees is nie gerig op leesonderrig nie, maar op die belewing van lees as ‘n positiewe aktiwiteit. Dit sal die kind motiveer om te wil lees.”
Hieroor sê Reinette: “Dit is nooit te vroeg om vir kinders te begin voorlees nie. Voorlees en saamlees is belangrike boustene om te werk na selflees. Maak hulle bewus van teks in die omgewing rondom hulle. Speel speletjies, gebruik stemme en intonasie as jy lees. Maak hulle deel van die leeservaring. Ouers moet ook fisiese boeke lees, soveel ouers lees steeds boeke maar op ’n tablet of hul selfoon. Kinders “weet” nie noodwendig dat ouers lees op hierdie elektroniese toestelle nie.
Die Tippie-leesreeks
Nou ja – watter beter manier dan om leesvaardighede by jou kinders te bevorder as deur ‘n reeks soos Tippie. Die Tippie-leesreeks is deel van Lapa Uitgewers en is onmisbaar om leesvaardighede by voorskoolse en grondslagfaseleerders vas te lê. Die reeks word saamgestel deur Reinette Lombard en José Palmer – ‘n ma- en dogterspan wat saam skryf aan Tippie se avonture. Saam het hulle 47 jaar onderwysondervinding en is hulle passie om anders te dink oor leer en lees die dryfveer vir hierdie oulike reeks. Afrikaans.com het so bietjie nader kennis gemaak met Tippie se “ouers” en ook uitgevind hoekom die Tippie-reeks werk.
Reinette vertel dat José (Palmer)as kind reeds ‘n droom gehad het om eendag kinderboeke te skryf. “Op ‘n dag het ek gesê sy moet ophou droom en begin skryf.” Reinette voeg ook by dat sy as remediërende terapeut gereeld gesien het hoeveel kinders sukkel om te lees. So het hulle toe saam begin om die Tippie-boekies te skryf en het sy dit ook in haar praktyk begin gebruik.
Tippie = sukses
Tippie is ’n moderne, kleurvolle, progressiewe leesreeks wat volgens ontwikkelingsbeginsels geskryf is. Kinders wat hul letterklanke ken en kan identifiseer, sal met selfvertroue saam met Tippie kan begin lees. Tippie is geskryf sodat kinders sukses sal ervaar. Die meeste kinders vind aanklank by Tippie en sy avonture en Tippie se stories groei saam met die kind.
Tippie is vir almal
Die reeks is gemik op kinders wat in hul moedertaal of addisionele taal leer lees. Tippie kan wees wat ook al jy nodig het dit moet wees. Tippie kan as deel van ’n holistiese, eklektiese benadering tot geletterdheid gebruik word, of bloot as pret en ekstra aanvulling om selfvertroue en leesinskerping te verseker.
Tippie is trots tweetalig en bestaan uit leesboekies in verskillende vlakke. In Arikaans is daar reeds 4 vlakke (Vlak 5 is op die publikasieskedule vir Januarie 2022). Elke vlak het 10 boekies wat opmekaar bou. ’n Verskeidenheid ekstra leermateriaal wat saam met die boekies gebruik word, is beskikbaar.
Span Tippie in vir individuele behoeftes
Die Tippie-reeks stel ouers en/of terapeute en onderwysers in staat om begrip en woordeskat speel-speel by die kind vas te lê – maar volgens elke kind se individuele behoeftes.
Die leesboekies kan op hul eie gebruik word – hoofsaaklik vir lees.
Dit kan saam met die kurrikulumstelle gebruik word, vir ’n meer holistiese benadering wat fokus op lees, skryf, praat, luister en taalbeginsels.
Die leesboekies kan ook saam met Curious Readers (Tippie se interaktiewe aanlyn platform) gebruik word vir ’n funksionele kurrikulum waar boeke en tegnologie ontmoet en kinders selfstandig en onafhanklik uitkomste bereik.
Tippie is nie slegs lekkerleesstories nie, daar is ongelooflik baie opvoedkundige en sielkundige beginsels wat in elke boekie ingeskryf word.
Tippie se reekse bou op mekaar en daar is genoeg geleentheid vir inoefening voordat die kind aanbeweeg na die volgende vlak.
Lees met begrip
Om met begrip te lees, is seker een van die belangrikste vereistes ten opsigte van leesvaardigheid en dié leesreeks voldoen beslis daaraan. Tippie:
Is geskryf en saamgestel sodat kinders sukses sal ervaar en met begrip sal lees.
Verseker dat die boustene vir vroeë geletterdheid vasgelê en ingeoefen word.
Maak die ouer en onderwyser se voorbereiding makliker.
Verseker dat vaardighede nie in isolasie aangeleer word nie, maar dat al die uitskomste as geheel behandel kan word en ook in konteks aangeleer word.
Tippie deel baie gratis leermateriaal, voorgestelde weeklikse beplanning en konkrete aktiwiteite wat saam met die boekies gebruik word.
Hoekom leer kinders makliker saam met Tippie?
Volgens Reinette leer en lees kinders makliker saam met die oulike olifantjie, Tippie, omdat hulle aanklank by die karakter vind. Hy is vrolik en kleurvol en die eenvoudige illustrasies ondersteun die teks.
Volg jou kind se leiding
Ouers moet ook hul kind se leiding volg. Kinders wat nie hul letterklanke ken en kan identifiseer nie, is nog nie gereed om te leer lees nie. Ouers moet begin waar die kind is. Kies boeke wat geskik is vir die kind se ontwikkelingsvermoë en bou van daar af. Kinders kan dus op hul eie tempo na die volgende vlak of boek beweeg. “Tippie is nie graad-spesifiek nie, juis omdat ons wil verseker dat elke kind begin lees by die vlak waar hulle is. As kinders reeds 3-letterwoorde met selfvertroue lees, sal hulle dus met vlak 2 se leesboeke begin. Indien ’n kind nog nie 3-letterwoorde kan lees nie, maar hul letterklanke ken, sal hulle met vlak 1 se boekies begin.
Tippie is landswyd beskikbaar by jou naaste boekwinkel, by Lapa Uitgewers of by een van die 74 Lapa- agente.
Vir baie akteurs is dit gewoonlik besonder moeilik om afskeid te neem van ʼn karakter wat hulle vir baie jare vertolk het. Dag vir dag klim jy in daardie karakter se kop in, dink en praat soos die karakter, lyk soos die karakter en tree op soos die karakter – alles sodat kykers of ʼn gehoor vir ʼn tydperk kan vergeet dat hierdie bloot verbeelde werklikheid is. Dis nog soveel moeiliker indien die werksomstandighede lekker was, en jy as akteur ook baie vriende by jou werksplek gemaak het.
Desiré Gardner moes onlangs vir Carmen Samsodien, ʼn geliefde karakter in die sepie Suidooster,groet en vir haar was dit geensins maklik nie. Sy het byna vyf jaar lank die rol van Carmen, ʼn binnenshuise ontwerper, vertolk. Dit het boonop gepaard gegaan net ʼn emosioneel dreinerende storielyn, want Carmen vlug weg nadat haar en haar man Rhafiek (Irshaad Ally) se baba, Mikhail, gebore word met Edwards-sindroom en dan ook sterf. Aangrypende tonele waarin Carmen en Rhafiek besonder moeilik afskeid neem van die kleinding, het talle kykers in trane gelaat, maar toe Carmen haar besluit aankondig, om eers weg te gaan uit Ruiterbosch, kon die meeste kykers nie hierdie selfsugtige besluit van Carmen verstaan nie.
Desiré gee toe dat dit besonder moeilik was om te sorg dat sy nie te betrokke by die storielyn raak nie. “Baie van Carmen se trane wat jy op die skerm kon sien, is my eie trane. Trane oor ek moes weggaan. Daar was een spesifieke toneel tussen Lee-Ann en Carmen waar dit eintlik Desiré en Portia (Joel) was wat so sad was. Ons het regtig ʼn baie goeie verhouding ontwikkel oor die jare en dit was besonder moeilik om te groet. Ek moes myself soms druk om na ʼn baie donker plek te gaan wanneer die kameras rol. ʼn Plek waar ek myself gekonfronteer het met vrees en verlies. Anders sou ek nie die storie op ʼn geloofwaardige manier kon vertel nie. Dit was vir my belangrik om dit te doen omdat ek geweet het dat sekere van die kykers hulle met Carmen se pyn kon vereenselwig omdat hulle in ʼn soortgelyke situasie was. Ek wou dit nie goedkoop maak nie.”
Sy vertel dan dat sy en haar kinders, James (9) en Robin (4), besig is om hulle voete in hul nuwe roetine te vind. Sy het juis besluit om vir eers die sepie vaarwel toe te roep sodat sy meer tyd by haar kinders kan deurbring. Voortaan sal sy haar toespits op skryfwerk om ʼn inkomste te verdien. Desiré behartig die Afrikaanse onderskrifte van ʼn telenovella, doen vertalings uit Afrikaans na Engels en andersom, en skryf ook televisietekste. Sy was deel van die skryfspan van Lui maar op Belinda en Dans en geniet die skryfwerk terdeë.
“Ek was nog op skool toe ek vir een of ander kompetisie ʼn stuk moes dramatiseer, maar kon toe net nie die regte stuk vind nie. Net daar het ek besluit om vir myself ʼn teks te skryf oor ʼn middeljarige vrou wat moet besef dat die tyd vir niemand stilstaan nie. Ek was nog altyd gefassineer deur vroue in die herfs van hulle lewe, en so is die stuk Magda Louw gebore. Ek het al by verskeie kleiner feeste en met talle damestees die stuk opgevoer. Nou is dit een van die 55 minuut-flieks wat vir kykNET vervaardig word, en ek gaan self die rol van Magda Louw vertolk. Hannes van Wyk speel my man. Dis vir my ʼn heerlike gedagte dat die rol waarmee ek nou al vir baie jare saamkom, uiteindelik ʼn fliek gaan word!” sê sy.
Vir Carmen lê die grootste vreugde in skryfwerk in die manier hoe ʼn mens sekere woorde in ʼn sin langs mekaar kan plaas sodat dit die vermoë het om mense te raak. Soms sal iemand wat dit lees uitbars van die lag, ʼn ander sal dalk weer ʼn traan wegvee. In woorde lê daar ongelooflike krag, het sy al agtergekom en skrywers het die mag van die pen om met mense se emosies te kan werk. Sy is tans in die wittebroodfase van haar skryfloopbaan en hoop daar kom al hoe meer skryfgeleenthede oor haar pad.
So in die maand waarin Moedersdag gevier word, gesels Desiré entoesiasties oor haar twee kinders wat so ʼn belangrike plek in haar lewe inneem. “Hulle is net die twee oulikste, wonderlikste kinders in die wêreld. Natuurlik sal ek so sê, want ek is hulle ma, maar ek staan werklik verstom om te sien hoe wys hulle soms kan wees. Besonder wys vir hulle ouderdom. Dan het ek ook al agtergekom dat James, wat heelwat ouer as Robin is, oor die wonderlikste humorsin beskik. Die twee is ʼn interessante duo en James is Afrikaans, maar Robin het besluit sy is Engels en praat ʼn hogere Engels. Soveel so dat sy in die Engelse klas by hulle skool is, en James in die Afrikaanse klas.
“Ek vind dit nogal ironies, want my hele lewe is maar vertaalwerk. Om Afrikaanse onderskrifte vir Engelse tekste te skryf, of andersom. Nou is ek ook heeldag besig om te vertaal wanneer ek met die twee praat: “James, het jy jou kosblik ingepak?” “Robin, go get your lunchbag.” “Spring in die kar, James.” “Robin, we must get going.” Die twee praat albei net so baie soos hulle ma, en as ons drie saam is, is daar nie ʼn oomblik se stilte nie. Dit is eintlik ongelooflik lekker en besonders om twee sulke wonderlike mensies te kan leen hier op die aarde.”
Desiré vertel dat sy eintlik, anders as die karakter Carmen wat sy vir so lank vertolk het, iemand is wat glad nie van verandering hou nie. Sy beskryf haarself as ʼn gewoontedier wat daarvan hou om dieselfde ding oor en oor te doen. Tog het sy juis by Carmen geleer dat die lewe uit interessante hoofstukke bestaan en dat daar nou weer vir haar ʼn nuwe hoofstuk aangebreek het. Sy en Chris Gardner, die pa van haar kinders, is in Augustus 2019 geskei en vir baie lank kon sy glad nie daaroor praat nie. Sy moes egter gou leer om aan te pas, of onder te gaan.
“Dis eienaardig hoe die lewe werk. Ek, wat nie van verandering hou nie, word nou gereeld gekonfronteer met verandering. Hoe meer ek daaroor gedink het, hoe meer het ek besef dat die lewe sekere uitdagings inhou, juis omdat ons dit nodig het. Een ding wat ek móés leer, is om te kon verander en toe word ek aangenaam verras. Ek hou eintlik van verandering. Hierdie nuwe reis, nuwe seisoen, nuwe hoofstuk pak ek nou met entoesiasme aan sodat dit altyd opwindend sal bly, totdat dit tyd word om weer te verander.”
Hoe voel sy oor Afrikaans?
“Ek is besonder lief vir Afrikaans, juis weens die diversiteit van ons taal. Daar is sulke pragtige woorde in Afrikaans wat jy net nie kan vertaal nie. Dis ʼn mooi en ryk taal wat steeds bly verander. Wanneer ʼn mens begin kyk na dialekte soos Afrikaaps en ʼn Moesliemdialek, besef jy hoeveel fasette daar aan ons mooi taal is. Dis ʼn taal wat aanhou aanpas by die omgewing en dis ʼn absolute voorreg om in Afrikaans te kan werk!”
Die onregmatige deel van e-boeke maak die Afrikaanse boekebedryf dood.
Die afgelope week of wat het dit weer gegons op sosiale media oor die “groepe” op sekere sosialemediaplatforms wat boeke in pdf- of ander formate beskikbaar stel aan elke Jan Rap en sy maat – gratis, verniet, mahala, pasella!
Ja, sê diegene wat saamlees … dis dan so gerieflik. En ek kry die geleentheid om al die jongste boeke van my gunstelingskrywers te lees … en dit kos my nie ‘n sent nie! Jy weet mos hoe lief is ek vir my taal. Ons verstaan ja … so lief dat jy besig is om Afrikaans stadig maar seker dood te maak. Nog erger, diegene wat hulleself hieraan skuldig maak, maak nie net die Afrikaanse boekebedryf dood nie, maar haal letterlik die kos uit ons skrywers se monde.
Kopieregskending: Wêreldwye tendens
Die onregmatige deel van digitale boeke, tydskrifte, musiek en so meer is nie nuut nie. Dit gebeur reeds jare lank, maar dit is juis daarom dat ‘n mens nie net kan oë toemaak en anderpad kyk nie. En dit is hoekom Afrikaans.com hierdie tendens ook onder ons volgers se aandag bring en ons skrywers en kunstenaars ondersteun – want ons gee om … trouens, ons gee sommer baie om … vir ons taal en ons skrywers, musici en kunstenaars.
Toegegee, baie mense is oënskynlik onbewus daarvan dat dit onwettig is, en dink dis binne elkeen se reg om gratis, digitale inligting te bekom, maar juis daarom is dit nodig dat ‘n mens iets daadwerkliks doen en bewustheid skep van hierdie onding wat telkens sy verwronge kop uitsteek. Daar is ‘n verskil tussen inligting wat digitaal beskikbaar is teenoor inligting (of dan ‘n boek) wat gratis en sonder toestemming gedeel word.
Wat nog interessanter is, is dat die grootste sondebokke dikwels juis kan bekostig om boeke, tydskrifte en musiek te koop en dat dit blyk dat die verskoning dikwels die gerief daarvan is en die oortuiging dat hulle niks verkeerd doen nie en eintlik ander mense “help”. Boonop, as jy elke maand geld het vir luukshede (en dit sluit vir talle van ons boeke in) en jy kan nou een item van jou kooplysie afhaal om jou bederfgeld op iets anders te bestee, dan is dit mos vanselfsprekend dat jy gaan inkoop op hierdie “ongelooflike” aanbod – aanlyn gratis “aankope” – lekker, en jy hoef sowaar nie eers jou kosbare brandstof uit te ry of jou sweetpakbroek uit te trek nie!
Is boeke en musiek te duur?
In ’n land soos Duitsland word boekpryse gereguleer en blyk dit dat boeke goedkoper is daar en dus meer bekostigbaar vir die gemiddelde leser. Lees ‘n mens opmerkings van mense oor die onbekostigbaarheid van sekere boeke in Suid-Afrika wil dit lyk asof ons boeke waarskynlik te duur is vir die meeste lesers (en ’n mens het begrip hiervoor) en moet die meeste van ons maar wag om die boek op uitverkoping te koop of by die biblioteek uit te neem. Uitgewers en bemarkers vertel egter die ander kant van die storie. Om ‘n boek te maak en dit dan boonop winsgewend aan die mark te lewer, kos ‘n aardige bedrag en is dit een van die redes hoekom ons boeke so duur is. Nou ja, duur is ook relatief.
Net kortliks
‘n Mens kan nie sommer net boeke en so meer onderworpe aan kopiereg goedsmoeds deel of versprei nie – dis onwettig.
Kopiereg is geldig vir 50 jaar – bereken vanaf eerste publikasie.
Resensies en studiemateriaal is uitgesluit – uittreksels mag daarin verskyn – maar met verwysing na bronne.
Die eienaar van kopiereg het alleenreg om
kopieё te maak en te verkoop (dit sluit elektroniese kopieё in);
eie werk in- of uit te voer;
werke wat daarmee verband hou, te skep;
die werk in die openbaar op te voer (in geval van musiek, toneelstuk, ens.); en
die regte te verkoop of aan ander toe te ken.
Huidig is daar nie enige standaard manier om kopiereg vir e-boeke te beskerm nie en lê die onus by die vervaardigers en uitgewers om met hulle eie metodes vorendag te kom om die verspreiding en onregmatige kopiёring van sodanige e-publikasies te beheer en te beskerm.
Wat staan jou te doen as jy die slagoffer is van kopieregskending?
Gaan lê ‘n klagte by die polisie binne jou jurisdiksie – daar waar jy woon. Strafregtelike stappe is gratis.
Dis is raadsaam om beёdigde verklarings by regsgekwalifiseerde persone af te lê alvorens die verklarings aan die polisie oorhandig word. Die rede hiervoor is dat die konstabel in die aanklagtekantoor waarskynlik minder as niks weet van kopieregskending nie – dit is werklik nogal ’n ingewikkelde storie.
So, maak ‘n saak!
Dis goed en wel, maar hofsake kos geld en tyd en daar moet uiteindelik onomwonde bewys kan word wat die verlies aan inkomste is en/of was. Hoe bepaal ’n mens dit as die gratis rondstuur van e-boeke (op party groepe soveel as 13 000 titels) nie beheer kan word nie? Waar kom die geld vandaan as ’n mens se potensiёle inkomste as gevolg van die kopieregskending in elk geval amper nul is nie? Trouens, daar is skrywers wat as ’n direkte gevolg van hierdie praktyke potensieel tot soveel as tweederdes van hulle inkomste verloor!
“(Die feit) dat sommige skrywers slegs gedeeltelik afhanklik is van hulle inkomste uit skryfwerk, verander niks aan die feit dat hulle staatmaak op die inkomste uit hulle skryfwerk nie – skrywers skryf om den brode.”
– Charl-Pierre Naudé
Nee, die meeste van ons skrywers is nie ryk nie en verdien nie derduisende uit hulle boeke nie – en dit sluit van ons topverkopers in. Topverkopers in Suid-Afrika kan spog met drukoplae van ongeveer 10 000 boeke. So maak die som – 12%-tantième op ’n boek is beslis nie ’n fortuin nie en ons praat nie eers van diegene met kleiner drukoplae nie. Dink hier aan digters. Digbundels en kuns- of handwerkboeke is op ’n nismark gerig en daarom is die drukoplae klein en die inkomste dus minimaal. Nou hoekom dan enigsins skryf? Vir die liefde van die saak – omdat jy lief is vir Afrikaans – omdat jy graag jou kennis deel! Dit is mos absurd.
En die uitgewers?
Daar is wel uitgewers wat saamstem dat hulle dit sal moet verder vat om ons skrywers te beskerm en die bedryf te red. Party uitgewers is ook reeds maande lank besig om ondersoek in te stel en is van plan om klagtes te lê teen e-plunderaars.
Wetsontwerp op Kopiereg
“Die Wetsontwerp in sy huidige vorm beskerm nie ons kunstenaars en skeppers ten opsigte van die kopiereg op hulle oorspronklike werk nie en ontneem hulle dus om ’n inkomste uit hul kuns te verdien.”
“Wat betref die beskerming van outeurs se intellektuele eiendom is dit belangrik om kennis te neem van verwikkelinge ten opsigte van die betrokke wetgewing. Suid-Afrika se Wet op Outeursreg dateer uit 1998 en is dus verouderd. Weens ‘n behoefte aan beter beskerming van die intellektuele eiendom van mense in die skeppende bedrywe is die Wet dus hersien, maar ongelukkig voldoen die wysigingswetsontwerp op Outeursreg van 2017 nie aan die verwagtinge en gestelde vereistes nie en is verskeie aspekte daarvan problematies. Na heelwat prosesse is die wetsontwerp in Junie 2020 deur die president terugverwys na die Nasionale Vergadering. Die Koalisie vir Effektiewe Kopiereg wat bestaan uit skrywers, uitgewers , musici, komponiste, musiekmaatskappye, kunstenaars, ens. probeer dus steeds om ‘n effektiewe en billike kopieregbedeling te bewerkstellig.” – Aldus ‘n prominente uitgewery.
Ja, die publiek sal dalk potensieel voordeel trek uit die wysigingswet omdat hulle dalk minder gaan moet opdok om ‘n boek of handboek of musiek aan te skaf, maar wat van die skeppers en skrywers – hulle moet tog toegelaat word om behoorlik vergoed te word vir hulle werk. Die voorgestelde wysigingswet swaai dus die balans tussen skepper en verbruiker ten gunste van die verbruiker. Nog ‘n rede wat gegee is vir die heroorweging is die kwessie van grondwetlikheid van die wet wat blykbaar ter sprake is.
Hoe ‘n mens ook na die saak kyk, een ding is seker: As daar nie opgetree word nie, is dit nie net ons skrywers en die hele kreatiewe bedryf wat daaronder gaan ly nie – ons taal, ons ryk kultuur, ons plaaslike kennis en werk gaan daaronder ly.
(Die Wet op Kopiereg is ’n ingewikkelde storie en iets waaroor die uwe liewer nie te veel wil sê nie. Verwys asseblief na die skakels onderaan die artikel as jy meer wil lees.)
Jy kan ‘n verskil maak
Ons doen ’n ernstige beroep op ons mede-Afrikaanssprekendes en/of ondersteuners van ons taal en kultuur – doen iets daadwerkliks. Moenie deel raak van ’n apatiese kultuur van baie praat en niks doen nie. As elkeen van ons net binne ons eie sosiale groep optree en mense daarop wys dat dit verkeerd is om digitale boeke gratis rond te stuur, kan ons begin om ’n verskil te maak. Doen ons dit nie, lyk die toekoms vir ons Afrikaanse uitgewersbedryf en veral vir die skeppers van boeke, donker … om die minste te sê.
Bronne:
Skrywers en uitgewers wat deur kopieregskending geraak word. Klik hier.
Jo Prins op Netwerk24: Boekdiewe besig om biblioteek af te brand. Klik hier.
Melt Myburg op Litnet: Afrikaans word dood gesteel. Klik hier.
Regskenners oor kopiereg en intellektuele eiendom. Klik hier.
Chennupati Kodand Ramaiah oor die verskillende kwessies wat verband hou met die kopiereg van e-boeke, soos die “Digital Millennium Copyright Act” en hoe dit betrekking het op e-boeke, probleme waarmee uitgewers en andere te kampe het en moontlike oplossings. Klik hier.
Gaan lees gerus ook oor kopiereg, wat dit is, die Wet op Outeursreg, billike gebruik en meer hier.
Vir vrae oor kopiereg wat gereeld opduik, gaan kyk hier.
“ReWOLusie gaan oor mense en deel. Ons deel gesprekke, stories, hartseer, blydskap – en natuurlik komberse. Ons wil met hierdie projek soveel mense moontlik betrek, dit gaan nie net oor die kuns van hekel nie, maar ook oor die kuns van menswees.”
– Madeleine Miles, ReWOLusie-projekleier
ReWOLusie se Hekel-saam-veldtog het afgeskop met die bekendstelling van die eerste twee hekelpatrone vir dié projek se vlagskip-kombers.
“Die geliefde én bekroonde plaaslike hekel-en-brei-projek in Oudtshoorn, ReWOLusie, het vanjaar ’n nasionale voetspoor danksy die Hekel-saam-veldtog,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). “Hierdie inisiatief stel alle Suid-Afrikaners in staat om deel te neem, met meer komberse as ooit tevore wat warmte aan behoeftiges in die koue wintermaande sal gee.”
Volgens Theart is die patroon van die pragtige kombers wat deur deelnemers gebrei word deur die Oudtshoorniet Bets Wilkinson ontwerp. “Ons stel tot einde Julie oor 13 weke elke Maandag ’n stukkie van dié kombers se patroon op ons webblad vry. Aan die einde van die 13 weke het elke deelnemer ’n volledige patroon. Die eerste twee dele van die patroon is reeds beskikbaar. Daar is inligting oor alles wat jy moet weet en bymekaarmaak voordat jy begin, kleurkombinasie-voorstelle, video’s van al die steke wat jy gaan gebruik, wenke, en natuurlik die patroon met foto’s,” verduidelik hy.
Madeleine Miles, projekleier van ReWOLusie, sê deelnemers moenie bang wees om betrokke te raak nie. “Ons gaan jou help om deel te neem. Beginners word stap-vir-stap met soveel moontlik bronne gehelp. Ervare hekelaars se kreatiwiteit kan vlerke kry. Hou in gedagte dat hierdie die eerste projek van sy soort is en ons ook baie gaan leer.”
Bemagtiging van vroue
Om deel te wees en saam met deelnemers regoor die land ’n verskil te maak, hekel die kombers volgens die patroon wat verskaf word en skenk dit aan die KKNK om op te veil op Nasionale Vrouedag (9 Augustus 2021). Fondse word aangewend vir projekte wat bemagtiging van vroue in Oudtshoorn en die vaardigheid van hekel voortbou.
Maak ‘n skenking
Hekelaars kan hul eindproduk hou, of as geskenk aan iemand gee. As jy nie die tyd of geduld het om die kombers te hekel nie, oorweeg ’n skenking van R1 800 wat iemand sal help om die pragtige kombers te hekel. “Of skenk wol om ons woltannies in staat te stel om die gemeenskap te help,” sê Theart.
“Almal word uitgenooi om deel te word van die ReWOLusie-familie. ReWOLusie is boonop weer een van die vennote van die filantroop Carolyn Steyn se veldtog 67 Blankets for Madiba en ondersteuners wat eerder wil brei kan met geskenkte wol van ABSA deel wees van dié spesiale inisiatief.”
In hierdie podsendingreeks gesels Afrikaans.com met merkwaardige persone binne die Afrikaanse leefwêreld. Ons bied jou ’n blik op jou gunstelingbekendes op maniere soos jy hulle nog nooit vantevore kon leer ken nie, en stel jou ook bekend aan nuwe name, projekte en idees.
In hierdie episode gesels aanbieder Edwin van der Walt met aktrise Nina Smit van Die Boekklub-faam.
Edwin van der Walt is ‘n akteur, aanbieder en entrepreneur. Sedert hy vir die eerste keer gehore se harte in 2014 in die romantiese komedie, Hollywood in my Huis, gesteel het, het ‘n rits lokettreffers gevolg. In films soos Jagveld, Wonderlus, Ballade vir ‘n Enkeling en Die Pro het hy sy diversiteit as kunstenaar ten toon gestel en die respek van die industrie sowel as aanhangers gewen. Dit is egter die man agter die karakters, Edwin self, wat deesdae groot golwe maak. Onder sy vriende, en nog meer onder die publiek, word hy geken as ‘n persoon wat verbetering van self en van ander voorop stel. Edwin leef sy passie hiervoor ook uit op die platform Novieguide , waar ‘n verskeidenheid aanlyn kursusse gekoop kan word.
Nina Smit is ‘n aktrise. Sy is veral bekend vir haar rol as Debbie in KykNET se Die Boekklub. Sy is ook baie passievol daaroor om ‘n verskil te maak, gesond en deur voorbeeld te lewe, en haar volle potensiaal te ontgin.
Boeliery was die afgelope weke weer in die nuus en alhoewel ons deesdae meer kennis daaroor dra en daar heelwat in die media daaroor geskryf word, bly dit steeds ‘n netelige kwessie wat telkens opduik. Ongelukkig is dit ook nie net kinders wat geboelie word nie. Boelies is oral – op skool, in die kuberruim, by die werkplek – en dit is ‘n ernstige saak wat ’n groot impak op die slagoffer se lewe kan hê.
In dié artikel bespreek Afrikaans.com die meer algemene vrae en kwessies hieroor en gee ons riglyne oor hoe om hierdie probleem te benader en ook waarna ’n mens moet oplet.
Die realiteit
Navorsing toon ook dat jong mense wat geboelie word dikwels self boelies word. Daar is ook bevind dat soveel as 57% van Suid-Afrikaanse leerders op een of ander tyd gedurende hulle hoёrskoolloopbaan geboelie is of word. Nog ’n studie oor kuberboeliery wat op jeugdiges tussen die ouderdom van 12 en 24 gedoen is, het bevind dat 7 uit 10 van diegene wat erken het dat hulle ander boelie, self slagoffers was. Nogal skrikwekkend, nie waar nie.
Wat is boeliery, of dan ook afknouery of bullebakkery?
En is dit dieselfde as gewone konflik en/of tergery.
Laat ons eerstens ’n onderskeid tref tussen ’n goedige tergery, ’n gewone konfliksituasie en werklike boeliegedrag.
Tergery vind gewoonlik tussen vriende plaas en het nie gewoonlik ernstige nagevolge nie, omdat dit nie afbrekend is nie en met humor gepaard gaan.
In ’n konfliksituasie dring die partye nie daarop aan om noodwendig hulle sin te kry nie en word daar gewoonlik redes gegee hoekom hulle van ander verskil. Daar word ook gewoonlik om verskoning gevra agterna en word daar dikwels onderhandel oor hoe om by ’n aanvaarbare oplossing uit te kom. Dit kan selfs gebeur dat die persoon bloot wegstap.
Boeliery aan die ander kant, is ’n ernstige saak wat met groot omsigtigheid, maar ook ferm, hanteer behoort te word. Dit is daardie aggressiewe gedrag wat aanhoudend en gereeld plaasvind en spesifiek op iemand/’n leerder gerig word wat die boelie dink nie teen hom/haar kan of sal opstaan nie –slagoffers voel dus hulpeloos om hulself te verdedig.
Tipes boeliery
Verbaal – noem ander lelike/afbrekende name, dreigemente dat die persoon seergemaak gaan word en uittarting.
Sosiaal – om iemand met opset te ignoreer of uit te sluit en ander aan te moedig om dit ook te doen, onwaarhede oor die persoon te versprei, of die persoon in die openbaar te verkleineer.
Fisiek – lei dikwels tot fisieke en soms gewelddadige aanranding van ’n persoon of beskadiging van hulle besittings. Hierdie soort aanranding kan tot strafregtelike stappe lei.
Kuberboeliery – vind oor die internet plaas op sosialemediaplatforms en is gewoonlik die verspreiding van kwetsende en skadelike stories, gerugte en
Hoe lyk die tipiese slagoffer?
Dit is die persoon wat …
nie goed met ander oor die weg kom nie en minder gewild is;
min of geen vriende het nie;
afwyk van normale gendernorme;
fisies of etnies anders is;
’n lae selfbeeld het; en
depressief of angstig is.
Hoe lyk die tipiese boelie?
Hoewel baie boelies gewild is, en dikwels sosiale mag het, is hulle dikwels ook depressief en angstig en het ’n lae selfbeeld. Die meeste kinders leer om hulle woede en instinkte om te baklei, te beheer na gelang hulle ouer word, maar die tipiese boelie kry dit nie reg nie. Die boelie:
is dikwels bekommerd oor sy/haar gewildheid;
hou daarvan om in beheer te wees en ander te domineer en seer te maak;
het vriende wat ander boelie;
moet altyd wen of die beste wees in alles;
kan nie identifiseer met ander se emosies of gevoelens nie;
is aggressief en beskou geweld as positief en raak daarom dikwels betrokke in ’n bakleiery – hetsy fisies of verbaal;
hou nie van reёls nie en is dikwels in die moeilikheid – word byvoorbeeld gereeld na die hoof se kantoor toe gestuur of sit dikwels detensie;
weier om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle optrede;
is ’n heethoof wat maklik gefrustreerd raak;
het niks goed te sê oor ander nie en blameer sommer vinnig iemand anders;
het dikwels ekstra geld of nuwe besittings waarvoor hy/sy nie ’n verduideliking kan gee nie; en
sowel as die slagoffer kan op die langtermyn sielkundige letsels opdoen – dit sluit posttraumatiese stres in.
Hoekom boelie kinders?
Daar is verskeie redes hoekom boeliery plaasvind. ’n Paar algemene redes:
Hulle leer om te boelie. Boelies herhaal dikwels die gedrag wat hulle sien of self ervaar. Kinders wat geweld of aggressie ervaar, begin dink dit is normaal en aanvaarbaar en het dikwels nie die vaardighede om probleme sonder geweld op te los nie.
Die boelie voel bang of nikswerd. Hulle boelie dus om hulleself te beskerm; om te wys hulle is sterk, of om onsekerhede of negatiewe emosies weg te steek.
Hulle weet nie hoe om hulle eie en/of ander se gevoelens/emosies te hanteer nie en is dit dikwels ’n manier om met hulle eie negatiewe gevoelens om te gaan en beter oor hulleself te voel.
Hulle wil gewild wees en belangrik voel. Op die manier kan hulle hulself laat geld onder hulle maats. Daarom is boelies dikwels gewild onder hulle maats wat glo hulle kan slegs hulle status behou as hulle ander verkleineer.
Hulle soek aandag en hou daarvan om ander te beheer. Party kinders kom nie eers agter hoe hulle gedrag ander raak nie. Hulle beskou dit bloot as “cool”. Sulke kinders moet dus empatie aanleer.
Slagoffers van boeliery praat nie sommer daaroor nie, want hulle voel senuweeagtig of selfs skaam.
Is daar tekens waarna ouers kan oplet?
Die kind onttrek, wil skielik nie skool toe gaan nie.
Verloor belangstelling. Jou kind stel skielik nie meer belang in voorheen gunsteling- skoolaktiwiteite nie.
Skoolwerk gaan agteruit. Omdat die kind bang of angstig is om skool toe te gaan, kan dit negatiewe gevolge inhou en kan die kind selfs belangstelling in hulle skoolwerk verloor.
Bang om alleen skool toe te gaan. Die kind dring daarop aan om skool toe geneem te word – as hy/sy dalk vroeёr bus gery het.
Gelukkig tuis, ongelukkig by skool. Jou kind is gelukkig oor naweke, maar ongelukkig, in gedagte, of gespanne op Sondae.
Bly liewer tuis. Jou kind verkies skielik die geselskap van volwassenes en verkies om naweke tuis te bly.
Jou kind slaap nie goed nie en het dalk nagmerries.
Dit kan ook lei tot depressie – wat natuurlik ook ’n invloed op die kind se slaappatroon kan hê en hulle slaap sleg of te veel.
Hoofpyn/maagpyn. Jou kind kla dikwels oor hoofpyn of maagpyn. Hy/sy praat ook dikwels oor angstigheid of paniekaanvalle, of gevoelens van hartseer of depressie.
Jou gelukkige en vrolike kind is skielik huilerig, buierig of kwaad. Dit kan deur hormone veroorsaak word – veral by tieners – maar kan ook daarop dui dat jou kind afgeknou word. Soms kan die kind dan ander begin afknou (bv. sibbes, kinders in die buurt).
Nie goed genoeg nie. Jou kind voel hopeloos en nikswerd en voel dikwels nie goed genoeg nie. So ’n kind blameer hom-/haarself ook dikwels vir hulle probleme.
Fisiese tekens. Kneus- of krapmerke, bang om alleen skool of huis toe te loop, sleg eet, vernielde skoolboeke of verlore skoolboeke, klere, of elektroniese toestelle, klagtes oor maagpyn of naarheid, ens.
Verkeerde vriende. Soek die geselskap op van verkeerde vriende (bv. dwelmgebruikers, bendes, ens.).
Loop weg van die huis af.
Maak hom-/haarself seer (deur byvoorbeeld met ’n lemmetjie of mes te sny – gewoonlik waar ander dit nie kan raaksien nie).
Praat oor selfdood.
As jy nou vermoed of weet jou kind word geboelie, wat doen jy?
Belangrik is om nie sommer net reguit te vra of hy/sy geboelie word nie. Vra liewer meer subtiele vrae: Boeliery is deesdae in die nuus, gebeur dit by julle skool ook? Ek is bekommerd oor jou. Is daar dalk iemand wat jou afknou? Word jy gespot? Word jy aspris uitgesluit van sekere groepe/vriende?
Verseker jou kinders dat hulle enige iets met jou kan bespreek en dat jy altyd daar is vir hulle. Jou kind moet weet dat jy hulle bekommernisse ernstig opneem en daadwerklik sal optree om hulle te beskerm.
Gaan praat met die skool en onderwyser en neem jou kind saam met jou sodat julle almal saam kan werk om te verseker dat dit nie weer gebeur nie.
Dokumenteer boelievoorvalle – wat gebeur het, waar en wanneer dit plaasgevind het, hoe jou kind gereageer het en hoe die boelie en omstanders gereageer het. Dui ook aan of daar op oplossings besluit is en of dit suksesvol was.
Nog wenke:
As jou kind jou vertel van ’n boelievoorval, vra wat gebeur het en om aan jou te beskryf wat gebeur het. Bly kalm, wys jy gee om, maar moenie oorreageer nie, aangesien dit die kind kan ontsenu en hy/sy dan toeklap en ophou praat.
Praat met jou kind oor boeliery sodat hy/sy weet hoe dit lyk, hoe dit voel en of dit is wat hulle of hul klasmaats ervaar. Stel hulle gerus dat hulle ter eniger tyd met jou daaroor kan praat.
Wys jou kind daarop dat boeliery meer as net fisieke geweld is en dat dit verbaal, nieverbaal, sosiaal, seksueel en ook via die kuberruim kan geskied.
Maak seker hulle ken die verskil tussen stories aandra en die feite oordra.
Leer jou kind om nie saam te lag of deel te neem aan boeliery nie en dit duidelik moet maak dat hulle aan die slagoffer se kant is. Moedig hulle ook aan ’n volwassene daarvan te vertel.
Kinders leer deur die voorbeeld wat aan hulle gestel word. Wees dus bedag op jou eie gedrag.
Maak seker jou kind weet boeliery is verkeerd en dat dit beslis nie sy/haar skuld is dat hy/sy geboelie word nie en dat almal van ons respek verdien.
Vra jou kind vir insette oor die stappe wat geneem kan word om hulle veilig te laat voel. Werk saam met hulle om oplossings te kry.
Moenie hulle aanmoedig om terug te baklei nie – om hulle vuiste of beledigings te gebruik, kan dinge net erger maak, hulle laat seerkry of in die moeilikheid laat beland.
Help jou kind om strategieё en vaardighede te ontwikkel om boeliery te hanteer. Hulle kan byvoorbeeld leer om meer selfgeldend op te tree, die boelie te ignoreer, humor in te span om die spanning te ontlont en om hulp te vra.
As jou kind die boelie is.
Luister en wees objektief. Moenie verdedigend optree of dit persoonlik opneem nie. Praat met jou kind en vra vir ’n verduideliking. Vind ook uit wie die voorval begin het en of jou kind dalk eers later deel daarvan geword het.
Maak seker jou kind weet dat boeliery onaanvaarbaar is en hoe dit ander kan raak.
Werk daaraan om oplossings te vind – saam met die skool en die onderwysers. Maak seker jou kind weet hy/sy word dopgehou en gemonitor.
Voorkom boeliery
Ons het almal ‘n verantwoordelikheid om boeliery stop te sit, maar dit moet geskied met die samewerking van almal wat in die kind se lewe betrokke is – onderwysers, skoolpersoneel, die skoolbeheerliggaam, ander leerders, versorgers en ouers.
Die beste manier om hierdie kwessie in skole te hanteer, is om ’n kultuur van aanvaarding en kommunikasie te kweek. Op die manier word leerders bemagtig om positiewe maniere te vind om konflik op te los. So ’n kultuur kan soos volg geїmplementeer word:
Vestig ’n teenboeliebeleid wat gedragskodes, skoolreёls, rapportering en prosesse om boeliegedrag te hanteer, insluit. Sorg dat almal (onderwysers, leerders en ouers) daaroor ingelig word en dat die beleid konstant toegepas word.
Stel ’n plan in werking wat alle volwassenes in die skool betrek sodat almal weet hoe om positiewe gedrag te ondersteun, hoe om onaanvaarbare gedrag te benader en hanteer en om leerders wat bykomende berading nodig het, te verwys.
Skep ’n klaskameromgewing wat leer en goeie gedrag bevorder. Elke onderwyser moet op die uitkyk wees vir tekens van boeliery sodat hulle betyds kan optree. Dit is ook hulle verantwoordelikheid om met ouers en ander rolspelers in gesprek te tree om die kwessies te hanteer.
Reёl teenboelie-bewustheidsveldtogte en organiseer werksessies vir onderwysers en ouers.
Gee leerders geleentheid om te praat en verslag te doen.
Boeliery gaan oorviktimisering en het min met konflik te doen, daarom is gewone konflikoplossingsvaardighede en –bemiddeling nie noodwendig die beste manier van optrede nie.
Voed die skoolgemeenskap op deur boelievoorkoming by lesplanne in te sluit, onderwysers te leer hoe om doeltreffend te reageer en ouers van hulpbronne te voorsien sodat hulle kan deel uitmaak van die skool se teenboelieprogram.
Daar is baie oorsake oor hoekom sekere kinders/volwassenes boelies is, en ’n mens praat sulke gedrag nooit goed nie, want ons almal weet dat die gevolge dikwels baie ernstig is en selfs tot selfdood kan lei. Dit is egter belangrik om te besef dat boelies dikwels uit wanfunksionele huise kom – huise waar die kind min of geen liefde ontvang nie en dikwels blootgestel word aan aggressiewe gedrag. Daarom wil so ’n kind in beheer wees en floreer dan wanneer hulle slagoffers bang is vir hulle. Die boelie hou van die aandag – selfs al is dit negatief. So ’n kind het ook nog nooit geleer wat empatie met ander is nie – en kan nie hulle emosies beheer nie. So ’n kind het eintlik dringend hulp nodig. Die heel belangrikste is en bly: As jy vermoed of weet jou kind of iemand word geboelie, doen iets daadwerkliks en maak seker daar word opgetree.
Suid-Afrika het oor baie jare sy padstelsel geskep met projekte wat die werkers na aan die projekte laat woon het met groot ontwrigting vir gesinne. Die skeppende, kleurvolle debuut van Amanda Greeff, wat self in ‘n padkamp grootgeword het, Padkampstories, is kultuurhistories spesiaal. Dit kom uit die tyd van Dippety-Do en Vitalis, vis-en-tjips-kafee-etes, inryteaters en die padkampkultuur van reguitbane en kronkelpaaie, brûe-bou en leegtes sleep. Op haar unieke manier het Amanda gerelativeer en die basiese roetine, groot vrese en klein vreugdes van padkampkindertjies oor die hele wêreld heen, beskryf.
Amanda Greeff se boek, Padkampstories, is deur Cordis Trust Publikasies uitgegee en word deur Johan Allers voorgelees. Dr. Fanie Marais, die stigter van die Cordis Trust, beskryf die trust as ’n gedenktrust met mikpunte om projekte te befonds en fasiliteer op die gebied van deernis, Afrikaanse woordkuns en die boodskap van hoop. Cordis Trust Publikasies is ’n nisuitgewer om hierdie doelwitte te ondersteun.
“Die publiseer van egte stories wat gehoor moet word, veral uit tydperke vir talle onbekend, geniet voorkeur,” meen hy. “Amanda Greeff is ’n uitstekende storieverteller wat daarin slaag om die hart van die gebeure op ’n treffende en aandoenlike wyse vry te laat om inslag by lesers en hoorders te vind.”
Amanda Greeff
Amanda Greeff as eenjarige (links) en haar eerste skooldag.
Amanda Greeff en haar ma.
Amanda Greeff en haar boetie, Werner.
Amanda Greeff by haar pa se Zephyr.
Luister hier na die eerste episode van Padkampstories:
Johan Allers, vroeër bekend as “ons man in die buiteland”, het in 54 lande as buitelandse korrespondent vir die SAUK gewerk. Gedurende hierdie tyd ontvang hy twee Artes-nominasies, en kry hy ook die geleentheid om onderhoude met talle wêreldleiers van sy tyd te voer, insluitend Nelson Mandela, Thabo Mbeki en die hele grand elite. Sy laaste werk vir Suid-Afrika was twintig jaar gelede – Trippe Trappe Trone vir Kyknet saam met Amanda Strydom en daarna ‘n kort reis deur die suide van Amerika saam met Valiant Swart (Veertig Dae deur die Delta).
“Die maak van die potgooie is ‘n terugkeer na twintig jaar van weg wees van my groot liefde en passie, Afrikaans, die woordkuns en ons mense. Dit is die naelstring wat my aan my mense bind.
“Dankie aan Afrikaans.com wat my, na al hierdie jare in Nederland, weer die kans gee om my stem in my taal te gebruik.”
Met al hoe meer mense wat toegang tot selfone en die internet het, en omdat kuberboeliery oor die internet en sosialemediaplatforms plaasvind, raak hierdie soort boeliery ’n groot bekommernis.
Dit is optrede waar die slagoffer geteister, verneder, gedreig of in die verleentheid gestel word. Die boelie gebruik dus sosiale media om emosionele skade aan iemand anders te berokken.
Kenmerke van die soort boeliery is:
Dit skep afstand: Kuberboelies is dikwels ongenaakbaar in hul teistering van ander omdat hulle nie hulle slagoffer in die oё hoef te kyk nie.
Gebrek aan toesig: Dit is moeilik om kwetsende e-posse, oproepe, boodskappe of internetkletsery te monitor en sensor juis omdat jong mense dikwels soveel meer vaardig is in die gebruik van rekenaars, selfone en verwante media as hulle ouers en opvoeders en op die manier potensiёle monitering kan vermy.
Toeganklikheid: Jong mense het amper altyd hulle selfone by hulle, dus kan hierdie soort boeliery oral en enige tyd van die dag plaasvind.
Vrees vir straf: Jong mense kan selfs meer huiwerig wees om kuberboeliery te rapporteer omdat hulle bang is hulle verloor toegang tot rekenaars of dat hulle selfoon weggeneem word.
Jou kind is dalk die slagoffer van kuberboeliery as hy/sy:
Hartseer, kwaad of benoud raak gedurende of na gebruik van die internet of selfoon.
Angstig voorkom wanneer hy/sy ’n teksboodskap of e-pos ontvang of op sosialemediawebwerwe was.
Nie wil praat oor sy/haar rekenaar- of selfoonaktiwiteite nie.
Onttrek van die gesin, vriende en aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het.
Weier om skool toe of na spesifieke klasse toe te gaan of groepsaktiwiteite vermy.
Tekens toon van gemoedskommelinge, verandering in gedrag, slaap- en eetpatrone, of angstig of depressief voorkom.
’n Paar wenke wat kuberboeliery kan voorkom
Maak seker jy en jou kind hou by die basiese riglyne om hierdie soort boeliery te beheer.
Blokkeer alle kommunikasie met kuberboelies.
Moenie enige persoonlike inligting aanlyn plaas nie, bv. volle name, adres, telefoonnommer, skool se naam, ouers se name, kredietkaartbesonderhede, of vriende se persoonlike inligting.
Moet NOOIT wagwoorde met enige iemand deel nie. Kinders kan dit wel met hulle ouers deel.
Moedig jou kind aan om met jou te gesels oor hulle aanlyn bedrywighede.
Moet NOOIT enige iets aanlyn plaas wat jy nie wil hê ander moet sien nie.
Moet NOOIT boodskappe stuur wanneer jy kwaad of ontsteld is nie.
Wees altyd hoflik aanlyn.
Monitor jou kind se tegnologiegebruik
Die gebruik van inligting en kommunikasietegnologie hou baie voordele in. Tog is daar ongelukkig ook risiko’s aan verbonde. Hou jy by die reёls is jy veilig en in beheer. Kinders wil nie gemonitor word nie, maar ongelukkig is dit die enigste manier hoe ouers hulle kan beskerm.
Doen die volgende:
Plaas die rekenaar in ’n besige area van die huis sodat jy die gebruik kan dophou.
Installeer naspeuringsprogrammatuur om ontoepaslike/ongewensde webinhoud te blokkeer en jou te help om jou kind se aanlyn aktiwiteite na te gaan.
Maak seker jy ken jou kind se wagwoorde en raak vertroud met die algemene akronieme wat kinders aanlyn en in teksboodskappe gebruik.
Moedig jou kind aan om jou of ’n ander volwassene wat hulle vertrou, in te lig oor moontlike dreigboodskappe, of as hulle op ander maniere deur kuberboelies geteiken word.
Maak seker dat jy as ouer op hoogte is van die tegnologie en die gebruike daarvan. Wees bewus van die risiko’s en bespreek dit met jou kind. As jou kind agterkom hy/sy kan jou nie ore aansit wanneer dit by die tegnologie kom nie, is die saak halfpad gewonne. Maak dus seker jy is op jou kind se kontak- of vriendlysie, veral as hulle nog jonk is.
Jy as ouer/volwassene maak die reёls en is daar om die dikwels “nie so slim” jong mense (nie dat hulle dit glo nie!) veilig te hou en ’n balans te skep. So gee jy hulle eintlik die vaardighede om die tegnologie met selfvertroue en insig te gebruik.
Reёls moet prakties en uitvoerbaar wees. Wees redelik en hou in gedagte dat jong mense konstant in kontak moet wees met hul vriendegroep – dit is deel van hulle sosiale ontwikkeling. Dit is hoekom hulle selfone so belangrik is vir hulle.
Moenie onaanvaarbare gedrag duld nie. Stoor die beledigende boodskappe en rapporteer die gedrag. MXit het byvoorbeeld opgeleide beraders van Childline om jong mense by te staan.
Kinders het werklik nie die vermoё om te onderskei tussen regte vriende en die wat voorgee om vriende te wees nie. Daarom moet kinders weet dat ’n sosiale netwerk nie met ’n persoonlike dagboek of privaat telefoongesprek vergelyk kan word nie.
Moedig jou kinders aan om soekenjins te gebruik wat gemonitor word of deur ouers beheer kan word.
Gaan kyk gereeld na jou kind se kontaklys. Maak ook seker hulle het nie ’n tweede simkaart nie.
Maak seker jou kind het noodnommers op hulle fone, dat hulle genoeg lugtyd het en altyd hulle fone by hulle hou.
Weet wie hulle vriende is en wat hulle kontaknommers is. Jou kind moet onder geen omstandighede vreemdelinge ontmoet nie, behalwe as hulle saam met jou is.
Gaan jou kind se lugtydgebruik na. Sekere volwassenes buit dikwels kinders uit deur aan te bied om vir hulle meer lugtyd te koop.
As jou kind ongehoorsaam is, kan jy hulle foon wegneem of hulle selfone beheer deur sekere funksies te blokkeer of te verwyder.
Jou kind is ’n kuberboelie. Wat nou?
As jou kind in reaksie op kuberboeliery sy/haar eie kuberboelietegnieke begin gebruik, kan jy jou kind help om beter maniere te kry om die probleem te hanteer. As jou kind sukkel om sy/haar emosies soos woede, seer of frustrasie te hanteer, is dit dalk raadsaam om ’n terapeut te raadpleeg om jou kind te help om op ’n gesonde en positiewe manier met hierdie gevoelens om te gaan. Doen die volgende:
Voed jou kind op oor die gevolge van kuberboeliery.
Maak seker jou kind verstaan hoeveel skade dit kan veroorsaak.
Leer jou kind om empaties daarna te kyk en skep ’n bewustheid by jou kind om hulle optrede vanuit die slagoffer se perspektief te bekyk.
Maak jou kind bewus van moontlike regsgevolge.
Beperk die kind se gebruik van tegnologie en indien nodig, verbied die gebruik daarvan totdat die kind se gedrag verbeter.
Sit konsekwente gedragsreёls in plek en maak seker jou kind weet wat die gevolge sal wees indien hierdie reёls verbreek word.
Kinders het grense nodig – al dink hulle nie so nie – want so ’n gebrek aan grense kan dikwels die boodskap uitstuur dat hulle ouers nie genoeg tyd het vir hulle nie en nie regtig omgee nie.
Dit is weer daardie tyd van die jaar wat leerders hulle toesprake en tonge moet slyp, want die redenaarseisoen het aangebreek. Afrikaans.com gee kortliks die volgende wenke vir ’n wentoespraak.
’n Wentoespraak
Kies jou onderwerp met sorg.
Maak seker jy kan met gemak daaroor praat, hetsy daarteen of daarvoor.
Besluit wat jy wil sê en waarvan jy die gehoor wil oortuig.
Formuleer jou argumente logies sodat jou gehoor weet wat jou standpunt is.
Jou toespraak moet drie GOEIE standpunte/argumente bevat.
Kies drie logiese en onafhanklike argumente wanneer jy jou toespraak skryf.
Jy moet redeneer – nie net feite oordra nie.
Jou gehoor moet verstaan hoekom jy jou standpunt inneem.
Geloofwaardige bronne is noodsaaklik.
Doen deeglike navorsing. Jou gehoor moet ervaar jy weet waarvan jy praat.
Noem jou bronne en onthou die vier w’s (wie, wat, waar en wanneer). Met ander woorde: Wie het dit gesê en wat is die persoon se titel/amp; Waar het jy dit gelees en wanneer het dit verskyn.
Maak jou voorbeelde van toepassing op jou eie lewe – m.a.w. hoe voel JY oor die saak.
Goeie taalgebruik tel.
Gebruik goeie Afrikaans wat nie te maklik of moeilik vir jou ouderdomsgroep is nie. Kleur dit in met idiome, spreekwoorde en uitdrukkings.
Wees kreatief.
Struktuur is belangrik.
Struktureer jou toespraak dat dit logies vloei.
Dit help die gehoor om die toespraak te volg en jou argumente beter te onthou.
Ons is mal oor hierdie twee talentvolle sprekers!
Grayshen Pamell is ‘n woordkunstenaar!
Canolia Hoofd is ‘n kranige spreker!
Die basiese struktuur van ‘n wentoespraak
Die kop
Die ‘aanhef: Groet die voorsitter. “Voorsitter”. Die kop
Inleidende paragraaf: Noem die tema/onderwerp. Dit moet aandag trek. Maak gebruik van ‘n rympie, aanhaling of grappie.
Groet die gehoor. Die aanspreekvorm gaan afhang van die gehoor. Vir ‘n klastoespraak gaan dit wees “Juffrou en klasmaats” en vir ‘n redenaarskompetisie “dames en here”.
Die lyf
Drie oortuigende opinies/standpunte.
Die rede en ‘n geloofwaardige aanhaling (bronne) om elke standpunt te staaf. Hoe ouer die redenaar, hoe belangriker is die aanhaling en geld die vier w’s (wie, wat, waar en wanneer). Met ander woorde: Wie het dit gesê en wat is die persoon se titel/amp; Waar het jy dit gelees en wanneer het dit verskyn.
Samevatting en slot
Die samevatting en slot moet die argument versterk deur al die los drade saam te vat.
Gebruik ‘n aanhaling en/of ‘n gesegde deur ‘n beroemde persoon.
Die slot moet ook ‘n bedanking insluit, byvoorbeeld: “Baie dankie vir u aandag voorsitter, dames en here.”
Haal die angs uit redenaars: Wenke
Oefen, oefen, oefen. Redenaars word gemaak, nie gebore nie. Hoe meer jy die toespraak opsê, hoe makliker gaan dit raak.
Ken jou toespraak (die inhoud) vlot. Daarna kan aandag gegee word aan ander aspekte van redenaars, soos hoe om notas te hanteer, oogkontak, stemgebruik, handgebare.
Oefen voor die spieёl of maak ‘n video terwyl die toespraak ingeoefen word. Op die manier kom ‘n mens agter waaraan nog gewerk moet word, bv. gesigsuitdrukking, oogkontak, ens.
Maak seker die toespraak is nie te lank nie. Die meeste redenaarskompetisies het ligte wat tyd aandui, en niks kan ‘n spreker so ontsenu as ‘n oranje lig wat aangaan wanneer hulle nog nie naby aan klaar gepraat is nie!
AfriForum bied sedert 2017 die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie aan met die doel om huidige en voornemende entrepreneurs die geleentheid te bied tot topklas mentorskap, onvergelykbare blootstelling, en (natuurlik!), die eer om as Entrepreneur van die Jaar gekroon te word.
As gevolg van lesse en geleenthede wat deur die Covid-19-pandemie geleer en ontbloot is, trek 2021 se kompetisie ’n splinternuwe baadjie aan. Vanjaar vorm werkswinkels deel van die inskrywingsproses en moet ‘n sekere aantal daarvan deur deelnemers voltooi word as deel van hul uiteindelike beoordeling. Verder is daar ook twee kategorieë en nie meer net een nie – entrepreneurs wat tussen een en sewe jaar handel dryf en entrepreneurs wat langer as tien jaar handel dryf.
Ons het oorweldigende terugvoer gekry van entrepreneurs wat ingeskryf het, wat sê dat daar spesifieke areas is waarin hulle meer leiding sal wil ontvang. Ons het hierdie areas geïdentifiseer en daarom, as deel van die inskrywingsproses, bied ons werkswinkels aan in hierdie onderwerpe. – Afriforum
Daniel Strauss (Dink Soos ‘n Miljardêr) het as gasspreker by die geleentheid opgetree. Luister na ons eksklusiewe onderhoud met Daniel hieronder.
Vanjaar se kompetisie is op Donderdag 27 Mei gedurende ’n glansgeleentheid by die Afriforum-teater bekendgestel en word aangebied in trotse samewerking met Akademia. Daniel Strauss, skrywer van die topverkoper Dink Soos ‘n Miljardêr was die gasspreker. Jaco Gerrits (’n bekroonde tegnologie-entrepreneur) en dr. Rachel Maritz (’n strategiekonsultant vir PWC) het ook as kenners opgetree tydens ’n paneelgesprek wat deur Elsje van Jaarsveld gelei is.
Kyk die paneelgesprek.
Werkswinkels
Kom woon ’n werkswinkel by of voltooi van die webinare.
Werkswinkels word teen ’n addisionele koste in die week van 21 – 25 Junie 2021 by die Akademia-ouditorium aangebied.
Is jy ’n gevaarlike of versigtige leier? – Erik Kruger (24 Junie 2021, R250)
Praktiese entrepreneurskap – Dr Ingrid le Roux en Dr Marius Pretorius (25 Junie 2021, R250)
Registrasies vir werkswinkels sal 1 Junie 2021 oopmaak.
Registrasies vir webinare sal 1 Julie 2021 oopmaak.
Kursusfooi sluit verversings en kursusmateriaal in vir die dag van die kursus.
Skryf vir al vier in teen 10%-afslag.
As gevolg van Covid-regulasies is spasie beperk, registreer dus so gou moontlik om teleurstelling te voorkom.
Skryf in en stap weg met die Entrepreneur van die Jaar-titel, mentorskappe, ’n splinternuwe netwerk van entrepreneurs wat jy op hierdie pad sal ontmoet, nuwe promosiemateriaal en hope blootstelling. Inskrywings vir die kompetisie, wat op 31 Augustus 2021 sluit, is nou oop. Vir meer inligting, klik hier. Om in te skryf, klik hier.