Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Dit maak nie saak wie jy is nie, maar kanse is goed dat Covid-19 jou op een of ander manier geraak het. As jy iemand is wat graag uiting aan jou emosies gee deur dit los te skryf, het jy nou die geleentheid om ’n oorspronklike gedig waarin jy vergestalt waarmee ons tans saamleef, te skryf en dit vir oorweging voor te lê. Jy het tot 28 Februarie 2021 om in te skryf.
“In dié vreemde grendeltyd het ons almal ‘n behoefte daaraan om aan ons emosies uiting te gee. Ons het ook die behoefte om aan ons ervaring van hierdie vreesaanjaende tyd ‘n duursame, kreatiewe gestalte te verleen – sodat ons nooit mag vergeet van die stryd waarin die mens en die wêreld die afgelope sowat twaalf maande gewikkel is nie.”
– Hannes Visser, redakteur Oudtshoorn Courant
Die uitgewery,Turksvy Publikasies, in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gaan die bundel, Maskers en Mure, uitgee. Hannes Visser van Turksvy Publikasies en self ’n gepubliseerde digter, word bygestaan deur mededigters Daniel Hugo en Francois de Jongh. Visser sê dat hulle besluit het om die projek te loods om hierdie vreemde tyd in die wêreldgeskiedenis in Afrikaanse gedigte vas te vang. As jou gedig gekeur word, skuur jy ook skouers met van ons bekendste digters in Afrikaans wie se gedigte op uitnodiging ook in die bundel opgeneem word. Digters soos Johan Myburg, Andries Bezuidenhout, Koos Kombuis, Lina Spies, Lochner de Kock – om maar net enkeles te noem.
“Dit is vir my verblydend dat ’n projek soos hierdie die lig sien sodat die pandemie ook in digkuns opgeteken en bewaar kan word.”
– Hugo Theart, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk
Hannes vertel dat dit De Jongh se idee was om so ’n bundel te publiseer “omdat hy as digter diep bewus is van die emosionele stryd waardeur mense tans gaan”. Die bekende digter, vertaler en radioman, Daniel Hugo, gaan die keuring van die gedigte behartig. Daar word beoog om die bundel gedurende April 2021 vry te stel.
Hoe moet jy maak om in te skryf?
Slegs twee gedigte per digter mag voorgelê word. Dit moet jou eie werk wees en nog nie voorheen gepubliseer gewees het nie.
- Stuur ’n maksimum van twee ongepubliseerde gedigte per e-pos aan Daniel Hugo by danielhugo.skryf@gmail.com. Onthou om ’n kontaknommer te verskaf.
- Jou gedig MOET die Covid-pandemie as oorhoofse tema reflekteer.
- Gedigte MOET as ’n Word-dokument in Times New Roman 11 by jou e-pos aangeheg word. Let wel: Gedigte wat in die e-pos self getik en gestuur word, word NIE oorweeg nie.
- Keerdatum vir voorleggings is tot middernag 28 Februarie 2021.
- Slegs digters wie se werke goedgekeur is, sal teen 15 Maart in kennis gestel word. Die digter behou kopiereg op gekeurde gedigte.
- Die keurders se keuse is finaal en geen korrespondensie of navrae oor inskrywings word hanteer nie.

Hannes Visser (links) saam met Daniel Hugo.
Meer oor Hannes Visser en Turksvy Publikasies
Hannes is in Roodepoort gebore, het so ’n paar jaar in Durban gewoon en het uiteindelik aan Hoërskool Roodepoort gematrikuleer. Daarna is hy Goudstadse onderwyskollege toe en het hy in die vroeë tagtigs ook vir nasionale diensplig aangemeld. Hy het jare lank skoolgehou, maar in 2011 by Oudtshoorn Courant aangesluit.
In 2020, te midde van die Covid-19-grendeltyd, het Hannes en Marlene Malan Turksvy Publikasies begin. Die oud-joernalis, Tisha Steyn, is deel van die span. Hannes noem dat selfpublikasie nie maklik is nie en daar is talle slaggate waarvoor ’n mens op die uitkyk moet wees. Daarom is dit raadsaam om ’n uitgewery soosTurksvy Publikasies te nader. Jy kry so toegang tot kenners en word as skrywer bygestaan om jou werk onafhanklik en bekostigbaar te publiseer, maar met die waarborg dat die eindproduk professioneel en sonder foute aan lesers gebied word.

Vertel meer oor jou skryfwerk
Ek het koerantrubrieke geskryf en my eerste gedigte in 2007 in ’n bundeltjie uitgegee. Sowat twee jaar later is van my gedigte saam met 11 ander digters in Boksemdais 2 opgeneem. My bundel “die jaar toe pa…” is in 2019 deur Naledi uitgegee en vertel die verhaal van my lewe in ’n disfunksionele huis in 1967 toe my pa op 42 dood is. Ek het sowat drie jaar aan die bundel gewerk en Daniel Hugo was die redakteur.
Tussendeur skryf ek kortverhale en gedigte en het ’n aantal pryse by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se landwye kompetisies gewen. Die kortverhaal wat in 2013 gewen het, het ek as basis gebruik vir ’n misdaadroman wat ek in 2017 begin het en verlede jaar aan Penguin Random House voorgelê het. Ek het hom op hulle versoek aangepas en weer voorgelê en wag in spanning vir hulle finale besluit.
Wat is in jou boekrak?
Ek lees enige Afrikaanse gedigte en het ongeveer 50 bundels, maar hou veral van Danie Marais, Daniel Hugo, Ronelda Kamfer, Breytenbach, Loftus Marais en Johan de Lange.
Het jy raad vir jong skrywers en digters wat dalk nie weet waar en hoe om te begin nie?
Die belangrikste is om te lees en weer en weer te lees. Skryf oor dit waarvan jy weet. Skryf gereeld en toegewyd. Weet presies vir wie jy skryf. Kweek ’n dik vel en moenie raad vra as jy dit nie gaan volg nie of gekwes gaan voel as iemand jou raad en/of opbouende kritiek gee nie.
Wat beplan jy na jou uittrede vanjaar?
Wel, ek wil graag 100 jaar oud word en op my 100ste verjaarsdag ’n absurde boek uitgee. Na my uittrede sal ek graag voltyds wil skryf en jong skrywers en digters mentor. Ek sal ook graag ’n prokureur wil wees, maar ek vermoed dis nou te laat.
Om meer te lees oor Turksvy Publikasies en die dienste wat hulle bied, klik hier http://www.turksvypublikasies.co.za/
The post Skryf jou emosies los: ’n Geleentheid vir opkomende digters appeared first on Afrikaans.com.